Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 98

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die geheim van die ware vooruitgang

98 Kyk, ons is by die oewer van die groot water wat aan julle welbekend is; hoe sal ons hierdie keer daaroorheen kom? Ek sê vir julle: Met so `n Aanvoerder hoef ons nie daarvoor bang te wees nie, want Hy weet hoe om die water skielik in vaste land te verander. So-iets het julle nog nooit gesien nie. Kyk daarom maar net hoe die prior, wat die naaste aan Hom is, vir Hom vra: O ewige Liefde, my geliefde Jesus Christus, wat sal ons by hierdie eindelose uitgestrekte see doen? Die Heer sê: Liewe vriend en broer in My liefde, ons sal daar bo-oor wandel.

2 Die prior sê: O my Liefde, sal die water ons dan wel dra? Die Heer sê: Hoe kan jy aan My sy, My daarna vra? Weet jy dan nie dat alle dinge vir My moontlik is nie, en dat Ek ook `n Meester oor alle waters is? Luister, Ek wil dat die groot water dadelik vaste land word en dit solank bly en ons dra, totdat ons almal daaroorheen sal wees. Sodra ons egter die bepaalde vlakte van die vaste land aan die oorkant sal bereik, sal die vaste land weer oorgaan in sy golwende element. Aldus geskied dit! Sien julle nou nog water?

3 Die prior sê: O my almagtige, heilige Liefde, goeie, heilige Vader, hoe is dit nou moontlik? Hoe vinnig het dit alles tog verander! Die huiweringwekkende golwende, eindelose uitgestrekte see het droë land geword en ons kan sonder angs en bewing daaroorheen wandel. Hoe kan ons U daarvoor dank, dat U ons so `n wonderbaarlike, almagtige liefde betoon het?

4 Die Heer sê: My liewe vriend en broer, die enigste dank, wat vir My dierbaar en waardevol is, is `n hart wat My altyd bo alles liefhet. Ek sê vir jou, geen dankoffer, geen dankgebed, geen gelofte uit dankbaarheid, geen dankprosessie, geen ‘Te Deum lauda­mus’ (dank of jubellied), geen jubelfees en geen groot dank­seremonie is vir My welgevallig nie. Inteendeel, Ek het `n afkeer daarin, soos van `n stuk stinkende aas of die verrottende vlees in die grafte, wat vol stank en pestilensie is. `n Deemoedige, My altyd liefhebbende hart is vir My egter `n kostelike edelsteen van onskatbare waarde in die oneindige kroon van My ewige goddelike mag en heerlikheid. Tewens is dit vir My soos `n druppel balsem wat in My vurige liefhebbende Vaderhart val en My bo mate verkwik en die vreugde van My hele oneindige Godheid op `n onuitspreeklike wyse verhoog!

5 Bly daarom in jou liefde vir My en soek ewig niks anders nie, dan is jy vir My alles wat jy moet wees en Ek sal ook vir jou alles wees wat Ek as jou God, Skepper en ewig liefdevolste Vader, maar kan wees! Liefde is die enigste band tussen My en jou, dit is die enigste wonderbare, almagtige brug tussen My, die ewige, almagtige, oneindige Skepper en jou, My eindige skepsel. Oor hierdie brug kan Ek na jou en jy na My toe kom soos wat `n liewe vader na sy kinders toe kom en die kinders na hulle liewe vader toe kom.

6 Die liefde is ook jou ware oog soos dit in My die ewig alleen ware oog is. Slegs met die oog is dit moontlik om My, jou God en Skepper, te sien soos wat die een broer die ander sien. Vir elke ander oog bly Ek as sodanig ewig onsigbaar. Die liefde is ook jou ware arm, waarmee jy My as `n broer kan omarm. So is die liefde ook alleen die ware oor waarmee jy My vaderstem kan hoor; geen ander oor sal ooit daartoe in staat wees nie.

7 Die liefde het `n oneindige groot doel, wat nooit deur die verstand of deur die wysheid bereik kan word nie. Maar die liefde begin by die doel, en om dit te bereik sal geleerdes en wyses tevergeefs hulle seile hys. Ja, die liefde is die mees innerlike en sterk verryker van die gees, die enigste waarmee jy in My goddelike wonderdieptes kan kyk, terwyl verstand en wysheid nie eens in staat is om die soom van My opperkleed aan te raak nie. Daarom is julle, jy en jou broers, ook salig, omdat julle die liefde in julle dra. En hierdie liefde het My ook na julle toe gebring en sy het die water nou verander in `n stewige brug, waaroor Ek julle nou sal lei as die enigste ware Leier en enigste ware Vader en Broeder in julle liefde vir My en in My liefde vir julle. Dink derhalwe nooit as te nimmer aan `n ander dankbetuiging nie, want jou liefde hou alles in soos My liefde vir jou en vir julle almal alles inhou. En so gaan ons dan nou oor hierdie brug; volg My dus!

8 Kyk nou, die stoet trek vlot voorwaarts. Hoewel dit vir julle voorkom asof dit tree vir tree gaan, kan ek julle verseker dat ons onsself tog met `n, - vir julle, - onbeskryflike snelheid voorwaarts beweeg. Aan die sy van die Heer is geestelik en materieel gesien, `n tree groter as wanneer julle, volgens aardse maatstawwe, `n tree van son na son sou maak.

9 Maar julle moet goed begryp wat die verskil is tussen aardse en suiwer geestelike vooruitgang. Want hierdie beweging hier beteken nie alleen `n sigbare voorwaarts gaan nie, maar veelmeer dat die­gene wat hom deur die liefde van die Heer laat lei, in sy innerlike belewingsfeer in `n oomblik, wat ooreenstem met `n tree, dan ook `n onuitspreeklike groter ervaring opdoen en met so `n tree werklik `n eindelose groter, versterkende en helderder insig kry, as `n ondersoeker met sy verstand en wysheid in baie duisende aardse jare.

10 Nog begrypliker vir julle gesê: `n Tree onder leiding van die Heer is meer werd as miljarde onder leiding van `n nog so glansende gees! Of: `n woord uit die mond van die Heer is meer werd as alle woorde wat deur die wesens van alle hemelliggame, vanaf die oerbegin gespreek was, en nog gespreek en geskrywe sal word. Meer hoef ek julle tog sekerlik nie hieroor te sê nie.

11 Ons het intussen die water oorgesteek, want kyk maar net agtertoe, dan sal julle, in plaas van vaste grond, weer ons onafsienbare see sien. Kyk, die Heer maak diegene wat Hom volg, so pas daarop attent en sê aan die prior: Kyk net om jou heen! Sien jy, ons het al ons plekkie bereik. Hoe geval dit jou hier? 

12 Die prior sê: O Heer en Vader, my ewige liefde, waar U is, daar geval dit my oral onuitspreeklik goed; maar sonder U sou dit hier wees, soos sekerlik oral, om wanhopig van te word!

13 Die Heer sê: My liewe seun, vriend en broer, jy het goed gespreek; so is dit en nie anders nie. Met My kan jy alles, sonder My egter niks! Daarom is dit ook altyd goed om by My te vertoef! Maar buite My is daar nêrens `n bestendige wese nie, want slegs Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe! Wie in My bly, deur die liefde, soos wat Ek in hom bly, die het lig, die waarheid en die lewe. Daarom, volg My nog verder, dan sal Ek julle `n ander plek toon en kyk hoe dit julle daar sal geval. As dit daar volgens julle sin is, kan julle almal `n woonplek vir julle daar uitsoek. So nie, dan soek ons weer `n ander. Volg My dus maar!

14 Kyk, die stoet stel hom in beweging in die rigting tussen die môre en die middag en daar, agter die stralende gebergte sal ons, in `n onuitspreeklike mooi omgewing, weer halt roep. Daar kry ons gaste `n taamlike swaar beproewing te deurstaan, want daar sit nog `n verborge swakheid in hulle, naamlik die liefde vir vrouens, as gevolg waarvan hulle die selibaat (ongehude staat), hetsy uit hulself vyandig gesind was, dan wel dat hulle dit min of meer noodgedwonge moes wees. Hulle het wel hulle plig as selibaters gedoen en het hulle gelofte gehou, en nie een van hulle het hom ooit op aarde op `n sinlike liefhebbende manier met `n vrou ingelaat nie. 

15 Maar dit is nou juis nie so `n groot verdienste nie, want die plek op aarde, waar hulle hul kloosterlewe gelei het, was wat vroulike skoonhede betref, in meerdere opsigte stiefmoederlik bedeel. Bowendien het slegs ouer vrouens hulle na die klooster begewe om te bieg, want vir die jonger vrouens was hierdie orde, soos almal weet, veels te streng. Derhalwe kon `n antiselibaat prikkel nie so maklik onder sulke omstandighede ontstaan het nie en die oorwinning van hierdie selibaters op hierdie gebied, is dan ook nie iets waaroor latere generasies nog sou praat nie. Daarom moet hulle hierdie proef ook nog voor die aangesig van die Heer deurstaan.

16 Ek sê vir julle, by die volgende stopplek sal ons daarom salige, vroulike geeste te siene kry, by die sien waarvan hulle julle selfs sal begin duisel. Bowendien sal ook die oord so hemelsmooi wees soos julle, met uitsondering van die heilige stad, wat geeneen tot nou toe nog gesien het nie. Dan sal dit baie spoedig blyk hoe dit nou by hierdie geredde monnike, met hulle liefde vir die Heer gestel is. Dit sal egter eers die volgende keer die onderwerp van ons beskouing wees.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205