Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 179

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

 Die wese van die sonde en hoe om haar te oorwin

179 Na hierdie kort vermaning aan die mede-aanwesiges wag die Hoë Abedam nog `n kort tydjie; daarna gaan Hy na Kisehel, wat nog op die grond lê, raak hom aan en sê die volgende aan hom:

[2] "Kisehel, staan op tot die Ewige Lewe; want dit het jy waaragtig gevind!

[3] Ek, Abedam JaHWeH die Ewige, Ek, jou goeie heilige Vader, het Self na jou toe gekom om jou op te help! Staan daarom sonder vrees op; want sien, Ek het jou sonde vir ewig uitgewis, omdat jy My so met die liefde van jou hart opgeneem het soos tot nou toe nog geen van al My kinders op hierdie aarde nie! Daarom staan dus op, soos nog niemand opgestaan het nie! Staan op, toegerus met groot Wysheid, wat jy verkry het vanuit jou liefde en toegerus met `n groot mag, wat jy verkry het deur jou liefde, waardeur selfs alle lewelose en lewende dinge jou moet gehoorsaam, en uiteindelik ook toegerus met die ewige lewe; want waarlik, jy sal voortaan ewig die dood nie smaak nie, omdat jy deur jou liefde tot My jou vlees in alle opsigte waaragtig gedood het!

[4] Wie so sterf, netsoos jy nou gesterf het, in die liefde tot My en tot wie Ek dan sal kom en hom opwek, waarlik, hy is nie opgewek vir hierdie tyd nie, maar om vir ewig te lewe!

[5] Ek sê egter vir jou: Diegene wat nie net soos jy die ewige lewe sal verwerf nie, sal wel baie lank moet wag tot die Groot Dag van die Verlossing oor die dooies sal kom!

[6] En staan dus op en help ook jou broers en al jou kinders orent en volg My dan. Amen."

[7] Toe Kisehel die Stem en die Woorde van die Heer verneem, sug hy diep, staan op en was in so mate verdoof deur so `n intense gevoel van dank en vreugde, dat sy hele liggaam gebewe het en hy nie by magte was om `n woord oor sy lippe te bring nie.

[8] Maar Abedam kom naby hom staan, raak hom nog eenmaal aan en sê aan hom:

[9] "Ek sê vir jou: Wees en bly standvastig en laat alle vrees vir ewig uit jou verban wees en met die vrees elke sonde, ja selfs die moontlikheid om opnuut te val! Want wat jy nou sal gaan doen, dit sal jy doen in My Naam en in My liefde. Hoe sou dit dan moontlik wees om aan `n sonde te dink vir diegene wat dit wat hy doen en wat hy sê, in My Naam en in My Liefde doen en sê?!

[10] Ek sê julle nou wat die sonde is en hoe iemand kan sondig en ook hoe hy nie meer kan sondig nie.

[11] Dit is sonde, as iemand in homself `n neiging merk waarin hy voordeel sien en hierdie neiging dan najaag en met sy begeerte aangryp, haar dan maak tot iets van homself en vervolgens handel om haar ten eie bate te benut. Uit die eie maak van so `n neiging, wat skuil in die eieliefde, ontstaan `n bose gees, wat die hele mens dan deurdring en verduister, sodat hy nie meer in staat is om die ware van die valse en die goeie van die slegte te onderskei nie.

[12] Maar indien iemand een of ander neiging in homself bespeur, maar dan dadelik in homself dink: "O Heer, ek erken, dat U my aangeraak het! Die drang is van U afkomstig, o Vader! U oneindige goedheid het Homself oor my ontferm en wil my, onwaardige, standvastig maak in die ware deemoed en ook in die ware liefde tot U. O Vader, ek is dit nie werd om dit te doen wat U my deur die drang, wat my op die proef stel, te kenne gee nie! Aan U is alle Mag, aan U alle Krag, U alleen is die Heer van die hemel en die hele aarde. Laat my slegs dit doen wat my voor U, o heilige Vader, betaam, naamlik net om U kinderlik lief te hê! Neem hierdie hoër drang tot handeling weer barmhartiglik van my weg, netsoos U haar aan my gegee het; want dit is `n goddelike krag! Sou ek, arm en nog swak skepsel en kind daarvolgens handel, dan sou ek tog immers `n wese wees wat homself op die punt met U gelyk sou moet voel, omdat ek dadelik sou wil werk met U krag alleen, en om daarmee te werk, kom alleen U toe. Neem daarom U gewydheid van my, onwaardige, weg en laat my alleen in die kinderlike liefde tot U bly, o Heilige Vader!"

[13] Sien, wanneer ek `n soortgelyke deemoed by `n mens sal aantref, dink jy dat Ek dan hierdie aandrang van My krag van hom sal wegneem?!

[14] O nee, sê Ek vir julle, maar Ek sal hierdie aandrang in hom seën en hom, die mens naamlik, met dieselfde drang selfs opwek tot die Ewige Lewe! En so sal dan hierdie mens nou juis deur dieselfde middel, waardeur hy deur eiemagtige optrede `n growwe sondaar sou kon word, vir ewig met My lewend en verenig word en sal dan duisendvoudig dieselfde uit My kan doen, en hy sal daardeur nooit kan sondig nie; want wat hy nou doen, dit doen hy nie meer uit homself nie, maar uit My!

[15] Dink julle dat die sondaar iets anders doen as uitsluitend My wil?! O, Ek sê vir julle: Volstrek nie! Geen haar op sy hoof kan iemand aanraak buite My Wil nie!

[16] Julle dink nou by julleself: "Hoe kan iemand dan sondig as hy volgens U wil handel?"

[17] Ek het al vir julle die aard van die sonde uitgelê en voeg nou hier nog `n voorbeeld ter verdere verduideliking daaraan toe:

[18] Gestel dat iemand geweldig boos sou word deur `n handeling van sy broer, selfs sodanig dat hy daarom sy broer, net soos Kain dit gedoen het, sou wil doodmaak; maar hy bedink homself vinnig en weet waar hierdie drang vandaan gekom het. Maar, dat hy dit herken het, is nog nie voldoende nie, maar die deemoedige herkenning van hierdie vreemde magtige neiging sal hom ook spoedig laat insien dat alleen Ek Heer is oor lewe en dood. Met hierdie insig sal die, aldus deur My krag aangeraakte, neerkniel voor My gewydheid wat hom so naby gekom het en sal My met `n eerlike en hoogs dankbare hart, dit wat Myne is, weer teruggee.

[19] Maar Ek sal dan My krag wat hom oorweldig, nie meer terugneem nie, maar hom met hierdie krag seën en hom opwek tot die ewige lewe.

[20] Dan sal hy sekerlik ook na sy broer toe gaan en hom bekeer, dit wil sê, hy sal dan sy broer wat die wêreld aangaan doodmaak en met die oorvloed van My krag in hom, hom weer laat herleef tot die ewige lewe.

[21] Wie sou dan nog kan beweer dat hy teenoor sy broer gesondig het?!

[22] Wie egter onmiddellik na die gewaarwording van die vreemde drang in homself eiemagtig sou wil handel, ofskoon hy sou handel vanuit My krag, sou die nie `n ewe groot sondaar wees as Kain, wat My krag in homself omvorm het, sodat hy boos geword en daardeur sy broer vermoor het?!

[23] So sal ook elke sondaar, indien hy tydig genoeg sy dwaasheid insien en dan vervul van berou en liefde tot My terugkeer, wees soos iemand wat vanaf sy geboorte regverdig was, omdat hy daardeur al die onregmatig geroofde, weer voor My neerlê en homself dan weer deemoedig tot My wend. Waarlik, ek sê vir julle, alle sonde sal hom kwytgeskeld word, ook al sou hulle aantal gelyk wees aan die van die sand in die see! Van hom sal niks geneem word nie en hy sal verhoog word na die grootte van sy berou, deemoed en liefde.

[24] Maar daarom ook des te meer, wee die hardnekkige! - En ook van jou, Kisehel, is al jou sonde tot niet gemaak en jy is nou asof jy nooit in der ewigheid gesondig het nie, omdat jy wat Myne is, in jouself herken het!

[25] Kom daarom nou ook tot jouself en volg My saam met jou broers na jou kinders! Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205