Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 62

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Besoek aan die karmelitiese

62 Julle vra: sal ons wel binnegelaat word? Want as dit in hierdie orde hier net so gaan as op aarde, dan sal ons nie veel besonders aan ervaring opdoen nie. Liewe vriende en broers, dit gaan hier nog presies soos op aarde, maar dit sal ons nie van die spoor afbring nie, want in die opsig wen ons nog van die parasietvlieë en kan niks ons teëhou om ons neus sondermeer oral in die diepste geheime te steek nie. En so sal ons dit ook hier doen: Ons sal die klooster onsigbaar binnesluip en oral rondsnuffel. Kom maar saam met my en wees oor niks besorg nie.  

2 Vir hierdie wesens sal ons nog lank volkome onsigbaar bly. Want julle moet weet dat engelegeeste, of hulle nou uit die derde hemel self is, of dat hulle wil ooreenstem met die van die derde hemel, vir geeste van laer hemele solank volkome onsigbaar bly, totdat die geeste van die laer hemele self innerlik die wesenlike van die liefde tot die Heer opgeneem het, en wel eers met betrekking tot die insig en dan tot die werke uit liefde. Daarom kan ons die klooster ook sondermeer binnegaan, sonder dat iemand ons sal sien. My nie, omdat ek `n burger van die heilige stad is en julle nie, omdat julle in my sfeer is en derhalwe ooreenstemmig met die wil van die opperste hemel, welke die wil van die Heer is.

3 Kyk, ons is reeds in die sogenaamde refter of anders gesê, ons is in die eetsaal. Nou net word daar enkele skottels met sogenaamde vastekos opgedien. Die spyse staan op die tafel en nou kom ons susters binne. Is hulle nie nog presies so gekleed soos op aarde nie? Julle sê: Ons het weliswaar nog nooit die geleentheid gehad om so `n kloostersuster van naderby te bekyk nie, maar hulle is presies so geklee soos wat ons dit op aarde, aan die hand van goeie afbeeldings, vir ons voorgestel het.

4 Kyk, nou begin sy met die tafelgebed. Waaruit bestaan dit eintlik? Soos wat julle duidelik kan hoor, uit `n hele rosekrans en bowendien uit enkele daaropvolgende Latynse uitsprake uit die Psalms en van die kerkvaders, wat egter deur geeneen van hierdie susters begryp word nie. Kyk, die owerste gaan aan tafel sit. Die ander maak voor haar `n buiging tot by die grond, staan dan weer op en gaan langs hulle stoele staan. Die owerste gee die teken om te gaan sit. Kyk, sy het `n klokkie langs haar waarmee sy rinkel en dit is die teken dat die susters nou mag toetree.  

5 Maar daar vooraan sien julle nog iemand staan. Sy mag nou nie eet nie maar moet die lydingsgeskiedenis van die Heer vir die ander voorlees. Nou het ons dames hulle maaltyd beëindig en die owerste lui weer die klokkie. Dit beteken dat hulle almal nou weer moet opstaan. Hulle staan op, buig andermaal tot op die grond voor die owerste en kniel dan neer. Die dankgebed word uitgespreek, dit bestaan weer uit `n volledige rosekrans, wat gevolg word deur honderd stille ‘wees gegroetjies’. Dit word ook na verloop van so `n driekwartier afgerammel, dan word die Latynse gebede weer opgesê. Is hulle daarmee klaar, dan gaan hulle na die kruisbeeld en gaan voor die beeld op die grond lê. Dan gaan hulle na die beeltenis van Maria, doen dieselfde daar; dan na die beeltenis van Josef, doen weer dieselfde; daarop na die beeld van hulle stigteres Teresa*, doen nogeens dieselfde en eers dan gaan hulle na die owerste as die beliggaming van Teresa en doen nogmaals dieselfde. *(Teresa van Avila - Heilige 1515–1582 Spaanse Karmeliet & mistikus)

6 Nou laat die owerste hulle almal opstaan en kondig aan dat hulle hulleself moet gereed hou vir die koorgebed wat oor `n uur sal begin. Intussen moet hulle, in hulle selle wat aan hulle toegewys is, hulle koorgebede deurlees, sodat die koor sonder haakplekke kan verloop, anders sou dit aanleiding kan gee tot ietwat ergernis en dus ook tot `n klein sonde. Want, voeg die owerste nog daaraan toe, voor God sondig die mees regverdige sondermeer al sewe keer per dag; hoeseer moet hy dan wel oppas om nie agt keer of nog meer dikwels te sondig nie.

7 Maar een van die susters vra die owerste nou vir toestemming om `n woordjie te mag spreek en omdat daar nou juis geen groot silentium (stilte tyd) voorgeskryf is nie, staan die owerste dit haar toe. (Vrae beteken in die klooster egter soveel as om iets vrymoedig te versoek.) Wat sal hierdie suster wel vra? Luister, sy sê: Baie eerwaarde bruid van Christus, solank ons liggaamlik op aarde geleef het, was die streng kloosterlewe wel draaglik vir ons, omdat dit nodig was om die hemel te verdien na die dood. Omdat ons nou egter al `n geruime tyd gelede die aardse met die ewige verwissel het en ons ook in die “ewige lewe” nog steeds die buitengewone streng kloosterlewe verder lei en werklik nog niks van die hemel bemerk nie, is dit die vraag of daar ooit `n einde aan die kloosterlewe sal kom? Dit sou tog iets verskriklik wees as ons vir altyd in hierdie streng sisteem moet bly.

8 Die owerste sê: O jou ongehoorsame kind, hoe kon jy jou so deur die duiwel in beslag laat neem, dat jy jou nou veroorloof om so `n verskriklike vraag te stel? Weet jy dan nie dat niemand vóór die jongste dag in die hemel kan kom nie en dat, op voorspraak van die heilige maagd Maria, van die heilige Teresa en tussen hulle in van die heilige Josef, Christus, die Heer, ons orde van die vagevuur vrygestel het, omdat dit die allerstrengste is, en dat die Heer ons, in plaas daarvan, vir ons volledige suiwering, die genade verleen het om selfs na ons aardse lewe vir die daarin begane klein sondes en doodsondes onsself volkome te suiwer om aan Sy allerheiligste geregtigheid te kan voldoen. Daarom moet die reëls van die orde van ons verhewe stigteres hier die allerstrengste in ag geneem word. Anders sou dit kan gebeur dat, so `n ongehoorsame kind soos jy, op die jongste dag voor die onverbiddelike, allerstrengste en regverdige Regter die oordeel te hore sal kry: Gaan weg van My, vervloekte, want ek het jou nooit as My suster erken nie!

9 Kyk nou, deur die woorde van die owerste is ons arme vraagster soos deur duisend bliksems tegelyk getref. Sy val voor haar neer en smeek haar vir `n gepaste kastyding, waarop die owerste sê: Ja, `n gepaste kastyding het jy verdien, maar ek sal jou vir hierdie keer maar net met `n tik op jou wang en `n dag se vas teregwys. Tog mag jy nie versuim om die biegvader onmiddellik te laat roep en hom die duiwelse, en voor God hoogs verwerplike woorde, wat jy tot my gerig het, noukeurig en baie berouvol op te bieg nie. Dan moet jy die penitensie (straf), wat hy jou sal oplê, ter ere van die heilige drie-eenheid, ter ere van die vyf wonde van Jesus Christus, ter ere van Sy bittere lyding en sterfte, ter ere van Sy allerheiligste maagd en moeder Maria, ter ere van die heilige Josef en ter ere van die heilige Teresa, tienmaal verrig. Staan nou op om my tik op jou wang in ontvangs te neem.

10 Kyk, ons suster staan op, keer terstond deemoedig die owerste haar wang toe en, soos julle kan sien, gee sy haar, om die duiwel te verdryf, geen kinderagtige, maar `n gedugte, byna duiselig­makende oorveeg. Ons dame begin daarna bitterlik te huil, dank die owerste vir hierdie kastyding en begewe haar, saam met die ander susters, vanuit die refter na haar sel. Wat verder daar gaan gebeur, sal ons die volgende keer in oënskou neem.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205