Die Huishouding van God - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277, 278, 279, 280, 281.

Die dank wat die Heer die meeste behaag: Die liefde sonder woorde in die diepste deemoed van die hart. Lameg en Ghemela, die suiwerste egpaar uit die oertyd

4 Jy (d.w.s. Jakob Lorber) wil graag hoor wat Lameg vir Ghemela gesê het; daarom volg sy woorde hier.

2. Lameg se vraag om vergewing en die versekering van sy liefde vir Ghemela, nadat hy My nog vroeër uit die diepste van sy hart vir die vermaning bedank het, lui as volg: 

3. "O Abba Abedam; U sien en het reeds van ewigheid af hier in my hart gesien dat sy reeds van kindsbeen af haarself met niks anders, as net met U dinge wou besighou nie en dat sy graag onvermoeid oor niks anders as slegs oor U en U eindelose wondere wil praat; dikwels tot vervelens toe vir die vadere. Ja, in my besondere groot vreugde sing en spring ek selfs dikwels vanuit alle krag van my stem en liggaam, as ek die Naam JaHWeH maar genoem hoor. 

4. Dit het U, o Abba Abedam, altyd van my gesien en alle vadere was dikwels ooggetuie van my luide blydskap oor U Naam.

5. Sien, omdat ek nooit iets anders as U in my hart met liefde kon omvat nie, kom dit my nou ook as iets verskriklik voor, om my liefde vir U te moet deel; want ek weet nie hoe innig die liefde van Ghemela met U hart verbind is nie. Slegs vir U, o Abba, alle liefde, alle roem, alle lof, alle dank, omdat U my hart nou verlig het, sodat ek nou insien dat, deur die besit van Ghemela, my liefde tot U nie alleen net verdeel nie, maar met haar liefde nog baie kere versterk en vermeerder sal word!

6. U het haar `n ewige getuienis gegee, hoe rein sy is en hoe sy U liefde ten volle werd is.

7. Ja, ek besef nou hoe sy U uitverkies het as die enigste voorwerp van haar suiwer en gloeiende liefde; so het U haar ook bo alles uitverkies vir U heilige Vaderhart, wat vol is van die mees oneindige hoogste liefde!

8. Ja, ek besef nou ook dat U my barmhartiglik uitverkies het, deur aan my hierdie heerlike kleinood van U liefde toe te vertrou, sodat ek met U liefde en barmhartigheid in my, haar getrou sal beskerm en haar so rein as wat sy nou is, voortdurend sal bewaar, as dit U welgevallig sal wees.

9. Sien, o Abba Abedam, dit besef ek nou deur U heilige vaderlike mildheid en deur U barmhartigheid; alles is heerlik en reg! Maar nou kom daar `n ander vraag, wat vir my `n vraag van die hoogste belang is, en hierdie vraag lui:

10. O, allerliefdevolste, heilige, goeie Vader! Hoe kan ek U dank vir so `n barmhartigheid, liefde en erbarming, dat U my, `n onwaardige teenoor U , waardig bevind het vir so `n heilige amp? Dat ek diegene mag beskerm en behoed wat U op U heilige hande gedra en vir wie U geseën en wie se hart U met U liefde gevul het?

11. O Abba, wees barmhartig en sê my tog wat ek nou sal doen om U vir hierdie, so eindelose barmhartigheid, tog enigermate passend te kan bedank!"

12. En Abedam antwoord hom: "Luister, My geliefde Lameg, dit is vir My mees welgevallig, indien iemand die grootte van My erbarming en barmhartigheid werklik in en aan homself gewaarword, sodat sy hart vir altyd vir My ontbrand; so hewig selfs, dat hy hom nie in staat voel om My vir die grootte van die weldaad, wat Ek aan hom bewys het, te dank en om sy dank uit te druk vir die hoogste en suiwerste liefdesvlamme wat hy in sy hart vir My voel en dit hom geheel vervul, sien, dit is die dank wat vir My die welgevalligste is!

13. Want wie My nog met woorde dank, loof en prys; die het die grootte van die weldaad wat Ek in hom laat groei het, nog nie in haar eindelose grootheid opgemerk nie en het My, die groot, heilige Gewer, ook nog nie herken nie. Daarom het hy ook nog nie werklik tot die uiterste diepte van die ware deemoed in homself gekom nie, sodat hy sy tong nog op wêreldse wyse kan roer!

14. Sien, in dergelike tonge-dank skep Ek geen welbehae nie, selfs nie as die woorde van die allerhoogste engele sou wees!

15. En soos dit met die dank in woorde is, is dit ook die geval met die dank in dade. Wie sou dink dat hy My dankbaarheid kan betoon deur sy handelinge, al sou dit volkome ooreenstem met My wil, sien, ook hulle vergis hulle erg; want wat se diens kan iemand dan doen wat Ek nodig sou hê, asof Ek dit nie sonder hom sou kon teweegbring nie?!

16. As iemand My wil ten uitvoer kan bring, deur wie is hy dan in staat daartoe?

17. Is dit nie My krag in hom, wat hom so iets laat volbring nie, waarvoor hy My dan tog weer alleen maar die hoogste dank verskuldig is?!

18. Hoe kan iemand My daarmee bedank, waarvoor hy My maar net die allergrootste dank verskuldig is?!

19. Wie My dus slegs werklik en welgevallig wil dank, die moet My, deur sy liefde sonder woorde, in die diepste deemoed van sy hart dank en Ek sal sy dank aansien en dit sodanig aanvaar, asof dit iets vir My beteken!

20. En sien, My geliefde Lameg, so is ook jou dank `n korrekte dank, omdat jy nie weet waar jy moet begin en waar jy sal eindig nie, omdat die besef van die grootte van My Liefde en erbarming vir jou, jou verward gemaak het en jy voorts niks anders meer kan doen as om My bo alles lief te hê nie!

21. En sodat jy volkome verseker is van My welgevalle, moet jy jou nou tot Ghemela rig en haar die gevraagde antwoord gee. Amen."

22. En Lameg gaan dadelik na Ghemela en sê vir haar: "Ghemela, jou reinste geliefde van JaHWeH, jy moet my tog in jou rein, van heilige liefde vervulde hart goed vergewe, omdat ek my juis om die rede teenoor jou verkeerd gedra het. Want, omdat ek voorheen nooit `n wese soos jy aangekyk het nie en my sintuie slegs op jou en my JaHWeH gerig was, was dit tog ook wel begryplik dat ek jou `n paar oomblikke nie wou aankyk nie, omdat ek gevrees het om my liefde tussen jou en JaHWeH te moet deel, tot welke onverstandige gedagte ek eintlik deur jou eie vraag verlei was. Soos wat jy dit self seker duidelik genoeg sal begryp, het my, jou en ons almal, se enig geliefde Abba Abedam EmmanuEl allerbarmhartig my oë hier geopen en Sy heilige voorneme getoon. Dit het vir my nou volledig duidelik geword dat ek my liefde vir Hom nie net hoef te deel tussen Hom en jou nie, maar dat my liefde tot Hom, maar net groter kan word daardeur, steeds meer en meer, en dat ek nog jou reinheid daarenteen volledig kan leer ken. Daarom glo ek ook vas dat jy om dieselfde heilige rede my onhebbelikheid, wat die oorsaak was dat ek enigermate teenoor jou gesondig het, deur die vingers sal sien!"

23. En Ghemela vee haar weelderige goue hare ietwat uit haar gesig en kyk Lameg die allervriendelikste aan.

24. Toe Lameg nou haar hemelse skone gesig sien, stik hy byna in sy asem en hy wend hom dadelik weer tot Abedam en sê, terwyl sy hart ten diepste geroer was:

25. "Nee, nee, Heilige Vader, so `n meer as hemelse loon is ek volstrek nie werd nie! Waarlik, waarlik, ten opsigte van hierdie boaardse engel is ek tog slegs `n duister, sondige wurm in die stof van die aarde!

26. Nee, nee, Heilige Vader, nou eers besef ek my onwaardigheid ten volle! Hoe geheel onwaardig moet my liefde tot U vir U voorkom, vergeleke met die liefde van hierdie suiwer engel!

27. Waarlik, dit sou makliker vir my wees om met geopende oë reëlreg in die middagson te kyk, as om slegs drie oomblikke die gesig van hierdie meer as hemelse rein en onuitspreeklike mooi engel van U liefde te aanskou, o Heilige Vader!

28. As Zuriël haar vader is, as dit eintlik wel moontlik is dat `n mens ooit vader van so `n engel is of kan word, gee dan, o Heilige Vader, haar weer aan hom terug, sodat hy haar verder, soos tot nou toe, sal beskerm en getrou bewaar! Maar U Heilige Wil geskied!"

29. Zuriël begin egter te huil, kom na Lameg toe en sê vir hom: "O Lameg, waarom slaan jy die hand van my dogter af, terwyl sy tog deur JaHWeH self aan jou gegee is? Wees nie so hard nie, kyk net hoe sy huil!"

30. Maar Abedam sê vir Zuriël: "Zuriël, wees rustig en maak jou nie besorg oor die trane van Ghemela nie en dink daaraan: Wat Ek saamgevoeg het, sal geen wêreldse mag meer skei nie!

31. Sien, Lameg is nie hard nie, maar hy is net te sag, - daarom maak Ek hom nou sterker, sodat hy die man sal word van jou, en My dogter!

32. En jy, Lameg, buig jou oor na Ghemela, reik haar jou regterhand en verhef haar tot jou vrou en plaas haar voor My aan die sykant van julle liefde, sodat Ek julle vir alle tye van die tye kan seën! Amen."

33. En nou laat Lameg hom vir hierdie opdrag nie tweemaal maan nie, maar gehoorsaam rein van gees, buig vooroor na Ghemela en spreek die volgende woorde tot haar:

34. "O Ghemela, jy aan my sorg toevertroude liefde van Abba EmmanuEl, laat jou deur my verhef, hoewel ek jou volslae onwaardig is, maar tog het die Heilige Vader my vir jou waardig bevind, ja, laat jou verhef tot my rein in JaHWeH mees beminde vrou! Amen."

35. En Ghemela staan vinnig op en gaan saam met hom voor JaHWeH staan; en Hy seën hulle en beveel hulle veral om steeds die suiwerheid van hulle hart te bewaar en hulle kuisheid lewenslank te behou. En sy beloof dit en hulle word die suiwerste egpaar uit die oertyd.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205