Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 84

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Adam rig wyse woorde tot Set

84 Toe Set en al die ander nou hierdie woorde van Henog verneem het, staan Set weer op en begin as volg te spreek:

[2] "O dit is waar, ja, maar al te waar, wat die Heer deur jou, liewe Henog, veral aan my laat verkondig het, want `n dergelike vermaning het ek hard nodig gehad!

[3] O vader Adam, o kinders, dank die Heer in my plek; want ek is dit nie werd nie en ek is te sleg, dat ek dit sou durf waag om met my tong, wat nog maar kort gelede die heilige woord van die Heer belaster het, die Heer van alle lewe en alle liefde `n onsuiwere lof op te dra!

[4] Laat Asmahael vir my preek; want ek is dit nie meer werd om Henog se woord te verneem nie!

[5] Ja selfs Asmahael se woord is te gewyd vir `n dooie! Laat die dier tot my preek, sodat ek deur sy huiweringwekkende stem uit die dood tot lewe gewek mag word!

[6] O vader Adam, noem my nooit jou seun nie; want jy is uit God, ek egter uit `n oorvloed van alle weerspannigheid! Sien, ek wil slegs jou kneg wees, ja jou aller kneg wil ek wees, jou dien as `n slaaf uit die diepte en stom wees soos `n klip om daardeur die Heer genoegdoening te gee, omdat ek my in duisternis gedompel het, terwyl die Heer in woord en daad soveel lig oor my uitgestort het!

[7] Julle waardiges, dank God van my, die arme, swak en dooie Set! Amen."

[8] Nou staan Adam op en spreek `n kort, wyse woord tot Set en die woord genees die sieke sodanig dat hy weer vol liefde en vertroue ten opsigte van My word en keer op keer My Naam prys.

[9] Die woorde van Adam lui as volg: "Set, Set, jy neem te veel op jou waartoe die Heer jou nie verplig het nie! Let op, as die Heer jou beproef en jy dan nog swakker word as wat jy nou al is en jy in jou swakheid tot `n val kom, - sê my, wie sal jou dan orent help?

[10] God miskien, wat jy dwaas genoeg genoegdoening wil gee, terwyl Hy tog oneindig en veels te gewyd is en jy slegs `n eindige stoffie van die aarde voor Hom is?!

[11] Wie is in staat om God genoegdoening te gee?! Wie kan rein en volmaak tot Hom bid en sonder sonde Hom dank, Hom loof en prys en tot Hom met `n smetlose siel bid soos `n kind tot sy vader?!

[12] Wat het ons dan, wat ons nie voorheen van Hom gekry het nie?! Wat kan ons Hom gee wat Hy ons vroeër nie gegee het en wat kan ons doen wat Hy in die verlede nie lankal vir ons gedoen het nie?!

[13] Maak daarom vir jouself geen onnodige gebod nie, maar let slegs op die een, dat jy Hom in alle deemoed van jou hart, hoe langer hoe meer lief sal hê en al jou broeders en my tien keer meer as jouself! Laat al die ander maar aan die Heer oor; Hy weet die allerbeste welke las jy in staat is om te dra!

[14] Maar as dit al te swaar vir jou is om die een gebod in die daad om te sit, hoe wil jy dit dan met so baie klaarspeel?!

[15] Weet jy dan nie, dat aan elke wet die vloek, die sonde, die oordeel en die dood kleef nie?!

[16] Soek daarom nie die gebod nie, - indien jy wil lewe! Dit is makliker om wette te gee, as om hulle te gehoorsaam.

[17] Wat is meer: Om vry te wees in die liefde deur die liefde, of onder die harde juk van die gehoorsaamheid te smag na die vryheid van die liefde, wat moeilik te verwerf is en ewig sal wees, terwyl die tevergeefse reikhalsende hart lank sal moet bloei onder die harde slae van die versoeking?

[18] Kyk hoe die kinders van die aand slegs deur `n ligte gebod ten gronde gerig is; hoe swaar sal dit wees om hulle te help, omdat hulle hart miskien deur die langdurende las verhard is!

[19] Ons sal die Heer altyd dank en Sy Naam loof, omdat Hy ons `n vry hart vir `n vrye liefde gegee het en ons sal Hom ook altyd vra om ons teen elke gebod te bewaar, sodat ons slegs soos vry kinders in Sy ewige liefde mag lewe.

[20] O Set, daar sal eens tye kom, dat ons verre nasate onder berge van wette sal lewe en hulle sal soos `n gloeiende klip diep in die aarde tevergeefs na vryheid smag! En hulle broeders sal diegene wat sleg luister in klipholtes stop en hulle van alle vryheid beroof. Dan sal daar soveel sonde wees soos die sand in die see en die gras op aarde!

[21] Sien daarom van jou dwaasheid af en doen wat jy kan en wat die Heer welgevallig is; laat al die ander aan die Heer oor, dan sal jy lewe! Amen.

[22] Ontvang my seën en wandel weer vry en regverdig voor God, voor my en voor al ons kinders! Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205