Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 68

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Twisgesprek met `n Augustyn. Petrus en Paulus

68 Nou sê ek: Luister beste vriend, jou buitengewone onbarmhartige eksorsisme het kennelik geen kerklike gesag nie; want soos jy sien, staan ons, jou laagste helleduiwels, nog al drie gesond, wel en volkome ongedeerd voor jou. Jy kan voorhand daarvan verseker wees dat ons ook vir jou hele konvent (vergadering van kloosterlinge), vir duisend kruisbeelde en vir honderd emmers wywater nie sal vlug nie. Want solank ons nie van jou, aan die hand van die Heilige Skrif, die bewys kan kry dat jou alleensaligmakende kerk deur Petrus gestig is nie, solank sal ons ook geen duimbreedte van hier af wyk nie. Ons is inteendeel baie geneig om nog verder in jou klooster deur te dring en ons deur geen eksorsistiese gesag daarvan te laat weerhou nie. Met die oog daarop, nooi ek jou selfs uit om ons `n diens te bewys, en ons na die vertrekke van jou al netso dwase medebroeders te bring.

2 Die monnik sê, terwyl hy eers drie kruistekens maak: God staan my by! Ek het dikwels gehoor dat die aanvegtinge van die duiwel in die geestelike wêreld nog duisendmaal erger is, as in die natuurlike en dat mens in die geestelike wêreld eers werklik die korrekte begrip van die groot gewelddadigheid van die duiwel kry. Wat ek hieroor gelees het in die heilige boeke, wat deur vroom en godvrugtige mense geskrywe is, staan nou letterlik voor my! Ek sê jou egter, ewige afskuwelike duiwel, jou voortdurende bedrieër van God en die hele menslike geslag, dink jy dalk dat God hom laat bedrieg? Dan vergis jy jou deeglik! Net so min as wat God hom laat bedrieg, laat ek my, as altyd troue dienaar van God, deur jou bedrieg. Eerder as om toe te gee, sal ek met God se hulp en met die hulp van die salige maagd Maria solank weerstand teen jou bied, totdat al jou geduld om nog langer met my te twis, jou verlaat het. Daarom kan jy doen wat jy wil, maar vir my sal jy nie van my kerk afvallig maak nie!

3 Het jy dan nie gehoor wat die kerk, volgens die gesag wat deur Christus aan haar verleen is, verlang nie? Naamlik dat mens alles wat sy as geloof aanbied, ook onvoorwaardelik moet glo, sonder om te vra of dit êrens geskrywe staan of nie. Dit is ook `n heel billike verlange van die kerk, want as die kerk in die besit is van die Heilige Gees en hy via die kerk spreek, wie, as opregte Christen, sou hom dan nie glo nie? Wanneer mens egter by elke uitspraak van die kerk vrae gaan stel soos jy, dan sou mens tog ook moet vra: Waar staan dan eertyds geskrywe wat Moses en die profete van God getuig het? Kyk, jou gemene duiwel, wat hier verklaar is, het uitgegaan van die Heilige Gees en daarom is en bly dit `n ewige waarheid.

4 Daarom het die kerk ook die Heilige Gees, maar dit is nie beperk tot dit wat al voorheen geskrywe is nie; hy kan altyd vry spreek en leer, en die kinders van die kerk moet dit altyd as `n onweerlegbare waarheid aanvaar. 

5 Wanneer die kerk dus geskiedkundig meedeel dat Petrus werklik in Rome gepreek het, daar sy stoel gestig het en ook die kruisdood daar gesterwe het, dan is dit immers `n gewaarborgde waarheid, omdat die kerk, wat in die volledige besit is van die Heilige Gees, dit verkondig. Daar het jy nou die bewys wat deur jou verlang was. Hou jou nou by jou woord en maak dat jy wegkom! Ek hoef hierdie les weliswaar nie vir jou te gegee het nie, maar ek het dit tog gedoen om jou daardeur `n groter verdoemenis te besorg.

6 Nou sê ek: Goed, my vriend en werklik trietsige en duister broer! Aangesien jy die kerklike Heilige Gees so duidelik aan my beskryf het, vra ek jou hoe dit moontlik is, dat die Heilige Gees, wat betref die presiese gegewens by die verskillende kerklike geskied­skrywers, wat tog sekerlik alles volgens jou gesegde “vanuit die Heilige Gees” gespreek en geskrywe het, juis in hierdie geskied­kundige uitspraak, oor die aanwesigheid van Petrus in Rome, hulle so geweldig kon vergis het. Jy het nou net beweer dat die verblyf van Petrus in Rome drie jaar geduur het, maar ek kan jou in hierdie opsig verseker, dat geen letter wat geskryf was oor die geskiedenis van Petrus, aan my onbekend is nie.

7 As jy origens maar enigsins tuis sou gewees het in die kerkgeskiedenis, dan moet jy die variante (veranderlikes) wat tussen die vier-en-twintig jaar en jou drie jaar lê, tog sekerlik ontdek het. So word ook die sterfjaar van hierdie apostel te Rome totaal verskillend aangegee en mens moet van geluk spreek wanneer mens in hierdie gegewens slegs `n variant van `n jaar ontdek. Dat my verklaring korrek is, kan jy by die verskillende geskiedskrywers terugvind, want julle biblioteek is gelukkig in die besit van al hierdie uitsprake. Sê my nou net, waaraan heg jy uiteindelik die meeste geloof?

8 Die monnik sê: Dit is alweer `n duiwelse strikvraag. Wat se ant­woord moet ek daarop gee? Ek sê vir jou: Die ware gehoorsame Christen glo alles en vra nie na historiese verkeerde data nie. Maar die denker, wat `n ketter is, pieker oor alles. In die Heilige Skrif is tog ook dergelike teenstrydighede te vind. Moet ons daarom geen geloof daaraan heg nie? As jy dalk nie weet hoe die Heilige Gees spreek nie, dan sê ek vir jou dat hy altyd spreek volgens die innerlike wysheid en dat sulke uitsprake `n heel ander betekenis het, wat weliswaar deur geen duiwel begryp sal word nie; ons godgeleerdes begryp dit egter goed en ons weet wat ons glo. En dus het ek jou ook op hierdie vraag `n antwoord gegee, sodat jy daardeur ook des te meer verdoem mag word.

9 Nou sê ek: Goed, my vriend, as dit reg is, dan sien ek egter volstrek nie in waarom dit die Heilige Gees behaag het om in die getroue beskrewe handelinge van die apostels, gewag te gemaak het van die apostel Paulus, maar van die heilige Petrus, soos wat jy hom noem, in die opsig niks kan vermeld nie, terwyl hy tog persoonlik deur Christus geroep was om die kerk te stig.

10 Paulus was geroep tot apostel vir die heidene; oor Petrus staan nêrens geskrywe dat die Heer hom ook vir die heidene sou geroep het nie. Bowendien het Petrus die voortreflikhede van die apostel Paulus geken en het hy nie die noodsaaklikheid daarvan ingesien, om agteraf as tweede apostel na die plek te gaan waar Paulus al `n Christelike gemeente gestig het nie. Uit die Skrif weet ons goed, en nog wel van Paulus self, dat hy Petrus eenmaal tereggewys het; maar `n teenoorgestelde geval ken ons nie.

11 Aangesien Petrus egter, as eerste erkende leier van die kerk, al deur Paulus op `n dwaling gewys was en daaroor ter verant­woording geroep was - kennelik het die Heilige Gees hom nie die vereiste diens verleen nie, of beter gesê, hy het hom ietwat teenoor die Heilige Gees vergeet - dan sou mens tog ook kan aanneem dat dergelike baie afwykende geskiedkundige data, oftewel totaal eiemagtig uit die lug gegryp is, of `n mens sou ook hier die Heilige Gees van ontrou kon beskuldig. 

12 Maar ek weet dat Christus die Heer aan alle apostels dieselfde mag verleen het. Toe die Heer na Sy opstanding, volgens `n verklaring van Johannes, net vir Petrus gelas het om Hom te volg, volg die leerling Johannes Hom ook. Toe Petrus hom daaraan steur, berispe die Heer hom en sê: “Wat gaan dit jou aan as Ek wil dat hy bly?” Dit wil soveel sê as: Dat hy vir My, net soos jy, sal volg. Waarom was dit? Omdat die Heer daardeur sekerlik wou aantoon dat hierdie leerling met so `n gemoedsgesteldheid, die Heer net soos Petrus, onwankelbaar en standvastig mag volg. Daarom moet hy, ondanks die teenwerping van Petrus, met hierdie instelling, die Heer voortdurend bly volg.

13 Verder weet ek ook, dat die apostels hom eens bekla het oor `n sekere Johannes, wat nie deur die Heer geroep was nie. Deur hom te verdedig, het Hy egter die gemoedere van Sy jaloerse apostels weer tot rus gebring. Ook is daar geen sillabe te vind oor `n aanbeveling van Christus aan `n apostel om een of ander tempel te bou nie, en van `n agteraf opdrag van die Heilige Gees weet ons ook niks.

14 Christus het wel gesê: “Verkondig My leer oral”; maar dat Hy ook sou gesê het: Bou `n bedehuis vir My, daarvan is nêrens ook maar in die allerminste gewag gemaak nie. Wel weet ons dat Hy tot die vrou by die Jakobsbron gespreek het: “Daar kom `n tyd, en dit het reeds aangebreek, waarin die ware aanbidders God sal aanbid in gees en waarheid en daarvoor sal mens nóg die tempel te Jerusalem, nóg die berg Gerasim nodig wees, want mens sal God oral kan aanbid in gees en waarheid” (Johannes 4).

16 Ons weet ook dat die Heer die biddende mense aanbeveel het om hulle heeltemal alleen in hulle kamertjie te begewe; aan die apostels sê Hy egter nie: Sluit julleself op in kloosters nie, maar: “Gaan uit oor die hele wêreld en verkondig die evangelie aan alle skepsele!”

17 Wanneer jy egter jou kerklike magsvertoon met die Heilige Gees wil outoriseer, dan maak jy van Christus kennelik `n leuenaar, of `n slegte leraar, wat tydens Sy leraarskap nie geweet het wat daar alles vir Sy leer nodig was nie en dit eers naderhand in `n sekere sin op `n verdagte manier moes korrigeer, op grond van suiwer mekaar teensprekende historiese data. Hy het nie ingesien dat daar, ter verbreiding van Sy leer, kloosters en kerke nodig sou wees nie; Hy het nie ingesien dat Petrus sy kerk in Rome sou moes stig en mettertyd `n enorme bedehuis en `n nog groter woonhuis vir sy opvolgers daar moes laat bou nie.

18 So kon Christus ook nie dit ingesien het, dat daar mettertyd hoë rangordes onder die priesterskap van sy kerk noodsaaklik sou word vir die verbreiding van Sy leer nie. As Hy dit tydens Sy leraarskap sou ingesien het, hoe sou hy dan Sy apostels, toe hulle Hom na die leiderskap vra, `n antwoord kon gegee het wat lynreg teen die huidige kerklike struktuur ingaan? Hy het immers gesê: “Slegs één onder julle is die Meester. Dit is Ek; julle is egter almal broers onder mekaar!”

19 Sy onwetendheid gaan egter nog verder. Elkeen weet tog dat Hy gesê het: “Niemand is goed behalwe God alleen nie; julle sal niemand vader noem, want slegs één in die hemel is julle Vader. Daarom is niemand ook heilig nie, behalwe God alleen.” Maar nou is elke apostel heilig en die opvolger van Petrus is selfs `n “heilige vader”!

20 As jy goed hieroor nadink, beste vriend, dan moet jy, as jy dit met jou kerklike struktuur eens is, Christus onteenseglik van alle swakhede, wat deur my opgesom is, beskuldig en, as jy aan Sy Godheid glo, moet jy ook sê: God sien ook, net soos `n swak mens, eers geleidelikaan in wat beter is en is ook genoodsaak om voor Sy skepsele te swig, ten koste van Sy ewige waarheid en oneindige wysheid.

21 Ons weet wel dat die Heer deur Moses en die profete, die Israel kerk as voorafbeelding, en wat in alle onderdele op die Heer betrekking het, gestig het. Dit het Hy letterlik deur Moses bekendgemaak. Dat die Heer by Sy koms in die allerheiligste persoon van Christus, nog `n seremoniële kerk sou gestig het, daaroor het Hy ook nooit enigiets gesê nie. Inteendeel, as fondament van Sy leer, het Hy enkel en alleen die naasteliefde gestel en wat daartoe onontbeerlik op die voorgrond moet staan: Die liefde tot God. Want Hy het uitdruklik gesê: “Wees vir mekaar lief soos wat Ek julle liefgehad het en nog liefhet, dan sal die mense daardeur herken dat julle waarlik My leerlinge is”.

22 So sê Hy ook dat Sy apostels en leerlinge niemand moes verdoem en oordeel nie, sodat hulle self nie verdoem en geoordeel sou word nie. Ja, die Heer sê selfs dat Hy nie gekom het om die wêreld te oordeel nie, maar om haar salig te maak, en om te soek wat verlore gegaan het.

23 Hoe kon julle julleself dan, in teenspraak met hierdie buitengewoon duidelike leer van Christus, as regters opwerp en julleself die tydelike en ewige reg tot verdoeming en dood toegeëien het?

24 Sou dit miskien in die opsig wees, dat die teks van Christus op julle van toepassing kan wees, waarin Hy, innerlik beweeg, tot diegene speek wat aan Hom wil sê: Ons het in U Naam gepredik, geprofeteer en duiwels uitgedrywe:

25 “Gaan weg van My, bedrywers van onreg, Ek het julle nooit geken nie, want julle is die wat die Gees altyd teengewerk het”!

26 Derhalwe sê Ek aan jou, oorweeg My woorde aandagtig en gee My daarna `n antwoord. Pas goed op dat jy nie weer na my toe aankom met `n eksorsistiese uitweg nie, want dan sal ek jou die mag van `n ander eksorsisme laat sien, wat jou blinde oë sal open, sodat jy die afgrond sal sien wat jou te wagte staan wanneer jy nog langer hardnekkig in jou dwaasheid sal bly volhard.

27 Sien, die Heer het hom oor jou ontferm en my hierheen gestuur vir jou redding. As jy na my luister, dan sal jy gered word; so nie, dan het ek ook die mag om jou ylings in die plek te werp, wat die Heer as die korrekte vir jou bestem het.

28 Kyk, die monnik staan nou heeltemal ontsteld en weet geen raad meer nie. Daarom draai hy om en gaan verskrik na sy geselskap terug. Laat ons hom dan ook volg, sodat julle self kan sien hoe sulke dwalings hulle in die geestelike wêreld ontwikkel.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205