Die Huishouding van God - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 187

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277, 278, 279, 280, 281.

Die goeie boodskap van Lameg aan sy volk. Die ongehoorsame knegte van Lameg. Die knegte kry `n wonderbaarlike versterkende maal

187 Toe Lameg die voorstel van Kisehel verneem het, was hy baie bly daaroor en loof en prys My Naam en dank My vir die groot barmhartigheid, waardeur hy sien dat hy waardig bevind was om so `n huis ter ere van My Naam te bou.

2. Nadat hy My hierdie eerbied betoon het vanuit sy berou- en liefdevolle hart, wend hy hom tot die knegte en dienare van sy hof en sê aan hulle:

3. “Julle het hier almal soos ek die groot wonder gesien en met betrekking tot die bou van die heilige huis die woorde gehoor uit die mond van die groot bodes van die almagtige God oor wat daar moet gebeur.

4. Gaan daarom in die naam van die groot bodes en in die Naam van die allerhoogste God in alle rigtings, en nooi voor die dag van môre al diegene uit wat, uit liefde tot God, vrywillig aan dié verhewe werk wil begin!

5. Maar sê ook aan almal wat daar met Lameg gebeur het, sodat niemand hom meer sal vrees en elkeen se tong weer losgemaak sal word, sodat hy sy gedagtes kan uitspreek en ook sy wil kenbaar kan maak!

6. Sê bowendien ook aan almal dat uit Lameg die gruwelike, uit die hiëna in menslike gedaante, `n lam tevoorskyn gekom het, wat elke druppel bloed ten diepste berou, asook elke traan wat hy ooit by sy onderdane deur watter verdrukking dan ook teweeg gebring het!

7. En verkondig luid aan almal dat die allerbarmhartigste groot God, Wie nog deur vader Farak verkondig was, Lameg se groot skuld kwytgeskeld het. Daarom sal Lameg hom sy hele lewe lank, so goed soos hy kan, besighou met sy vernaamste sorg, naamlik om elke onreg wat deur hom begaan was, vir sover moontlik weer goed te maak en hulle almal vir die hele verdere toekoms soos sy broers en susters te beskou!

8. Daarom hoef niemand Lameg meer te vrees nie! Noudat julle alles weet, kan julle gaan en verkondig nie my wil nie, maar die wil van die almagtige, groot God! Laat dit geskied!”

9. Maar die knegte talm en lyk asof dit nie vir hulle geleë was om dadelik te doen wat Lameg hulle opgedra en aangeraai het nie.

10. Maar toe Lameg dit sien, word hy bedroef en sy treurigheid gaan weldra oor in groot ywer; in hierdie ywer sê hy toe aan sy talmende knegte:

11. “Luister, trae knegte en dienare van my hof. So lank Lameg julle met ysterroedes bedwing het, het julle wel aan sy minste wenk gehoorsaam;

12. Nou egter, noudat hy soos `n broer `n versoek tot julle rig, gee julle geen gehoor meer aan sy stem nie!

13. Maar julle is nie ongehoorsaam aan my nie, maar aan God, die Almagtige; daarom mag julle ook toesien hoe Hy julle sal aansien vir julle ongehoorsaamheid!

14. Ek het julle nie beveel nie, maar ek het slegs God se wil aan julle meegedeel; doen daarom wat julle wil, - maar sien toe dat die oordeel julle nie agterhaal nie!”

15. Hierop wend Lameg hom tot Kisehel en sê: “Beste afgesant van die Heer, sê my, julle mees armsalige kneg, het ek dan `n onreg begaan deur jou wil vanuit God aan hierdie broers mee te deel, sodat hulle dit sou voltrek?”

16. En Kisehel antwoord Lameg daarop: “O broer Lameg, elke woord was reg en in orde; maar die knegte en die dienare is swak en het  honger liggame! Laat ons daarom eers vir `n maaltyd sorg, dan sal hulle wel doen wat reg is!” En Lameg buig voor Kisehel en vra hom wederom:

17. “O groot vriend, sê my wat ek moet doen; want hier is immers niks waarmee hierdie hongeriges versadig kan word nie!

18. Sal ek hulle na die hof stuur, sodat hulle hulle daar in my voorraadkamers aan die beste vrugte kan versadig, of moet ek dat die meisies die spys en drank hierheen bring?

19. O vriend, jy hoef dit maar te sê en ek sal alles doen wat jou welgevallig is!”

20. Daarop sê Kisehel aan Lameg: “Luister, broer, die een nóg die ander is hier nodig! Want sien, die meisies en die vrouens het immers nog soveel oor in hulle mandjies; laat ons dit seën en wees daarvan verseker dat dit vir almal voldoende sal wees!” En Lameg val voor Kisehel neer en vra hom om sy seën.

21. En Kisehel sê nou aan die vrouens en die meisies: “Sit die reste in julle mandjies hier neer!” En nadat die vrouens en die meisies dit gedoen het, kyk Kisehel saam met sy broers omhoog na die hemel en seën die reste in die mandjies.

22. Toe dit skielik vol word, roep Kisehel die knegte en sê aan hulle: “Wel nou, trae en lui knegte, kom hier en versadig julle, sodat julle dan kan doen wat Lameg julle beveel het! Amen.”

23. En die knegte gryp dadelik na die mandjies en die inhoud daarvan; en nadat hulle versadig was, begin hulle My eers beter te herken en daarom ook te loof en te prys.

24. Na hulle loof en prysinge staan hulle vinnig op en voltrek die wil van Lameg en neem `n groot aantal arbeiders in diens vir die komende dag.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205