Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die sfeer van die vierde gees. Die geheim van die Menseseun

9 Kyk, daar staan hy al en hy wink julle heel vriendelik uit homself om na hom toe te kom en sy sfeer binne te gaan. Gaan julle maar en let goed op wat julle in sy sfeer te siene kry. Hierdie gees sal julle ook in sy sfeer sien en hy sal julle rondlei in sy wêreld. En, soos gesê, let dus goed op alles wat julle daar sal sien, want dit sal reeds van groot betekenis wees.

2 Wel, julle is in sy sfeer en is buitengewoon bly gestem, want julle sien die gees in wie se sfeer julle julleself bevind, slegs met dié verskil, dat julle hom nie buite sy sfeer kon herken het nie. Maar in sy sfeer herken julle hom wel deeglik, omdat hy eens op aarde `n bloedeie broer van julle was. My welsprekende Anselm sal sy broer Heinrich baie goed herken, sodra hy hom hoor praat. Om hierdie rede wil Ek ook dat hy julle `n bietjie rondlei en uit eie mond oor baie sake uitleg gee.

3 Wel, wat sien julle? Julle kan dit weliswaar nie uitspreek, vanweë die te groot innerlike verrassing nie, maar hierdie keer wil Ek nie die tolk wees nie, maar julle gids sal dit wees. En hy (Heinrich) spreek dus as volg:

4 Kyk net daar, my liewe broers, na hierdie groot, indrukwekkende tempel voor my, kyk welke onbeskryflik skitterende pilare prag hom versier. Sien jy, broer, `n pilaar reik so hoog dat jy duiselig daarvan kan word; en kyk net reg vooruit, hoe hierdie pragtige tempel deur tallose sulke pilare omring word. Kyk, bo die pilare verhef `n ronde dak homself, wat helderder straal as duisend sonne en bo die dak staan `n groot vurige kruis, wat so rooi straal soos die heerlikste môrerooi. Hoe vind jy hierdie tempel?

5 Jy sê: Broer, sy grootse, onuitspreeklike prag ontneem my elke woord om my gevoelens daaroor aan jou mee te deel. Maar wat is dan binne-in hierdie tempel? Beste broer, kan jy ons nie binnelei nie? O ja, geliefde broers en vriende, maar berei julle voor op iets buitengewoon, want die prag daarbinne, ja, ek sou wil sê die heiligheid van hierdie tempel is so onvoorstelbaar verhewe en so wonderbaarlik groot, dat julle haar nouliks sal kan verdra. Julle weet immers dat ek tydens my aardse lewe `n groot vriend van God se woord was. En omdat die apostel Paulus by voorkeur ons apostel was, deur wie die heidene bekeer was, het ek hom, na die evangelis Johannes, ook die liefste gehad. Dit het julle immers dikwels van my verneem; en hierdie tempel is deur my gebou uit die diepste hoogagting vir die goddelike woord.

6 Voordat ons daar binnegaan, wil ek die betekenis daarvan ietwat vir julle uitlê: Hierdie byna ontelbare hoë pilare gee die afsonderlike skriftekste van die goddelike woord aan en stel die Ou Testament voor. As julle nou saam met my tussen hierdie pilare deurgaan, dan sien julle `n glansende gang voor julle. Die gang aan die binnekant van die pilare word aan die ander sy begrens deur `n rooi opligtende wand. Soos julle sien, is dit net so hoog as die pilare, en die bokant daarvan is deur middel van stralende, imposante boë met die buitenste ry pilare verbind. Hierdie ruim gang tussen die pilare en die wand is die eintlike voorportaal van die tempel. Die rondgevormde dak, wat julle so helderstralend bo die pilare en die tempel gesien het, is die barmhartigheidslig uit die hoogte. Die kruis bo-op die dak gee die wese van dié barmhartigheidslig weer, wat eintlik die allerheiligste is, naamlik die liefde van die Vader in die Seun!

7 Aangesien julle dit nou weet, liewe vriende en broers, gaan ons verder deur hierdie gang tot daar, waar julle `n groot lig uit die wand sien stroom, wat so rooiagtig straal soos die rooi van die allermooiste lenteroos. Daar is die ingang van die tempel. Weet julle wat dié lig beteken? Dié lig dui die liefde tot Christus aan en dit is nie moontlik om anders in hierdie tempel te kom nie, as net deur die nou poort van die liefde tot Christus. Kyk, broers en vriende, nou is ons daar. Kyk, daar is die deur. Julle is weliswaar verbaas dat hierdie enorme groot tempel maar net deur so `n smal poortjie toeganklik is, maar julle weet ook dat daar geskryf staan: Wie nie deur die smal poort gaan nie, sal nie tot die Vader kom nie, dus ook nie in die Ryk van God nie, en ewemin in die engeleryk van die hemele. Buk julle daarom maar so goed en so diep as wat julle kan en volg my, dan sal ons die binneste van hierdie tempel dadelik te siene kry.

8 Wel, broers en vriende, ons is in die groot heiligdom! Wat sê julle van hierdie heerlikheid? Soos wat ek sien, is julle volkome verbyster en sprakeloos. Ek het julle daarom ook vooraf gesê: Berei julle voor op iets heel buitengewoon. Soos julle nou self met verbaasde blikke sien, is die inwendige van hierdie tempel te groot en te wonderbaarlik en selfs vir my te onuitspreeklik verhewe om dit vir julle ook maar enigsins te kan skets. Die mees fantastiese is voor alles die onvermoede, eindelose grootte van die inwendige.

9 Julle het gedink: As ons in die tempel kom, sal ons daarbinne, netsoos op aarde, `n skat aan ornamente te siene kry. Maar julle sien hier letterlik en waarheidsgetrou eindelose, uitgestrekte geesteswêrelde, en hierdie wêrelde, wat nouliks nóg begin nóg einde het, is tot `n Ryk verenig. Julle kyk met verbaasde oë oor die eindelose vertes, wat besaai is met tallose onvermoede heerlikhede. Julle sien tot die hemelreikende bome, ryklik voorsien van heerlike, sappige en liguitstralende vrugte. Julle sien tallose baie pragtige tempelgeboue en sien dat hulle bewoon is deur groot skares salige geeste.

10 Daaroor is julle hoogs verwonderd. Maar kyk, geliefde vriende en broers, daar op die berg, met sag gloeiende hellings, in die rigting van die môre, staan `n heel eenvoudige, beskeie tempel, maar haar uitstraling is des te groter. Volg my daarheen, en dan sal julle iets te siene kry wat julle meer in vervoering sal bring as alles wat julle tot nou toe gesien het. Daar gaan ons! Julle sien wel hoe ver hierdie tempel van hier verwyder is; volgens aardse maatstawwe sou julle die maan bereik voor hierdie tempel. Maar ons geesmense het dit in die opsig veel makliker, want ons hoef maar te wil en ons is reeds waar ons wil wees. Wil daar dan ook met my wees, en kyk, ons is al ter plaatse.

11 Julle is met stomheid geslaan, vanweë die enorme grootte van hierdie tempel en waag dit nouliks om nader te kom. Gaan tog ook maar moedig saam met my hierdie tempel binne, en julle sal sekerlik goed ontvang word deur sy buitengewoon vriendelike bewoners. Dus volg my maar! Hierdie tempel sal binne ook soos `n tempel lyk en julle sal daar soos in `n buitengewoon gasvrye huis opgeneem word. Nou het ons die voorportaal binnegegaan en ons gaan ook vervolgens deur die stralende poort, die binneste van die tempel in. Kyk geliefde broers en vriende, ons is op die plek van bestemming!

12 Ken julle, daar taamlik op die voorgrond, die vriendelike man wie omgewe word deur `n menigte groot en klein mensegeeste? Kyk, hoe hy hulle allervriendelik en liefdevol die groot geheim van die Menseseun leer, en hoe elke woord uit sy mond soos `n helder ster tevoorskyn kom! Maar sien, ons goeie gasheer en vriend het ons al opgemerk. Hy staan op van sy stralende setel en snel ons met oop arms tegemoet. Ken julle hom nog nie? Kyk, hy is al baie naby ons. Bekyk hom maar net baie noukeurig; julle moet hom ken. As julle hom nog nie herken het aan sy sprekende gestalte nie, dan sal julle hom tog sekerlik wel herken aan sy ou, altyd dieselfde en getroue groet!

13 Luister, hy spreek: O geliefde broers, die genade van ons Heer Jesus Christus sy met julle, en die liefde van die Vader in die Seun en in gemeenskap van die Heilige Gees! Wat het julle beweeg om hier te kom? Wie was julle gids? Julle durf nie praat nie, maar ek vermoed dit wel in my hart, wie se liefde so groot is dat sy die wat deur haar verlos is, na die heilige bron van die ewige lewe lei! O liewe broers, ek sê julle in die Naam van my bo alles geliefde Heer Jesus Christus, hou julle vas aan Hom, hou vas aan Sy liefde en julle sal nie, ja ewig, nie ten gronde gaan nie. Salig is weliswaar diegene wie glo dat Hy Christus is as waaragtige ewige Seun van die lewende God, maar slegs hulle wat Hom bo alles liefhet, sal die heilige Vader in Hom aanskou; want eers deur die liefde word ons waaragtige kinders van God! En daarom sê ek, die ou Paulus aan julle: Hou julle aan die liefde, dan het julle die ewige lewe in julle! Gegroet, die genade van ons Heer Jesus Christus in die Vader en in die Gees sy met julle! 

14 Wel, geliefde vriende en broers, het julle gesien hoe gasvry en liefdevol die ou vriend en apostel van die Heer ons ontvang het? Kyk hoe hy hom alweer te midde van sy leerlinge bevind en hulle onderrig in die liefde vir die Heer. Julle sou wel wil weet wat se kinders en geesmense dit is. Kyk, die is suiwer heidene en heidense kinders. Maar dit is nog lank nie almal wie julle hier sien nie. Gaan maar weer saam met my na buite, in die vrye ruimte van die groot tempel. En omdat ons onsself nou alweer buite bevind, sien julle oral in die wye omgewing die nouliks telbare tempels oplig. Dit is suiwer leerskole vir allerlei heidene, en baie apostels en leerlinge van hierdie apostel Paulus is hulle leraars.

15 Daar is weliswaar in hierdie groot tempel waarin ons onsself bevind, nog oneindig baie om julle te laat sien. Maar aangesien julle nog met die aardse in verbinding staan, sou sekerlik baie miljoene jare daarvoor nodig wees om met julle ook maar die kleinste gedeelte oppervlakkig deur te neem! Eens in die gees sal julle dit alles, netsoos ek, deur die eindelose genade van die Heer volkome helder aanskou. Daarom verlaat ons nou weer die tempel. Kyk, ons is reeds by die poort van die voorportaal, en ons het weer vrye sig op die groot ry pilare en die stralende dak met die groot kruis.

16 Nou egter nog iets. Dit kan julle my wel sê, want ook hier is daar baie wat ons geeste óf moeilik óf soms selfs gladnie begryp nie. Die wyse van julle besoek, of vir julle duideliker gesê, die feit dat ek julle nou sien en met julle kan spreek is vir my wel begryplik, want julle was in julle gees reeds nader aan my en het met my gespreek soos nou, maar so `n samekoms mag nie in julle herinnering bly nie. Daarom is julle besoek op hierdie oomblik vir my dan ook baie goed te begryp. Onbegrypliker vir my egter, en ek kan dit absoluut nie verklaar nie, waarom ek my hierdie keer so onbeskryflik gelukkig voel in julle nabyheid. Julle kan my as julle opregte broer glo, dat ek nog nooit so `n geluksaligheid ondervind het solank as wat ek bewoner van dié salige oord was nie. Sê dit tog vir my, sê dit tog, as dit vir julle tenminste moontlik is!

17 Maar nou sê Ek weer aan julle: Dit moet julle nie aan hom meedeel nie, want hy moet voorberei word op die oomblik waarop hy My sal aanskou, anders sou hy dié saligheid nie kan verdra nie. Hier is daar geeste wat My so geweldig liefhet, dat Ek hulle, op grond van hulle liefde, maar geleidelik aan sigbaar kan nader. Sê hom dus dat hy nog bietjie moet volhard in sy wens; oor `n rukkie sal die rede van sy geluksgevoel wel onthul word. Sê dit dus in julle gees vir hom. Kyk, hy het dit al van julle verneem en is tevrede daarmee en wag dit vol spanning af. So `n toestand heet: Die geduld van die liefde!

18 Ons is alweer op die plekkie van ons geselskap; tree daarom weer uit die sfeer van julle broedergees en kyk maar netso toe. Ek sal My vir `n kort oomblik aan hom sigbaar maak. Kyk, nou sien hy My. Hy val neer op sy aangesig en bemin, bid en ween; en dit is goed so! Voorlopig slegs vir `n oomblik. Maar ons sal ons vir `n volgende geleentheid weer van die sfeer van `n vyfde gees bedien. Ook hierdie broedergees van julle sal julle lei soos hierdie, hier nog wenende en biddende, wie egter ook in ons geselskap mag bly. En so laat ons dit hierby vir vandag.”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205