Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 7

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Die oertyd van die aarde en die maan. Die skepping van Adam en Eva

7 Kyk, nou wil Ek aan julle die organiese skepping toon van die eerste tot die laaste en van die kleinste tot die grootste, soos wat Ek dit uit My Liefde en uit My Wysheid geskep het, en uit die ewige ordening uit beide; wat die Woord is van die ewige Mag en Krag in die mees innerlike van God. En kyk, daar is niks in al die ruimtes van die oneindigheid, hetsy groot of klein, wat nie daardeur geskep is nie!

[2] En kyk en luister: Die aarde was daar, en ook die maan, die son en die sterre; maar die aarde was nog kaal en die oppervlakte was nes die oppervlakte van die see. En oor die waters het `n digte wolkedek gelê en het diep tot in die dooie ruimtes van die wêrelde gestrek en die lig van die son kon nie die druppel van Barmhartigheid verlig nie. En die maan was bedek deur die newel van die druppel en eers in hierdie newel was die aarde eers volledig gevorm en was die maan gevoed. En die son het oor beide gelê met die strale van lig, uit die Warmte van die Liefde in God, soos `n hen oor haar kuikens en het die aarde ryp gemaak en het die maan van die bors van haar moeder geskei.

[3] Toe val die groot wolkedek uiteen en het gedaal en op die pole tot rus gekom en die ewenaar van die aarde het vrygeraak en die son het haarself in die waters gesien en die aarde het dankbaar die lig wat ontvang is, in die skoot van die son terug gestraal en het met wye oë die maan gesien wat baai in die uitstromende strale van Barmhartigheid van die ewige Liefde uit die son.

[4] Kyk en luister verder: Dit het goed gegaan met die aarde; want sy was gevul met die Liefde van Barmhartigheid en het haar liefling, die maan, vrolik om haar sien wentel en die Liefde het Haar wye bors gevul met die Asem van Barmhartigheid, asof Sy nog `n keer vir die kind Haar bors vol melk van Barmhartigheid wou gee; maar die melk het dik geword, deur die Warmte en barmhartigheid van die Liefde en het in vaste grond verander en bokant die seë uitgerys. En die seë het teruggesak in die dieptes en was nes die water wat afgeskei word by die dikword van melk tot die versagting van die inwonende Grimmigheid, gesus uit God deur alle Mag en Krag deur die sout van Barmhartigheid en deur die erbarming van die Liefde.

[5] En kyk, toe word dit rustig op aarde en in alle ruimtes van die oneindigheid van God en die ewige Liefde het vir die eerste keer volledig tot op die aarde gedaal en het met haar Almag en Krag oor die vlaktes van die aarde heen geblaas en die asem was `n ontelbare volheid van gedagtes in lewendige vorms, van alle soorte vir die toekomstige verlossing van die verlorenes.

[6] En kyk, uit die vaste aarde het kruie, plante, struike en bome van alle soorte voortgekom, en die mere, seë, strome, riviere, spruite en fonteine het gewemel van allerlei kruipende diere, visse en diere van alle soorte en die lug het lewendig geword met allerlei soorte voëls. En die getal van elke soort, sowel in die waters asook op die vaste land en in die lug, was gelyk aan die getal van die mens, wat uit hierdie getal gemaak is en was gelyk aan die getal van die Barmhartigheid van die Liefde en was gelyk aan die getal van die toekomstige verlossing en die wedergeboorte wat daaruit sou voortspruit en ontstaan.

[7] En kyk nou en begryp wat tot nou toe nog deur niemand gesien en begryp is nie: Die ewige Liefde het die getal uit Haarself geneem en die getal was die ordening en die ewige Wet in Haar, waaruit en waarin, Sy self vir ewig bestaan het, nou bestaan en sal bestaan, in alle Mag en Krag van die gewydheid van God. En Sy het klei geneem, nes die room van geskeide melk, en het met die Hand van Haar Mag en met die Hand van Haar Krag volgens die getal van Haar ordening die eerste mens gevorm, en het vir hom die lewendmakende asem deur die neusgate ingeblaas. En die asem het in hom tot `n lewendige siel geword en die siel het die mens in geheel gevul, wat nou geskep was volgens die getal van die ordening, waaruit die geeste gevorm was en waaruit die wêrelde in die ruimtes gemaak was, sowel as die aarde, die maan, die son en alles wat daarop is.

[8] En kyk nou na hierdie eerste mens op aarde, wat voortgekom het uit die Hande van die Mag en die Krag van die ewige Liefde. Hy is uit die Mond van die barmhartige Barmhartigheid "Adam" of "seun van erbarming en barmhartigheid" genoem.

[9] En let nou baie goed op: Hierdie Adam het eerste die plek ingeneem van die eerste van die gevalle geeste. Dit was hom nie te kenne gegee wie hy was nie, en kyk, toe verveel hy homself, omdat hy homself nie geken het nie, en ook niks kon vind wat aan hom gelyk was nie.

[10] En sien, toe het die ewige Liefde onsigbaar teen die oë van sy siel, wat nog blind was, gewaai en hy het vir die eerste keer in die lieflikheid van die barmhartige Liefde aan die slaap geraak. En die lieflikheid van die barmhartige Liefde het in die hart van Adam, nes in `n soet droom, `n figuur gevorm wat gelyk aan hom was, en sy was van groot lieflikheid en skoonheid.

[11] En die ewige Liefde het gesien hoedat Adam `n groot vreugde in homself gevind het, deur die innerlike aanskouing van sy tweede ek. Toe raak die barmhartige Liefde aan sy sy, daar waar `n hart aan hom gegee was, net soos die Hart van God, vir die opname van die Liefde en die lewe uit die Liefde in God en het hom daardeur ontneem van sy eieliefde, om vir Haarself `n woonplek te berei, deur die toekomstige Wet van die barmhartige Barm­hartigheid en het die eieliefde, waaraan hy `n groot welgevalle in homself gevoel het, buite sy liggaamlike liggaam geplaas en het haar "Caiva" genoem of, soos julle al gewoond is om te sê, Eva, wat beteken die voorbereidende verlossing van die selfsugtigheid en die daaruit voortspruitende wedergeboorte.

[12] En sien, die barmhartige Liefde het hom aangeraak en wakker gemaak, ter aanskouing van sy eieliefde buite homself en het gesien dat hy groot welgevalle by die aanskouing van sy liefde, wat buite homself geplaas was, het en dat hy uitermate vrolik was; en die liefde buite homself, wat nou Eva heet, was vol bewondering vir die mens Adam en het haar tot hom geneig en elkeen van sy bewegings gevolg.

[13] En sien, toe praat die ewige Liefde die eerste keer met Adam: “Adam!” - En hy sê vir die eerste keer: “Hier is ek, Heer van Glansrykheid, van Mag en Krag!”

[14] En die ewige Liefde praat weer: “Kyk, jou hulp!” En Eva het geantwoord: “Kyk, Heer, die maagd lê gehoorsaam aan die voete van U seun en wag op sy bevele!”

[15] Die barmhartige Liefde het groot welgevalle aan die werke van Haar Mag en Krag deur die Barmhartigheid van erbarming gehad en het verder gepraat en het hulle in alles onderrig en hulle geleer om al die dinge te verstaan, te benoem en te gebruik en toe hulle alles verstaan, geken en kon gebruik het, toe sê die barmhartige Liefde weer vir hulle: “Nou kyk, julle het nou alles geleer, julle ken alles en kan nou gebruik maak van alles, op een ding na. Laastens sal Ek julle nou leer en die krag in julle lê, ter voortsetting en voortplanting van julleself volgens julle gelykenis. Maar julle mag eers daarvan gebruik maak, wanneer Ek weer sal terugkom en julle gekleed sal vind, met die kleed van gehoorsaamheid, nederigheid, getrouheid en regverdige onskuld. Maar wee julle wanneer Ek julle naak sal vind. Ek sal julle verstoot en die ewige dood sal die gevolg wees!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205