Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 25

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 25

  1. Ek sê: “Ek is nou hier om vir julle `n boodskap te bring dat Ek hier is om die werke te volbring van Hom wat My gestuur het, Hom wie julle volgens julle eie bekentenis nie ken nie, maar wie Ek wel ken, aangesien Hy in Sy volheid in My woon!
  2. Moshé het gevra om Hom te sien en hy het net Sy rug te sien gekry - maar was tot drie dae lank verblind en sy gesig was so verhelder daardeur dat hy dit moes bedek toe hy na die volk gegaan het; want hulle oë sou die glans van die Lig nie kon verdra nie.
  3. Maar julle kan nou wel na My aangesig kyk en daar is geen ondraaglike glans van Lig wat julle oë verblind nie! Waarom nie? Omdat hierdie vlees Hom wat in My woon, verberg! Maar desnieteenstaande is hier nou meer as wat destyds daar was! Maar julle kom dit nie agter nie, omdat die doek van Moshé drievoudig voor julle oë hang en nog lank sal hang sodat julle Hom wat uit die Hoogste hemele na julle toe gekom het, beslis nie sal herken nie.
  4. Met die Regter kan julle natuurlik goed argumenteer, aangesien hy slegs sy oor vir julle goed geplaaste woorde kan gee, maar dit is `n bietjie moeiliker om met My te praat, omdat Ek ook die geheime gedagtes van julle harte hoor, wat heel anders klink as die woorde uit jul monde! Daarom is julle ook walglik vir My, omdat julle julleself van buite skoon was, maar inwendig is julle siele vol vullis!
  5. Indien die Regter, in wie se hart daar geen valsheid is nie, julle vra om die volk se aandag op My in te stel en hulle te verkwik met die vervulling van hulle hoop, waarom soek julle dan allerlei nietige verskonings sodat dit nie gedoen kan word nie?!
  6. Maar Ek sê dit reguit vir julle: Julle - en nie die volk nie - wil so iets nie doen nie, want julle is My grootste vyande! Maar dit maak egter nie saak nie; want eerstens het My tyd nog nie gekom nie en tweedens is hierdie tempel so besoedel deur julle dat Ek nooit daarin sal kan woon nie! Waarlik, julle aansien sal nooit deur My vermeerder word nie!
  7. Julle kla daaroor dat Moshé julle verbied het om `n gesnede afbeelding van God te maak. Maar dit traak julle nie dat julle julleself voor die volk tot gode verhef het en hulle leer dat God niks sonder julle doen nie, ook dat Hy nie `n gebed aanhoor behalwe uit julle mond nie. Sê vir My of dit ook deur Moshé beveel was?!
  8. Ja, ja, julle moet die volk lei op die weë wat na die hemele lei - want dit is God se wil en Hy het Moshé en sy broer Aäron gevra om te doen; maar julle doen presies die teenoorgestelde en beskou julleself as God en die volk en die Tempel as niks anders as `n vet melkkoei nie, waarvoor julle die alleenreg van God verkry het om dit te melk!
  9. Maar Ek sê dit vir julle openlik dat God, vir wie julle met elke asemtog en elke polsslag verloën, nooit vir julle daardie reg gegee het nie en nooit julle dooie meganiese gebede verhoor het nie. Hy verhoor hulle nie nou nie en Hy sal hulle ook nooit verhoor nie!
  10. Want as God na julle wilde geblêr en julle kraaigekraak geluister het - waarlik, dan moes Ek tog iets daarvan geweet het! Want dit wat die Vader weet dit weet ook die Seun, of anders gestel: wat My Liefde weet, dit weet My Verstand ook! Maar met betrekking tot die verhoring van julle gebede weet My Liefde niks nie en daarom ook nie My Verstand nie!
  11. En nog steeds sê julle: “Wanneer jy as mens tot God bid, beteken dit niks nie, maar wanneer jy vir ons `n offer bring en ons vir jou bid, dan is ons gebed ook vir jou van nut! Slegs ons priesters se gebede is van nut, maar die volk mag net offers bring en kan dus slegs saambid deur die groot offers!”
  12. Op die wyse buit julle die volk dubbeld uit: eerstens neem julle `n tiende van al die oeste en van al die eersgeborenes van die vee en julle laat vir julle deur die eersgeborene mens `n groot offer gee; en tweedens verpes julle die volk sonder oponthoud vir offers en belowe vir hulle lang en voortdurende gebede in ruil daarvoor, maar wat julle nooit doen nie!
  13. Want julle sê by julleself: “Of ons nou bid of nie bid nie, dit beteken in elk geval niks vir diegene wat die offer gebring het nie. As daar enigsins iets van nut vir hom was, dan is dit die goedbedoelde offer wat hy vir ons gebring het!” En so doen julle ook nie dit waarvoor julle betaal is nie!
  14. Met wie moet Ek julle dan vergelyk? - Julle is altyd teen God en is volkome soos die verskeurende wolwe wat met skaapsklere rondloop, sodat die skape nie vir hulle moet vlug nie en sodat hulle die skape sonder moeite met hul skerp tande kan verskeur! Maar soos julle werk nou is, so sal ook eendag julle loon in die ryk van die siele wees! - Ek sê dit vir julle en julle kan daarvan verseker wees dat My belofte nie vir julle agterweë sal bly nie!”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205