Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 71

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

In oënskynlike gevangeskap by die paradyslike Augustyne. Hulle twyfel oor die korrektheid van hulle handeling

71 Die twee hemelse monnike (julle moet weet dat “hemel” hier soveel wil sê as “synde in die paradys”) gaan voorop en die engele met hulle knuppels en sabels kom agter ons aan. Julle vra waarheen hulle ons wel gaan bring. Kyk, daar taamlik noordwaarts in `n hoek van die lae tuinmuur is `n vervuilde toring, voorsien van `n swart deur. Daar gaan hulle ons aanhou. Wat verder daar gaan gebeur, sal julle eie ervaring julle leer. Beluister onderweg maar wat die twee monnike bespreek.

2 Die een sê so pas: Wat dink jy as hierdie drie vagebonde tog afgesante was van `n beter oord as hierdie, waar ons nooit net soveel kan eet dat ons genoeg het nie? Moes ons hulle in die geval nie aanhoor en ons verder laat inlig waar hulle eintlik vandaan kom nie? Want die vraag wat ons hulle gestel het, of hulle van bo, of van benede gekom het, was te voorbarig. Ons het, soos mens gewoonlik sê, met die deur in huis geval. Neem net aan dat hulle in erns van bo sou kom en ons sou hier in die paradys baie onparadyslik met hulle handel, dan kan so-iets ons duur te staan kom. Daarom is ek van mening dat ons, in plaas van om hulle in die dwangtoring te stop, hulle eerder daar in die rigting van die middag na die vryheidstoring moet bring, wat oral na buite oopstaan en slegs na binne op slot is.

3 Die ander sê: Beste vriend en broer, ek dink dat jy tog nie hier in die paradys van plan is om `n ketter te word nie? Ons weet goed dat die Heer op aarde sonder prag en praal geleef het. Dit was ook die geval met die eerste verkondigers en verbreiders van Sy leer. Maar jy weet tog dat die kerk van die Heer in die tyd `n behoeftige- en lydende kerk was. Na die groot kerkvergadering te Nicea, het hulle egter oor al die heidene tot ver in die omtrek geseëvier. Vandaar dat hulle dan ook opgehou het om `n behoeftige en lydende kerk te wees en daarenteen `n seëvierende, `n ryk kerk geword het, ja `n kerk vol glorie, prag, aansien, mag en gesag.

4 Wanneer die Heer Sy kerk en Sy dienare op aarde met so `n heerlikheid toerus, hoeveel te meer sal Hy dit nie hier in die Ryk van die salige geeste doen nie. Wanneer Hy dus hoër bodes na ons toe stuur, dan kan julle tog vol vertroue verwag dat dergelike bodes nie in die gedaante van so `n egte straattipe sal verskyn nie, maar met groot praal en hemelse majesteit. Want daar staan tog in die Skrif dat die Heer met groot mag en heerlikheid sal rondtrek op die wolke van die hemele. Hoe kan sulke straattipes dan afgesante van God wees? Vermomde bodes van die hel, ja, maar geen hoër bodes van die hemel nie. Daarom maar reg vooruit met hulle na die dwangtoring, wat gebou is uit suiwer gewyde klippe. Dit sal dan wel dadelik duidelik word, van watter gesindheid hulle is. Want so `n gewyde klip moet duisendmaal erger teen duiwels brand, as die onderste hel.

5 Die eerste antwoord: Goed, doen jy maar wat jy wil, maar ek bly by my idee. As dit uiteindelik skeefloop, dan kan jy alles op jou neem. Doen dus wat jy wil, ek wil nie jou planne teenwerk nie. Kyk, die toring is reeds naby. Hier, ek oorhandig die sleutel aan jou, want ek wil volstrek geen aandeel hê in hierdie onderneming nie. Ek het egter reeds dikwels by myself oorweeg dat ons, in ons Roomse kerk, altyd veel vinniger gereedstaan om te verdoem as om te seën. En dan dink ek dikwels by myself aan die teks van die Heer, waarin Hy Sy apostels en leerlinge nadruklik gewaarsku het teen verdoeming en veroordeling.

6 Om die rede het ek my dan ook heimlik voorgeneem, om niemand meer te verdoem of te veroordeel nie. En dus wil ek die voorneme vir my ook by hierdie drie geheel laat geld en sê jou daarom nog `n keer: doen wat jy wil, maar ek wil heeltemal geen deel hê aan jou handelswyse nie.

7 Die ander sê: Dan neem ek die sleutel oor en sal die goddelike geregtigheid beoefen. Want groot is die liefde van die Heer, maar Sy geregtigheid staan nog hoër en het selfs die bloed van God se Seun geëis. Laat my daarom geregtigheid beoefen.

8 Die eerste gee die geregtigheidsbeoefenaar kortweg as antwoord: Ek weet uit die Skrif dat die Heer Sy apostels en leerlinge geen ander gebod gegee het as die van die liefde nie. Ek weet ook dat die Heer eens `n onregverdige rentmeester aangehaal het as `n navolgenswaardige voorbeeld. Ook het Hy eens gesê dat Hy meer vreugde het oor `n berouvolle sondaar, as oor nege-en-negentig regverdiges. Maar ek kan my heeltemal geen belangrike teks herinner waarin die Heer streng geregtigheid eg duidelik benadruk nie. Die toneel het ten slotte verdedigend vir die tollenaar geëindig en die wetsgetroue fariseër was berispe! As ek dit alles oordink, dan het `n te streng geregtigheid van ons kant in my gemoed baie van haar waarde verloor. Origens, soos gesê, doen wat jy wil. Hier is die toring, die drie staan ook hier. Die sleutel het jy in jou hande; hiermee trek ek my terug!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205