Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 87

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Eva berispe Set

87 Set merk dat die kinders onder mekaar aan die praat was en dink by homself: "Waarlik, hulle is almal deur twyfel aangegryp en hulle weet met hulleself geen raad en kan hulleself nie help nie! O, hoe graag sou ek julle wil help, as dit my gegee was! Dat Henog tog so lank oor hierdie saak bly swyg!

[2] In stilte ly die arme moeder Eva seker weer geweldig saam en moet miskien heimlik in haar hart wel om ons gesamentlike dwaasheid huil!

[3] Hoe sou dit wees, as ek my baie tersluiks tot haar sou wend om te vra hoe dit met haar gaan?!

[4] Wie weet of sy, wat in stilte ly, nie die een of ander verligtende vonkie in haar hart verberg nie, wat `n beslissende, heerlike diens sou kan verleen, indien dit in ons duisternis lig sou kan gee nie?!

[5] Daarom nie draal nie; want daar kan seker nie meer mislukkings wees as wat nou al die geval is nie, waarby ons, volgens my mening, almal in die duister sit en sweet, en daar ook nie een verkoelende doudruppeltjie nóg uit die aarde nóg uit die gloeiende hemel op ons smagtende siele val nie!"

[6] En sien, Set spreek moeder Eva dus aan en sê: "Geliefde moeder, jy skyn treurig te wees! O sê my, of `n moontlike stille verdriet aan jou hart knaag!

[7] Sien, Asmahael se mond het ons almal met `n drievoudige duisternis geslaan en soos jy sien, kan ons onsself nie help nie! Maar wat die Heer krom maak, dit sal Hy wel weer op `n tyd wat aan Hom welgevallig is, regtrek! Daarom, indien jy onder sorg gebuk gaan, bring dan jou hart tot rus in die liefde van die Heer! Maar het jy enig ligpuntjie betreffende hierdie saak wat ons almal terneerdruk, berg dit dan nie te diep in jou hart nie; want ook die geringste vonkie verkwik die na lig dorstende oog van `n verdwaalde wandelaar in `n swaar bewolkte, pikswarte nag!

[8] O moeder, ek, jou geliefde seun Set is dit wat met jou spreek; open oog en hart en laat hom met enkele woorde jou verdriet verneem en, as dit moontlik sou wees, miskien ook `n verligtende vonkie van bo! Amen."

[9] Dadelik antwoord Eva Set taamlik ernstig: "Liewe seun, deur God aan my gegee in die plek van Abel, sien, aan die stilte van my wese kan jy altyd goed merk dat die in haarself gekeerde moeder van alle lewende mense op aarde nou juis nie baie rede sou hê om haar hart van vreugde te laat opspring nie, veral nie as sy moet merk dat selfs haar liefling haar meer slu, as met `n opregte hart benader nie!

[10] Set, my beminde seun, waarom vra jy my na my gesondheidstoestand, terwyl slegs die vonkie jou tog na aan die hart lê?

[11] Dink jy nou juis dat goed bedoelde sluheid een van die deugde van die wysheid is?

[12] O Set, daarin vergis jy jou tog erg! Sien, regstreekse openheid - is hart op die tong en die tong in die hart, - dit is die grond van alle wysheid! Waar jy van hou, wens dit, wat jou teen­staan, ontvlug dit, sodat jy met `n opregte hart sowel in stilte as ten opsigte van die hele wêreld van God kan hou; dan sal dit nooit aand en middernag in jou hart word nie!

[13] Sien, aan jou is wysheid gegee; waarom bewandel jy steeds nie die regte pad nie?

[14] Kunstige sinswendinge, hoogdrawende woorde is altyd luide verkondigers van eie swakte waarmee mens graag aan die ander wil toon dat mens nog buitengewoon sterk is, terwyl juis die opregte mens al van ver kan sien dat so `n persoon wat homself sterk wil maak, homself in allerlei bogte wring; daarom liewe Set, keer jou af van jou gekronkel en bewandel voor God en voor die kinders die regte pad; dan sal dit jou nie aan lig ontbreek nie!

[15] Bedink, wanneer jy `n sirkel maak, dan is die verste verwyderde punt op die omtrek ook dit, wat die naaste by die uitgangspunt en die begin kom; maar luister, jy moet geen slak neem om jou die sirkel te leer trek nie - anders sal jy nooit aankom op die punt vanwaar jy uitgegaan het nie!

[16] Begryp jou ou moeder goed en wees rustig in jou hart en in God! Amen."

[17] Toe Set dit van Eva gehoor het, word hy angstig en bang omdat hy by homself dink: "Hoe is dit nie vanaand raar hier nie! Elke woord is `n vergissing, alle medelye op die verkeerde oomblik en op die verkeerde plek; elke beter skynende gedagte wat homself in my hart nog duidelik uiter, is niks anders as die onreëlmatige vlug van `n nagvlinder wat solank om die vlam sirkel, tot die helder vlam hom van sy lugtige vleuels beroof het!

[18] My wil is `n dooie wil en lyk volkome soos die in `n droom, waardeur ook juis slegs dit bewerkstellig word wat mens onvoorwaardelik moet wil en wat `n vreemde onnaspeurlike mag jou heimlik dwing om te wil en te doen. My liefde tot God kom vir my voor asof ek die lug en die water bemin. Ek hoor die ruising van die wind, maar daar blaas selfs nog geen luggie saggies deur my hare nie. Ek het honger en dors, maar wil nóg eet nóg drink. Ek is slaperig - en kan nie inslaap nie. Ek is moeg en my ledemate verafsku alle rus. Ek bid tot God, maar my hart lê onbeweeglik soos `n klip op die grond. Ek kyk omhoog na die verligtende hoogtes, - hulle is bedek met die swaarste wolkemassas. Ja, alles in my en buite my kom my so baie vreemd voor! Ek is, al was ek niks; en alles wat ek bekyk, skyn slegs vir die helfte te bestaan, of dit is asof dit nie bestaan nie, of asof dit spoedig sal vergaan.

[19] O Heer en Vader, trek U hande nie van ons af nie en wek ons weer en laat nie toe dat ons op die weg van die lewe sou inslaap tydens die ligte ure van die dag nie! Dryf ons weg, verdryf ons uit hierdie omgewing en hef die dwaasheid deur ons gemaakte onderskeid van die streke op! Dit is waar, dat in die natuurlike aand net so goed as in die môre die beste mense kan en ook sal woon!

[20] Ons het self hierdie omgewing met vuilheid besoedel - en die middernag nog meer. Nou het ons hierdie streek self betree en die vuilheid val nou op ons eie bors en verstik ons byna geheel en al. O God, Heer en Vader, ons is tot niks meer in staat nie, help ons almal uit hierdie groot nood en laat ons vanweë ons groot dwaasheid nie ten gronde gaan nie! Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205