Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 91

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Set herken die vreemdeling Asmahael

91 Nadat Henog uitgepraat was, buig hy voor sy begeleiers en groet nog eenmaal die kinders van die aand; Set, Kenan en Asmahael sê "Amen". En Set spreek nog etlike woorde met die bevryde kinders van die aand, wat so lui:

[2] "Kinders, julle weet dat ek die een was wat julle driehonderd jaar gelede die gebod van Adam oorgebring het! Julle het bedroef geword daaroor en in julle verdriet het julle geen troos gevind nie en het daarom die slaap tot julle vriend gemaak.

[3] Die gebod was neerdrukkend en julle het die druk verdra deur tydens die lang nag van julle hart te slaap. Nou het ek dan weer na julle toe gekom te midde van diegene wat God in die gees gewek het, sodat hulle Sy hoogste barmhartigheid, wat die volslae liefde is, kon ontvang, ten einde Sy heilige en lewende woord vol krag en mag te verkondig. Daarom is dit nie Adam, wat julle vrygemaak het nie, nóg ek, maar suiwer en slegs die heilige woord van die groot God uit die mond van Henog en van Asmahael, wat voor julle oë deur die sterke dier gedra word en hy is, volgens eie getuienis, deur God op `n wonderbaarlike wyse vanuit die diepte, waaroor julle dit gehoor het dat dit vol verwerplike boosheid is, na ons toe gestuur. Ek is egter van mening dat hy uit die hoogte kom; want die woorde wat hy spreek kan niemand bedink wat werklik uit die diepte afkomstig is nie.

[4] Wysheid is nie tuis in die diepte waar mense steeds swyg en liefde nog baie minder is.

[5] Maar hy het ons die wet uitgelê en het ons gewys op ons groot dwaasheid teenoor God, asof hy `n meester van die wet was. Hy het gekom om ons die wysheid te leer en het ons reeds in een uur almal so beskaamd gemaak, dat selfs Henog geweldig onthuts was daardeur!

[6] Het julle nie netnou sy woord gehoor of tenminste sy baie luide stem nie?! Sê my, kan iemand uit die diepte op hierdie manier spreek, of het, solank as wat die aarde `n mensegeslag gedra het, ooit uit die mond van welke mens dan ook, sulke woorde verneem?!

[7] Luister, ek praat nie om ook maar iets te sê of die tyd met praat te verkort nie, maar om julle julle vryheid in God se liefde in alle volheid te toon, dwing `n magtige gevoel my om my tong hieroor te roer! Die skynbare vreemdeling, so beskeie in sy manier van doen en so oorduidelik in sy woord, sal homself op `n ander keer deur `n ander dier laat dra en `n volk op aarde sal Hom wat op die dier sit uit alle boetvaardigheid van die hart toeroep: "Hosanna God in die hoë; geloofd julle Hom, wat kom in die Naam van die Heer, sittend op die rug van `n pakeselin!"

[8] Kinders en ook jy, beste Henog en jy Kenan, as julle my kan teenspreek, doen dit dan; maar wees julle besield deur dieselfde gevoel, dan sal dit die moeite loon om aan die welsprekende vreemdeling die allergrootste aandag te bestee en hom `n hoogs deemoedige hart toe te keer! Want hy wat so verbasingwekkend oor God spreek, moet óf uit die hoogste hoogte van God afstam, of hy is ------

[9] Kortom, ek wil, kan en mag my nie verder uitspreek nie!

[10] Ja, ja, waarlik, waarlik, die heil het in die volheid van alle lewe nader aan ons gekom as wat ons in staat was om te vermoed!

[11] Indien iemand wil en glo, laat hy homself dan tot Asmahael wend! My gevoel sê dit my: Wie nie deur Hom vry word nie, soos ons almal vry geword het deur Sy magtige woord, na `n kort stryd met die duisternis wat in ons woon, die sal ewiglik nie vry word nie!

[12] O Asmahael, U dierbare, verhewe vreemdeling, wat so moedig op die dier sit en ons, wurms in die stof, in alle sagmoedigheid en deemoed aanhoor asof U van ons leer, terwyl elke goeie woord uit ons mond reeds lank vooraf in U in die hoogste reinheid gegroei het, voordat dit deur ons tonge verontreinig word, maak ons vry en ewig lewend in U!

[13] O verlaat ons nie en wees vir ewig ons leidsman en die ware bevryder van ons harte Amen. Amen. Amen."

[14] Nadat Set sy woorde uitgespreek het, begewe Asmahael homself na vore en staan te midde van die drietal en sê vir hulle:

[15] "Luister, Set, en jy, Kenan, en ook jy, my lieflike, waardevolle Henog! Dit wat jy, o Set ondervind het en waaroor jy jou hart uitgestort het voor Kenan en Henog en al die kinders van die aand, wat dit nog nie begryp het nie, moet julle nog voor Adam en al die res van die vaders verswyg; hulle mag nie weet, nóg vermoed wie onder die dekmantel van Asmahael skuil nie!

[16] Daarom moet julle swyg as julle wens om My nog langer as begeleier te wil hê; ook moet julle My na buite toe nie anders ken nie en noem as slegs die vreemdeling wat uit die diepte gekom het, wat Adam “Asmahael” genoem het, niksvermoedend dat dit JaHWeH Self is, wat op die plek wat julle "môre" noem, onherkenbaar na julle toe gekom het om julle Self mettertyd op die weg, wat slegs aan My bekend is, na die liefde en die ewige lewe te lei!

[17] Indien Ek dit gewil het, dan sou Henog My lankal herken het en was Set hom nooit voor gewees nie; maar wie, soos Set, `n swaar beproewing moes ondergaan, en in sy besorgdheid en liefde gedink het dat Ek heeltemal vreemd vir hom is en nog veraf verwyderd - voorwaar, hom is ek die heel naaste en ook hulle wat My soos Henog liefhet!

[18] Ek Is - dit wat Set aankondig het; maar nou moet julle oor My swyg! Maar julle kan in stilte na My toe kom en die hoogste seën van My ontvang! Daarom, as julle julle tonge kan bedwing, wil Ek nog lank as `n sigbare leidsman onder julle vertoef; maar as julle my deur een enkele woordjie verraai, ja, dan word Ek gedwing om julle dadelik te verlaat! Luister! Amen. Luister! Amen. Luister! Amen. Dit sê Asmahael: Amen. Luister! Amen. Luister! Amen!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205