Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 72

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Netelige vraag, eerlike antwoord

72 Kyk, die monnikgees met die sleutel maak, as bewoner van die hemelse paradys, die deur oop en gelas ons om binne te gaan. Wat dink julle, sal ons die bevel volg of nie? Menige katoliek sou sê dat gehoorsaamheid dit vereis. Maar omdat `n ander beginsel sê dat mens God meer moet gehoorsaam as mense, sal ons hierdie wenk dan ook nie volg nie, maar mooi buite bly. En bowendien sal ek my nog die vryheid veroorloof om hierdie toring, deur hom netso aan te raak met my regterhand, oombliklik in nietige stof te verander. Maar omdat die sleuteldraer ons met die volgende woorde bedreig: As julle nie oombliklik na binne gaan nie, sal ek dadelik met geweld die hand aan julle laat slaan, moet ons wel na die toring toe gaan en wel so ver, dat ek hom met my vinger kan aanraak. Nou is ons by die toring en sien, hy bestaan nie meer nie!

2 Maar kyk nou ook net na die monnik wat ons gevange wou neem, wat se erbarmlike verbaasde gesig hy trek. En die ander, beter gesinde, gaan na hom toe en sê: Wel, broer, wat sê jy dan van die gebeure? Kan die duiwel so-iets teweegbring? Die ander sê: Ja, broer, hierdie saak kom my uiters raaiselagtig voor. Tot nou toe het geen Satan ook maar enigsins vat op hierdie toring gehad nie. Ja, hy staan daar soos `n waaragtige onoorwinlike kasteel van God en al die ketters en dienare van die duiwel, wat teenstanders was van die alleensaligmakende kerk, het daar hulle vervloekte asiel gevind. Geen duiwel het dit ooit gewaag om in die omgewing van hierdie toring te kom nie. En kyk nou, hierdie booswig, of wat hy ookal mag wees, het die toring met `n vinger aangeraak en op dieselfde oomblik was daar geen spoor meer daarvan te sien nie. Ek sien nou geen ander middel nie as om hierdie drie, so goed en so kwaad as wat dit gaan, buite die heilige paradys te bring, want anders raak hulle nog ander dinge aan en vernietig dit net soos die toring.

3 Ek moet eerlik beken, God, die Heer is werklik `n raaiselagtige wese en wanneer mens dink om na jou beste vermoë te handel, dan verydel Hy weldra alles. So het Hy die een kerk na die ander gestig, en wanneer `n kerk uitgegroei is om, soos mens wel sê, aan God se leiband te loop, dan kom Hy en sny die band soos `n heidense Spartaan middeldeur. Dan val die hele kerklike kraampie onderstebo en bly daar niks van oor as hoogstens `n naam nie, soos by die stad Babilon. Nou weet mens nie eers meer waar om die plek te vind waar hierdie groot wêreldstad eens gelê het nie. Ek, wat my betref, wil met hierdie drie manne niks meer te make hê nie. As jy jou verder nog met hulle wil besighou, dan kan jy dit doen. Maar of jy iets met hulle sal bereik, dit betwyfel ek ten seerste. Volgens my sou `n algemene konsilie (kerkvergadering) oor die gebeure die beste middel wees. Maar hoe roep jy dit bymekaar, solank hierdie drie aanwesig is?

4 Die ander sê: Ek dink dat dit nie nodig is nie, want hierdie drie kom kennelik van bo. Waartoe sou `n konsilie dan dien? Hulle sal ons konsilie netso goed uitmekaar blaas as hierdie toring. Die “van benede kom” van hierdie drie laat ons voorlopig mooitjies buite beskouing, want daar staan geskrywe dat helse magte die rots of die kerk van Petrus nooit sal oorwin nie. Maar hoe sou dit afloop as ons in `n konsilie die oordeel so sou lei dat hierdie drie afgesante van die hel is en het tog, ondanks die getuienis van Christus, `n einde gemaak aan hierdie toring? Ons sou daarmee niks anders kan sê as dat ons alleensaligmakende kerk gladnie deur Petrus of Christus gestig is nie. En die getuienis sou tog sekerlik heelwat erger wees as die tot niet gaan van hierdie toring. Maar erken ons daarenteen dat die Heer ons dit aangedoen het, as gevolg van Sy onmeetlike raadsbesluite, dan berokken ons onsself nie die minste skade daardeur nie. Dit staan die Heer immers vry om te doen wat Hy wil en alles wat Hy doen is sekerlik welgedaan.

5 Die teenstander sê: Jy het gelyk en ek kan niks daarteen inbring nie. Maar wat sal ons salige medebroeders en al die dienswillige engele van hierdie gebeurtenis sê, wanneer hulle dit sal verneem? Dit lyk vir my tog nodig om hulle dadelik daaroor in te lig, want anders kom ons in `n ongunstige lig by hulle te staan.

6 Die ander sê: Daaroor het ek weer `n heel ander mening. Laat ons onsself nie bedruk maak oor wat ons aan ons medebroeders sal sê nie, maar laat ons hierdie drie, solank hulle nog hier is, in hemelsnaam laat doen wat hulle goeddink en daarby was ons ons hande in onskuld. Ons medebroeders moet maar self probeer hoe dit hulle geval om teen `n onstuimige bergstroom op te swem. 

7 Nou spreek ek die beter monnik aan en sê: Luister, geliefde vriend, jou spraak geval my en daarom is jy nader aan die Ryk van God as menige ander. Al het jy ook weinig werk verrig wat jou hierheen sou nagevolg het, jy het tog heelwat meer lig as die ander. Daarom kry jy nou die geleentheid om die goeie dade wat jou ontbreek vir die Ryk van God, in te haal. Laat daarom dadelik al die skynsaliges van die paradys hier bymekaar kom.

8 Ons beter monnik sê: Liewe vriende, dit kan dadelik geskied, want deur `n oproep en `n wenk sal almal hulle aanstons hierheen begewe.

9 Ek sê: Gee dus `n wenk en laat jou oproep luid klink. Ons monnik doen dit en `n hele menigte kom reeds van alle kante aangeloop. En kyk hoe enkeles hulle hande inmekaar slaan omdat hulle die toring nie meer sien nie. Van alle kante word gevra: In hemelsnaam, wat het hier gebeur? Welke booswig het dit gedoen? Ons beter monnik antwoord met `n luide stem: Luister broers, ek sê vir julle, vra nie daarna nie, want die drie magtiges staan nog in ons midde. Die middelste, wie ons ellendig genoeg in die toring wou opsluit, het dit nouliks met `n vinger aangeraak en in `n oogwenk was die toring vernietig. Ons weet egter dat die mag van Satan dit nooit kon gedoen het nie; wees daarom verstandig, sodat geen groter onheil ons mag tref nie.

10 Kyk, die opperste leier van die paradyslike monnikekollege kom baie versigtig na ons toe en ondervra ons, en sê: Ons en alle goeie geeste loof God, die Heer! As julle ook goeie geeste is, sê ons dan wat julle verlang.

11 Ek sê: Kyk, my verlange is heel eenvoudig en bestaan in niks anders nie as dat julle my meedeel by welke geleentheid Petrus die kerk van Rome gestig het en by welke geleentheid die gehele monnikewese? Maar dit moet julle vir my bewys uit die Skrif, want elke ander bewys sal ek van die hand wys.

12 Kyk nou, hoe hierdie prior (kloosterhoof) `n heel erbarmlik gesig trek en dadelik heimlik `n kruisteken maak oor sy gesig en heimlik aan sy buurman sê: God staan ons by! Ons staan oog teen oog met die opperste drie-eenheid uit die hel; dit is Lucifer, Satan en Leviatan! Dit is wel seker! Maar aan ons is `n vraag gestel; wat gaan ons daarop antwoord? Swyg ons, dan verniel hierdie drie-eenheid - God staan ons by - ons hele klooster, ons paradys en ons hemelryk en stuur ons ten slotte reg die hel in! Maar gee ons vir hom `n antwoord, dan het ons onsself so goed as aan die hel oorgelewer. Werklik, God se beskikking neem in hierdie wêreld `n vreemde karakter aan, sodat mens selfs in die paradys en in die hemel nie eens goed weet waaraan `n mens toe is nie. Maar omdat ek die apostoliese gesag van die Roomse Kerk gladnie uit die Skrif kan bewys nie, sal dit die beste wees dat ek dit vir hom sê soos wat dit ook werklik is: Luister vriend, dit kan ek nie beantwoord nie. Ek glo wel dat die Roomse Kerk deur Petrus gestig is en sien dit ook in vanuit `n historiese tradisie. Volgens hierdie tradisie sou hierdie apostel meer as twintig jaar in Rome deurgebring het. Maar of so `n tradisie outentiek al dan nie is, dit weet die Liewe Heer beter as ek.

13 Ek was nou eenmaal Rooms-Katoliek en het geglo, geleer en gehandel volgens die gees van hierdie kerk en ek het gedink dat ek daardeur niks verkeerds gedoen het nie. Maar as die saak anders is, dan kan jy ons self daaroor inlig. Ek is geneig om na jou te luister; vertel ons dus maar. As jy `n goeie gees is, dan sal jy niks verkeerds wil doen nie. Maar as jy `n slegte gees is, bedink dan dat God nog magtiger is as jy. Dus, sê wat jy te sê het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205