Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Die politiek van die raadshere van Hanoch

27 Ek wil die mishandeling wat by so `n bouery plaasgevind het, nie gedenk nie, maar ek wil julle na die hoofsaak lei. Toe die stede nou heeltemal gebou was, gaan die tien vorste na Hanoch en sê: "Hanoch, jou groot verhewe god van alle mag en krag (N.B. ofskoon hy al swakker as `n muggie was en glad geen mag meer besit het nie) en allergrootste meester van alle geregtigheid (N.B. waaraan niks anders as diefstal, hoerery, bedrog, al die bose dade, gevoelloosheid, slanggebroedsel, wreedheid, leuens, vleiery en allerlei soorte misdrywe ten grondslag lê)! Sien, onder die mees wyse leiding van u grenslose, onbegryplike en onnaspeurbare geregtigheid het u volk groot geword (N.B. Dit was waarlik `n grenslose, vir hulle heeltemal onbegryplike en meer nog, heeltemal onnaspeurbare geregtigheid) en het homself versprei oor die wye land van u goddelike heerlikheid en is daarom nie meer te oorsien vanuit u hoë huis nie en as ons hulle nie in die oog hou nie, dan sal hulle doen wat hulle wil; ja, hulle kan selfs so ver afdwaal, dat hulle in plaas van u, aan wie alleen tog alle aanbidding toekom, weer die ou God van Kain begin aan te roep en te aanbid. En dit sou dieselfde ou God tog weer eens te binne kan skiet, om iemand van hulle te verhoor en hom met `n onoorwinlike mag toe te rus, waarna hy dan `n groot volk om homself heen sou kon versamel, en ons oorval en ons ten slotte almal vernietig. (N.B. Sulke sorg pas baie goed by so `n magtige god!)

[2] Uiteindelik sou ons ook nie genoeg goeie dienare hê om oral heen te gaan ten einde die vrugte af te neem en hierheen te bring nie; en ten slotte sou hierdie dienare onderweg te slim vir ons wees en sou uiteindelik self alles verbruik, wat slegs vir u, o groot god, deur die aarde gehoorsaam, voortgebring word!" (N.B. Dus uit angs om te verhonger, begin die groot god vir homself te sorg?!)

[3] En sien, toe kom Hanoch in `n groot verleentheid en weet nie wat om te doen nie, omdat hy nooit vroeër verneem het hoe baie sy volk hulleself vermeerder het nie. Ten slotte staan hy op en sê met `n krysende stem vol angs: "Hoe sou dit wees, as ons hulle, wat te veel is, geleidelik ombring en doodmaak en hulle terugbring tot hulle oorspronklike aantal swakkes en moedeloses?! Wat dink julle daarvan, my getroustes?" (N.B. `n pragtige voorneme van die goddelike geregtigheid!)

[4] En sien, toe sê die tien: "O allerregverdigste god, oorweeg wat moontlik en wat onmoontlik is! (N.B. Die mees wyse, magtigste en regverdigste god moes homself dus ook deur sy dienare oor die moontlike en die onmoontlike laat voorlig!) Want sien, ten eerste sou hulle u en ons in enorme aantalle oorval en ons almal vernietig as ons maar één daar sou doodslaan, en ten tweede, dink aan die houer bo die sterre waarvan Kain ons dikwels vertel het en wat daar sal gebeur as ons sou begin met die bedryf van gruwelikhede!" (N.B. Dus het die groot magtige god tog nog angs vir die ou God?!)

[5] En sien, toe sê Hanoch vir hulle: "Luister en verneem my wil, wat kragtig klink: Elkeen van julle, my tien trouste dienare, betrek een van die tien stede en heers daar en regeer daar in my naam en gee wette volgens die korrekte insig en besef en sorg daarvoor dat dit noukeurig en streng opgevolg word! As een van julle ooit in ywer sou verslap, dan sal ek die trouste en ywerigste uit julle midde bo hom plaas. Ek sal julle beoordeel volgens die inbring van die vrugte! Die eerste wat aan my heilige verhewenheid die verskul­digde sal bring, sal ook die lof van die geregtigheid as eersteling oes en ek sal die weinige van hom aanneem asof dit baie is; maar hulle wat later kom, moet baie bring en ek sal dit aanneem asof dit slegs min is, omdat ek daaruit hulle laksheid sal afmeet en hulle vir hulle handelswyse `n geregtelike lof of `n geregtelike berisping sal laat toekom; en die laaste sal oorgelewer word aan die eerste, sodat sy inset en nougesetheid in alle regverdige sake sal toeneem. Want die streng regverdigheid is die enigste grondslag van die ryk wat ons het en self heeltemal besit .

[6] Dit is my regverdige en strenge wil, omdat julle en alle vry en diensbare onderdane geen ander kan hê en ook nie sal hê nie, want ek is julle god en meester. Eens was daar wel die een of ander ou God gewees, wat ook baie magtig was solank Hy regverdig was; maar Hy sou toe Sy regverdigheid laat val het en was ewe goed vir die boosdoeners as vir die regverdiges, vanweë `n sekere liefde, wat ooreenkom met ons geesdrif vir mooi vroue en Hy het homself daardeur heeltemal ten gronde gerig en is nou nie meer nie.

[7] Vandaar dat ek nou sy plek inneem, soos julle my hier sien; daarom sal die aanroep van die ou God julle weinig baat, omdat hy nêrens en niks meer is nie. Vandaar dat julle julleself in alle aangeleenthede tot my, wat nou alle mag en gesag in homself het, moet wend! Amen."

[8] (N.B. Dergelike en nog baie slegter afskilderinge van My moet Ek daagliks hoor uit die mond van baie honderdduisende, wat hulle volslae onbegrip vanweë hulle algehele verduisterde verstand - en vermoë toon en dat alle diere deur middel van hulle skerp sintuie hulle op My troon plaas en hulleself teenswoordig geen "gode" meer noem nie - omdat hierdie naam so gewoon en kinderlik nederig klink -, maar hulleself "filosowe" of "wêreldwyses" en verder nog "geleerdes" of allerlei soort "doktore" noem. Die verduisterde geslag mense wil My selfs dwing om eers by hulle in onderrig te gaan, as Ek `n God sou wil wees in hierdie baie verligte tyd van die supergeleerdes; Ek beweer egter dat `n reënwurm verstandiger is as hulle, ofskoon dit slegs één sintuig het. Ek sê julle dat hierdie here spoedig baie groot oë sal rek en tog nie meer sal sien as `n woelmuis in die aarde nie, en met gespitste en baie lang ore nie meer sal hoor as `n vis in die water, omdat dit geen stem en ook geen gehoor het nie.)

[9] En sien, dit was vir die tien vorste nou juis `n goeie, onuitputlike hoeveelheid koring op hulle meulens; want Hanoch het hulle stille wense tegemoet gekom en het hulle `n streng gebod gegee, wat hulle juis goed te pas gekom het. Want nou eers was hulle as`t ware geregtig om elke denkbare wandaad te bedryf en die volke en hulle dom god te bedrieg.

[10] En sien nou: Toe die god Hanoch dus sy rede beëindig het, stuur hy sy tien dienare weg. Hulle gaan heen, na hulle uiterlike te oordeel diep geroer deur so `n geweldige toespraak; maar in hulle hart was hulle buitengewoon vrolik oor die groot dwaasheid van Hanoch, wat uit vrees en deur allerlei sorge hulle eie wil tot enigste wet gemaak het en op die einde self daarvan oortuig begin te raak het dat hy `n god was. Maar wat die laaste punt betref, het hulle hulleself deeglik vergis; want Hanoch het self baie goed geweet dat hy geen god was nie, omdat sy swakheid en algehele uitputting maar al te duidelik aangetoon het hoe dit daar met sy goddelikheid gesteld was!

[11] Maar hy wou slegs die ander in hulle growwe blindheid laat en die versterking en god wees vasmaak, ter wille van die gewin en hy dink: "Vir die blindes is dit goeie prediking; want hulle kan swart nie van wit onderskei nie en beskou die dag vir `n nag en omgekeerd!" Maar hierin vergis hy homself óók. En so heers daar tussen hulle `n rare verhouding, waarby die een die ander steeds as die domste en hulleself as die grootste beskou.

[12] En toe hulle nou weer in hulle verblyf saamkom, begin Kad met `n redevoering wat tot hulle almal gerig was en sê: "Nou, my broeders, ons wat Kain nog as vader het en die aartsvader Adam gesien het en die aartsmoeder Eva, wat nie geken en gesien is deur Hanoch nie, wat ewemin ooit vir Adam sal sien. Sien, Kain ons vader, was `n boosdoener soos geeneen van ons dit ooit was en nooit sal wees nie, en omdat hy homself tot die God van Adam gewend het, het Hy hom gegee wat hy wou hê.

[13] Nou, wat het ons dan nog meer nodig?! Ons weet en is oog- en oorgetuies van Sy groot dade; eweneens weet ons, waar die groot Maghebber woon! Laat ons doen wat Kain in sy nood en ook in tye van oorvloed gedoen het. En wees daarvan verseker dat spoedig bewyse aangetoon sal word, wie die eintlike meester in die land van die diepte is! Laat elkeen van ons daarom vir hierdie God `n altaar oprig en aan Hom die vrugte van die land offer en die seggenskap sal gevolglik nie agterweë bly nie; en dan sal die dwaas Hanoch wel baie lank kan wag op die majesteitlike skatting van sy ingebeelde gewydheid van ons, ons, wat Adam en Eva nog gesien het!"

[14] En sien, toe Kad sy toespraak beëindig het, verhef Kahrak homself en sê: "Broeders, as dit so lê, dan staan ons voor `n gewonne saak! Sien, wat my betref is ek dit volkome eens met Kad; ons sou tog wel groter dwase wees as Hanoch in sy geheel, as ons, wat magtiger is, hom vir niks anders sou voed as om sy dwaasheid te versterk en hom daar bowendien ook nog sou vetmes, (vetvoer) sodat hy nog meer daarna sou uitsien om ons mooiste vroue te beslaap? Ons moet, soos julle almal weet, dit ook nog as `n uitsonderlike barmhartigheid beskou, wanneer hy een vir ons oorlaat as hulle hom nie meer geval nie! Daarom glo ek, dat ons die mooiste vir onsself moet hou! Die minder mooies gee ons aan ons dienare; die origes moet die eiendom wees van ons onderdane en Hanoch kan daardeur `n bloedskender word van sy eie dogters en nou deur sy eie toedoen die skande ondervind en maer word soos `n been van `n bok en met die kalwers eet en met die voëls drink! En waarom sou ons nie dieselfde doen as wat hy met ons vader gedoen het nie?! Vader Kain het ook vergeet om `n voorbehoud te maak vir bepaalde dinge en moes vlug, terwyl hy tog ewegoed Hanoch se vader was soos die van ons! En sien, vir ons is hy nou nog slegs `n dom broer; wat sal ons nou verhinder om aan hom die vlug van Kain te vergeld?! - Sien, dit is my mening, voordelig vir elkeen van ons, terwyl ek op my beurt die ou God sal aanhang, soos Kad, wat baie wys, korrek en doeltreffend opgemerk het!"

[15] Van alle kante klink nou instemming met die rede van Kahrak, waarop Nohad opstaan en begin te spreek, en sê: "Julle ken my amp en handewerk, wat ek volgens die wil van Hanoch uitgeoefen het met die grootste trou, vlyt en ywer! Tog vra ek aan julle almal wat ek gedurende die lang tyd daarby gewen het, en julle sal my sekerlik as antwoord gee: Niks meer en niks minder as niks nie! Dit beteken: Ek het die groot bedrieër gehelp om te bedrieg en was gevolglik self `n gedrogtelike bedrieër; ek moes vanweë sy bedrieglike huigelary teenoor die menigte `n slegte lewe lei en my openlik - slegs maar terwille van `n dom skynheilige opvatting - as `n baie streng dienaar van die reg, van elke opwindende genot weerhou om daarvoor heimlik die mees kragtigste verwyte en allerlei bedreiginge te deurstaan; in plaas van lof en `n nie sigbare skadeloosstelling en vergoeding vir krenking in die openbaar, ten gevolge van sy onbegryplike dwaasheid. Julle het dit almal makliker gehad en kon vir julle genoegdoening baie doen wat vir my onmoontlik was, omdat ek presies aan die spits van sy geregtelike verdwasing staan en sy gekste en mees afskuwelike wense nougeset moes uitvoer, waardeur hierdie huigelary aan my opge­dwing is, waar ek wel saam oor die weg kon - of eintlik saam oor die weg moes kan kom, sodat dit een of ander wetlike tintjie kry, waardeur ek dan, vanweë die volledige deugdelikheid van my bedrog, as regmatige bedrieër my wederom moet laat bedrieg en dit in drievoud: Ten eerste deur Hanoch vanweë die reg, ten tweede deur myself, vanweë die volke en ten derde deur die volke en julle almal vanweë Hanoch. Ek glo om voldoende redes vir my volslae ontevredenheid aan die lig gebring te hê en daardeur ook my beeld van bedrieër aan julle voete te gelê het. En oordeel nou self of ek ongelyk het, as ek uit dankbaarheid vir die erkenning die drievoudige bedrog van my sal afskud en dit met alle krag na Hanoch se hoof sal slinger, omdat ek hom voor die volk sal ontmasker. En hierna moet hy dan maar sien waarheen sy goddelikheid hom sal lei en hy sal dit soos `n hinkende hert agterna hardloop. En ek sal dus ook doen wat Kad goed ag en ek sal Kahrak se raad noukeurig ten uitvoer bring en my afgifte sal sy oë nie skaad en die gekla van my kamele sal sy oor nie hinder nie. En hiermee neem ek besit van die stad wat my naam dra."

[16] En sien, hierop sê die oorblywendes: "Nohad het uitstekend gespreek en hy handel ook opreg en goed."

[17] Daarna staan Huïd op en laat die stem vanuit sy bors soos `n bliksemslag klink in die byeenkoms van bose manne en spreek heftiger as die res, en sê: "Luister goed na my, broeders en seuns van Kain, die voëlvry verklaarde, en begryp al my woorde, want dit is van baie groot belang!

[18] Wie sou in staat wees om al die bloeddruppels te tel wat my sterk hande laat vloei het uit die rûe en lendene van die arme en swak volk ten gevolge van die vonnisse van Nohad. Terwyl hulle net so goed soos Hanoch en ons, nakomelinge van Kain is. Bloed wat gevloei het, nie deur die oortreding van `n bepaalde gebod of deur een of ander luiheid of vanweë die kleinste skynbare strafbare aanleiding, maar enkel en alleen, soos julle almal weet, suiwer vir sy genoegdoening en tydverdryf, om maar nie te dink aan die mishandeling by die bou van al die stede nie. Dit is so erg dat dit selfs vir my volkome onbegryplik is, hoe hierdie armes die langdurige martelgang oorleef het. Hy weet om ons wel by elke teenwerping die breekbaarheid van die bewustelike houer bo die sterre voor te hou en vergeet geheel en al dit onder die aarde!

[19] Maar ek vra julle almal volgens reg en billikheid of dit met die volk nie beter sou gaan onder die brokstukke van die houer, as onder ons voortdurende slae met taai roedes, harde knuppels en stewige stokke nie! En sê my, wat het hy dan vir die houer van die liefde onder die aarde gedoen? Ek glo dat, afgesien van die tallose bloeddruppels van ons broeders, daar baie weinig daarin sal wees! En as ons die regering nie op `n listige wyse na ons toe getrek het nie, - sou hy dan nie beslis ook as god van alle gruwelikhede begin het om die een na die ander te laat doodmaak nie?

[20] Onsself moes onmenslik wees om hom teen elke verdenking te behoed, omdat ons nog sy dienare was. Maar die stede is nou gebou, die volk is verdeeld, die mag is aan ons, eweneens as die nuwe waardering van die ou God en die geprysde offer; wat het ons nog meer nodig? Aangesien die volk ons gehoorsaam het toe ons hulle mishandel het, sal hulle ons sekerlik nie ontrou word as ons in plaas van hierdie wrede onmenslikheid die geslane wonde wil en sal heel deur meer wyser en sagter wette nie. Sien, mense noem my boosaardig; maar hierby sou ek `n groot vraagteken wil plaas: Wie was eintlik boosaardig, ek, of Hanoch, of die slang van Kain! Ek glo dat Hanoch `n meester in al die bose is en die slang moet al haar gebroedsel in sy hart gelê het, - anders was sulke onmenslikhede van één broeder ten opsigte van sy broeders deur sy broeders en die broeders van sy broeders, nie voorstelbaar nie!

[21] Daarom glo ek, dat ons hom aan onsself ondergeskik en diensbaar moet maak en die volk steeds meer teen sy onmenslikheid moet skadeloos stel, in plaas van sy majesteitlike skatting; aldus kan hy die regmatige heffing op sy eie rug neem en dit dra waarheen hy wil."

[22] "Jou toespraak is korrek en wys, broeder Huïd", sê die versameldes, "en laat Hanoch dit oorkom soos wat julle sê in julle rede, wat ons almal in die middel van ons oog tref, dat ons te dikwels sy groot misdade gesien het!"

[23] En sien, toe staan Hlad op en sê kort en bondig: "Broeders, julle weet hoe gevoelloos ek ten opsigte van alles moes wees om so te sê die streng reg te personifieer, oftewel om die willekeurige onmenslikheid van Hanoch as die onverbiddelike reg uit te beeld, en ek moes bowendien sy bose speletjies uitvoer met `n gesig asof ek daarmee eens was. Hoewel ek nie die beuel self was nie, was ek daarby tog die opsiener en moes die slae van Huïd en al Sy handlangers tel en dit altyd vol erkenning aan Hanoch oorbring. Sien, toentertyd moes ek gevoelloos skyn te wees, terwyl ek dit nie in die minste was nie; nou wil ek my bekeer, soos julle sien! Teenoor Hanoch wil ek dit wees wat ek so dikwels moes skyn voor die volk, ons broeders; en vir die broeders wil ek warm van hart wees en ek sal Hanoch laat boet vir die onreg wat hy hulle aangedoen het. Laat my trou aan hom `n koue vergelding wees en my ywer sal my tot die eerste onder julle maak en die stem wat hom loof sal in gehuil en gebrul verander word, en dit sal tot `n fees word vir die ore van hulle wat so dikwels mishandel was; en hulle bleek wange sal rooi gekleur word met die bloeddruppels van sy rug!

[24] Omdat ek dit volledig met julle eens is, glo ek dat my oordeel nie verkeerd is as ek te werk gaan volgens my gevoel nie, wat lank genoeg asof verstard al die gruwels en misdade van Hanoch moes aanskou het. Want wie gevoel het en ontvanklik is vir pyn en kwelling, die het dit seker ook vir weldadigheid; dit het ek tallose kere gesien. Laat ons daarom in die toekoms regeer deur weldade te bewys. Diegene wat die bose toelaat, aan hom geskied volgens die maatstaf van sy daad, daarby in die ooghouend dat hy ook `n broeder is; laat die goedheid egter tienvoudig oor die gehoorsames en die weldoeners kom. En dan sal aan die ou God `n waardige offer gebring word, wat Hom beslis sal geval as ons dit weer aan Hom terugbring wat Kain en Hanoch so misdadig ligsinnig vir ons almal laat verlore gaan het."

[25] En sien, toe verhef almal hulleself en buig voor Hlad en sê: "O broeder! Van al ons oordeel is joune die mees korrekte; jy kom die naaste aan die kinders van Adam. Daarom sal jy ons tot voorbeeld wees, waarna ons al ons beskikkinge sal reël en rig en ons is ook vas van plan om dit te laat doen.

[26] Die warm bloed van die arme broeders het soos ys om jou hart gesmelt en nou kom daaruit `n oorvloedige warmte vry; handel daarom vanuit hierdie warmte en verwarm ons almal vanuit jou oorvloed!"

[27] En sien, toe verhef Uvrak homself ook en sê: "Broeders, kyk en luister! Al julle oordele is korrek, waar en tereg; maar dit van Hlad is, volgens my skerp vermoë van oordeel, duidelik die mees korrekte. En sodoende is ek op één ding na heeltemal met hom eens en die een punt is van baie groot belang en lui: Groot, versigtige sluheid by alles wat ons ook maar onderneem. Want sien: Reg laat wedervaar, weldoenend, korrek en regverdige oordeel, die korrekte vergelding, `n sekere orde, - dit is dinge wat van groot openbare belang is, sowel vir die volk asook vir ons almal; en al hierdie dinge is toereikend as dit gaan tussen ons en die volk. Maar nou weet almal ook, wat vrye burgers van die stad Hanoch is, dat ons vir hierdie domkoppe vorste is en Hanoch werklik `n god is en dit sal nie een van hulle dit vir homself laat afneem nie, selfs nie na duisend stokslae; en nog meer as almal hou die hele volk aan hierdie waan vas.

[28] Maar as ons Hanoch nou skielik iets aandoen, sal ons hulle almal juis daardeur teen ons opstel; en as Hanoch in hulle midde sou tree en hulle sou duidelik maak dat ons sy hande gebind het, sodat hy die mishandelinge wat ons hulle laat ondergaan, nie kon afweer nie; as dit gebeur kom die volk oor ons en gaan ons ten gevolge van die gewig van die massa heeltemal onder.

[29] Daarom sal lis en groot, versigtige sluheid absoluut nood­saaklik wees indien ons ons planne ten uitvoer wil bring, sodat die saak ons tot voordeel kan strek. Omdat ek in alle sake sy mees geheime raadsman was, weet ek ook die beste hoe die saak daarvoor staan. Daarom is ek vas oortuig van die volgende: Om die skyn op te hou, moet ons Hanoch minstens drie jaar lank die geëiste skatting betaal, die volk ondertussen goed versorg, sodat hulle ons toegedaan sal wees en dan die meer geskikte onderrig oor die onbeduidendheid van die wese van Hanoch en oor al sy bedrog en sy baie growwe aanmatiging oorbring. Ons moet hulle die spore van die ou God wys en daarenteen nog duidelik maak hoe alles wat ons doen, hoe hard dit ookal mag wees, slegs daarop gerig was om hulle uiteindelik as broeders te red van die harde en swaar juk van Hanoch, en dat dit nou moet gebeur, omdat hulle andersins almal tesame omgebring sou word.

[30] Ek gee julle die volledige versekering: As ons die volk so inlig en dit volgens Hlad se opvatting behandel, verkeer ons in `n onberekenbare voordelige posisie en ek glo dat selfs die ou God ons die heerskappy nie sal bestry as ons Hom op die koop toe nog `n offer wil bring nie. Eers dan is ek ook daarvan verseker, dat Hanoch van die volk sal verneem wat die vorige verstandige en baie ervare sprekers Huïd en Hlad reeds baie wys vermeld het.

[31] Neem my toespraak goed ter harte, my broeders en verhewe seuns van Kain!" En kyk, almal buig en sê: "Amen, so sal dit gebeur, sodat van die toesprake regsgeldig word ten opsigte van Hanoch, die lafhartige verdrywer van ons vader en die skandelike misdadiger teenoor die ou, magtige God."

[32] Toe gaan die ander weer sit; maar Farak bly staan en kyk eers ernstig om homself heen, asof hy wil sien of daar nie by een van die redenaars nog iets verborge gebly het waarmee hy nie openlik voor die dag kom nie; en wat hy met sy oë soek, vind sy verstand vinnig en maklik. Nou begin hy baie kragtig te spreek en sy toespraak ontsien niemand nie, net soos `n swaard op die slagveld en hy sê:

[33] "Broeders- as julle hierdie erenaam nog waardig is - Ek het julle toesprake aangehoor, waarin julle jul gedagtes hardop uitgespreek het, maar agterbaks verswyg julle jul wense teenoor mekaar en het julle mekaar verloën met julle planne en het daar­deur mekaar se wedersydse muiters geword. Iedereen van julle was van plan om homself heimlik uit die voete te maak om aan Hanoch te toon dat hy uit volledige trou aan hom, vóór die belang­rike aanvaarding van die regering volgens sy aanwysinge, `n byeenkoms van die vorste, soos dit nou hier plaasvind, belê het en dat hy probeer het om hulle almal oor te haal om `n skandelike oordeel af te stel oor Hanoch, sodat dit aan Hanoch dan duidelik sou word in welke hande hy die tien regerings gelê het. As gevolg hiervan sou Hanoch hom dan met alle mag toerus en sou hom aanstel as enigste heerser oor ons almal; want origens kon dan, ten gevolge van die liggelowigheid van Hanoch, die lot van Kain onder mekaar verdeel word.

[34] O julle skurke, julle uitbraaksel van al die bose! Vra julleself af of daar ooit een eerlike karaktertrek in julle was wat iets tot stand gebring het! Want alles wat ek is en wat julle is, het julle geluk deur lis, sluheid, bedrog, vleiery en huigelary. Het die arme volk nog nie genoeg gely nie? Het hulle tog nie al so ellendig geword dat hulle byna nie meer soos mense lyk nie? Het hulle daarsonder nie al nagenoeg die laaste druppel bloed onder julle slae vergiet nie? En wat het ons ooit as goeds gestel teenoor die feit dat hulle ons so lank gewillig vir niks gevoed het, as al die mishandeling wat julle maar kon bedink?! Het hulle, wat julle diermense noem, nie dieselfde reg op alles wat die aarde voortbring nie? Maar dit was vir hulle verbode om van al die vrugte wat ryp geword het, te eet, behalwe slegs van die bederfdes! En julle is nie daarmee tevrede nie, maar wil hulle nog duisendmaal ongelukkiger maak as wat hulle alreeds is?!

[35] Daardeur beweeg sê ek sonder skroom vir julle: Julle is dit nie werd dat die arme volk julle broers is nie, maar as julle oor hulle wil regeer, laat dan alle boosheid en sluheid agterweë en lei hulle voor die aangesig van die ware en ou God en wees `n ware broeder vir Hanoch en geen bedrieërs vanweë eie voordeel nie, en maak dat julle deur waaragtige trou waardig bevind word vir dit wat julle deur lis en bedrog geword het, anders sal die ou God julle offer nie aansien nie en sal Hy die swakkes teen julle help en Hy sal julle tot slawe van die diere maak, wie julle die naam gegee het wat uit julle breine ontspruit het! Dink goed na oor die rede van die gruwelike. Amen."

[36] Sien, toe Farak sy toespraak beëindig het, bly die ander asof versteend sit en ken ook nie één woord om ter verontskuldiging oor hulle lippe te bring nie, en die meeste dink by hulleself: "Dit was ons gewete gewees by die ou God; want hoe kon hy ons andersins so haarfyn deursien het?! En omdat dit nou eenmaal so is, wie sal dit aan sy kant oorlewe?! Indien hy vernietigbaar was, dan sou dit maklik wees; maar nou, wie sou homself teen sy mag kan verset? Nog voor ons een hand kan ophef, sal syne ons reeds vernietigend tref; daarom sal ons rustig afwag watter wending die saak neem en dan sal dit wel duidelik word wat daar verder te doen sal wees."

[37] En sien, toe niemand meer durf spreek nie, tree Farak nog een keer na vore en vra hulle: "Hoe is julle gemoed nou? Het niemand dan meer die moed om as spreker op te staan en my te antwoord nie? Waar is julle lis nou, julle bedrog, julle sluheid, julle vleitaal, julle gehuigel, waar is julle leuens, waar is julle mag, waar is julle vorstedom en waar is julle bedriegde god Hanoch?

[38] Ja, ek sê vir julle dat julle stom gedagtetaal nie my ore ontgaan het nie, en hoe die saak homself ook mag wend, julle sal baie presies doen wat daar volgens reg en billikheid gedoen moet word. En wie van julle homself nie noukeurig daaraan hou nie, sal voëlvry verklaar word net soos Kain, waarvan julle sê dat hy julle vader is, terwyl hy tog regverdig gehandel het,- slegs te blind en streng, waardeur hy homself daarin verstrik het en vir sy eie werk moes vlug. Waarheen, dit weet niemand nie, behalwe die ou God; en as Hy dit aan iemand sou bekend maak, dan sou hy dit weet. Maar dit is nie Sy wil nie. Sien, sy regverdigheid het voortgekom uit angs vir die oordeel van die Oue en daardeur het alles wat hy gedoen het, misluk, omdat hy dit nie uit liefde gedoen het nie, wat hom tog bo alles deur die ou God gebied was.

[39] By julle het selfs alle regverdigheid verdwyn, en in die plek daarvan het lis, bedrog, sluheid, leuens en nog baie meer ander skandelikhede daarby gekom, wat vanweë hulle laagheid geen naam het nie. En julle glo dat die ou God julle skielik bereidwillig sal ondersteun in al julle gemeenhede, wat se aantal geen einde ken nie, as julle Hom met slegs die een of ander onsigbare vuur as offer om die bos wil lei. O, julle vergis julle geweldig; hierdie Oue het skerp oë en weet baie presies hoe dit van begin tot einde met julle wese gestel is. Daarom is Sy oor ver van julle verwyder en sal Hy julle nooit meer in julle lafhartigheid verhoor nie, ook al sou julle die hele aarde as offer vir Hom aansteek, as julle nie vooraf julle harte reinig met die vuur van `n onbegrensde liefde ten opsigte van die deur julle verswakte broeders en ongelukkige susters en julle jul weerhou van allerlei hoerery, wat by tweehonderd jaar ou manne wat die vorste amp beklee, onvoorstelbaar sleg pas.

[40] Beantwoord nou my vrae, as julle dit kan doen, of sê my reguit in my gesig, soos ek dit julle ook sonder skroom gesê het, wat julle nou besluit het om te doen, as julle dit tenminste durf uiter; want ek streef nie na heerskappy nie, nog, soos julle, na die een of ander vorstedom, maar slegs na die noukeurige vervulling van die, deur my amp opgelegde pligte, en na die welbehae van die Oue. Daarom begaan ek ook nooit `n onreg nie, nog het ek ooit `n vrou geskend, nog `n maagd en nog baie minder meisies van twaalf jaar of jonger, soos julle; daarom het julle my ook die gruwelike genoem, omdat ek geen lui skurk wou wees soos julle nie!

[41] Dit sal my laatste woorde wees, sodat julle weet wie julle voor julle het, naamlik my, die gruwelike, wat julle egter nooit nader sal ken as slegs vir sover die hoogste noodsaak, soos die huidige dit vereis, sodat alles nie vir ewig - ja, ek sê vir ewig - te gronde sou gaan deur die weer gewekte toorn van die ou, ewige God nie! Laat niemand my daarom ooit nader en inligting vra oor die waarom en die waardeur nie! Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205