Geheime van die Natuur
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 19

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45.

7. Die vlieg as versamelpunt van die lewe.

Nadat ons die negatief-polêre deel van die diertjie leer ken het, wat eintlik die materiële deel is, sal ons onsself nou tot die positief-polêre deel wend.

Wie die vlieg ooit grondig nagevors het sal wel moet sê: “Hierdie diertjie het in `n natuurlike opsig `n meer volkome lewe as menige ander dier, wat hulleself reeds op `n hoër lewenstrap bevind".

Om te begryp hoe en waarom hierdie diertjie leef, sal dit nodig wees om eers `n algemene blik op die Lewe self te werp. Hierdie lewe is so geaard, en is so absoluut volmaak, dat dit in sy ware sfeer nooit deur `n geskape wese begryp kan word nie, want dit is `n heilige, ewige en oneindige lewe.

Stel jou die oneindigheid voor, of `n ruimte, waarin `n middelpunt is, van waaruit strale na alle kante uitloop, waarvan die begin weliswaar die middelpunt is, maar waarvan die einde nêrens meer te vind is nie. 

In die sentrum is alle lewende krag van die gehele oneindigheid verenig en gaan vandaar weer na die hele oneindigheid uit. Sodat hierdie lewende krag haar nie te veel versprei en daardeur op sigself sou verswak nie, het sy in die eindelose ruimte tallose versamelpunte van lewe geskape, waarin die lewe homself opvang en vervolgens weer terugkeer tot sy oerewige sentrale woonplek. 

By diegene, wat hieroor nadink, sal `n belangrike vraag opkom: Waarom moet so iets gebeur? Kan God dan ooit in Sy lewenskrag swakker word?

En Ek sê daarop: Dit is natuurlik onmoontlik, solank Hy in Homself bly en geen skepsels uit Hom wil skep en vorm nie. Wanneer Hy as gevol van Sy oneindige liefde sedert ewighede skepsels van die mees uiteenlopende soort geskape het - vanaf die mees volmaakte gees tot by die onbeduidendste atoomagtige diertjies - en aan die tallose wesens wat Hy lewe gegee het, elkeen volgens sy aard, deur welke lewe het die Skepper dan wel hierdie tallose wesens besiel, besiel Hy hulle nou nog en sal Hy hulle vir ewig besiel?!

Wanneer al hierdie wesens met hulle ontvangde lewe, hulleself ewigdurend van die sentrum sou wegbeweeg, dan sou die sentrale krag geleidelik aan moet verswak. Maar die lewe sou homself nooit kan verloor nie, omdat dit `n oneindige lewe is. Dit sou egter steeds swakker word, wanneer hy hom aan `n oneindige deling sou blootstel. Om hierdie swakker word beter te begryp, wys Ek slegs op die eindelose deelbaarheid van die materie self; tengevolge daarvan kan `n mens `n atoom in oneindig baie deeltjies vir homself indink. Maar word die atoom daardeur sterker, as dit eindeloos gedeel word?

Dit is begryplik dat die so eindelose gedeelde atoom nie meer die krag kan hê, wat dit voor die deling gehad het nie. Nou sal `n mens vra: “As dit so is, kon die Skepper dan beter daaraan gedoen het, as Hy nooit iets geskape het nie?"

Hierop wil Ek met `n teenvraag antwoord: “Waarom word mense, wat sy kragte steeds vanaf sy jeug deur swaar arbeid geoefen het, gewoonlik sterker? Waarom kan `n mens geleidelik steeds swaarder gewigte aan `n hoefystermagneet hang? Deur middel waarvan word `n mens `n virtuoos (Heer) in een of ander kuns? 

Waarom word die gehamerde metaal sterker en kry dit `n groter spankrag as wanneer dit nie gehamer word nie? Waarom word van dieselfde boomsoort die hout vaster en taaier, na gelang dit meer aan die storm blootgestel word?

Sien en onthou dan, waarom daar in die wye oneindigheid so eindeloos baie versamelpunte vir die lewe geplaas is! Dit is sodat die oerewige lewe self hom steeds meer kan oefen en in eindelose krag ook ewig kan toeneem en wel om die rede, dat op hierdie manier, die lewe wat van die middelpunt uitgaan, steeds meer volmaak en intensiewer na die sentrum sal terugkeer!

Noudat ons dit weet, is die vraag hoe en waarom die vlieg leef, ook reeds beantwoord. Want uit die wyse waarop sy leef volg reeds, dat sy eweneens so `n versamelpunt is vir die van die sentrum uitgaande lewe, waar sy die lewe van `n onnoemlike aantal aan haar voorafgegane primitiewe diertjies in haar opneem.

Dit sal daarom nie moeilik wees om duidelik te bepaal waarom sy leef nie, naamlik sodat die som van haar lewe sal oorgaan en dus terugkeer na `n volmaakter en reeds intensiewer lewe. En so geskied dit steeds verder opwaarts tot by die mens, wat in staat gestel word om die mees intensiewe lewe uit My in homself op te neem. Hierdie lewe kan homself dan met My, deur die liefde, weer volledig tot `n krag verenig.

Wat tot hiertoe oor die positiewe polariteit van die vlieg gesê is, is bedoel om as inleiding te dien om die volgende des te beter te kan begryp.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205