Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 60

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die Oereintlike God-son. Uitleg oor die persoonlike, wesenlike alomteenwoordigheid van die Heer. Voorbereiding vir die maaltyd met die Vader

60 Rig net jou blik omhoog en kyk na die son, wat van hieruit gesien, taamlik laag staan. In hierdie son is Ek van oorsprong volkome tuis. Hierdie son is in die ewige, onwrikbare sentrum van My goddelike Wese. Die strale wat van hierdie son uitgaan, vul op hulle eie manier die hele oneindigheid en is op niks anders as My Liefdeswil en Wysheid wat ewig voortdurend van daar af uitgaan. Hierdie strale is dus oral volkome lewend en oral gelyk aan My Wese.

2 Oral waarop so `n straal dan ook maar val, is Ekself, presies soos in die son, geheel en al volkome aanwesig; nie slegs werk­saam nie, maar ook persoonlik, en hierdie persoonlikheid is bygevolg ook oral een en dieselfde. Waarheen jy ookal hier sal gaan, sal jy My oral volmaak tuis aantref. Betree na eie willekeur een van hierdie woonhuisies wat jy hier sien, en jy kan daarvan verseker wees dat jy My in elkeen daarvan as `n volmaakte Heer van die huisies sal aantref.

3 Jy sê nou weliswaar dat Ek op hierdie manier dan tog nie die eintlike, egte Christus is wat op aarde gewandel en onderrig het nie, maar slegs `n lewende en volmaakte ewebeeld van Hom en dat Ek tog eintlik in die ontoeganklike lig woon. Verder sê jy nog: As dit alles so is, dan kan daar tog duidelik `n veelgodedom om die hoek kyk.

4 Luister, geliefde vriend, broer en seun, jy dink in die opsig nog natuurlik, maar eers wanneer jy volkome innerlik, geestelik sal dink, sal hierdie saak vir jou heel anders voorkom. Sodat jy egter vanuit jou natuurlike denke des te makliker in die geestelike sal oorgaan, sal Ek jou deur middel van `n natuurlike voorbeeld daarheen lei.

5 Kyk, op aarde sien jy slegs één son, maar wanneer jy `n spieël voor die son hou, is dieselfde son ook in die spieël en jy kan onmoontlik beweer dat die son in die spieël `n ander een was, as die een wat aan die hemel skyn.

6 Jy sê dat dit inderdaad die geval moet wees. Maar Ek sal jou `n nog duideliker voorbeeld gee.

7 Jy sal op aarde wel dikwels van die werking van `n sogenaamde groot hol spieël gehoor het. Jy sê, o ja, ek het selfs een gehad. As jy die strale van die son met so `n spieël opvang, dan word hulle by die terugstraal vanuit die spieël dikwels meer as duisendmaal sterker as die oorspronklike strale van die egte, natuurlike son.

8 Al stel jy ook `n paar duisend sulke soortgelyke spieëls voor die son op, dan sal jy dieselfde sterk werking by elkeen afsonderlik waarneem. Dit is verseker en volkome waar.

9 Wat werk dan vanuit al hierdie spieëls? Kyk, niks anders as steeds een en dieselfde son, wat jy met die aansienlike aantal spieëls vermenigvuldig het.

10 Maar nou vra Ek jou: Is die son deur hierdie vermenigvuldiging werklik vermenigvuldig of is dit slegs haar werking? Jy sê nou: Inderdaad, slegs die werking! Goed, sê Ek, maar hoeveel sonne het jy dus in jou spieëls? Jy sê: Vanuit die spieëls gesien netsoveel as wat daar spieëls was, maar wat die son betref het ek steeds maar een en dieselfde.

11 Wel, wat die natuurlike voorbeeld aantoon, sien jy hier in die allergrootste lewende werklikheid en volheid voor jou.

12 Jy sê nou wel by jouself: Dit sien ek goed in, maar wanneer mens desondanks elke spieëlson sou wil ondersoek en benader om die karakteristieke wese van die son te leer ken, dan sal mens aan al die spieëlsonne niks hê nie, want die eintlike wese van die son bly vir die ondersoekende oog tog volkome onbekend.

13 Dit is korrek, maar wat sou jy en die hele aarde beter daaraan word, as die egte son so naby aan die aarde en aan jou gekom het, soos wat jy haar deur middel van die spieëls genader het? Kyk, dan was die hele aarde, saam met jou daarby, oombliklik soos `n waterdruppel op `n gloeiende plaat opgelos. Waartoe het die benadering van die werklike son jou dan gedien?

14 En dit is nog veel meer die geval met My son hier. Sy moet ewig in `n ontoeganklike sentrum staan, dat geen enkele wese verder as die vasgestelde orde kan nader nie, want elke benadering buite hierdie orde sou die betreffende wese totaal vernietig. Dit was ook aan Moses gesê, toe hy God se aangesig wou aanskou, want onder “aanskou” moet mens hier nie die waarneem met die oë verstaan nie, maar die volledige benadering van die diepste wese van die Godheid.

15 Let op, as Ek nou een en dieselfde is soos Ek ook in die son is, maar vir jou sodanig dat jy My volkome kan nader soos die een broer die ander, is dit nie meer werd nie? Is dit dan nie meer liefde en erbarming as wanneer jy hierdie son werklik kon nader, maar daarby dan volkome vernietig sou word nie?

16 Bowendien sou jy en Ek tog nie volmaak gelukkig gewees het as dit vir My nie moontlik sou gewees het om Self oral as Vader, waar My kinders ookal mag wees, met My hele ware persoon­likheid aanwesig te wees nie.

17 Sien, die hemel is oneindig! Sou so `n wesenlike, eindelose verveelvoudiging, sonder aantasting van My volledige eenheid, nie moontlik gewees het nie, hoe verwees sou My kinders dan gewees het en hoe alleen sou Ekself nie te midde van hulle gestaan het nie?!

18 Dat Ek egter volkome dieselfde is met dieselfde lewende, goddelike bewussyn en alle goddelike liefde, wysheid en mag, kan jy aflei uit die feit dat Ek jou werklik persoonlik hierheen gelei het en jou op hierdie weg die mag van My Liefde, Wysheid en volmaakte goddelike Wil getoon het. As dit alles nog nie vir jou genoeg is nie, bedink dan maar wat jy wil, dan sal Ek dat dit terstond volmaak geskape voor jou laat verskyn.

19 Wel, jy wil graag `n bekende streek op aarde voor jou hê. Kyk maar net voor jou. Ek het haar al sigbaar en tasbaar voor jou geskape.

20 Jy sê nou: Werklik, so-iets kan slegs die enige God doen! Goed, sê Ek vir jou, dan sal jy egter ook insien dat Ek, soos wat Ek hier voor jou staan en die wondere van My Wese ontsluier, volkome dieselfde wese as wat Ek van oorsprong ewig daar in die son is!

21 Ja, sê jy, dit glo ek nou volkome, maar wanneer ek nou na `n ander huis sou gaan en U bly hier, en ek sou dan `n tweede wese van dieselfde oorsprong daar as die Uwe aantref, sal hy dan wel volkome een wees met U en sal hy in alles soos U lyk?

22 Ek sê vir jou: Dit is by jou om dit uit te probeer. Ek sal sorg dat jy jou so vinnig soos die gedagte daar gunter in die verte, by `n huis soos die, sal bevind. Ek sal egter hier bly en jou geselskap sal daarvan getuig wanneer jy terug is; jy kan My dan vertel of jy My daar anderkant volkome teruggevind het of nie. Wel wees daar!

23 Sien, liewe vriend, broer en seun, jy is hier nou diep in die môre. Dit merk jy as jy om jou heen kyk: Jy sien niks anders meer, ook nie jou geselskap nie, as net die eindelose ver uitgestrekte môre met sy wonings nie. Sê My nou, is Ek hier nie heeltemal dieselfde nie?

24 So moet dit ook wees, en as dit nie so was nie, sou daar selfs nooit iets geskape gewees het en was die bestaan van `n mens as sodanig ondenkbaar! Want die lewe van elke mens is tog nie meer en nie minder as `n volmaakte ewebeeld van My nie. En as `n mens volgens My woord geleef het, of as miljoene so geleef het, kan een van hulle dan maar sê: Christus leef in my, of kan al die tallose regverdiges dit nie ook sê nie? Wanneer al die regverdiges dit egter kan sê, is Ek daarom dan `n gedeelde of `n ewig ongedeelde Christus in hulle?

25 Ek is ewig een en dieselfde in die hart van elke mens. As miljoene en nog eens miljoene harte van My vervul is, en wel elkeen vir hom volkome, dan het elkeen nie `n ander Christus nie, maar in elkeen se hart woon een en dieselfde Christus volkome! Wel, wat sê jy nou? Is Ek hier nie volkome dieselfde as Die Een wat jy daar gunter by jou geselskap agtergelaat het nie?

26 Jy sê: Ja Heer, U is heeltemal dieselfde en daar is geen verskil, nóg in die gestalte, nóg in die woord, nóg in U goddelike wil en ek kan my niks anders voorstel as dat U netso vinnig soos ek hierheen gekom het! Ja, vir jou lyk dit so, maar soos Ek al gesê het, sal jou geselskap by jou terugkeer, jou van My voortdurende aanwesigheid daar getuig. Dit sal jy ook dadelik ervaar. Daarom sê Ek aan jou: Wees weer daar! Kyk, nou is jy alweer hier. Sê My net, hoe het jy My daar gevind?

27 Jy sê: U was tog Self daar soos U hier is en daar was nie die minste verskil nie. Ek sê vir jou: Dit is korrek; maar vra nou ook aan jou geselskap of Ek My ondertussen van hier verwyder het. Die geselskap sê: Absoluut nie; die Heer het ons daarenteen vertel, hoe dit daar met jou gaan. Kyk, julle maak nou groot oë en julle verbaas julle daaroor. Ek sê egter vir julle dat dit heeltemal nie verbasingwekkend is nie, maar volkome in orde is.

28 As jy op aarde `n gesigkundige was, dan sou jy dit nog duideliker vir jou kon voorstel. Hoe gebeur dit dat verskeie mense, kykend na een en dieselfde voorwerp, die voorwerp slegs sien as één ding, terwyl almal afsonderlik slegs syne sien? Kyk, dit lê by die oog van die mens. Van die voorwerp gaan strale na alle rigtings uit en elkeen neem die stralebeeld in sy oog op. Mens sien dan in homself slegs die opgeneemde stralebeeld, wat in alles volkome gelyk is aan die bekykte voorwerp.

29 Word die voorwerp dan vermenigvuldig, of in stukke geskeur, wanneer elkeen dit as sodanig in homself sien? Julle sê: Volstrek nie. Kyk, so is die lewende werklikheid hier, wat op aarde slegs `n dooie, natuurlike verskyningsvorm is. 

30 Julle sal die wonder egter nog dieper beskou, maar eers moet jy dit wat tot nou toe aan jou geopenbaar is, as waaragtige hemelbrood ietwat verteer. 

31 Ondertussen sal Ek My woning hier binnegaan, waar Ek die tafel deur My bediendes sal laat dek, sodat jy saam met jou hele geselskap vir die eerste keer met My aan tafel sal sit om daar die brood van jou ware hemelse Vader te geniet. Wag dus hier maar netso totdat Ek terugkom en jou binnelei in My huis!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205