Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 35

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

`n Boeteprediking deur die diere

35 Laat ons onsself nou na die skool van die hiëna begewe en daar ons veertien studerendes opsoek en ook daadwerklik daar verneem hoever die klein volkie in hierdie uitsonderlike leerskool dit met die verbetering van hulle gemoed gebring het, gedurende hierdie kort tydjie.

[2] Kyk en let skerp op en niemand sal sy oor toestop en sy oog gesluit hou om die ferme taal te verneem uit die bek van die reeds bekende hiëna of van `n tier, `n leeu, `n wolf en `n beer nie. Want die mense is vol leuens en daar is dan ook nie een wat aan die ander iets waars kan sê nie, want die ervaring het julle al baie dikwels geleer hoeseer die geleerdes hulleself vergis, omdat al hulle dwaallere deur ander verdring word, wat dikwels nog slegter is as die verdringde en verwerpte een. Sodoende is dit ook vir julle nie oorbodig om stewige woorde vol pit en krag uit die sfeer van die ongeveinsde natuur te verneem nie en dit goed in julle hart te skryf om daardeur in te sien, hoe waaragtig, regverdig en getrou julle aller heilige, ewige Vader is.

[3] Want sien, toe die vasgestelde tyd nou met goeie gevolg verstreke was, tree die hiëna weer vol woede voor die verskrikte geselskap, om hulle gemoedere deur angs des te oplettender te maak en sê met haar breë tong, wat met My toestemming losgemaak was en met wyd oopgesperde bek die volgende:

[4] "Rys op uit die dood! Dit is die wil van die groot, almagtige God en Heer van al Sy tallose skepsele! Die kort tydjie is vinnig verstreke; vinnig het die dae en nagte in julle swak bestaan mekaar afgewissel. Destyds, toe julle deur my, hierna, kragtens die magtige wil van die allerhoogste God weggelei was, het julle gesien dat die volmaan die ontoeganklike paaie deur `n doolhof van hoogtes verlig het tot by die gat, wat ek en my kinders bewoon en dat ons dit gewillig aan julle afgestaan het, sodat julle julleself aldaar kon verkwik het in die fris koelte van die aarde. Kyk nou weer na die maan en sien, dat hy opnuut groot en vol geword het, terwyl hy voorheen sy lig verloor het tot daar niks meer daarvan oor was nie, en toe soos `n kind geword het, daarna `n jongeling en nou weer soos `n man is, in sy volle krag en majesteit.

[5] Wat dit julle voortdurend in `n kort tydjie sinvol leer en toon, moet julle later in julle lewe getrou naboots. Julle wêreldse lig sal en moet afneem soos die lig van die maan, sodat julle in staat kan wees om met volle oorgawe, in plaas van die vroeëre wêreldse lig - wat julle hoogmoedige verstand is; `n nuwe lig uit die hoë hemele op te neem, wat `n ware liefde sonder eiebelang is en uit die lig die barmhartigheid van die groot, heilige God.

[6] Sien, soos ek nou met julle praat, kan op gelyke wyse ook elke ander ding deur die barmhartige toestemming van bo geskik gemaak word om met julle te spreek. Maar indien julle verstok en heerssugtig van hart sal bly, val dan voor ons neer en bedink, terwyl julle julle aan hierdie woorde herinner; hoe ver julle benede ons staan, en hoe hoog die kinders van God bo ons staan!

[7] Want sê my, welke dier het julle ooit `n ander sien oorheers? Welke dier het julle homself iets sien toe-eien? Welke dier het julle ooit iets van die ander sien wegneem? Of het julle ons ooit mekaar sien vermoor of lieg en bedrieg of hoerery sien bedryf suiwer uit bevrediging van die wellus?

[8] Sê my, wanneer het julle ons `n handeling sien pleeg, wat nie volledig met ons natuur ooreenkom nie!

[9] Sou dit dan nie redelik wees, as die diere van julle die nuttige gebruik van julle kragte sou geleer het nie?! - En nou, soos julle sien, moet ons bloeddorstige diere juis aan julle sagmoedigheid en die wyse erns van die lewe toon en onderrig! O skaam julle, julle here van die wêreld, omdat `n muggie wat om my ore zoem meer wysheid besit as julle en die hele Hanoch met die tien stede wat hulle saam besit. Want ook al is die duur van haar lewe nouliks tot op etlike dae begrens en sy daar van haar sigbare werk geen nagelate spoor voorhande het nie, tog het sy selfs in hierdie baie kort lewensduur oneindig baie meer gedoen as julle sedert die tye van Kain met al julle stedebouery en marteling van julle broeders, want sy vervul die heersende wil van God in haar en voel dankbare vreugde in die onbeduidende kort bestaan. Slegs julle mense, wat ewig sal lewe, kan die waarde in julle vergeet en nog meer die oneindige waarde van die allergewyde liefde van die ewige, heilige God in julle gees!

[10] Ons dooie wesens is verheug en dankbaar vir die stom, kort lewe en julle lewendes kan vreugde belewe aan die afval van die dood wat met begerige tong opgelek word!

[11] O, U groot, heilige God, waarom het U nie liewer suiwer hiënas, tiers, leeus, wolwe en bere geskape, wat altyd U heilige Wil sal doen nie?! En U moes nooit daaraan gedink het om ook maar één mens te skep, wat nie net U allergewyde Wil nie, maar selfs vir U kon vergeet het!

[12] O kyk hierheen, julle mooi, gladde mense, kyk na my afskrikwekkende, harige, jammerlike gedaante; is dit nie, as`t ware gehul in die goddelike vloek van die nag nie, en julle daarteenoor in die hoogste seën van die ewige liefde nie?!

[13] Maar hoe gebeur dit dan, dat onder die omhulsel van die dood die Skepper dankie gesê word, - en onder julle huid van die seën, julle Hom spot, hoon, verag en ten slotte selfs totale vergetelheid tegemoet hardloop?!

[14] Daardeur het dit gebeur dat julle julleself deur julle ongehoor­saamheid tot `n uitvaagsel van die hel gemaak het, terwyl my geslag in alle diensbaarheid aan die goddelike mag, baie duisende jare voor julle oor die velde van die aarde geloop het, onder die sware druk van sy wildheid, tog nog nooit ondankbaar uit die deur God aangewese orde getree het nie!

[15] O oordink hierdie woorde van `n verskeurende dier goed en verhef julle tot die peil om selfs maar skepsele genoem te word en sien of dit julle eendag sal geluk om mense genoem te word, en bedink vervolgens, hoe hoog die kinders van God dan nog bo julle sal staan en dat julle ten minste soos hulle lyk, indien julle nie gelyk aan hulle kan en ook moet word nie. - My rede is ten einde; maar bly hier en luister nog na `n ander geslag! Amen."

[16] En sien, toe die hiëna nou hierdie indringende rede beëindig het, spring `n magtige groot tier met verwoede haas voor die geïntimideerde geselskap in, hy kyk hulle vreeslik ernstig aan en keer homself met swiepende stert tot die segsman en aanvoerder. Hy kyk hom `n rukkie strak aan, sper eindelik sy dodelike bek wyd oop en begin as volg te spreek:

[17] "Sihin! Dit sal julle naam wees, - wat beteken, dat hierdie naam julle wil sê dat julle seuns van die aardse hemel is, wat `n hemel van die diere is, wie se siel voortkom uit die vuur van die son en wat toegelaat word om tot julle siel te spreek, wat `n deur God gegewe siel is en deur julle tot skande gemaak is teenoor my en alle bloeddorstige diere in die woude en die struikgewas. Want julle het die groot Gewer vergeet, terwyl ons siel dit nog nooit gewaag het om ook maar een haarbreedte van Sy ordening af te wyk nie, ofskoon ook ons, net soos julle, met vyf sintuie begiftig is en ook `n geheue het en verlange, en ook aarde en water onderskei, vuur en lug, nat en droog en ons onderskei tussen dag en nag, hoog en laag, diep en vlak, warm en koud en het ook `n baie skerp gesigsvermoë, waarvoor selfs `n verdorwe gees homself nie kan verberg nie, maar waarvoor hy rillend van ontsetting, soos in doodsangs ineensak. En dit, omdat hy `n onverbiddelike, kragtige regter vol moed voor hom sien, wat gekom het om hom eers te ontmasker en sy vuil paleis te verwoes en sy onrein bloed te drink, sodat die heilige berge nie daarmee verontreinig sal word nie.

[18] Julle het almal met julle eie oë gesien wat die leër van Tatahar nie ver hiervandaan oorgekom het; dink julle dat die esels en kamele julle beskerm het teen ons regverdige woede? - O nee, julle sou julle geweldig vergis as julle daardie volslae verkeerde mening sou hê! God het ons beveel om julle te spaar; en daar was nie één onder ons, wat nie onmiddellik aan die wil van die almagtige Skepper gehoor sou gegee het nie!

[19] En julle mense, wat nie slegs die vyf edel sintuie het nie, maar daarby nog `n onsterflike siel waarin `n goddelike gees woon, hoe kan julle God vergeet en Sy allergewyde Naam en wil verontagsaam?

[20] O ellendige geslag, julle lafhartige mensewesens, julle is werklik verrottende monsters van die groot aarde! Sê my wat julle is of wat julle wil wees, as julle God, die Heilige, julle liefdevolle Skepper uitgeskakel het, terwyl julle, soos alles, slegs deur Hom is en bestaan?! Hy wat julle nog bowenal uit ongemete groot liefde die volledige vryheid skenk om julle, uitwerpsels van die hel, eendag steeds nader en nader aan Sy liefhebbende vaderhart te trek! Daartoe moes Hy, die mees liefdevolle, heilige Vader vervloek en vergeet word. O, U grote God, ondersteun my krag, wat my by die aanblik van hierdie monsters wil verlaat, sodat ek U heilige Wil kan uitvoer!

[21] Kyk na die gras! Hulle prys God, want ofskoon hulle nie spreek nie, ken hulle God, en julle weet in julle lewe van vryheid niks van Hom af nie! Ja, kyk na hierdie berge, kyk na die klippe, kyk na die water, kyk na ons, ja alles wat julle sien, wat julle oor en julle ander sintuie maar kan teëkom, dit loof, vereer en prys God. En alle hemele is vol van Sy groot barmhartigheid, Sy roem en Sy oneindige eer! En waarvan is julle dan wel vervul, dat julle Hom so volkome uit julle oog en julle hart kon verloor het?!

[22] Kortom, ek het geen woorde meer daarvoor nie! Dit is vir my nie moontlik om julle nog langer aan te kyk en my geregverdigde woede in te hou nie! Daarom verlaat ek julle volgens die wil van die Hoogste en sê nog ten slotte, dat julle - indien die ewige Liefde julle uit ons kloue, wat vergeleke met julle hande, waar die damp van die bloed van julle broeders nog afdrup, sagte kloue is, na die vryheid sal lei en julle tot `n volk op aarde gemaak word - julle jul sal herinner wat hier gesê en getoon was deur `n gruwelike tier, in wie se oë grynsend en fel gloeiend van bloeddors brand, maar tog ten opsigte van julle gelyke `n lam is!

[23] Leer dit van die natuur, indien julle hart afgestomp word vir die luide stem van God! Amen."

[24] En toe die tier op die manier sy rede, kragtig en doeltreffend beëindig het, kom die leeu nou aan die beurt. Loerend van agter die kreupelhout waar hy gewag het, spring hy plotseling soos `n kolos hieruit te voorskyn om voor die oë van Sihin, wat weer ietwat meer moed gekry het, posisie in te neem. Hy sper sy bek wyd oop en begin, soos gesê, eweneens te spreek en sê die volgende: "Luister, julle dowes en kyk, julle blindes, wat maghebbers op aarde wil wees, julle flinke konings, vorste en here van die wêreld wat so swak is soos `n muggie! Wat dink julle, wat sou die eerste plig wel moet wees vir `n vry wese, wat sy deur God verleende kragte na willekeur kan gebruik en deur niks belemmer word of kan word om vanuit die liefde van die groot, almagtige Skepper te dink nie?

[25] Sien, julle staar my aan soos `n verpletterde gevalde steenblok en weet minder as `n verrottende boomstam! Sou dit nie die eerste plig wees om die heilige Wil na te strewe van Hom, wat vir julle, net soos vir my, die lewe skenk nie - aan julle `n onsterflike, aan my egter `n sterflike -, en aan die wil bereidwillig gehoor te gee om daar deur die verloorde barmhartigheid te bereik, wat deur julle groot ongehoorsaamheid verlore gegaan het?!

[26] Doen julle dit ooit of doen julle dit miskien nou? - O nee, julle het God nog nooit leer ken nie; en teenoor wat mens nie ken nie, is mens ook van alle pligte onthef, - dit is julle snode troos! Maar ek moet julle sê en moet julle vra, hoe dit eintlik is om Hom te vergeet, aan wie julle tog elke dag en elke nag met beklemming herinner sou moet word en hard op Sy grootse majesteit aan die opgaande son, die maan en die helder sterre dit moet verkondig.

[27] Sien, ek is `n kragtige, wrede bewoner van hierdie ongasvrye omgewing vol met dooie klippe en stekende, doring struikgewas, en ek moet uit noodsaak en deur my natuur gedwing ook op `n wrede wyse my erbarmlike voedsel soek en dankbaar aanvaar wat God se oordeel my slegs karig toebedeel het en bowendien dikwels daelank rasend honger duld en ly. Daarom sê ek vir julle: As iemand my in my groot nood ook maar één druppel water sou aanreik om my brandende dors te les en hy sou daarmee my droog geworde tong lawe, - soos `n beskuttingsengel sou ek hom dan vol dankbaarheid volg en my laaste hap met hom deel en sterwe uit liefde vir my weldoener!

[28] Maar vir julle mense, is dit nie genoeg om vir julle werkende broeders slegs te slaan, martel en te dood nie; maar julle is ondankbaar teenoor God, vervloek Sy seëninge en verdoem Sy barmhartigheid en verander Sy groot liefde in die giftigste vuil van die slang!

[29] O Lameg, Lameg! Jy wil die woude aan die brand steek om ons te vernietig, omdat ons gehoorsaam was aan die wil van die groot God! Wat moet ons egter met jou doen, jy wat God vergeet het en jou broers vermoor het en ons voor die Regverdige wil beskuldig van die vergieting van bloed?!

[30] Sien, ons soek geen wraak nie, ofskoon sy planne aan ons welbekend is; maar julle ondankbare mense wil julle slegs wreek op die onskuldiges! Leer daarom van my om dankbaar te wees en gehoorsaam aan God; tree dan eers na buite en word dit waartoe God se hoogste liefde julle gemaak en voorbestem het! Amen."

[31] En sien, toe die leeu nou sy rede voltooi het, kom die wolf ook daar aangeloop en begin vir die reeds wakker geworde geselskap `n goeie preek te hou en maan hulle dat dit hulle ernstige plig was om te gehoorsaam en wedersyds God en al Sy skepsele lief te hê; waarby hy sê:

[32] "Sien, hier staan ek voor julle oë en bedeesde harte, `n gevreesde en verskeurende wolf, geroep en gewek deur die groot barmhartige liefde van die Almagtige, heilige God om julle Sy heilige Wil te toon. Hy is `n ewige krag, vol van die hoogste, mees volkome lewe uit en in Hom, onsigbaar vir alle wesens wat hulleself onheilig geplaas het in Sy barmhartigheid, terwyl Hy die Mees heilige is. Hom het julle op `n baie smadelike wyse vergeet deur julle broedermoord, deur julle selfsug, eieliefde, heerssug en die daaruit voortvloeiende veragting van alles wat julle ook maar op enigerlei wyse aan die bestaan van die groot God en Sy onaantasbare gewydheid sou kon herinner het.

[33] Daarom wek die ewige Liefde juis vir ons tot julle groot vernedering en onuitspreeklike beskaming, die mees veragte en gevreesde diere, om aan julle, ten eerste sagaardige en deemoedige gehoorsaamheid te predik en ten tweede, om aan julle blindes, aan julle mense wat onsterflik sou moet wees en sou moet word, deur ons handel en wandel en soos nou ook deur die woord van ons los gemaakte tonge, kragtig en indringend die wil van God te toon.

[34] En hierdie heilige Wil, waarin alle krag en mag, alle wysheid en sterkte, die ewige lewe en die mees salige, mees vreugdevolle vryheid heers en ewig sal heers, lui as volg: Julle is almal volkome gelyk voor God, julle is broeders en susters; daarom sal niemand ooit ook maar van droom om op die een of ander wyse bo die ander uit te wil troon nie. Want nog krag, nog skoonheid, jeug nog ouderdom, deug nog wysheid of watter voortreflike eienskap ookal, mag julle ooit voorregte verleen nie, maar met al hierdie voordele moet julle volgens die goddelike wil slegs in alle liefde en oorgawe mekaar bystaan en die klaarblyklike minder begaafdes ondersteun, sodat julle geleentheid sal hê om die goddelike deug van die ewige, deur die bomatige goeie Skepper in julle ingeplante liefde te beoefen. Want slegs uit die suiwerste en grootste liefde het die Almagtige gewydheid van God homself laat beweeg om julle slegte, ondankbare, eer, liefde en God vergetende mense uit Homself te skep en dan ter wille van julle ook nog `n tallose, oneindige hoeveelheid wesens van allerlei onvoorsienbare soorte, wat julle op alle moontlike wyses moet dien.

[35] Maar julle, drievoudige blindes en stokdowes sien en bemerk niks van dit alles wat vir julle altyd nuttig sou gewees het, maar julle skandelike, wanordelike, geil sinlikheid en vleeslike liefde het julle in alles verduister en julle daardeur in die kloue van die regverdige, verdiende dood gewerp!

[36] Oordink daarom, wat julle sou moet en kan wees en wat julle nou is: Niks anders as jammerlike larwes en slangpoppe van die hel nie!

[37] Verander julle sinne, bring orde in julle begeertes, was julle met die liefde, word aan mekaar gelyk in deemoedigheid, in gehoorsaamheid en in die goed geordende verwekking van julle kinders; sien af van hoerery en verwek julle kinders met God se seën en wees vir hulle ware vaders en moeders in die liefde en die barmhartigheid van God. Leer hulle voor alles om gehoorsaam te wees aan julle wyse liefde om daarin die groot liefde, die heilige Wil en sodoende ook die onskatbare barmhartigheid van God te vind. Eers dan sal julle erken, dat nie ons, bose diere, maar God se liefde sulke heilige woorde vol barmhartigheid deur middel van ons losgemaakte tonge tot julle ore gerig het!

[38] En as julle sal word soos wat die liefde van die ewige heilige Skepper julle nou geleer het, dan sal julle merk dat nie slegs diere, soos julle nou meemaak nie, maar alle skepsele in staat is om met julle te spreek en die dood sal uit julle harte verdwyn en met lewendige oë en wydoop ore sal julle die dieptes van die goddelike wondere baie duidelik verneem. Dink goed aan wat `n wolf julle hier sekerlik, op wonderbaarlike wyse, gepredik het en bedink daardeur in julle gebroke harte, hoe hoogs maklik alle dinge deur die ewige Liefde en God se gewydheid te verwerklik is. En julle sal dan nog baie merkwaardiger dinge in julleself gewaarword deur die barmhartigheid van God! Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205