Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 15

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 15

  1. Ek sê: “Julle het volgens julle manier en insig wel goed gepraat, aangesien julle gedagtes en begrippe nie verder strek as die reuk van julle asem nie. Maar sou julle in staat gewees het om verder en hoër te dink, sou julle ook met heel ander oë na My kyk en ook heel anders oor My oordeel. Maar as julle dan aanstoot neem van dit wat Ek oor My innerlike Gees gesê het, verduidelik dan vir My wie was die gees waaruit die profete gepraat het!”
  2. Joram sê: “Dit was die Gees van God en juis dieselfde Gees deur wie alle dinge gemaak is!”
  3. “Goed”, sê Ek, “indien daardie Gees, waaruit die profete gepraat het, die Gees van God was, hoekom kan My innerlike Gees dan nie God se Gees wees nie, aangesien Ek daarmee in staat is om baie groter dinge te bewerkstellig as wat al die profete van Henog af ooit gedoen het?! Want hulle was beperk om net in `n beperkte sfeer te werk, maar Ek is onbeperk en Ek doen wat Ek wil en dit wat Ek wil moet gebeur! Maar indien dit so is, hoe is dit dan dat My innerlike Gees iemand anders is as die waaruit die profete gespreek het?!
  4. Joram sê: “Ja wel, nou ja goed, dit kon dalk so wees, was Jy net nie `n Galileër nie! Maar dit staan nou eenmaal in die Boek geskryf dat daar vanuit Galilea geen profeet sal kom nie - en dan moet Jy maar aanvaar dat ons Jou innerlike gees nie aan dié van die profete mag gelykstel nie!”
  5. Ek sê: “Is Ek dan ook in Galilea gebore?! Is Bethlehem, die ou stad van Dawid, nie My geboortedorp nie?! Slaan dit in julle registers na of dit dan nie so is nie! Of was Jesaja ook nie `n ware profeet omdat hy ook na Galilea gekom het en daar in die nabyheid van die ou stad Caesarea Philippi profeties opgetree het nie?! - Sien tog hoe blind en hoe ongegrond julle oordeel is!
  6. Dit word wel in die Skrif genoem dat niemand wat in Galilea gebore is as `n profeet opgewek sal word nie. Aangesien nié My pleegpa Josef nóg My liggaamlike moeder Maria en net so min ook Ek volgens geboorte van Galilea afkomstig is nie, maar slegs as vreemdelinge nou eers nege jaar in Násaret woon, hoekom kan Ek dan ook nie die ware Gees van God, soos al die ander profete, in My dra nie?!”
  7. Die Owerpriester sê: “Staan dit nie ook geskrewe nie: 'Sien, Ek stuur My boodskapper voor jou uit, sodat hy die weë van JaHWeH kan berei en sy voetspore kan gelykmaak!' en voor dit sal EliJaH eers kom en die mens goed voorberei op die groot aankoms van die Gesalfde?! Is dit nou by Jou die geval? Waar is die boodskapper van JaHWeH en waar is EliJaH?”
  8. Ek sê: “Vir mense van julle soort, wat die woud vanweë al die bome nie kan raaksien nie, was nóg die boodskapper van JaHWeH nóg sy profeet EliJaH daar gewees; maar vir dié wat sien, het dit alles al twaalf jaar gelede gebeur! Julle het nóg die boodskapper wat met Sagaria gepraat het, nóg sy wonderbaarlik verwekte seun gesien en herken, want wat nie by julle met vuur, weerlig en donderslag gebeur nie, merk julle nie op nie!
  9. Toe EliJaH die opdrag in sy grot ontvang het om daarop ag te slaan hoe JaHWeH voor sy grot sal verbytrek, trek daar toe eers `n vuur by sy oop grot verby, maar daarin was JaHWeH nie. Daarna het `n magtige storm verbygetrek, maar JaHWeH was ook nie daarin nie. Ten einde het `n skaars merkbare gesuis voor die grot verbygetrek - en sien, JaHWeH was daarin! 
  10. En sien, juis daarmee het die groot profeet die huidige aankoms van die Gesalfde voorspel!”
  11. Julle verwag vuur en storm, wat al dikwels voor julle verby getrek het, maar daarin was JaHWeH nie. Nou trek die sagte gesuis voor julle verby, waarin JaHWeH daadwerklik is, maar dit merk julle dowe ore en blinde oë nie op nie en sal dit ook nie opmerk nie - behalwe op die randjie van julle lewens, wanneer julle bewuswording nie meer van veel nut sal wees nie!
  12. Gee vir My `n antwoord daarop volgens julle tempelwysheid!”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205