Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 61

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die maaltyd by die Vader aan tafel. Lam, brood en wyn

61 Julle vra nou: Sal ons ook hierdie uitnodiging afwag? Dit is heeltemal in orde, want alles gebeur immers hier om julle te onderrig. Daarom moet julle dit tot aan die einde toe bywoon. Onder “einde” moet julle hier die volledige binnegaan in die goddelike ordening verstaan. Maar kyk nou, die Heer kom al uit sy woning en wink ons geselskap om te kom.

2 Julle vra: Sal daar wel in hierdie woning vir elkeen plek wees? Ek sê vir julle: Maak maar geen sorg daaroor vir julle nie, want hier is julle spreekwoord: “Daar gaan baie mak skape in `n hok” letterlik van toepassing. So is daar ook vir goed geordende dinge baie plek in `n nou ruimte . Die geselskap begewe hulle al in die woning, dus sal ons hulle volg.

3 Kyk, hoe almal baie gerieflik, en selfs in `n kamer, versorg is. En die Heer, soos julle sien, het vir Homself `n voorskoot omgehang en tree op as tafelbediende! Wat word eintlik daar opgedis?

4 Ons het sowaar die avondmaal voor ons; daar is `n gebraaide lam en brood en wyn. Kyk nou, hoe die Heer ook hier die brood vir hulle breek en `n groot stuk voor elkeen plaas. Julle sien ook die wyn in `n beker en almal drink uit die een beker.

5 Kyk nou ook net hoe lewenskragtig ons geselskap begin lyk en wat `n dankbare, liefdevolle vreugde die Heer van alle gesigte tegemoet straal. Julle is gewoond om egter te sê: Eet en drink is geen ambag nie; daarom word hier ook nie vir ewig getafel nie. En die Heer sê: Wel liewe vriende, broers en kinders, julle het julle nou vir die eerste keer in My Ryk versterk; julle weet nou ook hoe Ek voortdurend, sowel hier as oral, wesenlik en magtig tuis is! As julle dan nou weer met My na buite sal gaan, sal Ek julle volledig opwek vir julle ware, ewige bestemming.

6 Wel, ons is nou hier voor die huis byeen; luister dan nou na My wil:

7 Op aarde het julle reeds verneem dat My oes groot is; maar daar is nog weinig arbeiders op My groot oesveld. Hier is dus die plek waar julle My waaragtige arbeiders en medewerkers vir die binnebring van My oes sal word, en wel op die manier soos wat baie van julle broers dit al geword het. Julle sal baie spoedig al die gereedskap herken wat by `n goeie huishouding hoort: `n Ploeg, `n eg, `n skoffelpik en hier is sekels en snoeimesse vir die wingerd. Kyk ook net om julle heen na die groot akkers en daardie wingerde daar. Kyk, daar meer na die môre, is `n egte bos van suiwer edel vrugtebome.

8 Dit is die veld wat julle moet bewerk, egter nie op die manier soos wat julle dit op aarde gedoen het nie, maar in die mees innerlike en dus allerlewendigste betekenis. Julle sal hier nóg ploeg, nóg eg; julle sal ook geen koring maai, geen wingerde bewerk en geen vrugte versamel nie, maar dit alles is hier slegs `n waaragtige innerlike ooreenstemmende beeld met die liefdeswerk wat julle van hieruit aan julle broers op aarde sal verrig.

9 Maar nie alleen aan die broers op aarde nie, want hier wil Ek met julle in die ruimste sin van die woord spreek en daarom sê Ek: Ek het nog heelwat kuddes wat nie in die skaapstal van die aarde woon nie, maar wat, na gelang hulle aard, op tallose baie ander aardes en hemelliggame lewe. Hulle moet almal na hierdie skaap­stal van die ewige lewe gelei word.

10 Daarom gee Ek julle nou My krag in oorvloed, sodat julle daarmee, oral waarheen Ek julle sal stuur, so volmaak kan werk asof Ekself werk. Ek sou wel alles Self kan doen, maar Ek dra sulke werk aan julle almal op, sodat julle saligheid aan My sy voortdurend van ewigheid tot ewigheid daardeur sal toeneem!

11 Daarom moet julle, wanneer Ek hierdie of daardie een van julle vir so `n groot doel, hierheen of daarheen stuur, ook net soos Ek, elke natuurlike wêreld uiterlik so vanuit haar diepste wese kan waarneem. Julle moet haar kan beskou vanuit haar diepste wese tot aan die buitenste kors en ook omgedraai heeltemal tot in die mees innerlike kern. Van dit wat julle by so `n sending te doen het, sal julle julle altyd volkome bewus word.

12 Ek het dus nou julle hoë bestemming aangegee, waarin julle volgens My Liefde, Wysheid en Ordening volledig werksaam kan wees. En hiermee benoem Ek julle ook en maak julle tot ware engele van My Ryk en derhalwe tot ware bewoners van My heilige stad, die ewige Jerusalem! So is julle innerlike oog dan geopen, sodat julle mag sien hoe groot en hoe heerlik Hy is wat nou met julle spreek en vir ewig by julle sal bly! Kyk nou in die rigting van die môre en sê My wat julle daar sien.

13 Die woordvoerder sê: O Heer, my mees geliefde Jesus Christus, waaragtige, eindelose liefdevolle Vader, U is heilig, hoogheilig! Wat sien my oë?! Watter oneindige glorie! En in hierdie glorie `n stad, wat nêrens `n einde blyk te hê nie; en die son, die pragtige son: Sy staan stralend in die middel bo die stad, en die stad... sy straal net soos die son! Nou sien ek ook weer my ou sterrehemel en ek aanskou, o my Heer, in die eindelose dieptes van U skeppings. Ja, dit noem ek nog eens `n hemel! Dit is dan ook letterlik waar:

14 “In geen mensehart het ooit opgekom wat U, o heilige Vader, berei het vir hulle wat U liefhet nie!” Ja, in welke eindelose salighede van die salighede aanskou my onsterflike oog nou! O liefdevolle, heilige Vader, mag ek U omarm en U liefhê uit alle mag van my hart?

15 Die Heer sê: Liewe vriend, broer en seun, kyk, Ek staan tog hier voor jou; wees maar lief vir My soos wat jy kan, want Ek het jou immers geskape om My salig lief te hê en sodat jy vir My `n liefdevolle en dierbare kind sou wees, wie ek nou ook vanuit My goddelike oorvloed as Vader kan liefhê!

16 Laat ons nou My stad binnegaan en vra nie wat daar met hierdie wonings sal gebeur nie, want hierdie wonings is ooreenstemminge van die ware deemoed wat voortvloei uit die suiwer liefde vir My. Hierdie wonings sal bly en ons sal selfs baie dikwels hier wees; maar aangesien Ek My “groot kanselary (kantoor)” in die stad het, moet My engele ook daar wees, waar hulle groot, belangrikste liefdadigheidsbestemming op hulle wag. 

17 Julle vra My nou nog, wie hierdie hutte eintlik sal gaan bewoon. Kyk, liewe vriende, broers en kinders, as die stadsbewoners op aarde al dikwels vir hulle ontspanning een of meer buitehuisies het, waarom sou ons dan niks hê nie? Daarom sê Ek vir julle: Wanneer ons groot dade verrig het, sal ons onsself altyd hier die vereiste rus gun; maar nou gaan ons na die stad!

18 Kyk, die Heer self lei ons geselskap die heilige stad binne. En omdat mens jou hier gewoonlik onverwags vinnig voorwaarts beweeg, nader ons ook reeds hierdie stad van aller stede van die hele oneindigheid.

19 Kyk, hoe God se groot menigte deur die poort van die heilige stad die Heer, wat die stad nader, tegemoet kom! Voorop sien julle die welbekende vriende van die Heer, naamlik Sy apostels, en vanaf Abraham ook alle aartsvaders en profete! Hoor die luide gejubel wat vanuit hierdie salige skare die Heer tegemoet klink en kyk, hoe almal oorgelukkig hulle arms uitstrek om die Heer met vurige liefde te ontvang; wat `n vreugde oor die nuutgewonne skare is daar op elkeen se gesig te sien.

20 Die skares het mekaar bereik en word nou gesamentlik deur `n groot glorie omgewe. Hierdie glorie gaan van die Heer uit en hy deel dit aan almal mee.

21 Wat dink julle van hierdie toneel? Maar laat ons nou verder gaan. Kyk, die Heer laat nou elkeen voor hom uit die stad binnegaan en Hy volg Sy kinders soos `n eenvoudige herder sy lammers! Nou is ons ook in die stad. Kyk nou net die oneindige, met geen menslike woorde te beskryf, majesteit en heerlikheid wat ons hier links en regs langs hierdie straat aanskou. Alles word deur die glorie van die Heer omgewe. Heilige lug waai deur die strate en stegies en hierdie lug is die lewe wat hier in eindelose oorvloed van die Heer uitgaan!

22 Nou bly die Heer voor `n groot woning staan en sê aan ons geselskap: Hierheen geliefde vriende! Dit is ons huis en ons groot ampswoning; hier neem ons ons intrek!

23 Hulle gaan hier, die Heer weer volgend, na binne. Kyk die baie groot en pragtige vertrekke; dit is volkome gereedgemaak vir die ontvangs van ons nuwe hemelvorste!

24 Nou sien julle hoe die Heer hulle `n glansende bord toon en sê: Op die bord sal julle altyd sien wat My wil is. Nou lê die Heer Sy hande vir hulle op en vervul hulle volkome met die almagtige Gees van Sy Liefde. Kyk, hoe die mees vertroude vriende en broers met mekaar praat oor die oneindige, goddelike verhoudings van die dinge!

25 Nou het julle gesien wat die ware bestemming van die mens in die mees eintlike, ware, volmaakte hemel is, en julle het ook gesien hoe dit met ons geselskap gaan.

26 Tog moet julle nou nie dink dat dit altyd met elkeen gebeur wat hom in die skynhemel bevind nie. Dit is slegs die geval met die weiniges wat, ondanks alle waanidees wat hulle geleer was, enkel en alleen die Heer reeds gedurende hulle aardse lewe in hulle hart bo alles liefgehad het.

27 Hoe dit egter met menige ander gaan, sal ons, volgens die wil van die Heer, met eie oë aanskou en daarom verlaat ons nou hierdie heilige stad en begewe ons snelreisend weer na die Rooms-Katolieke, geestelike, kerklike toestand.

28 Kyk, nouliks het ek dit uitgespreek of ons staan alweer vlak by `n klooster. Julle sê: Liewe vriend, hoewel dit ons verskriklik spyt dat ons so skielik die pragtige stad van God moes verlaat, sou ons, aangesien ons onsself nou alweer hier bevind, tog wil vra welke orde daar in die klooster tuishoort. Geliefde vriende en broers, hier sal ons eers `n vroueklooster leer ken en wel een van die karmelitiese*. Hier sal julle baie lewendig ervaar hoe dit met so `n klooster gestel is. Dink julle vooraf egter self net na oor hierdie orde, sodat julle dan des te makliker kan insien in hoeverre hierdie orde die Heer welgevallig of onwelgevallig is. En sodoende laat ons dit hierby vir vandag. *(Kar·me·liet´ Lid, monnik van ’n orde in die twaalfde eeu gestig en genoem na die berg Karmel in Palestina.)


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205