Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Die bevele van Hanoch, die tiran

23 En sien, toe die stad heeltemal opgebou was, neem Kain vir Hanoch saam en neem hom die hoë woning binne, wat vir hom gebou was. Hyself dra die hele volmag van al sy kinders en ook van sy kleinkinders in hulle teenwoordigheid aan Hanoch oor en verlang van hom, dat hy aan hulle almal wette sou gee volgens sy korrekte insig en volgens sy eie goeddunke en daarom sê hy:

[2] "Sien, Hanoch, hier in hierdie geboude woning, slegs vir jou, dra ek al my vaderlike regte met alle mag en al die gesag aan jou oor om my, hulle en al hulle kinders outonoom te lei deur wette, gemaak volgens jou eie goeddunke, wat hulle as gewyd moet beskou; want dit is nie belangrik hoe die wet lui nie, want op sigself stel dit weinig voor, maar dit kom neer op die stiptelike nalewing daarvan en daarom sal voortaan geld: "Wie daarvolgens handel, handel korrek, - maar wie daarteen ingaan, staan heeltemal in die ongelyk!" en hy moet altyd gestraf word met die swaarte van die oortreding as maatstaf.

[3] En dan sal ons deur so te handel, vry word en nie deur die wet aan wie se geaardheid niks geleë is nie, maar slegs aan die inagneming daarvan.

[4] Jy as wetgewer is egter vry om jou nie daarby te hou nie, omdat jou vryheid ter wille van die wet gewyd moet wees; want as jy ook aan die wet gebonde sou wees, sou dit jou slegs belemmer om in die noodsaaklike vrye sfeer te werk te gaan, omdat jy daarin dan self `n gevangene sou wees. Daarom moet jy daarbuite staan, net so vry soos iemand wat geen wette ken nie; maar elke handeling van jou moet vir hulle, omdat hulle diegene is wat heeltemal aan jou oorgelewer was, as die strengste wet geld en as jy iets wil, dan moet hulle handel soos wat jy dit wil hê; daarom moet alles van hulle doen of late slegs in ooreenstemming met jou wil wees."

[5] En toe open die nuwe vors sy mond en spreek op `n baie gebiedende toon: "My onderdane, luister julle almal, sowel die manlike as die vroulike! Niemand sal ooit enigiets as sy eiendom beskou nie, maar slegs as myne, sodat daar aan die onderlinge rusies en twiste `n einde kan kom! Daarom sal julle in die toekoms slegs vir my dien en slegs ten behoewe van my voorraadkamers werk; afhanklik van julle vlyt sal julle te ete kry en die mees getroues sal nader aan my mag kom as die minder getroues. Die opsieners en die voltrekkers van die reg en die uitvoerders van die geregtelike straf sal beter kos kry. Wee die ongehoorsames! Die sal ek na die berge laat verdryf en die diere sal hulle daar wurg en verskeur. Maar diegene wat my wette uit traagheid, onopmerk­saamheid en uit ligsinnigheid oortree, sal tot bloedens toe met die roede getugtig word; maar diegene wat dit sou waag om my in watter opsig dan ook teë te spreek, sal met slange getugtig word tot in die murg van hulle gebeente en hulle tong sal uitgetrek word en aan die slange gewerp word as voedsel. En wie my met skewe oë sal aankyk, sy oë sal uitgesteek word, sodat hy sy vors voortaan nie meer sal kan sien nie. Die trae sal egter `n lasdier word en sal soos `n lasdier behandel word met stokke en knuppels, sodat sy voete vinniger en sy hande ratser word.

[6] Verder gee ek julle geen ander wet as die strengste gehoor­saamheid aan al my vrye wense en bevele, wat ek op enige oomblik van die dag asook van die nag sal laat uitvaardig nie, Amen."

[7] En sien, toe skrik selfs Kain en ook alle origes skrik mateloos en gaan heeltemal ontdaan uit die woning van Hanoch en verwens in hulle hart hulle onmenslike vader Kain, wat vir hulle as dank vir die enorme inspanning so `n erbarmlike lot berei het.

[8] En toe dit dan aand word, kry hulle almal honger en durf nie eet nie en gaan treurig na Hanoch en sê: "Heer, ons het die hele dag gewerk, gee ons dus ook te ete, soos wat jy ons beloof het!"

[9] Maar Hanoch rig homself op en sê: "Waar is die vrugte van julle arbeid? Bring dit hier en laat ek dit sien en bring dit na my voorraadkamers, dan sal ek elkeen laat gee waarop hy reg het!"

[10] En hulle gaan heen en bring hom wat hulle beveel was, die een baie, die ander weinig en hulle lê alles voor sy voete neer.

[11] Maar Kain en sy vrou het niks gebring nie, omdat hulle onder die indruk verkeer dat hulle vrygestel is. En sien, toe verdeel Hanoch die vrugte en sê: "Wie gewerk het, sal ook eet; wie egter nie gewerk het nie, sal nie eet nie."

[12] En so moes Kain en sy vrou vir hierdie keer vas. En sien, toe verlaat Kain met sy vrou wenend die woning van Hanoch en vind ook geen enkele medelydende hart onder al sy kinders en kleinkinders nie. Hy gaan toe na die veld en eet daar van die oorblywende vrugte; en omdat daar vir hom geen woning opgerig was nie, oornag hy met sy vrou onder die vrye hemel.

[13] En toe sy kinders die volgende dag weer daar kom om te werk, vind hulle hom al besig met die versameling van vrugte. "Kyk", sê hulle, "hy werk vir die eerste maal op die land; dit is sy verdiende loon, want so het hy dit gewil: Die reg, in plaas van die liefde!"

[14] En sien, toe hulle nou weer onafgebroke gewerk het tot die middel van die dag, sommige versamel vrugte, ander bou nog meer huise en wonings en voorraadkamers en sommige dien hulle vors en sy vrou en sy kinders om dit vir hulle maklik te maak, kom almal weer na sy hoë woning en bring vir hom vrugte en ander tekens van hulle vermoeiende harde werk en verlang om te eet waarop hulle reg het, ook Kain met sy vrou.

[15] En sien, toe verhef Hanoch homself met grimmige erns en sê: "Hoeveel keer per dag wil julle dan eet?! Dink julle nou dat ek die vrugte vir julle laat versamel, sodat julle dan onbekommerd gevoer kan word?! Waarvan sal ek dan lewe en myself bedien, wie se saak dit is om nie te werk soos julle nie, maar julle moet veeleer jul meester op die hande dra?! Verdwyn daarom uit my oë en laat geeneen van almal van julle dit ooit weer waag om die drumpel van my hoë huis te oorskry nie! Van nou af aan sal ek daagliks voor my huis die vrugte deur my dienare in ontvangs laat neem; julle kan egter matig eet van die vrugte wat vanself van die struike en bome geval het. Dit geld vir die versamelaars en ook vir hulle wat verbou. En dit is `n nuwe gebod vir julle, waaraan julle julleself heilig moet hou; wee die oortreders!"

[16] En sien, toe neem Kain die woord en vra baie treurig en diep ontroerd aan Hanoch: "O Hanoch, groot vors, my gewese seun, sê my reg vanuit jou hart en volgens waarheid, is jou vader en moeder nie uitgesonder van alles wat jy wys en na eie goeddunke vir jou onderdane beveel het nie? En moet ek dan gelykgestel word aan my kinders, gebied dan dat hulle ook hulle vader en moeder van voedsel moet voorsien, want ons is al oud, afgemat en het baie swak geword. Of staan my barmhartig toe om hiervandaan te trek tot aan die einde van die wêreld, sodat ek die groot ellende van my kinders nie langer hoef aan te sien nie, aangesien hulle onder die swaar juk van die vrye geregtigheid versmag."

[17] En sien, toe sê Hanoch: "Wat vra jy my nou?! Doen ek dan nie goed as ek volgens die leer en die mag wat jy my gegee het, handel nie?! Jy het tog self niemand anders as myself bo die wet gestel nie en jy het vir julleself geen uitsondering gemaak nie! Waarom begeer jy dit dan nou wederregtelik van my en wil jy my daardeur daartoe dwing om op jou, die eerste wetgewer, die streng geregtelike gevolge vir ongehoorsaamheid toe te pas om `n afskrikwekkende voorbeeld vir die ander genadeloos duidelik te maak?! En indien ek so handel, doen ek dan onreg?! Omdat daar by ons geen liefde heers nie, maar slegs die suiwerste reg, hoe kan jy jou dan uitspreek teen die wette van my vrye willekeur om die een of ander uitsonderlike barmhartigheid te verkry, wat nie strook met die regte van die wette van jou vors nie?! Dat jy my vader is, wat gaan dit my aan?! Ek het deur jou so geword, sonder dat ek dit onder watter voorwaardes dan ook wou geword het! En jy het my immers buite my wil verwek en my sonder dat ek dit wou gehad het tot `n vors gemaak! Vertel my eers, welke verpligting ek, geregtelik gesien, ten opsigte van jou het, omdat ek nou heeltemal buite my wil, suiwer toevallig ten gevolge van jou wellus, geword het en is wat ek is en soos ek is, omdat ek niks te wille gehad het en ook geen enkele voorwaarde kon stel en `n vors geword het as gevolg van jou eersug!

[18] Vlug dan uit my oë waarheen jy maar wil, sodat die bittere gevolge van die geregtigheid julle nie agtervolg nie! Dit sal die enigste barmhartigheid wees wat ek vry vanuit myself aan julle sal skenk, omdat ek kan doen wat ek maar wil; gaan dus nou en vlug!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205