Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 57

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die lewenspaleis van die geselskap. Die saad vir die hemelryk, God se Woord

57 Kyk, ons geselskap kyk vol verwondering na die poort, want dit is van blinkende goud en die omlysting is geset met diamante en robyne. Die woordvoerder sê dadelik aan die vermeende tafeldienaar: Maar beste vriend, dit is tog ietwat te veel van die goeie; as ek die goed sien, sou ek byna kan beweer dat die waarde van hierdie poort, volgens aardse maatstawwe, waaragtig alle skatte en rykdomme van die hele aarde oortref. Want om te begin, is die poort ten minste al so `n drie klafter* hoog en bowendien heeltemal massief. Ek laat die waarde van die goud nog buite beskouing, maar die vuisgrote diamante en robyne, o hemelse goedheid! *(Een klafter is 1.9 meter; drie klafter is dus 5.7 meter.)

2 Die Rykste keiser sou nie een kon aanskaf nie, maar hier sit verskeie honderde daarin! Waartoe dien so `n verkwisting eintlik hier? Die vermeende tafeldienaar sê: Beste vriend, dit is goed so. By God vind geen verkwisting plaas nie. Het jy ooit die sterre aan die hemel getel, wat almal skitter met hulle eie lig en sommiges meer as een miljoen maal groter is as die aarde wat jy bewoon het? Sou jy dan ook nie wil sê: Waartoe so `n verkwisting van sonne in die onmeetlike heelal? 

3 Kyk, die Heer is ryk genoeg en Sy skatte is onmeetlik, daarom is hierdie klein versiering hier, ook nie in die minste as verkwisting aan te merk nie. Die versiering van hierdie toegangspoort is naamlik baie doelmatig en betekenisvol en laat jou sien, hoeveel ware geloof en goeie liefde daar in jou is. Die “goue poort” beteken egter jou lewenswandel, wat die gevolg is van jou ware geloof en daadkragtige liefde. Laat ons nou die paleis deur die poort binnegaan.

4 Let op, nou gaan hulle na binne. Laat ook ons saamgaan, sodat ons daarby kan wees wanneer so `n belangrike tafereel gaan afspeel. Kyk nou net na ons woordvoerder; hy staan met sy hele geselskap baie oorbluf om hom heen en kyk. Waarom dan? Julle kan dit maklik raai, omdat ons brawe woordvoerder niks meer van die hele paleis sien nie, want hy bevind hom nou aan die sy van die vermeende tafeldienaar in `n groot, tiensuilige tempel. Die pilare bestaan uit suiwer diamante, die voetstukke is van goud, die kapitele (pilaarkoppe) van deursigtige goud, die dak van robyne en die vloer van suiwer ametis teëls. As mens vanaf die tempel na alle rigtings kyk, sien mens rondom `n eindelose uitgestrekte vlakte, wat hier en daar onderbreek word deur heuwels, wat met gelyksoortige tempels versier is. Die vlakte self is egter oral begroei met pragtige vrugtebome van allerlei soorte. Alles is so mooi georden asof dit deur `n baie beroemde tuinargitek aangelê is.

5 Laat ons nou egter net luister na dit wat ons woordvoerder gaan sê en watter antwoord hy gee wanneer die vermeende tafeldienaar hom vra hoe die paleis hom geval. Sy antwoord lui: Maar beste vriend en broer, wat is dit nou weer vir `n nuwe, hemelse gefop­pery? In my fantasie het ek reeds die mooiste kamers van die paleis vir my voorgestel, maar nouliks deur die poort na binne getree, was die hele paleis soos weggeblaas! Op die plek van die paleis staan hier nou inderdaad hierdie onuitspreeklike pragtige tempel en daaromheen eindeloos ver na alle rigtings sien mens, in plaas van die paleiskamers wat deur my gefantaseer is, die landskap van onuitspreeklike skoonheid. Nee, dit lyk my alweer onverklaarbaar! Wie so-iets kan verklaar, moet minstens tien­duisend jaar voor Adam gebore gewees het, want van Adam se kinders is daar waarskynlik nie een vir hierdie verskyning opge­wasse nie. Sê my net, beste vriend en broer, kan jy iets daarvan begryp? 

6 Die vermeende tafeldienaar sê: Maak geen sorg vir jou daaroor nie; ek sal jou slegs `n gelykenis gee, waardeur jy alles maklik sal begryp. Let dus goed op! As jy, toe jy nog op aarde geleef het, ooit `n saadkorrel bekyk het, dan het jy hom altyd in sy eenvoudige vorm gesien. Jy het die saadkorrel geneem en hom in die aarde geplaas. Baie gou vergaan die saadkorrel, en in plaas daarvan groei daar uit die aarde `n mooi plant, wat byna jou hele aandag in beslag neem. Toe het jy gesê: My God, hoe is dit tog moontlik? Was dit dan alles al in die vroeëre saadkorrel aanwesig, vra jy jou af. Jou gevoel en verstand het gesê: Hoe sou hierdie saadkorrel hom so kon ontwikkel as alles nie al in sy kiem aanwesig was nie? Toe vind jy dat die innerlike prag van die saadkorrel heelwat groter was as die vroeëre uiterlike naakte vorm daarvan.

7 Wel beste vriend, het die groot Leraar van die mensdom die hemelryk nie ook net vergelyk met `n mosterdsaadjie nie? Jy sê: O ja, dit weet ek baie goed. Let nou op, die mosterdsaadjie is die Woord in sy uiterlike oftewel letterlike vorm, maar wanneer die Woord in die aarde van die hart gelê word, dan skiet dit omhoog en word as`t ware `n boom waarin die voëls van die hemel woon. Wat beteken die boom dan? Die boom beteken die innerlike, geestelike van die uiterlike Woord en die voëls beteken die hemelse, dus die oerstaat vanwaar die Woord gekom het.

8 So beteken die hele wese van die boom die wysheid, wat uit die liefde voortkom en alleen die wysheid is in staat om die hemelse te herken. Sal die boom, wanneer hy tot rypheid kom, dan nie `n duisendvoudige rykdom aan sade opbring nie? Wanneer jy nou egter so `n rykdom aan sade opnuut in jou aardryk uitstrooi, sal dit dan vir jou, omdat jy nou in plaas van een, `n duisend bome in jou aarde sien ontspruit, nie al `n groot oes opbring nie? Jy sê: Ja, dit sal sekerlik so wees; maar het so `n onvoorstelbare rykdom jou in die eerste, eenvoudige saadkorrel opgeval? Kyk, so is dit ook met die hemel gestel.

9 Jy kan nie somaar êrens in `n hemel kom nie, maar jy moet jou eie hemel self maak. Die saad vir die hemelryk is die Woord van God; wie dit in hom opneem en daarvolgens handel, het hierdie hemelse saadkorrel in sy aardryk gelê, waardeur die hemel soos `n boom daaruit sal opgroei.

10 Luister nou verder! Toe ons by die poort van die paleis gekom het, het jy gesien dat dit versier was met diamante, omdat jy die Woord in jouself opgeneem het, en met robyne omdat jy volgens die Woord gehandel het. Dit was dus nog suiwer uiterlike saadkorrels. Die hele paleis stel jou totale lewe voor en die poort met die diamante en robyne gee derhalwe aan, dat jy jou die toegang tot jouself deur middel van God se Woord verskaf het.

11 Ons het deur die poort gegaan; wat wil dit sê? Kyk, niks anders nie as: Ons het die innerlike van jou en van julle almal binnege­gaan, oftewel, ons het die innerlike betekenis van die Woord binnegegaan. Die Woord is egter nie somaar `n leë woord nie, en dit is nie op dieselfde manier waar soos wanneer iemand sê: Een en een is twee nie, maar die Woord is wesenlik waar! En alles wat jy hier sien en nog oneindig veel meer en diepere dinge is in die goddelike Woord reeds so geskape aanwesig, soos tallose plante of bome met hulle vrugte reeds in `n enkele saadkorrel aanwesig is. Die enigste verskil is, dat `n saadkorrel voortdurend dieselfde voortbring wat al in die aanleg aanwesig is, sonder besondere verandering van vorm, terwyl die Woord van God hom as saad uit die hemel in `n onnoemlike verskeidenheid uiter. Waarom? Omdat die Woord van God `n volmaakte saad is. Ek dink, beste vriend, dat jy, wanneer jy goed hieroor sal nadink, hierdie aanwesige verskyningsvorm nou sekerlik sonder enige moeite sal begryp.

12 Ons woordvoerder sê: Goeie vriend, vir my en vir ons almal begin daar nou `n geweldige en volkome nuwe lig op te gaan. As ek nou terugdink aan my vroeëre idees oor die hemel, dan lyk dit presies soos `n droomgesig van die nag, waaraan ek op aarde dikwels op `n klaarligte dag teruggedink het. Watter rykdom moet daar in die hele Woord van die Heer wees as die eerste uitloopsel uit die mosterdsaadjie ons al soveel moois toon! Ja, nou begryp ek ook die teks wat lui:

13 “Die Ryk van God kom nie met uiterlike vertoon nie, maar dit is binne-in julle.” Ja, nou word dit vir my baie duidelik. Ek begin nou ook te begryp om welke rede jy daarbo in die skynhemel `n teks van die apostel Paulus oënskynlik aan Johannes toegeskryf het. Paulus is weliswaar ook `n poort waarop die saadkorrels van God se Woord in groot, volle prag aangebring is, maar by Johannes, ja, by die hele Johannes straal nou die volheid van die Godheid in Christus wesenlik na buite! Ek bedoel: Paulus sê dit wel in een of ander teks, maar dit lyk my meer na `n saadkorrel. By Johannes kom dit in volle rykdom tot uiting en dit is al `n plant. Het ek gelyk?

14 Die vermeende tafeldienaar sê: Ja, jy het gelyk en kyk, wat jy sien is slegs die eerste uitloopsel. Wil jy die ontwikkeling van hierdie eerste uitloopsel aanskou, verdiep jou dan steeds meer in jou derde fantasie, dan sal jy weldra die vrugte van hierdie heerlike beplanting in volle rypheid oes!

15 Ons woordvoerder sê: Ja liewe vriend, ja, jy het volkome gelyk; daar ontbreek hier by my werklik niks anders as nie net my bo alles geliefde Christus! As ek Hom tog net by my kon gehad het, dan sou ek my hart wou lug op `n manier wat mens hom nouliks kan voorstel.

16 Die vermeende tafeldienaar sê: Bly maar in hierdie gemoedsgesteldheid, want ek sê vir jou, jy is nader aan die lig van jou hart as wat jy dink! Waarlik, as jy Christus eg vasgryp, dan is Hy ook by jou!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205