Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 63

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die biegtende non en die ware biegvader

63 Sodra sy (die non) in haar sel aankom, gee sy die teken met `n klokkie aan vir die portierster om na haar sel te kom. Wat mag sy haar wel te vertel hê? Dit gaan hier slegs oor die ontbied van die biegvader, sodat sy haar nog voor die koorgebed kan suiwer van die sonde wat sy teenoor die owerste begaan het. Die portierster reël hierdie saak dadelik en ons non begewe haar na benede na die biegstoel, kniel voor die rooster van die biegstoel en wag op die biegvader. Nou gaan ons daarheen en sal net na so `n bieg luister. Wat sy sal bieg, weet ons, maar wat die biegvader haar sal antwoord, weet ons nog nie, maar ons sal dit graag wil hoor.

2 Die biegvader kom, gaan sit en lê sy oor teen die rooster. Nou het sy gebieg en hy sê aan haar: Luister my liewe biegeling, met die reël van die orde soos dit op aarde bestaan, het jy deur jou uitlating kennelik gesondig, maar nie aan God se orde nie, want dit het jou immers so laat dink; maar wel aan die orde van die klooster, wat jou verbied om so-iets te dink. Vir die fout wat jy aan die orde van die klooster begaan het, het jy dan ook van die owerste `n gepaste kastyding gekry en jy het jou daarna volgens die verdere verordeninge gevoeg. Hier gaan dit om vergewing van jou sondes van goddelike kant. Maar God het nooit in Sy woord, so `n kloosterverordening tot wet gemaak nie. Menslike bepalinge, al was hulle ook duisende jare in gebruik, het God nooit as Syne bekragtig nie. Hy kyk nie daarna of iemand in `n sekere sin noodgedwonge die wêreldse bepalinge oortree het nie en daarom het ek jou hier van goddelike kant ook niks te vergewe nie.

3 Ons non sê aan die biegvader: Baie eerwaardige priester, u, wat hier voor my op die stoel van die goddelike geregtigheid sit, hoe kan u sê dat ons kloosterorde en haar reël geen goddelike nie, maar `n menslike bepaling is? Kyk, as ek dit aan my owerste vertel, dan loop ons beide die gevaar om op `n gevoelige manier bestraf te word. Sy sal my as `n deur die duiwel besetene behandel, maar u as `n egte ketter, oftewel ekskommunikeer, of selfs geheel in die kerklike ban doen. Lê my daarom duideliker uit wat u bedoel het.

4 Die biegvader sê: Luister my liewe suster, wie Christus, die Heer as die enige ware God van hemel en aarde bo alles liefhet, is nie bang vir `n ekskommunikasie, nóg vir `n kerklike ban nie. Kyk, die mense op aarde wat aan die wêreldse hang en van Christus nog weinig of heeltemal niks af weet nie, lag teenswoordig vir so `n kerklike eiemagtigheid. Waarom lag hulle dan? Omdat hulle in hierdie eiemagtigheid geen skade vir hulle beroepslewe sien nie. Waarom sou hulle, wat Christus waaragtig liefhet, dan nie lag nie? Hulle het tog immers nog baie minder skade van hierdie eiemagtigheid te verduur.

5 Het jy nooit gehoor wat Christus eens in die tempel aan die egbreekster gesê het, toe die Fariseërs en skrifgeleerdes haar by Hom gebring het, omdat sy, volgens die wet van Moses, gestenig sou moes word?

6 Ons biegeling sê: Dit weet ek goed, maar wat wil u daarmee sê?

7 Ek wil daarmee niks anders sê nie, sê die biegvader, as dat Christus in Sy oordeel baie sagter is as Sy priesters en skrif­geleerdes. Hulle het ons egbreekster, sonder die geringste barm­hartigheid en genade sondermeer tot `n openbare steniging veroordeel; maar Christus het aan hulle gesê: “Wie van julle sonder sonde is, werp die eerste klip op haar!”

8 Kyk, deur die uitspraak was ons fariseërs en skrifgeleerdes, asof deur die bliksem getref, want daar bestaan nog `n ander wet, waarvolgens die hoogste priesterskap vry van sondes sou moet wees. Die fariseërs en skrifgeleerdes het net so goed van hierdie wet geweet, as van die wet van owerspelige vrouens, maar tewens het hierdie fariseërs en skrifgeleerdes geweet hulle die sonde van die egbreuk in elke opsig, sowel geestelik as liggaamlik, self begaan het. Daarom het hulle ook so groot geskrik vir die buitengewone indringende antwoord, sodat hulle almal, sonder uitsondering, ons egbreekster totaal vergeet het en hulle vinnig uit die voete gemaak het. Hulle wou Christus hierdie keer nie meer verder geïrriteer het nie, omdat hulle gevrees het dat Hy hulle skande bekend sou maak aan die baie gelowige Jode, wat hulle dan sou gryp en ook behandel soos wat die wet van Moses ten skerpste vir hierdie geval voorgeskryf het. Maar wat het daar met ons egbreekster gebeur? Sy het nou alleen gestaan. Het die Heer haar dalk veroordeel? O nee, Hy het haar gevra: Het hulle, wat jou hier gebring het, jou dan nie veroordeel nie? En ons egbreekster sê: O nee Heer, niemand het my veroordeel nie. En Hy sê aan haar: “Ook Ek veroordeel jou nie, maar gaan heen en sondig voortaan nie meer nie!” Wel, wat sê jy van hierdie handelswyse van die Heer?

9 Ons suster sê: Ek kan hier onmoontlik iets anders sê as dat die Heer sekerlik barmhartiger en genadiger is as alle goeie mense op aarde bymekaar. Die biegvader sê: Goed, my liewe suster, as jy die Heer so sien, dan sal jy ook goed kan insien dat my raad volkome goed is! As die Heer homself deur sy goedheid, in die geval van die egbreekster, dan nie aan die wet van Moses gehou het nie, wat tog van Hom uitgegaan het, hoeveel minder sal Hy hom dan aan `n kloosterreël hou. Want sien, die Heer is volkome vry en kan doen wat Hy wil. As iemand Hom vra: Heer, wat doen U?, dan sal Hy hom geen antwoord gee nie. Ek is hier as biegvader, geheel in Sy Naam na jou toe gestuur en dra daarom ook Sy Naam. Wanneer ek handel volgens en in hierdie Naam, sê my, wie het ek dan te vrees?

10 Jy sê: Sekerlik nie die Heer nie, wanneer u heeltemal in Sy Naam handel! Wel, as ek Hom nie hoef te vrees nie, moet ek dan dalk jou klooster, of die kerklike eiemagtigheid vrees? O kyk, dit is geensins die geval by my nie; daarom sê ek jou dan ook: As jy die Heer waaragtig liefhet, dan moet jy ook vanuit hierdie liefde iets waag, naamlik dat jy nou na jou owerste toe sal gaan en haar vertel wat ek aan jou gesê het. Sê dan ook vir haar, dat ek wil dat sy haar dadelik saam met jou hierheen begewe. 

11 Ons non vra, watter penitensie (straf) sy dan as genoegdoening moet doen.

12 Die biegvader sê: Niks anders as dit wat ek jou so pas gesê het nie.

13 Ons non staan nou op, maar omdat ons owerste dit nogal bedenklik begin te vind dat ons non so lank wegbly, kom sy haar self op die drumpel van die biegkamertjie tegemoet, waar ons suster haar vertel wat die biegvader gesê het. Daarop slaan die owerste byna agteroor van skrik en sê aan ons suster: Kyk tog net, wat `n sonde jy begaan het! Die genade van God het hom heeltemal van jou teruggetrek; `n duiwel het die gedaante van `n ligengel aangeneem en het as biegvader besit geneem van die biegstoel om so `n vervloekte leer aan jou te gee. Hy verlang dat selfs ek met hom sal spreek, sodat deur my, omdat ek die siel van die klooster is, die hele klooster in die ewige verdoemenis omlaag getrek kan word. Ja, ek het wel dikwels by myself gedink dat jy die heilige godshuis nog eens ongeluk sou bring. Nou bestaan daar geen ander reddingsmiddel meer as om ons baie kragtig te verenig en ons groot nood aan die allersaligste maagd Maria, aan die heilige Josef en aan die heilige Teresa voor te lê nie. Verhoor sy ons nie, dan is ons verlore, want nou is daar geen genade en ontferming by God meer nie!

14 Ons suster sê aan die waardige vrou: Baie eerwaarde moeder, u kan sê wat u wil, maar na die les van hierdie aller eerbied­waardigste biegvader, heg ek geen enkel geloof meer aan u woorde nie en is eerder bereid, as dit hier nog moontlik sou wees, om eerder te sterf, as ook maar die geringste twyfel aan die lering van hierdie waardige biegvader in my te laat opkom.

15 Nou wil die waarde owerste ons suster, uit louter kloosterlike ywer, `n klap op haar mond gee. Maar ons biegvader is so vermetel om die biegrooster oop te breek, waartoe hy ook voldoende krag besit, en onttrek ons suster aan so `n mishandeling. Wat verder daar sal gebeur, sal ons die volgende keer verneem.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205