Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 86

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Ook in die hel is die Heer suiwer liefde

86 Ons prior, wat tydens hierdie nuwe kort dinktyd reeds alle hoeke van sy wese deursoek het, soos julle weldra uit sy mond sal verneem, het gelukkig `n verontskuldiging vir sy probleem gevind. Daarom wil ons hom ook dadelik die geleentheid gee om sy pleidooi te hou en dus sê ek aan hom: Beste vriend en broer, ek sien dat jy jou tyd goed bestee het en iets gevind het. Laat daarom maar hoor wat jy gevind het.

2 Die prior sê: Ek het werklik iets gevind wat in die gunstigste geval `n redelike verskoning vir die bieg sou wees. Maar of die vonds ook ten gunste van my gereken kan word, is `n heel ander vraag. Ek moet ewenwel opreg beken, dat van alles wat met hierdie saak te make het, die punt vir my persoonlik, veral met betrekking tot die bieg, die mees troosryke was. Maar of hierdie troos deur my tereg of ontereg aanvaar word, dit is weer `n ander vraag.

3 Die punt self is egter die “gelykenis van die onregverdige rentmeester”, wat, wanneer mens dit goed bekyk, hom in sy posisie byna net so gedra soos `n biegvader teenoor sy biegkinders. Die Heer prys die onregverdige rentmeester en sê selfs aan sy leerlinge dat ook hulle hul op dieselfde manier vriende moes maak met onregverdige goed, sodat dit dan, wanneer die Heer rekenskap van Sy rentmeester sal eis, hom in sy hemelse woning sal opneem.

4 Kyk, dit is dan ook al wat ek tot my guns gesê, kan vind. Ek dink ook dat baie van my biegelinge deur die Heer opgeneem is en hulle in die hemelse wonings sal bevind. Ek was inderdaad `n onregverdige rentmeester en het my besondig aan die onreg­verdige goed van die goddelike woord. Ek het ten nadele van die groot Heer van die huis met die onskatbare goed gewerk, en omdat ek dit in die letterlike betekenis van die woord in skandelike Mammon omgesit het, kan dit vir my in hoë mate as onregverdige goed beskou word.

5 Hoe dikwels het ek nie die allergrootste skuldenaars van die Heer se skuld in die biegstoel uitgewis nie? Ek skeld die hoofkapitaal volkome kwyt vir hulle en laat slegs `n geringe kapitaal vir die skuldenaar oor, want die klein daaglikse sondes kan as `n agter­geblewe smet van die grote beskou word. Slegs vir dit moet `n suiwerende boetedoening verrig word, waarby die nodige louterende middels aangereik word, waardeur die skuldenaar sonder enige moeite van sy klein skuld kan afkom.

6 Dat die kerk eiemagtig sulke middels voorgeskryf het, wat nie alleen ek nie maar elke priester in soortgelyke daaglikse gevalle van skuld, streng verplig was om te gebruik, daaraan kon ek ewe­min iets doen as al my gelykes. Hier het jy nou alles wat ek jou kan gee. Jou wysheid sal hierdie saak beter beoordeel as al my verstand.

7 Nou sê ek: Wel beste vriend en broer, ek het jou verontskuldiging aangehoor en sê vir jou dat dit wel vir die oorbieg deug, maar hoe? Dit is `n ander vraag wat ek dadelik sal beantwoord.

8 As die hart van `n biegvader werklik van liefde vervul is en hy die bieg gebruik om die biegeling by die geleentheid aan te dui wanneer en op welke manier die sondes, slegs deur die Heer vergewe kan word, en hy hom laat sien dat die bieg op hom, sonder die inagneming van hierdie vriendelik aangeraaide middels en die volledige toepassing daarvan, nie die minste effek sal hê nie, maar dat daarenteen `n sondaar, indien hy by die bieg aan die volledige kwytskelding van sy sondes glo, deur so `n bieg slegs nog verstokter en onverbeterliker word. Wanneer die biegvader bowendien nog die raad baie vriendelik en liefdevol aan die biegeling gee, dat hy baie sorgvuldig en ernstig moet probeer om voortaan al sy belyde sondes te vermy, op die weg wat deur die evangelie aangewys word, en om sonder onderbreking voort te gaan, is dit die enigste weg wat tot die wedergeboorte van die gees lei en die biegeling daarop die biegvader opreg belowe dat hy al die moontlike sal doen om die raad op te volg, waarop die biegvader hom in die Naam van die Heer sy belyde sondes kwytskeld, dán alleen is hy `n egte biegvader en kan in die geval beskou word as `n “onregverdige” rentmeester.

9 Jy vra jou nou wel af, hoe `n biegvader in die geval nog `n “onregverdige” rentmeester kan wees? Jy kon ten dele al uit my relaas aflei dat niemand die reg het om tussen twee persone, wat met mekaar in die skuld staan, die skuld te delg nie, behalwe wanneer `n derde tussen die skuldenaar en die skuldeiser optree, hulle deur die leer van die liefde weer tot mekaar bring en vir die arme skuldenaar liefdadig uit eie kas aan die skuldeiser die skuld betaal. Maar let wel, dit kan maar net gebeur wanneer beide partye volkome broederlik en vriendskaplik met so `n liefdadige skuld­delging akkoord gaan.

10 Ten tweede is die onregverdige rentmeesterskap van so `n eerlike biegvader nog baie goed te herken in die teks uit die Skrif waarin die Heer aan Sy apostels en leerlinge sê: “Wanneer julle egter alles gedoen het, sê dan en beken: Ons is onwaardige diensknegte”

11 Ek dink dat dit in die geval nie meer nodig sal wees om jou nog uitvoeriger te onderrig nie, want as jy nog `n vonkie geloof in die evangelie het, dan moet my woorde as `n ewig onomstootlike waarheid volkome duidelik vir jou wees. Jy sê nou vir my in jou hart: Ek begryp dit alles maar al te goed; maar wat sal daar nou met my en ons almal gebeur? Ons kan immers geeneen van almal as onregverdige rentmeesters aangemerk word nie, want soos ons hier voor jou staan, het ons nooit met sulke suiwer bedoelinge die bieg afgeneem nie. Ek sê egter vir julle: Die weg lê al oop en julle sal al baie vinnig die geleentheid kry om hier in die Ryk van absolute betroubaarheid `n beter onregverdige rentmeester te wees as op aarde, waar dit jou volkome aan lig en aan lewende geloof ontbreek.

12 Kyk agter ons na die hele groep wat bedrieg lyk, sien die groot menigte lyke in die paradys, kyk verder na die aansienlike menigte “sieleslapers” in die klooster van julle verkeerde grondbeginsels! Gaan daarheen en predik vir hulle die ware evangelie. Bring almal hier, dan sal julle daardeur die eerste stap neem om `n waaragtige “onregverdige rentmeester” in God se Ryk te word.

13 Die prior sê: O goddelike vriend en broer, is dit dan tog nog moontlik dat ek aan die hel kan ontkom?!

14 Ek sê: Wie het jou dan tot die hel verdoem? Dink jy dat die bodes van die Ewige Liefde so-iets sou doen? As jy jouself nie verdoem deur jou onbuigsame gemoed en as jy, soos wat ek sien, liefde vir die Heer in jou hart voel, waar is dan hulle daarbo wat nog die mag sou hê om jou tot die hel te verdoem? Dink jy dat die Heer Sy bodes stuur om te verdoem? O, dan vergis jy jou tog deeglik!

15 Die Heer stuur Sy bodes om te verlos, maar ewig nooit om te verdoem nie. Hou jou daarom nie meer besig met dwaashede nie, maar laat jou liefde vir die Heer sterk ontvlam, gaan met so `n liefde na jou broers en lei hulle almal uit hulle gevangenisse hierheen. Dan eers sal jy ondervind hoe die Heer Sy kinders oordeel.

16 Glo my, ook in die hel is die Heer suiwer liefde en daarin is nie `n slegte gees, wat nie die reg sou hê om, as hy maar wil, as `n verlore seun na die Vader terug te keer nie! As dit nou absoluut seker en betroubaar is so, dan sal jy uit jou liefde vir die Heer ook wel kan aflei dat Sy almag jou nie vir die hel geskape het nie. Daarom, gaan nou en doen wat ek jou gesê het, sodat jy spoedig verlos kan word!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205