Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 29

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 29

  1. Daarop sê die Owerpriester weer vir `n slag: “Sê dan nou vir my, Jy half-God en halfmens van `n Seun uit Galilea, waarheen sal Jy trek dat ons Jou vir `n tyd lank nie meer sal sien nie? - Want ek dink dat aangesien Jy uit Násaret afkomstig is en Jy die Seun van die timmerman Josef en van sy vrou Maria is wat baie bekend is aan my en ek of iemand van ons jaarliks ten minste een, twee of ook driemaal daardie Galilese plek sal besoek, dan sal dit tog nie te moeilik wees om Jou daar, as sekerlik `n bekende persoonlikheid, te ontmoet om verder met Jou oor die herorganisasie van die Tempel te praat nie?! - Wat sê Jy hieroor, jong profeet uit Galilea?”
  2. Ek sê: “Indien jou hart jou woorde, wat slegs bedoel was om My te terg, sou ondersteun, dan sou Ek jou nog geantwoord het; maar nou is jy geen ander antwoord meer werd as slegs dié een wat jy sopas gekry het!
  3. Jy kan een- of eenduisend keer na Násaret toe kom en jy sal My nooit nie weer te sien kry nie en nog minder om mee te praat nie. Want wanneer jy wil kom, sal Ek lankal reeds vooraf daarvan weet en waarheen Ek dan intussen sal gaan, sal nie jy of enige een van jou tempelamptenare weet nie!
  4. Ek sê vir jou dat dit baie moeilik is om Hom te soek en te vind wat alwetend is! Ja, wanneer die tyd van toelating deur die Gees wat in My is,sal kom, dan sal julle My weer vind! - Of enersyds volg julle almal My raad en Ek sal dan nie lank op My laat wag nie en sal self na julle toe kom; maar andersins, slegs soos wat Ek dit alreeds aangedui het!”
  5. Na hierdie opmerking van My het die Owerpriester niks meer gesê nie, want in die geheim was hy baie kwaad daaroor dat Ek aan hom, as die plaasvervanger van die Hoëpriester, geen agting betoon het nie. Maar die ander was nie ongeneë daaroor nie, omdat hy `n streng huistiran met hulle was.
  6. Hierop het Barnabé weer `n slag na My toe gekom en gesê: “Sê vir my, wyse Seun! Hoe verstaan Jy dan die volgende tekse uit Hoofstuk 54 van die profeet Jesaja? Daar word gepraat oor die troos van Sion en dit lui as volg:
  7. “Moenie vrees nie, want jy sal nie tot niet gaan nie; moenie dom word nie, want jy moet nie gespot word nie, maar jy sal die skande van jou maagdskap vergeet en nie meer aan die smart van jou weduweeskap dink nie!
  8. Want Hy wat jou gemaak het, is `n Man, JaHWeH van die Skeppingsleërmag is Sy naam; en jou Verlosser, die Heilige in Israel, wie die hele wêreld se God genoem sal word.
  9. Want JaHWeH het jou laat skreeu sodat jy kan wees soos `n van harte bedroefde vrou wat verlaat is en soos `n jong vrou wat verstote is, spreek jou God.
  10. Ek het jou vir `n kort oomblik verlaat; maar met groot barmhartigheid sal Ek jou bymekaar maak.
  11. In `n oomblik van toorn het Ek My Aangesig voor jou `n bietjie verberg; maar met ewige barmhartigheid sal Ek barmhartigheid aan jou betoon, spreek JaHWeH jou Verlosser.
  12. Want dit sal vir My wees soos die water van Noag waaroor Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sal gaan nie. Dus het Ek ook gesweer dat Ek jou nie sal straf en jou nog sal dreig nie.”
  13. Sien, hierdie baie gewigtige verse in Jesaja blyk vir my, ten spyte van Jou dreigement aan Jerusalem en die Tempel, weer baie gunstig en vol van troos te wees! As Jy hierdie tekse ook op Jou van toepassing kan maak, sal ons volledig glo dat Jy in alle erns die beloofde Gesalfde is en die hele Tempel sal afgebreek word en op die suiwer Berg Libanon sal `n nuwe een herbou word vir alle tye der tye!”
  14. Ek sê: “Wat tot nou toe van My geskryf was, was moontlik om aan julle te verduidelik; maar wat My en My werke van nou af vorentoe aanbetref, dit sal baie moeilik en beswaarlik nie aan julle verduidelik kan word nie!
  15. Want dié ‘maagd’, wat nie moet vrees om skande op te doen nie, wat nie dom moet wees om nie gespot te word nie, wat nie meer moet dink aan die skande van die maagdskap nie en die smart van die weduweeskap moet vergeet, is beslis nie Jerusalem en die Tempel nie, want waarlik, die beelderige ooreenkomste met betrekking tot die ‘maagd’ en net so min ‘weduwee’ kan ewiglik nooit hier van toepassing gemaak word nie!
  16. Die ‘maagd’, van wie daar gepraat word, sal eers deur My gemaak moet word: sy sal My nuwe leerstellings aan die menslike skepping uit die hemele wees en sy word daarom `n ‘maagd’ genoem omdat daar nog nie `n selfsugtige en hoererende vermetele priesterskap is wat haar misbruik het vir hulle vuil wêreldse doelwitte nie.
  17. Maar hierdie toekomstige boodskap van My word ook vir `n kort tyd weduwee genoem, omdat Ek deur julle toorn en deur julle wraak van haar weggeneem sal word, maar net deur toelating van Haar wat in My en nêrens buite My is nie. Daardie maagd en weduwee se Man sal juis Ek wees, omdat sy deur My gemaak sal word! Maar wie die man is, wat die maagd en die weduwee gemaak het, dit moet julle in die profeet lees soos ook die beloftes wat aan haar gemaak is; want Ek is die Man en die beloftes is net van toepassing op die geheimsinnige maagd.
  18. Daar sal heelwat later ook tye kom, soos wat dit deur Daniël beskryf is, waar daar ook met hierdie suiwer boodskap groot misbruik gemaak sal word, maar nooit met die maagd self nie, maar met die kinders en kinders se dogters van die suiwer maagd en met die kortsigtige weduwees. Natuurlik sal hulle geen aandeel in My beloftes hê nie, maar alleenlik die sekere ‘maagd’, voortspruitend uit My mond en die baie en suiwer kinders van haar!
  19. Sien, die dinge sal so verloop en gebeur en nooit anders nie! Want met julle en julle Tempel sal Ek vir ewig in geen gemeenskap meer staan nie. Ek het wel na julle toe gekom om julle te red; julle het My nie herken en My nie aangeneem nie. Verder sal julle na My toe kom wanneer die skoen julle begin druk, maar dan sal Ek julle nie meer herken en julle nie meer aanneem nie! - Het julle My goed verstaan?”
  20. Barnabé sê: “Waarlik, om Jou met `n ligte gemoed te verdra, verg baie geduld, want Jy word al hoe digter en eintlik al hoe growwer! Maar laat dit nou wees soos dit wil: Ons sal hierdie saak tog nog `n bietjie afwag! Die ding met Jou wil vir my voorkom dat dit is soos weerlig wat tydens sy ontstaan skielik `n onaardige sterk lig veroorsaak tesame met die donder­slag, wat dit begelei en die aarde laat bewe; maar daarna is alles weer donker en die donkerte is erger as vantevore!
  21. “Weet Jy, - Jy is op Jou manier klaarblyklik `n verskynsel wat nêrens sy gelyke het nie en Jy het ons, ten spyte van al Jou trots, nog steeds baie vermaak verskaf! Jou talente, Seun, sou baie handig gewees het, maar Jy moes `n heel ander opvoeding ondergaan het, en met Jou werklik wonderbaarlike eienskappe, wat nog nooit voorheen daar was nie, `n bietjie meer menslikheid bygevoeg het, dan kon Jy later `n mens op aarde geword het soos wat daar nog nooit was nie! Maar met Jou growwe geaardheid sal Jy baie min vriende op aarde onder die mense maak! Wanneer Jou uitsonderlike mag oor die natuur verder sal toeneem en Jy ook geen vyande hoef te vrees nie, sal Jy deur elkeen gevrees word, maar nooit gelief en geag word nie. Vir my is dit egter belangriker om deur alle mense gelief as gevrees te word! - Watter mening huldig Jy daaroor, of dalk enige iemand anders?”
  22. Ek sê: “O ja, jy sou heeltemal reg gewees het as alle mense suiwer en goed was! Maar omdat daar so baie verskillende soorte mense op aarde bestaan, waarvan sommiges goed en baie ander sleg, meinedig en besoedel is, dan sou dit werklik `n moeilike taak vir `n regverdige en waaragtige mens gewees het om so op te tree sodat Hy gelyktydig deur almal liefgehê kan word! `n Mens sou dan met die besoedelde besoedel en met die suiwere suiwer moes wees en sien, dit is net so min moontlik as om `n soort lig te wees wat gelyktydig op dieselfde plek die grootste helderheid, maar ook die digste duisternis versprei!
  23. Ek sê vir jou: Die ware vriende van die ewige onveranderbare Waarheid uit God sal My wel liefhê en dit ten volle; maar die mense wat die wette van God en die waarheid met hul voete sal vertrap en lewe asof daar geen God meer bestaan nie, hulle sal My moet vrees! Want daardie soort mense en wêreldsugtige verloënaars van God sal moet leer dat Ek beslis geen grap gemaak het nie en dat elkeen volgens sy werke vergeld sal word; want Ek alleen het die ewige en mees volkome mag daartoe.”
  24. Barnabé sê met `n glimlag: “Maar Seun, wat praat Jy van ‘ewig’ en Jy is maar skaars twaalf jaar oud?! Waarheen klim Jy met Jou Gesalfde-ywerigheid?! Bly net met Jou twee voete mooi op die aarde staan en ons sal graag na Jou luister!”
  25. Ek sê: “Gaan weg, jy word al weer onaangenaam vir My! Bedoel Ek dan daarmee hierdie liggaam van My wat maar slegs twaalf jaar op hierdie aarde bestaan?! Het Ek dan nie gister vir almal van julle van die ewigheid van die Gees wat in My is en wat werksaam is, `n voldoende verduideliking gegee nie?! Waarom beskuldig jy My dan oor `n hoogmoedige Gesalfde-ywerigheid?! Verstaan dit eers, voordat jy met My begin te praat en dit klaarblyklik oor dinge wat vir jou nog meer onbekend is as die mees verste pole van hierdie aarde!”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205