Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 79

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

`n Blik op die ware weg na die eintlike hemel

79 As julle maar `n bietjie nadink, dan kan dit julle onmoontlik ontgaan dat die eintlike hemelryk van die Heer, as die fundamentele lewe van die gees in homself, onmoontlik op `n ander manier bereik kan word, as net deurdat die mens in homself, dit wil sê in sy gees, die voorwaardes vir die verkryging van die lewe, wat deur die Heer aangegee is, daadwerklik vervul. Dit wil sê, hy moet die lewe eers in homself vind en eers wanneer hy dit gevind het, kan hy dit sterker en kragtiger maak volgens die voorgeskrewe orde van die Heer, want Hy alleen sal weet wat nodig is vir die bereik van die reële, voorbestemde geestelike lewe.

2 Wanneer iemand deur middel van dwase, wêreldse, selfsugtige en bowendien nog smerige en volkome dooie middels die hemelryk wil koop, en dit is soos reeds gesê, die eintlike, volledig ontwik­kelde en voorbestemde lewe van die gees, dan is so `n handels­wyse nog veel dwaser en onsinniger as wanneer `n mens `n akker wat vol klippe lê, sou saai met koring en daarna, omdat die koring nie wil opkom nie, nog meer klippe op die akker sou gooi om die groei van die koring so te bevorder! Moet `n verstandige landbouer nie eers sy akker verander in goeie grond nie, dit dan bemes en dan eers die edel koringkorrels in die vore lê, sodat dit vinnig sou ontkiem, opkom en baie vrug voortbring? Dit moet tog elke, ook maar ietwat ervare landbouer toegee.

3 Wanneer dit egter die enigste korrekte voorwaarde is waaronder die koringkorrel vrugdraend kan word en `n mens op geen ander manier seën kan verwag nie, hoe sou dan die baie edeler lewensaad van die gees op so `n onsinnige akker tot `n lewende vrug vir die ewige lewe kan opgroei?

4 Ek sal julle nog `n aanskouliker voorbeeld gee, waardeur julle in hierdie baie belangrike saak, nog `n duideliker insig sal kry. Om die voorbeeld in alle duidelikheid te begryp, sal ons enkele punte daar uitlig waardeur die korrektheid van die betreffende voorbeeld heeltemal matematies korrek aangetoon sal word. Luister dus!

5 Julle weet dat ongelyksoortige en ongelyknamige groothede nie saam getel of vermenigvuldig kan word nie. As iemand `n beursie geld met duisend Groschen (Duitse muntstuk) het, word die geld dan meer wanneer hy duisend klippies daarby tel? Wanneer iemand `n huis besit, sal hy dan deur die aanskaf van `n hele klomp meubels in die besit kom van `n tweede, nog groter huis? Wanneer iemand tien skape in `n stal laat staan, sal hy dan meer skape kry deur nog `n stal daarby te bou? Dit is tog duidelik dat vir die vermeerdering van een en dieselfde voorwerp, meer gelyksoortige voorwerpe nodig is.

6 Noudat ons dit weet, gee ek julle die volgende voorbeeld. Stel vir julle net `n dwase man voor, wat die vurige wens koester om sy eie kinders te hê om homself in sy kinders te sien voortlewe. Omdat hy `n dwase man is en nie weet waar die kinders vandaan kom en hoe hulle verwek word nie, wend hy hom tot `n vriend en vra hom om raad. Die vriend is egter oneerlik en hebsugtig en weet dat ons man `n dwase maar welgestelde snuiter is. Hy dink by homself: In troebel water is dit goed om te vis; ek sal op `n oneerlike manier van sy dwaasheid voordeel trek. Toe hy dit besluit het, sê hy aan die dwase man: Luister, beste vriend, wat jy wil bereik, is baie moeilik en gaan met baie koste gepaard, maar as jy dit werklik wil, sal ek jou die middels verskaf en jou dan leer wat jy moet doen. Ek stel wel as vernaamste voorwaarde, dat jy presies doen wat ek sê. As jy dit doen, dan sal jy jou beoogde doel verseker bereik; so nie, dan is jy vir `n lang tyd verlore!

7 Nadat die valse vriend hierdie voorwaardes gestel het, sê die dwase man aan hom: Omdat ek weet dat jy `n man is wat ryk is aan kennis, sal ek ook heeltemal op jou vertrou. Gee my maar die middel aan die hand, ek het genoeg daarvoor. Maar wat doen die valse vriend nou? Luister! In plaas van om aan die dwase man `n lewende vrou te gee, verkoop hy vir baie geld `n dooie, houtbeeld aan hom en sê aan hom: Plaas haar in jou bed en asem vlytig daaroorheen, en as jy dan ook langs haar in die bed gaan lê, sal jy mettertyd vas en seker baie nakomelinge kry. Nou neem ons man die beeld en dra haar na die huis, lê haar in sy bed en gaan dadelik langsaan lê en begin saggies daaroorheen te blaas. Dit doen hy `n jaar lank, maar nog steeds is daar geen nakomelinge te sien nie. Daarom gaan hy na sy valse vriend en vra hom na die oorsaak. Hy sê egter: Wat se dwaas is jy tog, hoe kan jy nou binne `n jaar al lewende vrugte wil hê, terwyl `n boom, eenmaal in die aarde geplant, eers na baie jare vrugte begin te dra? Vir die bereik van sy doel prys hy hom nog allerlei ander middels aan, wat by hom, die valse vriend, te koop is.

8 Die dwase man koop dit ook vir die vasgestelde prys by hom en gebruik dit volgens die valse voorskrif. Desondanks kom daar geen lewende vrug te voorskyn nie en weer vra die dwase bedriegde by die valse vriend na die oorsaak van die mislukking. Die valse vriend raak baie geheimsinnig daaroor, skuif die oorsaak van die mislukking heel arglistig op allerlei versinne omstandighede en hou die dwase man solank aan die lyntjie, totdat hy, as gevolg van sy gevorderde leeftyd, selfs al sy manlike potensiaal verloor het. Ons valse vriend troos die dwase man nou daarmee, dat lewende nakomelinge sekerlik nog sal volg wanneer hy die tydelike lewe sal verlaat en gee hom bowendien nog advies oor dit wat hy aan die einde van sy lewe met die beeld moet doen, sodat hy daaruit baie seker lewende nakomelinge sal kry. Die dwaas stel hom ten slotte selfs met hierdie belofte tevrede. Daar het ons dan die voorbeeld.

9 Die vraag is nou, hoe moet ons dit bekyk om die korrekte lig daaruit te verkry? Ek sê vir julle: Dit volg vanself. Ten eerste is dit tog duidelik dat die lewe hom slegs in `n ander lewe en nie in dooie materie laat verwek nie. Dus moet die man `n lewende vrou hê, maar geen dooie, houtbeeld nie.

10 Maar nou ten tweede. Beskou julle julleself nou as mense waarin die ware hemelryk verwek moet word, en wel deur die heilige bruid van die lewe, wat die woord van God is, wat leef en die Kerk van die Heer heet.

11 As die kerk egter `n lewelose, houtbeeld-pilaar is, wat deur hebsugtige, valse vriende, wat hulle priesters van God noem, tog vir geld op `n bedrieglike manier verkoop word, asof sy die enigste lewende en deugdelike kerk vir die verwekking van lewe was, terwyl lewe tog slegs deur lewe verwek kan word, dan is so `n kerk tog die allerskandelikste bedrog wat mens hom maar kan voorstel. Dat die aanhangers van so `n kerk net sulke swaksinnige dwase is, soos ons man uit die voorbeeld, moet tog vir elkeen, wat maar `n bietjie nadink, dadelik volkome duidelik wees.

12 Het Paulus nie met groot bewoënheid gepredik dat elkeen vervloek sou wees wat `n ander evangelie sou wou predik as die evangelie wat die Heer, wat gekruisig is, Self verkondig het, naamlik Jesus Christus wat in gees en waarheid werksaam was, wat gesê het: “Wie nie wedergebore word nie, sal die Ryk van die hemele nie binnegaan nie!”?

13 Maar beskou nou `n kerk wat uit klippe opgebou is; `n kerk wat as belangrikste motto goud en silwer het; `n kerk wat `n hemel beloof wat hyself gladnie ken nie; `n kerk wat haar dwase gelowiges vir die verkryging van `n nog dwaser hemel met allerlei geheimsinnige middels, bowendien nog vir geld pla, opjaag, veroordeel en bowendien nog ywerig verdoem, dan moet julle by die beskouing van so `n kerk, die houtbeeld in die bed van die dwase man tog ook onmiddellik duidelik daarin herken. Ten slotte bly by die man immers niks anders oor as die lewendige wens om lewende nakomelinge te hê, sonder om hom egter ooit daaroor te kan verheug.

14 Kyk, so is dit met die lewe op aarde gesteld, nie slegs wat julle katolieke kerk betref nie, maar ook by elke ander kerklike sekte wat hom ook as katoliek beskou.

15 Wanneer julle die hemel wat voor ons lê, nou aan die hand van die voorbeeld beskou, dan sal julle die ooreenkoms sekerlik onmiddellik ontdek. Omdat hy die vrug is van `n kerk wat identiek is aan `n doodse beeld, en is ook dit wat die eintlike lewe in hom sou moet wees, ook net `n stewige lomp, dooie vorm en niks anders as `n wanproduk van `n dwase, bedrieglike en dus verseker geen lewe vervulde wens nie. Dat `n soortgelyke hemel nie bestendig kan wees nie, kan julle maklik insien as julle bedink, dat hy niks anders is as `n drogbeeld van die gees, wat die lewe wel wil verwek, maar dit nie kan doen nie, omdat die lewende middele hom daartoe ontbreek. Aangesien ons dit nou weet en hierdie hemel in sy ooreenstemming ken, kan ons nou ook sy verdere ontwikkeling en ontmaskering goed aanpak, waarby menige drogbeelde wel nog vir julle opgehelder sal word.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205