Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 87

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die onderskeid tussen die korrekte en verkeerde handhawing van die bieg

87 Kyk, die prior vertrek om hulle, wat ons voorheen aan die oorkant van die kloof agtergelaat het, te gaan haal. Jy vra nou of daar al een of ander brug oor hierdie kloof gebou is, waaroor die sieleslapers hulle na ons toe kan begewe. Ek sê vir jou: Daar het in die opsig tot nou toe nog niks gebeur nie, omdat ons sieleslapers na ons vertrek jammer begin voel het vir hulleself, dit wat egter op `n mens, in verband met sy geestelike lewe, `n uiters slegte uitwerking het.

2 By selfbejammering regverdig `n mens homself, skuif alle skuld van hom af en stel hom dus op as `n onskuldige, wat tegelykertyd ook nog alle erbarming verdien. Aangesien dit, soos gesê, nou juis by ons sieleslapers die geval is, kan daar ook nog geen brug wees waaroor hulle na ons toe sou kan kom nie. Dit dien egter ook as `n grootse beproewing vir ons prior en ons sal wel sien wat die netelige situasie, waarin hierdie broederskap van sieleslapers verkeer, se uitwerking op hom sal wees.

3 Julle sou nou wel graag getuie wil wees van dit wat hy gaan doen, maar ek sê vir julle, dit is voorlopig gladnie nodig nie, want ons sal hom vroeg genoeg weer terugsien, omdat hy sekerlik onverrigter sake sal terugkom.

4 Ons wil ons intussen liewer tot `n ander monnik wend en sien wat se uitwerking die behandeling van ons prior op hom gehad het. Ons hoef nie te sê: Kom en vertel wat jy op jou hart het nie, want hy kom, soos julle sien, al uit homself met sy probleem na ons toe en stel my nou net die volgende vraag (die monnik): Beste vriend en broer, ek het jou les oor die bieg van begin tot einde met groot noulettendheid en innerlike waardering gevolg en daaruit afgelei dat hierdie hooffunksie van die katolieke kerk, jammer genoeg meestal op `n geheel verkeerde interpretasie van die goddelike woord berus het. `n Mens kan daarom teen jou woorde, wat die suiwer waarheid is, niks inbring nie; dit sien ons nou goed in. Desondanks was hierdie funksie in hierdie kerk tog gehandhaaf soos dit sedert eeue bestaan en ook verder sal bestaan.

5 Wanneer hierdie funksie nou juis vir die biegvader, sowel as vir die biegeling werklik so nadelig is vir die ewige lewe van die gees, dan kan mens hom tog volgens eer en gewete afvra waarom die regverdigste, liefdevolle, hoogs wyse, almagtige Heer en God van hemel en aarde so `n gruwel in Sy wingerd duld?

6 Ek moet bowendien nog beken dat baie mense op aarde juis deur hierdie bieg klaarblyklik groot lieflinge van die Heer geword het en dat Hy ook verskye kere in lewende lywe aan hulle verskyn het. En vir sover ek my kan herinner, het die Heer hom by geeneen van Sy lieflinge afkeurend oor hierdie funksie uitgelaat nie.

7 Daarenteen ken ek verskeie gevalle waarby die Heer op hierdie wyse, deur middel van Sy lieflinge, dit aan ander mense meegedeel het, dat hulle beroumoedig biegtend vir die deur hulle begane sondes, ware boete ter vergewing van die sondes moes doen. Ek ken ook verskeie gevalle waarby mense wat hierdie raad eg ter harte geneem het, na so `n eerlike afgelegde bieg, volkome in gees en in waarheid wedergebore was en vanaf daardie oomblik waaragtige hoogstaande vriende van die Heer gebly het.

8 Wanneer dit egter so met hierdie funksie gestel is soos wat jy ons so pas geleer het, dan moet ek jou eerlik sê, dat die leiding deur die Heer van die menslike geslag op aarde vir my `n onoplosbare raaisel is. Vir so ver ek my kan herinner, is die bieg tog so ingestel, dat die sondaar eers deur hierdie boetedoening vergewing van sy sondes verkry, wanneer hy die priester meedeel dat hy hom ernstig voorgeneem het om hierdie sondes, wat hy opreg betreur, nooit meer in die toekoms sal begaan nie.

9 As daar nie deur die biegeling aan hierdie voorwaarde voldoen word nie, word bowendien so dikwels moontlik, en veral vóór die algemene biegtye vanaf die preekstoel bekendgemaak dat, soos gesê, iemand wat nie volledig aan hierdie voorwaardes voldoen het nie, se sondes nie kwytgeskeld kan word nie.

10 Derhalwe word, sowel van die preekstoel, as in die biegstoel, baie nougeset gepredik en geleer dat niemand se sonde deur die Heer kwytgeskeld kan word, as die biegeling nie vooraf uit die grond van sy hart, met al sy skuldeisers tot `n vergelyk gekom het nie. As daar miskien êrens misbruik gemaak word van hierdie funksie, alhoewel die algemene kerklike reël vereis dat hierdie funksie in die suiwerste sin gehandhaaf moet word, dan kan so `n misbruik tog nie in sy algemeenheid aan die kerk ten laste gelê word nie.

11 Kyk, ek wil gladnie in hierdie saak ingaan op die feit of die voorskrif van die Heer, betreffende hierdie bekende teks, reg of onwaar deur die kerk opgevat word nie, maar dit is tog wel seker dat die Heer dit tenminste op aarde nie so baie onbillik aansien nie, omdat Hy ten eerste hierdie funksie laat ontkiem het en ten tweede hierdie opgegroeide boom nog steeds in Sy wingerd duld, terwyl hierdie boom Hom ook, soos bekend, steeds `n oorvloedige oes opgebring het.

12 Want dit is tog duidelik dat iemand wat siek is, na `n dokter moet gaan om te vertel wat hom makeer, sodat die dokter die diagnose kan stel en die sieke `n probate (effektiewe) geneesmiddel kan gee. Mens kan dit op liggaamlike gebied tog nie onbillik noem nie, terwyl mens tog ook kan sê: Dit is slegs aan die almagtige Heer geleë om alle siektes te genees, dit wat Hy volgens Sy ordening ook sekerlik doen as die sieke, vol vertroue in die Heer, die middels van die ervare arts gebruik soos deur die Heer geseën.

13 As dit, soos gesê, vir die liggaam geld, dan sien ek werklik nie in waarom dit ook nie vir die siek siel van `n mens sou geld nie. As artse vir die liggaam, naas die goddelike liefde en almag, nie oorbodig is nie, om welke rede sou artse vir die gees, naas die goddelike liefde en ontferming, dan oorbodig wees? Bowendien het die Heer self die mense tog opgedra om liefdevol met mekaar om te gaan.

14 As dit absoluut nie as verkeerd beskou kan word dat mens die naakte klee, die hongeriges voed, die dorstiges laaf, die bedroefdes troos, die gevangenes verlos ensovoorts, en die Heer Self, in die voorbeeld van die ware naaste, die barmhartige Samaritaan as hulp na die geslaene stuur, hoe kan die geestelike werk van erbarming en liefde van die Heer dan, wat deur die geestelike artse uitgevoer word, `n gruwel vir die Heer in die bestaande vorm wees? Al is dit nie, soos wat dit sou moet wees, volkome in ooreenstemming met die suiwer ryk van die waarheid nie, kon ons as latere generasie dienare van hierdie kerklike hoofreëls nie daarby verbykom om hierdie reël, soos dit is, ter vergewing van die sondes en ter verbetering van die mense, te gebruik nie.

15 Ek dink dat die Heer reeds lankal `n einde aan `n egte gruwel op aarde sou gemaak het, maar omdat dit sekerlik tog nie in so `n al te slegte daglig staan nie, sou ek, soos wat ek al in die begin bedoel het, graag ietwat meer lig van jou wil ontvang hieroor. 

16 Nou sê ek: My vriend en broer, jou vraag is belangriker en betekenisvoller as wat jy self vermoed en om haar na behore te belig, is meer lig nodig as wat jy op die oomblik kan verdra. Voorlopig kan ek jou maar net sê dat die leiding van die siele deur die Heer só wonderbaarlik en uitsonderlik is, dat jy in ewighede slegs die allerkleinste deeltjie daarvan sal kan begryp.

17 Kyk, wat die Heer betref, is daar nêrens dwaalweë nie; elke weg is vir die Heer bekend en elke weg gaan soos `n lewensband van Hom uit. Maar jy sal tog ook `n verskil maak tussen `n reguit en `n krom weg?

18 Dat die Heer hom ook op `n krom weg kan oriënteer, is buite orde, maar dat die mens op `n krom weg, sy doel nie so vinnig bereik as op `n reguit weg nie, dit sal tog ook buite orde wees. Wanneer `n weg baie syweë het wat van die doel aflei, en mens dikwels, as gevolg van so `n omweg, die hele aarde verskeie kere kan rondgaan voor mens by die korrekte doel kom, is so-iets tog nie moeilik om te begryp nie, dan is dit tog ook duidelik dat die Heer nie onverskillig kan wees op iemand hom langs syweë, of via die kortste weg, na Hom toe begewe nie.

19 Jy sê weliswaar by jouself: Dit is alles waar, maar desondanks sien jy nie in hoe die bieg in die voorbeeld pas nie, omdat jy haar ook as `n baie kort weg beskou. Ek sê vir jou: Dit is inderdaad nie te betwis dat hierdie funksie dikwels vir sommige mense `n kort weg was nie, maar waarom? Omdat die Heer so iemand, wat sy lewe regtig wou verbeter, tegemoet gekom het en hom dan Self langs die regte en kortste weg gelei. Dit is egter nog geen rede om `n woord van goedkeuring oor hierdie funksie uit te spreek nie. Daar is ook duisende en nog eens duisende heidene wat die Heer ook tegemoetkom en wat Hy op Sy eie manier langs die regte weg lei. Dit is enkel en alleen erbarming van die Heer. Moet mens daarom die heidendom goedpraat, omdat die Heer hom oor sulke heidene ontferm? 

20 Ek het tog in die loop van my onderrig aangetoon, hoe die bieg moet wees om deur die Heer as billik en selfs aanbevelingswaardig beskou te word. Ek het die gelykenis van die onregverdige rent­meester aangehaal, waarin die Heer aangee wat die enigste korrekte manier is om die bestaande katolieke bieg te regverdig. Handel die biegvader dus soos die onregverdige rentmeester en vervul hy sy funksie op hierdie enigste ware en regverdige manier, dan is die bieg ook evangelies en dus `n tak aan die ware boom van die lewe. Is dit slegs eiemagtig priesterlik gerig, dan is dit `n tak wat van die boom van die lewe afgeskei is en wat geen vrug kan dra nie.

21 Dat die katolieke gemeenskap, onder leiding van die Roomse biskop alreeds baie vrugte, wat vir die Heer welgevallig is, opgelewer het en dat hierdie funksie vir `n mens dikwels `n goeie verdeemoediging is, weet ons nog beter as jy. As dit nie die geval was nie, dan kan jy daarvan verseker wees dat die Heer goed sal weet om so `n egte misbruik weer in goeie bane om te stuur, soos wat Hy dit ook, ten tyde van die verskillende kerklike reformasies gedoen het, omdat juis hierdie funksie in hierdie tyd op `n onsinnige wyse ontaard het. Maar dit alles het nog geen volledige regverdiging vir die ryk van die suiwer waarheid tot gevolg nie.

22 Wanneer die biegvader sê dat nie hy nie, maar alleen die Heer sondes kan vergewe en homself daarby slegs as `n liefdadige werktuig beskou, dat diegene wat in geestelike nood verkeer, sowel in die bieg as vanaf die preekstoel, die korrekte weg na die Heer weet, dan is hy `n goeie biegvader, dit wil sê, as sodanig is hy `n liefdevolle, waaragtige mensevriend wat die geestelike welsyn van sy broers bo alles ter harte neem. Sê hy egter: Ek het die mag om jou, al dan nie, die sondes kwyt te skeld en dit hang van my af om jou na die hel of na die hemel te laat gaan, dan matig hy hom goddelike gesag aan. 

23 Daardeur maak hy God oorbodig vir sy broer, verskeur die band tussen God en mens en maak van die mens, `n hopelose veragter van al die goddelike, of `n verstokte booswig wat hom mettertyd niks meer van iets wil aantrek nie en nie meer daarvoor terugskrik om, sonder die minste gewetensbesware, alle moontlik gruweldade te verrig nie. Ook kan hy van die mens `n huigelaar maak, of iemand wat na die bieg sy gewete aan die slaap sus en geen snars beter geword het daarvan nie. Hy glo immers dat hy sy ou sak met sondes in die bieg geledig het. Ten slotte maak hy homself nog wys dat hy voor die volgende bieg tog wel weer ietwat moet sondig, sodat hy weer ietwat te bieg het en die priester hom, soos gewoonlik, weer ietwat kwytskeld. 

24 As dit nou, soos gesê, so met hierdie funksie gestel is, sê my net, is dit dan billik? Jy sê “nee” by jouself, dus sê ek ook aan jou, dat jou vraag ten eerste, gesien die ingenome standpunt, volkome oorbodig geword het en ten tweede, dat dit daardeur ook al beantwoord is. Dit wat hierna sal volg, sal eers vir julle almal baie lig op hierdie saak werp.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205