Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 24

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 24

  1. Hierdie skerp bewoorde antwoord van die Regter het ons tempelamp­tenare heel deurmekaar gemaak en baie groot laat skrik, so groot dat hulle net kon hakkel in stede daarvan om samehangend te praat. Die een wat kop gehou het, was Joram, wat van sy stoel af opgestaan het, laag voor die Regter gebuig en gesê het:
  2. (Joram:) “Hoë, streng en regverdige Hoof en Regter oor die hele Jerusalem en nog ver buite die grense daarvan! By ons is die ware begrip van die wese van God `n moeilike saak, omdat daar uitdruklik deur Moshé verbied is om enige tasbare begrip of enige beelderige idee van Hom te vorm! Daarom sal jy in ons Tempel geen afbeelding kry waardeur die menslike sintuie `n aanskoulike begrip van God kan vorm nie!
  3. Maar ten spyte daarvan het die voorvaders soos Abraham, Isak en Jakob tog dikwels visioene gehad waarin hulle vir God as `n volmaakte mensgestalte gesien het en met Hom gepraat het, alhoewel dit lateraan in Moshé gesê word dat niemand God kan sien en tegelykertyd lewe nie; want God is `n verterende vuur en woon in die ontoeganklike Lig!”
  4. Maar Moshé het nog steeds eenmaal gevra om God te sien, al sou dit vir hom die onmiddellike dood beteken. Toe sê God vir Moshé op Sinai: “Verberg jou in hierdie grot, en Ek sal daarlangs verbytrek! Wanneer Ek jou sal roep, kom dan uit die grot en jy sal My rug sien!”
  5. Ja, wanneer dit gaan oor die vorm van God en dan weer streng volgens wet dat die vorm verbied word en dat dit selfs met straf verbied word, is die vorming van `n idee en begrip van God werklik baie moeilik of mettertyd glad nie meer moontlik nie, ofskoon die menslike gemoed steeds na `n formele God hunker en `n mens dus streng gesproke die heidene nie kan verkwalik as hulle vir hul Zeus as `n volmaakte mens beelderig wil voorstel nie! Ons het net die woord ‘JaHWeH’, meer as dit is daar nie!
  6. Wat my, bloot as mens betref, net soos vir jou, is hierdie Seun geheel en al voldoende as `n God. Maar dink nou aan die volk wat aan die leerstellings van Moshé en die profete hang! Die Tempel is die ou middelpunt van hulle saligheid, daarheen bring hulle hul wense, hul hoop en glo hulle dat hulle in die Tempel naby aan God is, waar Hy luister deur middel van die oor van die Owerpriester en gehoor word deur die gebede van hom en sy helpers! Ontneem dit nou die volk op een slag en plaas hierdie Seun van God nou in die plek van die Verbondsark en Jy sal kort voor lank `n revolusie oor die hele land hê!
  7. Ons is dwase, omdat ons genoodsaak word om so te wees. As dit nie die geval was nie en as ons lewens en die volk se welvaart en rus nie daarvan afgehang het nie, dan sou ons lankal nie meer dwase gewees het nie! Of dink jy dat dit so maklik sal wees om vir die volk iets voor te stel wat nie bestaan nie en waarvan `n mens met die beste bedoelinge geen begrip sou hê nie?!
  8. Ek hou net so baie van die Seun as wat jy van Hom hou. Maar voor die volk moet ek desnieteenstaande met die ou dwaasheid voortgaan en geen enkele woord laat deurskemer dat ek innerlik `n heel ander geloof het as dié een wat ek uiterlik wys nie!
  9. As dit mettertyd moontlik was om met die mag van die Seun die volk, soos nou vir ons, se aandag op Hom te vestig, sodat hulle Hom kan herken en aanneem vir dit wat Hy is, dan sal Hy vinnig met die hele Tempel klaarspeel. Maar `n ou saak, waarby so baie belange betrokke is, kan nie so maklik opsygeskuif word soos `n ou kas wat maklik sonder moeite weggegooi en vernietig kan word en `n nuwe een in sy plek opgerig word nie.
  10. Dit is my mening, wat die hele Tempel sekerlik met my sal deel en ek glo nie dat iemand vir my hierop `n teenargument kan gee nie!”
  11. Die Regter sê: “Ja, teen hierdie argument kan voorlopig weinig of niks gesê word nie. Maar een ding kan immers hierby opgemerk word en dit is dat julle, indien julle glo aan die boodskap van hierdie Seun, tog nog steeds die volk se aandag op `n gepaste wyse op die Seun wat nou in die wêreld gekom het, kon vestig?!”
  12. Joram sê: “Hierdie vereiste hoort klaarblyklik in die kategorie wat `n mens as billik kan beskou en dalk kan daar ook iets daaraan gedoen word! Maar dit sal nog steeds `n baie gewaagde onderneming afgee, wat vir ons en die Seun baie verleenthede mag berei!
  13. Want eerstens bly die Seun sekerlik nie in die Tempel nie, aangesien Hy vandag of môre beslis weer deur sy ouers na Násaret geneem sal word, wat van hier af `n bietjie te ver is om almal wat na Hom vra, te stuur.
  14. Tweedens sou honderde duisende mense ernstig `n rede soek en begin vrae vra waarom Hy, as die Een wat deur die profete verkondig is, nie woon in `n huis wat vir Hom waardig is soos die Tempel nie!
  15. En watter rede sou ons vir die volk kon gee dat Hy voorkeur gee aan Galilea en Násaret in stede van die stad van God? Binnekort sou die volk sê: “Die stad en die Tempel moes `n groot sonde begaan het; die saak moet ondersoek en vergeld word!”
  16. Kortom, ons kan doen net wat ons wil en ons sal altyd `n groot opgewondenheid by die volk wek, wat ons baie probleme sou gee. Daarom dink ek dat dit hier beter sal wees om voorlopig geen melding daarvan by die volk te maak nie, maar die saak geheel en al aan die Seun en aan tyd oor te laat!
  17. Wat ook al sal gebeur, ons sal as gevolg van hierdie drie dae lange sessie daarop voorbereid wees en ons sal onsself nog beter en dieper daarop voorberei! - Trouens, sal die Seun tog nou self praat en sê wat Hy wil hê, want dit is moeilik om Sy wil teen te gaan!”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205