Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 75

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Tog deur die kloosterhemel

75 Julle vra nou wel: Geliefde broer en vriend, waar is die hemel dan? Ek sê vir julle, ons hoef gladnie ver te gaan om hom te sien nie. Kyk net daar voor ons, die baie imposante paleis en daar in die middel bo, `n trap, `n klein poort wat presies in die middel van die paleis aangebring is. Dit is die ingang van die hemel, want julle moet weet dat die hemel en die paradys nie ver vanmekaar af lê nie. Julle vra of Petrus en Migael ook hier is. Hulle sal nie ontbreek nie, maar hulle bevind hulle nie voor nie, maar agter die deur. Ons sal nie met geweld hier in die hemel binnedring nie, maar sal, wanneer ons aanklop, dadelik vir Petrus en Migael sien. Laat ons dus na die poort gaan en daar klop, sodat ons in die hemel ingelaat kan word. 

2 Ons is ter plaatse. Let nou op welke vraag ons daar, as ek klop, van agter die poort te hore kry. Dus klop ek nou aan en luister, “Petrus” is reeds aanwesig en vra: Waarvandaan, van bo of van benede? Ek sê: van bo. Petrus sê: Hoe heet jy? Ek sê: Bode van die Heer! Petrus vra verder: Welke Heer? Ek sê: Ek ken maar één Heer, naamlik Jesus Christus!

3 Petrus sê: Jy is `n leuenaar; hoe kan Christus jou van buite af gestuur het, aangesien Hy tog slegs hier in die hemel woon en sit aan die regterhand van die Vader? As jy deur Hom gestuur was, dan moet jy hier vanuit die hemel gestuur wees. Maar jy kom van buite en het `n onbekende stem. Dus is jy `n leuenaar en `n bedrieër en `n heel growwe sondaar teen die Heilige Gees. Daarom, skiet af na benede die hel in, met al die ander wat by jou is!

4 Ek sê: luister, jou blinde hemelwagter, jy vergis jou geweldig. Maar omdat jy my vra waar ek vandaan kom en hoe ek heet, daarom vra ek ook aan jou, wie jy is, dat jy jou dadelik aanmatig om te veroordeel en te verdoem, terwyl die Heer dit tog ten strengste vir al Sy apostels afgeraai het.

5 Petrus sê: Ek is Petrus, `n rots, waarop Christus Sy kerk gebou het en hierdie kerk sal deur sulke bodes van benede, soos jy, nie oorweldig word nie. Daarom wag julle tevergeefs om binne te kom.

6 Ek sê vir hom: Vir wat sou jy my dan beskou, as ek, ondanks jou hemelse Petrusmag, hierdie deur sou oopbreek en my heeltemal meester sou maak van jou hemel?

7 Petrus sê: O jou afskuwelike duiwel van die duiwels, probeer maar net aan die deurknop te raak, dan sal jy gou merk hoe hittig dit is. Maar ek kan jou vooraf verseker dat hierdie deurknop jou op dieselfde oomblik heelwat meer pyn sal veroorsaak as duisend jaar in die onderste hel.

8 Ek sê aan hom: Luister, dit kom daarop neer om net te probeer. En dus gryp ek jou gevaarlike deurknop vas en kyk, die deur is oop. Ek kan jou verseker dat ek in die eerste plek geen pyn gevoel het nie en ten tweede het ek jou poort oormeester en daarom vra ek jou nou van aangesig tot aangesig: As wie beskou jy my, aangesien ek jou rotspoort deur my poort oorweldig het? Spreek nou!

9 Petrus sê: Wat moet ek sê met so `n godslasteraar voor oë, wat met sy afskuwelike voete honend teen die heilige woning van God en Sy heiligdom skop?

10 Ek sê: So spreek jy as Petrus, my aan? Weet jy nie dat Christus Sy apostels die gebooie geleer het om sagmoedig soos duiwe te wees nie? En jy is hier so lomp soos `n waghond! As jy werklik Petrus is, dan moet jy tog weet dat die Heer Sy apostels en leerlinge, niks so sterk aanbeveel het, as die ware ootmoed van hart, die grootste sagtheid van gemoed en die volmaakte liefde tot die naaste nie. As ek nou, as veronderstelde duiwel, jou daaraan herinner, is ek dan nie daardeur nader aan die goddelike waarheid as jy nie? En jy beskou jouself as Petrus en verbeel jou om `n dagloner van die hemel te wees! Maar die woord van die Heer en sy uitwerking is vir jou vreemder as die middelpunt van die aarde. Daarom roep ek jou nog `n keer op, by die lewende Naam van die Heer, om aan my die volledige waarheid te beken en my mee te deel wie jy is.

11 Die pseudoPetrus sê: Luister, jou afskuwelik duiwel, jy is geen antwoord werd nie en as jy hierdie plek nie oombliklik verlaat nie, dan roep ek dadelik alle hemelse magte bymekaar en wel eerste die heiliges. As jy nog nie voor hulle wil wyk nie, dan roep ek alle engele en as jy jou teen hulle gaan verset, dan roep ek die allersaligste maagd Maria en die heilige Josef en sou jy ook voor hulle, nog nie op die vlug slaan nie, dan roep ek die heilige drie-eenheid self! Kibbel daarom nie en gaan liewer goedskiks na benede na jou vervloekte hel. Want as jy dit laat gebeur dat al die hemelse magte op jou sal afkom, dan sal jy met gloeiende kettings vasgebind word en jy sal saam met jou handlangers onder duisendvoudige pyne neergewerp word in die onderste van alle helle, waar jy in duisendvoudige groter pyne, vir ewig sal brand, kook en braai!

12 Ek sê vir hom: Luister, as jy my op my vraag, wat vergesel was deur die ware liefde van die Heer, so `n antwoord gee en my selfs met al jou hemelse magte bedreig, dan is ek wel so vry, om sonder jou toestemming, met my geselle in jou hemel binne te dring en my daarvan te oortuig of al jou hemelse magte werklik in staat sal wees om jou bedreiginge teen my uit te voer.

13 Hoor nou, op hierdie uitspraak van my begin Petrus te kerm en stel Migael teenoor ons op. Maar hyself deins terug en roep al sy hemelse magte tegelyk op tot hulp. Maar ons gee Migael `n stampie en kyk, ook hy deins terug, Petrus agterna en die trap is vry. Laat ons dus maar dadelik na bo gaan. Julle sal julle self daarvan kan oortuig dat Petrus en Migael, met al die ander hemelse magte, hulle uit suiwer hemelse beskeie politiek, mooitjies op die agtergrond van die hemel sal begewe.

14 Kyk nou, ons is reeds daar en die hemel, van `n nie al te groot omvang nie, lê oop voor ons oë, soos wat hy, volgens die verkeerde insigte van hierdie hemelbewoners, voorhande is. Wat sê julle van hierdie hemel? Volgens wat ek sien, haal julle julle skouers op en sê: Nee, moet dit `n hemel voorstel?! Dan het ons die vroeëre paradystuin veel eerder vir `n hemel aangesien, as hierdie baie opskepperige, teatrale rommelmark van dekorstukke. Werklik, so dom het ons hierdie hemelbewoners tog nie vir ons voorgestel nie. As hulle desnoods die Sint Pieterskerk van Rome tot hemel omgetower het, dan was dit, by `n sekere graad van blindheid, nog te vergewe. Maar hierdie egte plomp en doodeenvoudige voorstelling sou op aarde nouliks die eer hê om die goedkeuring van die allerdomste boerekinders af te dwing nie en sou dus van ganser harte deur ietwat beter soort mense uitgelag word.

15 Soos wat hier te siene is, stel die baie gewone, aanmekaar geskuifde tafels op die verhoog van die hemel, die tafel van Abraham, Isak en Jakob voor. En vooraan is, in plaas van `n beeldhouwerk, slegs `n sleg geskilderde afbeelding van Abraham, Isak en Jakob. Wat die ‘drie-eenheid’ betref, die is op `n met wolke versierde aangeklede podium van die hemelteater, en lyk ook asof uit growwe stukke karton gesny, dan grof en knoetserig geskilder en met `n sigbare lomp spyker aan die agterwand vasgemaak. En die knoeiwerk van die heilige drie-eenheid word gedra deur gerubyne en serafyne! (twee soorte engele) Die beste is nog die groot ronde, van geel glas voorsiene venster agter die drie-een­heid. Ja, my geliefde vriende, julle het goed gesien en sou nou ook wil weet waarom hierdie hemel so beklaenswaardig lyk.

16 Ek sê vir julle, dit het alles sy goeie redes en julle het reeds in die tuin gehoor hoe die bedenklike van die hemel, daar goed verborge gehou word, sodat die paradysbewoners nie aangepor word tot `n moontlike opstand nie en wel in die besonder van die kant van die diensdoenende engele. Daarmee hoef mens hier minder rekening te hou, want die een bedrog sleep `n volgende agter hom aan. By die volgende beskouing sal ons egter duidelik ontdek, waarom hierdie hemel so lomp en materieel lyk. Daarom sal ons by hierdie geleentheid ook dit ons eie maak. Want julle kan reeds by voorbaat aanneem, dat die partisie ook `n baie geslote hemel het.

17 Maar daar is in so `n klooster gewoonlik twee soorte partye wat daar woon, naamlik die werklike monnike en die lekebroeders wat die werk van huisknegte verrig, en word hierdie hemel, waar die monnike glad geen sin in het nie, ook grotendeels deur broeders bewoon. Wanneer hulle maar behoorlik te ete het, is hulle ook volkome tevrede met hulle hemel, omdat hulle hulleself, op grond van hulle uitsonderlike situasie as leke, nooit iets beter kon voorstel nie. Hulle behoort tot die baie duistere katolieke klasse, wat `n baie sleg gesnyde en beskilderde beeld as meer wonderdadiger beskou as `n estetiese meesterlike beeld. Daarom sal julle dit ook al goed opgemerk het, dat die sogenaamde wonderdadige genadebeelde meestal suiwer karikature is. Daarom sou `n hemel, soos wat ons dit onlangs gesien het, vir hierdie hemelbewoners veels te mooi wees en daardeur ook lank nie so `n waaragtige en almagtige werking hê nie.

18 Kortliks, ons sal ons hier voorlopig nie langer besighou met die verdere ontleding van hierdie hemel nie, want hy word sonder meer nog baie duidelik en uitvoerig uitgelê by die komende opvolgende onthullings van hierdie hemelbewoners. Julle sal letterlik nog `n sogenaamde hemelse komedie sien wat hier opgevoer gaan word. Hierdie bewoners gaan spoedig daarmee begin om ons uit hulle hemel te verdryf en ons gaan by die eersvolgende geleentheid so `n komedie bywoon.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205