Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 57

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Adam se vrywillige bekentenis

57 En toe Henog hierdie diep gelowige woorde beëindig het, staan Set nogmaals op en sê: "Ja waarlik, dit is so, soos jy, Henog, nou so besonder heerlik en getrou uit `n verhewe bron tot ons gespreek het!

[2] Want ek merk dit baie goed aan myself, omdat ek in my wysheid steeds sprongsgewys omhoog gaan; en wanneer hierdie ydel krag my op beperkte hoogte aan my eie swakheid oorgelaat het, o, dan val ek altyd soos hierdie druppel in die bek van my aangebore nietigheid terug. Daar word ek dan onmiddellik weer deur die onbeduidendheid en die alledaagsheid verswelg en verootmoedig en ten slotte deur die natuurlike gang van die saak saamgetrek om magteloos eers weer langsamerhand die groot wet te begin besef, wat die Heer so besonder wys en liefdevol in my hele wese gelê het, naamlik dat hulle aan wie die Heer beslis geen vleuels gegee het om te vlieg nie, in weldadige en doelgerigte rus baie deemoedig tuis moet bly en daar rustig en dankbaar moet afwag totdat dit die ewige Erbarming behaag om ook die beskeie druppeltjie, wat ekself altyd sou moet wees, deur die spruitjie te laat opneem en dit te laat stroom in die rigting van die môre, waar die barmhartigheid van die Heer ewig straal en waar die oneindige liefde van die ewige, heilige Vader dan die beskeie druppeltjie sekerlik nie ten gronde sal laat gaan nie.

[3] O Henog, sê my of dit nie so is nie, en of ek jou goed begryp het! Want ek glo dat dit so is en glo ook dat niemand dit anders kon begryp het nie.

[4] Toon ons almal daarom in kort aan of dit so is, al dan nie!"

[5] En sien, Henog raak in vervoering oor Set, gaan na hom toe, omarm hom en sê: "O liewe vader Set, wees tog getroos, want jy het die stem van die ewige Liefde goed begryp, soos Sy Haarself oor my van swak bewende tong soos die strale van `n opgaande son uitgegiet het!

[6] Want wat ek spreek, is nie van my nie, maar is slegs van die ewige Liefde van die allerbeste, heilige Vader, waarvoor my hele wese Hom ook ewig sal loof, prys en dank; en daar sal verder niks aan my, buite my en in my bevind word, wat nie gewy sou wees aan liefde, lof, prysing en dank tot ons so buitengewoon goeie, heilige en liefdevolle Vader nie, deur Wie ons en alle dinge bestaan vanuit Sy groot erbarming.

[7] En daarom is dit ook so, dat die mens uit homself niks kan doen en ook nie sal doen nie, ook al voel hy homself gevlei en bespeur hy in sy kloppende bors `n weldadige aandoenende bewussyn van `n hoër lewe; maar net soos die druppeltjie, moet hy homself heeltemal aan die Heer oorgee en Hy sal hom stellig so opvoed en lei, soos dit met Sy ewige liefde en ordening die beste ooreenkom en vir die mens sekerlik en vir ewig die allerbeste sal wees! Amen."

[8] "Ja, so is dit!", sê Adam en al sy aanwesige kinders van die hoofstam. En Adam spreek verder en sê: "Want alles wat op die aarde groei, gedy baie goed en hulle voeg hulleself almal baie sag en beskeie volgens die ewige ordening van die bo alles magtige God. Ons sien immers daagliks hoe die sonstraal met groot krag die gras uit die donker skoot van die aarde trek en eweneens die plante, struike en alle bome, ons sien hoe die teer straal van die son uit die vogtige dieptes en uit die see baie vriendelik die wolkies met `n gedempte lig vervul, aan die uitspansel tot homself trek en hulle ten slotte verheerlik en met glans omstraal, sodat hulle ooreenkomstig die lig, self deur ons growwe sintuie gladnie meer waargeneem kan word nie, ofskoon hulle vir die oog van die gees vir ewig onverganklik is. En hoewel dit slegs `n ooreenkomstige aardse beeld is, het dit tog die volle gelykenis met die hoë ordening van die mens, aan wie sintuie en `n siel gegee is, sodat die edele vrug volgens die ewige ordening daarin kan gedy tot die ewige lewe in God, soos die verwekking uit die siel deur die mag van die liefde uit God en Sy ordening gedy tot `n nuwe, onsterflike vrug.

[9] O kinders, sien, die Heer het ons `n spreker gegee en het sy oë geopen en deur hom ons gehoor versterk, sodat ons nou reeds baie goed kan begryp wat die heilige Vader se planne met ons is! En aangesien ons hier baie goed en met groot vreugde die wyse sin van my lieflingsplek verneem het, laat ons daarom verder wandel; want die aarde dra nog baie ongesiene skatte in haarself en laat sy daarom vir ons tot `n weiplek van meer geestelike voedsel word! Amen."

[10] En sien, toe dank die geselskap van die eerste mense op aarde My in stilte, staan vervolgens op en wandel in die rigting van die môre na die uitgang. Daar kom die geselskap deur `n klein vernouing in die baie helder daglig, waar hulle hulle `n tydjie ophou en vol verbasing na die loop van die murmelende, heldere spruitjie kyk. En hulle sien verder na benede `n yl newelige slierte uit die spruitjie opwarrel na die vrye ruimtes en van die lig af opstyg en hulle sien ook hoe dit, deur die warmte verheerlik, aan die oog onttrek word. En almal begryp die skouspel van die natuur nou goed en met `n gevoel van welbehae herken hulle hulleself daarin en loof My daarvoor in die diepste van hulle hart en jubel uitbundig, en gaan ten slotte verder oor `n taamlike breë hoogtevlakte, waarop baie families gehuisves was; en toe hulle reeds van ver af die sneeuwit aartsvaders in die oog kry, hardloop hulle in groepies oor die baie gebruikte weg na bo, op hulle af en laat hulleself deur Adam seën en prys toe My Naam, sodat die klank van hulle suiwerste stemme oor die verre berge weerklink, en Adam nooi al die kinders wat daar woon, uit vir die volgende dag van rus, die Sabbat, waarop `n verskuldigde offer weer vir My aangebied sou word!

[11] En sien, so gaan die vaders met jubelende hart nog steeds verder na benede tot waar `n na die hemel reikende, sneeuwit rots opeens hulle weg afsny. Daar gaan hulle weer op die grond sit, omring deur duisende van hulle kinders, wat hulleself almal ywerig besig hou om allerlei verfrissings na hulle hoof-stamvaders te bring, waarby elkeen homself gelukkig prys as sy hartlike aanbieding tog maar seënend aangeraak word.

[12] Sien, op hierdie rusplek kyk Adam omhoog na die hoë en ver top van hierdie ten hemel reikende rots en bly `n lang tyd stom en heeltemal in homself gekeer, en niemand durf hom vra wat hy wel daar sien nie. En weldra verstom die luide gejubel van die kinders vir `n tyd; want almal sien die trane in die oë van die vader.

[13] En daar kom allerlei gedagtes by hulle op, wat daar tog wel aan die gang was en niemand, behalwe Henog, word gewaar van wat daar in die siel van Adam omgaan nie.

[14] Tenslotte laat sy oë die steil flanke van die steenberg los en stil oorsien hy die toegestroomde skare van sy kinders en eindelik sê hy vol ontroering:

[15] "O, dit is alles my eie skuld! O groot, heilige, regverdige God, waarom laat U my skuld tot so `n berg aangroei?! Ek leef nog steeds en die berg reik al byna tot in die hemel; hoe hoog sal hy tot aan die einde van alle tye dan wel word!

[16] Hier is ek nou op die voorsabbat, omring deur duisende kinders, rustend aan die voet van my skuld; en so sal ook eens die laaste mens hier eensaam, beroof van alle lewende skepsele en kinders, boete doen vir my skuld, treurend omhoogkyk na die ewige toppe van die skitterende wêrelde in die oneindigheid van God en sal hy met `n groot verlange daarop wag dat die berg homself op hom stort, sodat dit hom sal verpletter en onder sy puin die laaste druppel van my groot skuld begrawe!

[17] O kinders, sien, daar bo waar dit nog steeds rook en brand, daar het ek ontstaan en het ek gesondig voor die aangesig van God en die aarde!

[18] Daar was ek nog volmaak en meester van alle skepsele wat ek oorsien het vanaf die middelpunt van die aarde tot bo op die hoë, laaste wêreld van die wêrelde, wat geen gees ooit met sy hoogste gedagtes sal bereik nie!

[19] En wat het die skuld van my gemaak?! Wat het ek geword in die nag van my sonde?! Niks anders as `n ellendige wurm in die stof van die aarde, wat nouliks meer in staat is om die bietjie ellendige lewe in hom saam te sleep nie!

[20] O kinders, as van julle van die laaste, verste ster daarbo tot aan die laaste, verste ster in die diepte sou kon val, sien, hy sou nouliks die sprong van `n tjirpende sprinkaan gemaak het in vergelyking met die val vanaf my hoogte tot in hierdie naamlose diepte!

[21] Ek was reeds in die begin van my aardse bestaan daarbo geplaas tot groot deemoedigmakende selfkennis en ek het myself herken en het daarna nog dieper geval, - ja, tot hier moes ek val en my voete het nog dieper geval deur Kain!

[22] O die naamlose val! Ek, wat buiten God nie my gelyke gehad het nie, moet nou aan my kinders om onderrig en brood vra!

[23] Maar dit is nou eenmaal so; dit is so in die Naam van Die Een wie dit behaag het om my te maak, wat ek nou ten aanskoue van elkeen is! Amen."

[24] En toe Adam die droewige alleenspraak beëindig het, sien, toe begin hy huil en sy trietsige toestand maak, op Henog na, almal treurig wat aanwesig was. En Eva ondergaan die las wat Adam bedroef, twee keer so erg; maar sy trag om haar trane te verberg deur nie te huil nie, om nie Adam se hart nog trietsiger te maak nie, - en so duur hierdie mistroostige toestand byna `n uur lank. Maar toe tree Set nader, droog die trane op die gesig van sy vader af en sê:

[25] "O vader, ween nie oor dit wat die Heer met jou doen nie; as jy `n slegte vader sou wees, hoe kon ons jou dan as ons vader liefhê?

[26] Ons het egter nooit iets slegs by jou ontdek nie, maar alles wat ons by jou gevind het en wat ons van jou ontvang het was goed, is goed en sal goed bly; daarom gee ons julle altwee tesame altyd en met die meeste bereidwilligheid ons liefde en hoogagting as `n waaragtige kinderlike dankoffer. Wees daarom, liewe vader, getroos en het geen verdriet oor die alwyse leiding van die almagtige, baie liefdevolle en heilige Vader nie!

[27] Want jy het ons immers self geleer, dat alles wat die Heer doen, welgedaan is; as Hy dit nou egter vir ons gedoen het, hoe wil, sou en kon dit dan anders as welgedaan wees?! En daarom is dit immers onnodig om jou besorg te maak daaroor as die weë van die Heer deur `n lieflike wyse, magtige beskikking anders verloop as wat ons in ons oneindige beperktheid ten opsigte van God wel sou wil hê!

[28] O vader, indien `n volmag ooit aan jou gegee was, waarby selfs son, maan en alle sterre jou gehoorsaam moes wees, dan was dit tog nog steeds net verleen deur die Heer van alle mag en krag en was dus geen volmag uit jouself nie, maar dit was `n volmag uit God.

[29] Maar as dit van die Heer is, kan Hy volgens Sy lieflike wyse ordening dit ook weer terugneem; en so laat die Heer dan, ooreenkomstig Sy Liefde en Wysheid, tog immers dit toe wat die allerbeste en mees doelmatige is vir ons, wat onsself vanweë Sy groot erbarming Sy kinders mag noem.

[30] Maar indien Hy ons aller Vader is, hoe sal Hy dan kragtens Sy oneindige liefde en die daaruit voortkomende onbegrensde erbarming, ooit Sy kinders kan vergeet?!

[31] O vader, verwyder daarom die rimpels van jou voorhoof en laat jou hart vrolik wees en staan Henog toe, sodra die kinders hulleself weer verwyder het, om enige skynsel van sy môrerooi oor al die dinge hier te werp, sodat dit deur sy van lewe tintelende tong verklaar en verlig, en voorts tot weiplek vir ons gees gemaak kan word!

[32] O vader, wees daarom weer welmoedig! Amen."

[33] En sien, toe Set hierdie baie leerryke en troostende woorde beëindig het, kyk Adam hom met `n opgewekte gemoed aan en wink vir Henog, sodat hy aan Set se wens en die van die orige hoofstamkinders sou mag voldoen. Maar eers dan, wanneer die res hulleself sou verwyder het, tot op één na, wat swart hare gehad het en nie tot hulle stam behoort het nie, maar eers vandag uit die diepte omhoog gekom het en homself vervul het met weetgierigheid, en hom by Adam se kinders gevoeg het. Die groot vrees vir Lameg het hom daartoe aangesit om as sterflike na die onsterflikes van die berge te vlug.

[34] En nadat hierdie wenk aan Henog gegee was, staan, soos dit by dergelike geleenthede reeds van oudsher die gebruik was, Enos, Kenan en Mahalaleël dadelik op en gee die kinders te verstane, dat hulle die volgende Sabbat voor sonsopgang op die bekende plek voor Adam se woonplek moes verskyn en hulle gawes moet saambring, maar dat hulle hulleself nou vir `n korte tydjie moes verwyder, want so lui die wens van die vader vanweë `n kort rustydjie vir sy hart; as daar egter `n teken gegee word, dan mag almal hulleself weer om hom versamel en die vader tot by die kinders van die middag begelei, om hulleself dan weer van daar af weer na hulle geboorteplekke te begewe.

[35] En nadat hierdie drie hulle taak goed volbring het en na hulle plek teruggekeer het en volgens Adam se wil die swartharige man saamgeneem het, staan Adam as eerste op en vra aan die vreemdeling:

[36] "Wat het jou hierheen gebring, toe jy jou aan die dood wou onttrek? Antwoord! Of verdwyn uit die oë van die vader van die vaders van die aarde; want in jou are stroom `n dodelike stroom bloed en op jou voorhoof is Kain se merkteken van die moord op Abel nog duidelik te sien. Spreek daarom, as jy in staat is om te spreek of as jou tong een of ander taal magtig is! Amen."

[37] Die vreemdeling werp homself terstond voor Adam op die grond neer en stamel volkome bevreesd enkele gebroke klanke, waaruit niemand iets wys kon word, behalwe Henog nie.

[38] Maar Set sê vir Adam: "O vader, sien, julle regverdige voortvarendheid laat hierdie seun van die aarde sterwe; trek daarom jou geregtigheid barmhartiglik en vol seën terug en sê dat die lewende Henog hom weer tot lewe wek, sodat hy dan in staat kan wees om jou redelike geregtigheid te bevredig! Amen."

[39] En Adam willig dit in wat Set se hart begeer en sê vir Henog: "Sien hier, `n dooie uit die diepte; wek hom weer tot lewe en maak sy tong los, sodat hy dit wat hom op die hart lê alles aan ons kan bekendmaak! Amen."

[40] Dadelik daarna staan Henog op en sy tong vorm die volgende sinne: "O vaders, waarom noem julle hierdie man `n dooie seun van die aarde, hy leef tog net soos ons en is maar `n arm mens uit die diepte! As `n siek dier homself tot voor ons woning sou begewe, dan sou ons hom nie verjaag nie, maar hom goed verpleeg, totdat hy genees sou wees: En noudat `n arm, verlore mens uit die diepte, onder groot probleme, sy toevlug tot ons geneem het, laat ons hom voor ons aangesigte in die stof wentel soos `n wurm!

[41] Ons het almal tog gesien, dat hy lewend na ons toe gekom het en ons weet almal baie goed dat elke lewe, net soos die ontstaan daarvan, nêrens anders sy oorsprong as by God kan ontleen nie.

[42] O liewe vaders, laat hierdie man daarom weer opstaan, sodat hy op hierdie hoogtes die groot God kan leer ken; want die liefde van die groot, ewige, heilige Vader reik sekerlik verder as wat ons grootste gedagte ooit maar in die minste in staat is om te omvat.

[43] Waarom sou hierdie oneindige Liefde dan ook nie die kinders van die diepte beroer nie?! En as Sy een van hulle na ons toe getrek het, dan is dit nie aan ons geleë om sulke armoede af te wys nie, maar om haar aan te neem, asof sy daar bo, waar dit nog rook en brand, gegroei het, - daar waarheen ons nog menigmaal uit dwaasheid ons blik rig en meen dat die rots ons skuld sou wees of ons die van die rots!

[44] O, dit maak oneindig weinig uit, hoe ver en hoe hoog so `n rots geword het, omdat dit tog maar net `n klip is, terwyl ons onsterflike kinders van God sal bly en hy verganklik is, soos ons vir ewig onverganklik is; maar alles lê aan ons liefde, wat geen skepsel en die allerminste `n arme broeder uit die diepte sal uitsluit nie. Want ons is slegs kinders van die Liefde en daarin kinders van God. Laat ons daarom ook daarvolgens handel, ten einde dit waar en waardig te wees, wat ons sou moet wees! Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205