Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 59

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Aankoms in die ewige môre. Beperking van die goddelike mag by die opvoeding van die menslike gemoed

59 Julle vra nou of ons onsself nog verder by hierdie stoet sal aansluit. Ek sê vir julle, ook dit is noodsaaklik. Julle moet dit ook van begin tot einde sien, want nou is ons geselskap buitengewoon bly verras en te veel in beslag geneem deur die liefde van die Heer. Eers ter plaatse sal hierdie eerste opwelling van hulle liefdesgevoel georden word en daar, by die beste bron, sal ons woordvoerder nog heelwat te vra hê.

2 Dit is aan alle beter Rooms-Katolieke eie, dat hulle buitengewoon verlangend na lig, in die Ryk van die geeste en dus ook nou in die waaragtige hemel aankom. Daarom vra hulle ook naarstig om hulle lig te verskaf in alle verborge hoeke, wat tydens hulle aardse lewe steeds in groot duisternis gehou was.

3 Kyk, ons is reeds taamlik naby die regte plek. Ons welbekende heuwellandskap lê ons alweer tegemoet; die son hang laag aan die hemel en straal met `n wondermooi rooiagtige lig. Ook ons gesel­skap merk dit op en verbaas hulle oor die eenvoud van die omgewing wat voor hulle lê.

4 Wel, daar staan die bekende huisie en ook sy bewoners wat al by ons bekend is. Kyk hoe vol vreugde is die Vader en die volgende geselskap wat Hom tegemoet snel.

5 Die Vader ontvang hulle ook met oop arms en sê aan hulle: Kyk net, hoeveel ryker Ek alweer geword het! Elke arbeider is sy loon werd; kyk, so het Ek ook gewerk en My loon saamgebring. Nuwe broers en susters bring Ek hier en hulle sal, net soos julle, om My heen wees, sodat My Woord: “Waar Ek is, daar sal ook My dienare wees; en hulle wat My liefhet, sal by My woon!” ewig in vervulling mag gaan.

6 Nou wend die Heer hom tot ons vroeëre woordvoerder en sê aan hom: Wel My geliefde vriend, broer en seun, kyk, hier is nou My lieflingsplekkie; hoe geval dit jou? Ons woordvoerder vermaan hom en sê: O Heer, hoe kan U my so-iets vra? Dan sou ek eerder vir U kan vra, hoe dit U hier geval, want wat my betref, sal dit my wel ewig die allerbeste geval waar U is en woon en waar dit U die allerbeste geval.

7 Werklik, hier lyk dit byna soos wat dit daar by ons arme plattelandsliede op aarde gelyk het. Wat `n pragtige uitsig het mens hier! Daar benede, die eindeloos ver uitgestrekte vlakte; met welke onuitspreeklike prag is sy getooi! Stede en ongelooflike mooi paleise lê daar in onbegryplike groot aantalle, en aan die pragtige heuwellandskap met sy vriendelike woonhuisies daar voor ons, lyk ook ewig geen einde te wil kom nie.

8 Maar hoe is dit tog dat die laagland daar benede onuitspreeklik mooier lyk as die heuwellandskap? Ag, ek is nog `n armsalige sukkelaar; ek merk nou eers dat ek my alweer in duisend vrae verloor. Vergewe my dit maar!

9 Die Vader neem ons woordvoerder by die hand en sê aan hom: Kyk, in die streek daar benede woon deurgaans mense, wat slegs deur hulle geloof `n opregte lewe gelei het. Daaronder is oorwegend die sogenaamde Protestante en nog ander Christelike sektes. Verder op die agtergrond woon heidene wat op aarde volgens hulle geloof `n opregte lewe gelei het en eers hier die geloof in My aangeneem het. Daar, nog meer op die agtergrond, die gedeelte wat hom uitstrek tussen middag en aand, lê die woongebied van katolieke Christene, wat hulle deels Rooms en deels Grieks-Katoliek noem, maar hulle hier sonder beskadiging van hulle lewe en hulle vryheid, nie volledig van hulle dwalings kan suiwer nie. Hulle is daarom geensins ongelukkig nie, maar geniet ook `n groot saligheid. Ook is hulle beslis nie aan hulle omgewing gebind nie, maar kan na `n diepere bewuswording van die eintlike waarheid ook verder vooruitkom.

10 Jy sou graag wil weet, waaruit so `n dwaling bestaan? Kyk, so `n dwaling berus op die volgende: Wanneer iemand uit vrees vir God die geloof as `n verpligting aanneem en dan trou leef volgens die geloof, kan hy God nooit so eg vol liefde omvou nie, omdat hy Hom te veel vrees. Hierdie oordrewe vrees vir God is dus so `n klein dwaling en dit is nie so maklik om dit sonder beskadiging van lewe en vryheid, daaruit te kry nie. Julle dink weliswaar: Hoe kan die Almagtige so-iets sê? Maar waar dit om die volledige vryheid van `n wese gaan, moet Ekself My almag mooi tuis laat. Want sou Ek dit gebruik, dan was dit oombliklik met so iemand gedaan en Ek sou dan, in plaas van kinders wat vry lewe, dink, werk en handel, suiwer gerigte masjiene skep, wat hulle steeds onverbiddelik gedwing, maar nooit vrywillig volgens My wil sou beweeg nie. Daarom kan Ek slegs van My almag gebruik maak, wanneer dit hoogs noodsaaklik is en bowendien nooit die vrye gees in sy denke en handeling daardeur beperk nie.

11 Daarom sal Ek jou nou `n voorbeeld gee, wat aantoon op welke manier Ek van My almag gebruik maak.

12 Die natuurlike wêreld en die vormgewing van alle skepsele in die algemeen is werk van My almag. Wanneer vrye geeste dan op grond van My Woord en die daarna geleide lewenswandel die lewe uit My in hulle opgeneem het, dan bewerkstellig My almag dat die vrygeworde lewende geeste alles wat hulle as nuttig, goed en waar in hulself erken, ook onmiddellik reël en in ryke mate kan aanskou en ook dadelik vry gebruik daarvan kan maak.

13 Hierdie omgewing hier benede is hoofsaaklik so `n werk van My almag en stem in alles ooreen met dit wat daar in hierdie geeste aan geloofswaarhede aanwesig is en wat hulle aan daaruit voortvloeiende goeie werk verrig het. So is dit oral die geval, waarheen jy jou oë maar wil wend, of dit nou oor die hele eindelose middag, oor die hele aand of oor die hele noorde is.

14 Jy vra jou nou af: Is dit dan nie ook die geval met hierdie ewige môre nie? Nee, hy is in `n heel ander toestand en is in al sy onderdele volkome onveranderlik vas, dus soos wat elke natuurlike wêreld vas is. En die onwrikbare vastigheid van die môre staan as `n inwendige, ewige grondslag teenoor die uiterlike natuurlike vastigheid. Die rede daarvoor is ten eerste, dat Ekself in My wil ewig onveranderlik is. Wat Ek eenmaal `n bepaalde vorm gegee het, bly ook ewig onveranderlik en bestendig, net soos Ekself in My ewige wil onveranderlik en bestendig is.

15 Ten tweede is hierdie omgewing onveranderlik vas, omdat My kinders wat hier na My toe kom, as gevolg van hulle groot liefde vir My in hulle wil en in hulle insigte volkome een is met My, of met ander woorde gesê, omdat hulle hul volkome tot op die laaste druppel verdeemoedig het en ten gevolge van hulle liefde vir My, hulle eie wil totaal opgegee het en in die plek daarvan My ewige lewende wil in hulle opgeneem het.

16 Daarom wil hulle hier ook niks anders as wat Ek wil nie. My wil is egter `n allerduidelikste, vir ewig vasgestelde voorstelling van die goeie en die ware. Daarom is ook hierdie omgewing waarin Ek met Myne woon, dan volkome onveranderlik vas en berus daar niks op illusie nie. Wat julle hier sien, is van binne ook volkome dieselfde as van buite. Alle plante, bome, vrugte en koringvelde is hier nie slegs sigbare ooreenstemminge nie, maar volmaakte, vasgelegde realiteite. Wanneer jy hier van die een plek na die ander gaan, sal jy sien, as jy jou treë tel, dat die afstand heen en weer dieselfde is.

17 Jy vra My nou, of hierdie vastigheid iets gemeen het met die vastigheid van die aarde. Die vastigheid van hierdie hemelwêreld het heeltemal niks te maak met die vastigheid van die materiële wêreld nie, want die vastigheid van die wêreld is maar skyn, en duur vir `n bepaalde gees slegs solank as wat hy `n bewoner van die materie is. As hy die materie egter verlaat het, dan verdwyn haar vastigheid ook vir hom. Maar so is dit nie hier nie, want hierdie vastigheid is `n waaragtige vastigheid en is dit vir alle eeue van die eeue onveranderlik en onverwoesbaar, omdat dit `n volmaakte uitdrukking van My ewige Vaderliefde is!

18 Jy vra, hoe ver hierdie streek hom wel uitstrek. My liewe vriend, broer en seun, hierdie streek soos jy haar na die môre toe sien lê, het verder ewig geen einde nie en is so groot, dat wanneer alle mense wat deur die eeue heen op alle hemelliggame gebore sou word, na hierdie streek sou kom, dit na verloop van duisend eeue, in verhouding tot die grootte van hierdie omgewing nie meer ruimte sou inneem as `n sandkorreltjie in die oneindigheid van die ewige ruimte nie.

19 Jy vra My nou, hoe Ek dit alles kan aanskou en of dit wat van hieraf gesien so eindeloos ver weg, diep in die môre woon, My wel ooit te sien kry? Liewe vriend, broer en seun, ook dit sal Ek vir jou vertel, want vir My kinders sal niks weerhou word nie!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205