Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 73

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

`n Vraag aan die prior van die Augustynse klooster

73 Ek sê aan hom: Vir die oomblik het jy jou baie goed daaruit gered. En omdat jy self kan insien, dat jy geen antwoord op my vraag kan gee nie, wil ek die nie-beantwoording dan ook beskou as `n antwoord. Maar let nou op, ek gaan `n tweede vraag aan jou stel. Miskien vind jy `n antwoord daarop in jouself. Omdat jy, wat goed op hoogte van die Skrif is, ook tydens jou lewe op aarde dit nie kon agtergekom het of die apostel Petrus ooit in Rome geleef en die kerk van Rome gestig het nie, sou ek tog van jou wil hoor, om welke rede jy tydens jou lewe op die idee gekom het, om jou met alle ywer in te sit om prior te word van `n klooster? En waarom het jy, toe jy met behulp van allerlei sluwe middels die priorskap bemagtig het, jou selfs enkele male tot die hoof van die kerk gewend, om jou, óf tot generaal van jou orde, óf as dit moontlik was, tot biskop te benoem? Kyk, dit is `n belangrike vraag en jy kan my `n antwoord daarop gee, omdat jy dit alles in jouself ervaar het en dit nog heel lewendig voor die oë van jou herinnering sweef.

2 Kyk nou, ons paradyslike primus (dux of hoof) trek `n baie verbouereerde gesig, soek in alle hoeke en gate na `n slim antwoord en vind in homself, soos julle sekerlik uit sy verleë gelaatsuitdrukking kan aflei, niks van die aard nie. Hy voel hom baie sterk genoodsaak om met wil en dank met die waarheid vorendag te kom. Al sal dit hom hoe ookal op sy tong brand, soos wanneer hy teveel hittige kos te ete kry, dit sal hom nie baat nie. Daarom besluit hy by homself om die waarheid te spreek, kom wat wil!

3 Kyk, hy maak sy mond oop; luister dus na wat hy na vore gaan bring. Hy, (die prior) sê: Geliefde vriend, waar jy ookal vandaan mag kom, ek sê jou eerlik dat ek dit alles letterlik vir myself gedoen het. En waarom het ek dit gedoen? Omdat ek met my goeie kennis van die beginsels van die Rooms-Katolieke kerk, maar al te goed ingesien het waaroor dit eintlik in hulle Christelike teorieë gaan, naamlik oor niks anders nie, as slegs om wêreldheerskappy. En om dit te bereik, moet `n mens vir hom aansien en deur aansien, skatte en rykdomme kan verskaf. Maar hoe die suiwer Christendom daar­oor voel, dit weet jy self goed, en daaroor het die mense in die Kerk van Rome hulleself nog nooit bekommer nie.

4 En as ek my nie vergis nie, bestaan die ellendige situasie in die Rooms-Katolieke kerk vanaf die tyd van Karel die Grote, wat na my wete aan die biskop van Rome grond geskenk het en op die manier `n wêreldse maghebber van hom gemaak het.

5 Vanaf die tyd het die mens die Christendom, vir wat sy suiwer sfeer betref, as ongeskik vir die kerklike saak, slegs in die geheim bekyk, omdat dit in sy egtheid lynreg teenoor wêreldse aansien gestaan het. Daarom het die mens slegs die naam behou en het die leer so aangepas, dat hulle dit noodgedwonge met die wêreldse aansien moes verdra.

6 Ek moet jou nog daarby sê dat ek dikwels, as ek heimlik ietwat verder nagedink het oor die pousdom, baie sterk moes dink aan die god uit die boek Daniël, “Mausim”, aan wie mens goud, silwer en edelstene geoffer het en geen liefde vir vrouens geken het nie. Maar wat het al my gedinkery gebaat? Ek was nou eenmaal soos `n stom os in die juk gespan; wie kon my losmaak? Maar dit is wel seker, dat die voorste osse aan die wa, minder te trek het as hulle wat meer na agter voor die wa ingespan is. Ek was bly dat ek dit kon insien. Daarom het ek probeer om meer vooraan in `n juk gespan te word, om sodoende meer `n parade-os as `n trekos te wees. Moes ek dan anders gehandel het?

7 Ek wou wel anders gehandel het, as God my nie so `n teergevoelige huid gegee het nie. Maar as gevolg van die uiterste teergevoeligheid van my huid en die steeds weer vars aanblik van die baie in ligte laaie staande brandstapels, het ek die verstan­digste weg gekies en het eintlik heeltemal niks gedoen nie. Ek het by myself gedink: Om waaragtig Christelik goed te doen, volgens die sin van die goddelike Stigter, is in sulke omstandighede so goed as totaal onmoontlik. Daarom doen ek liewer niks, doen so goed moontlik aan die uiterlike domhede mee en probeer dit, so goed en kwaad as wat dit kan gaan, ten minste te gebruik tot my tydelike voordeel. Ek weet goed dat dit, gemeet aan die leer van Christus, as dit outentiek was, verkeerd moet wees, maar dan het ek weer gedink: 

8 As die Heer hierdie leer, soos wat dit in die evangelie staan, gestig het, dan sal Hy ook wel Sy redes gehad het, waarom Hy Sy eenvoudige en hoogs suiwer leer so laat ontaard het! Bowendien het ek ook gereeld aan Paulus gedink, wat sy gemeente opgeroep het om onderdanig te wees aan die wêreldlike gesag, of dit nou goed of sleg was, want daar bestaan nêrens gesag nie, of dit kom van God af. Is dit dus onreg wat die hoofde van die kerk doen, dan moet hulle dit eens verantwoord. Maar ek doen, wat Pontius Pilatus eens gedoen het, toe hy nie die kruisiging van Christus kon verhinder nie. Die Heer, as die mees volmaakte Wese, sal sekerlik ook goed kan insien dat iemand van ons, met `n uiters beperkte mag, nie in staat is om teen die gangbare wêreldopvattinge in te gaan nie.

9 Kyk, beste vriend, waar jy ookal vandaan kom, dit is my antwoord op jou vraag en jy kan my vel nou hier op staande voet afstroop, jy sal geen ander antwoord uit my kry nie!

10 Nou sê ek: Goed, my beste vriend, jy het niks verswyg nie, maar alles opreg aan my meegedeel, wat jy volgens jou herin­nering in jouself gevind het. Maar ek sou graag van jou wil hoor op welke gronde jy dan vervolgens in die paradys gekom het. Want as jy by jouself, soos jy sê, oortuig was van die volledige faling van die Kerk van Rome, dan moet jy tog ook daarvan oortuig gewees het dat haar leer oor die voortbestaan van die siel na die dood, netso verkeerd moes gewees het as al die ander. Ek moet jou nog daarby sê dat baie mense, juis uit die Katolieke Kerk, hier beland het, wat tog spoedig in die ware Ryk van God sal kom en verder moet ek nog opmerk dat, ook al sou die Katolieke Kerk haar in `n volkome anti-christendom bevind, kan my dan tog nie herinner dat hulle die naasteliefde en die ootmoed ooit verbied het nie. Daarom wil ek nog van jou hoor, hoe dit dan gekom het dat jy, soos reeds opgemerk, in die paradys gekom het.

11 Ons primus sê: Beste vriend, waar jy ookal vandaan kom, om hierdie vraag te beantwoord, sal van my kant wel ietwat moeilik wees, want eerlik gesê, die gronde waarop ek hierheen gebring is, ken ek ewemin, as die middelpunt van die aarde. Want ek moet eerlik toegee dat ek tydens my liggaamlike lewe, die onsterflikheid van die siel na die dood, en nog veel meer sake heeltemal laat vaar het. Maar wanneer mens die geestelike lewe na die dood laat vaar, dan bly daar op aarde tog niks anders oor nie as om te lewe volgens die oud-Romeinse gesegde: ‘Ede, bibe, lude; post mortem nulla voluptas’!* So het ek op aarde ook geleef om te eet, te drink en juis terwille van die eet en drink, alle wêreldse beuselagtighede meegemaak. *(Eet, drink en speel, want na die dood bestaan daar geen plesier meer nie)

12 Maar toe het die fatale liggaamlike dood oor my gekom, waar ek tydens my lewe so onnodig baie oor nagedink het, toe ervaar ek dat hierdie dood geen ‘ultima linea rerum’* is nie, maar dat ek na die, en vir my tot op hede onbegryplike aflê van my aardse omhulsel, net so verder leef soos wat ek vroeër op aarde geleef het. Die enigste verskil is dat ek nou, in plaas van in vuil kloosterselle, my tyd deurbring in hierdie aardige tuinsalon en in plaas van `n swart, nou `n wit toga dra, geen mis meer lees nie, maar my hier bevind soos `n bladluis wat met intelligensie begaaf is en letterlik `n ‘fructus consumere natus’* is. *(definitiewe einde)

**(parasiet)

13 Dat die kloosterreëls van die wêreld nog hier onderhou word, is op sigself geneem, netso onverklaarbaar as al die ander. Ons dink dat ons gelukkig is hier; werklik, ons is slegs gelukkig hier, vanweë ons teruggevinde, aangewende en ietwat gekultiveerde klooster­reëls. Neem jy dit van ons af, dan is veldmuise gelukkiger as ons. Ek moet jou daarom nog by dit alles sê dat geeneen van ons regtig weet waarom ons hier is nie . 

14 As jy iets beter weet, deel dit aan ons dan mee en ons sal hierdie onsekere skyn baie graag omruil, selfs vir `n onplesierige sekerheid. Doen met my en met ons almal wat jy wil, maar bespaar ons die hel en nog verdere vrae. Want ek het jou nou alles vertel en jy kan my nou nog vrae stel soveel as wat jy maar wil, ek sal weet om jou op elke vraag te antwoord soos `n klip; want waar niks is nie, daar kan die dood niks neem nie!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205