Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 3

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 3

  1. Toe Ek op hierdie wyse `n spreekbeurt verkry het, spreek Ek met die ouderlinge en skrifge­leerdes wat vir My aangedui het dat Ek nou moet praat en moet vra wat Ek wil, sodat hulle My nou pligsgetrou kon antwoord. En sodoende het Ek dan weer begin met bogenoemde eerste vraag en sê: “Julle skynbaar selfversekerde geplaaste woorde kan nie die see tot rus laat kom en die gesuis van die winde nie stilmaak nie! Net `n blinde sal niks agterkom van die tekens van die tye nie en as stokdowe sal hy ook nie die magtige dreuning van die geskiedenisdonderslag van die mees gedenkwaardigste tyd van die ganse aarde hoor nie. Terwyl Karmel en Sion reeds voor die aankomende Koning van eer hulle hoofde gebuig het en Horeb melk en heuning uit sy hoë beker laat vloei het, weet julle, wat veronderstel is om eerste daarvan te weet en die wagtende volk daarvan te vertel, nie `n enkele woord daarvan nie!”
  2. Nou het almal groot oë gemaak, kyk eers vir My en dan weer vir mekaar en het nie geweet wat hulle My moes antwoord nie.
  3. Na `n tydjie sê een: “Nou praat dan verder oor dit wat Jy daarvan weet!”
  4. Ek sê: “Vir seker weet Ek wat Ek weet. Daarom het Ek geen vrae aan julle gerig om dit wat Ek alreeds weet aan My te laat verduidelik nie, maar slegs dat julle vir My kan aantoon juis wie die profeet Jesaja se swanger maagd is waaruit die Hoogste God gebore moes word! Hoekom sal sy vir Hom die naam ‘ImmanuEl’ (God met ons) gee? - Hoekom sal Hy melk en heuning eet om die besoedeling te verwerp en die suiwere te kies? Dit wat die profeet bedoel met die swanger maagd wat die aangewese Seun sal baar moet julle as skrifgeleerdes dan tog verstaan!
  5. Ek is tog van mening dat daar meer agter die geboorteverhaal van Bethlehem steek as wat julle voorgee en dat die ouerpaar, die bekende timmerman Josef van Násaret en die maagd wat later sy getroude vrou geword het, saam met die Seun wat in Bethlehem gebore is, nog heel lewendig is; want hulle het deur `n wyse plan van die destydse Romeinse kaptein Cornelius die latere grusaamhede van die ou Herodes ontglip en leef nou veilig in Násaret in Galilea.
  6. Dit weet Ek as `n twaalfjarige Seun en vir julle wat tog alles weet, is dit onbekend - dit terwyl Josef as een van die beste timmermans­meesters nóg al die jare in Jerusalem iets gekry het om te doen en julle Hom wel goed ken, net soos sy vrou, wat afkomstig is van Jerusalem en tot haar veertiende jaar in die Tempel opgevoed was? Is sy dan nie die dogter van Anna en Jojakim, wat volgens julle kronieke aanteken­inge op `n wonderbaar­like manier in die wêreld gekom het nie? Anna was reeds op `n hoë ouderdom en sonder `n wonderwerk sou `n bevrugting ondenkbaar gewees het!
  7. Nou, hierdie ouerpaar het saam met die nuutgebore Seun vir drie jaar lank, pas nadat hulle uit Bethlehem gevlug het, in Egipte gewoon en dit in die nabyheid van die dorpie Ostrasine, volgens die ou-Egiptiese taal Ostrasina, wat beteken ‘Werk van Skrik’, dus `n kasteel, wat vir alle vyande tydens die Farao's die dood gebring het. Later het die magtige vyande van die ou Egipte hierdie Plek van Skrik soos baie ander verower en daar het in ons tyd van die destydse Plek van Skrik niks oorgebly nie, behalwe die ou, onbelangrike naam, wat die Romeine natuurlik `n ander betekenis gegee het as die ou Egiptenare.
  8. Daarin is egter niks geleë nie, maar Ek het hierdie geskiedenis, wat aan My bekend was, genoem om vir julle die drie jaar lange woonplek van die ouerpaar onder bespreking van naderby te beskryf. Van daar af het hulle volgens `n geheime aanwysing van Bo weer na Násaret teruggetrek, waar hulle nou volkome aan God gehoorsaam in die mees moontlike teruggetrokkenheid leef, ofskoon van die Seun wat daar woon, wat ook Ek die eer het om baie goed te ken, allerhande wonderbaarlikhede vertel word. Want selfs die elemente is aan Hom gehoorsaam en die wildste diere van die woude en die woestyn vlug voor Sy Aangesig, erger as voor `n duisend jagters. Want in dié opsig is Hy `n duisendvoudige Nimrod! - En wil julle in alle erns voorgee om niks daarvan te weet nie?! Sê nou vir My in alle opregtheid en in alle waarheid, of julle van al hierdie dinge niks verneem het nie?!”
  9. Toe sê een van die ander ouderlinge, wat van `n bietjie beter gesindheid was: “Ja, daarvan het ons wel iets gehoor, so ook dat die timmerman aan wat ons welbekend is, homself met sy jong vrou Maria permanent in Násaret gevestig het! Maar of dit dieselfde Wonderseun is wat twaalf jaar gelede te Bethlehem in die stal gebore was, dit weet ons nie en ons betwyfel of Hy dieselfde een is! En hoe sou daardie Seun dan nou die ImmanuEl van die profeet wees?”
  10. Ek sê: “Indien Hy dit dan nie is nie, waarvandaan kom dan die mag wat Hy oor al die elemente uitoefen? En wie is die profeet se ‘maagd’ en wie is die ‘ImmanuEl’?”
  11. Die ryk man van Bethlehem sê: “Luister, hierdie Seun het dan `n reuse verstand! In die gees wil dit vir my voorkom asof Hy dalk `n jong EliJaH kan wees, vir wie daardie Wonderseun van Násaret vooruitgestuur het om vir ons almal op die komende ImmanuEl van die profeet voor te berei! Want wanneer het een van ons dit ooit beleef dat, behalwe vir Samuel, `n kind van twaalfjarige ouderdom so wys gepraat het?!
  12. Daarom moet julle met hierdie Seun `n meer volledige gesprek voer, andersins sal ons nie van die kind ontslae raak nie! Die profeet moet julle beslis op `n duideliker wyse verduidelik en ook aantoon hoe dit met die maagd Maria, die wonderbaarlike dogter van Jojakim en Anna staan, wat toe hulle gesterf het, al hulle aansienlike besittings vir die Tempel oorgegee het. In werklikheid het die Tempel dit met geweld as `n eiendom sonder eienaar in eie beslag geneem as vergoeding vir die opvoeding van die dogter Maria.
  13. Wat sê julle dan eerlikwaar van daardie maagd? Wanneer van `n profeet iets gesê kan word, dan sou die tyd wat deur Hom aangewys was nou wees. Die wonderbaarlikhede van die maagd onder bespreking kan dus nie meer ontken word nie! As daar tog iets daaraan sou wees, dan sou dit ook ongetwyfeld goddeloos van ons almal wees as ons nie dieper en nader daarop sal ingaan nie!”
  14. Die ouderling wat hom vererg het, sê: “Dit verstaan Jy nie en Jy praat daarvan deur die Seun `n voorskot te gee soos wat `n volkome blinde mens van die groot prag van die mooiste kleure praat!”
  15. Ek sê tussenin: “Dit is nou werklik `n eienaardige saak, dat `n honger mens dink dat almal wat hy ontmoet, honger moet wees! `n Dom mens beskou die ander mense as steeds nog dommer as wat hyself is. Vir die blinde is elke nog so skerp sienende mens blind en vir die dowe is elke ander mens doof!
  16. Glo jy, ou korrelkop, dat behalwe vir jou geen ander mens iets kan weet nie? O, daar misgis jy jou geweldig! Sien, Ek is net `n Seun en kon vir jou dinge wat volkome waar en korrek is, vertel en verduidelik, waarvan jou nukkerige wysheid waarskynlik nooit iets van gedroom het nie!
  17. Waarom moet My welaf Simon van Bethanië, wat Indië, Persië, die Arabiese lande, Egipte, Spanje en Rome en Athene besoek het, nie ook iets weet waarvan jy nog nooit eens oor gedroom het nie?! Indien dit so is, met watter reg wil jy vir hom as onkundig beskuldig?! - Maar Ek sê vir jou, dat hy heeltemal reg geoordeel het en julle moet derhalwe doen wat hy vir sy baie geld van julle verwag!
  18. Indien iemand `n kneg huur vir werk, dan moet die kneg dit waarvoor die werkgewer hom aangestel het, doen. Wil die kneg dit nie doen nie, of kan hy dit nie, dan sal die werkgewer beslis die reg hê om die onderhandelde loon van die lui of onkundige kneg terug te vra! - Julle het vir julle goed laat betaal - en wil in ruil daarvoor niks doen nie, of kan dit nie! Het Simon nou nie die reg om julle vir sy gegewe vergoeding terug te vra of nie?”
  19. `n Aanwesige Romeinse regskundige, Kommissaris en Regter sê: “Daar, kyk nou net vir die Seun! Hy is dan `n volmaakte juris en kon onmiddellik `n regter in alle strysake wees! Sy regspreking is volkome op ons regstelsel gegrond en wanneer Simon uit Bethania dit van my verwag, moet ek hom onwillekeurig die ‘Exequatur’ (‘dit word volstrek!’) gee!”
  20. Daarna kom hy na My, liefkoos en druk My en sê toe aan My: “Luister, my liefste, krulkop Seun, ek is heeltemal lief vir Jou! Vir Jou wil ek sorg met al my besittings en vir Jou tot iets groots opvoed!”
  21. Ek sê: “Dat jy My liefhet weet Ek baie goed - want in jou klop daar `n getroue, suiwer hart. Jy kan egter ook verseker wees, dat ook Ek baie lief is vir jou! Maar oor My onderhoud hoef jy jou nie te kwel nie, want daar is reeds Iemand wat Hom daaroor bekommer!”
  22. Maar ook Simon van Bethania kom na My toe en vra heel verbaas vir My: “Sê vir my, Jy, my mooiste, liefdevolste en goeie Seun, hoe het Jy geweet wat my naam is en waar ek orals reeds was!”
  23. Ek sê: “O, moet nie daaroor verbaas wees nie, want indien Ek iets wil weet, dan lê dit reeds in My natuur dat Ek dit weet! Die ‘hoe’ sou jy nou nog nie verstaan nie! - Maar nou weer terug na die saak en ons ‘maagd’! Wil julle priesters en skrifgeleerdes dit van nader belig of nie?”
  24. Een van die aansienlike aantal ouderlinge met `n meer helder kop sê : “Ja, ja, dit sal nou nie anders kan nie, as om te begin om skoon wyn vir die Seun in te skink nie en so sal ons aan Hom Sy Jesaja verduidelik volgens die ooreen­komstigheidsleerstellings van die Kabbala en Hy sal dan geen uitweg tot verdere vrae meer hê nie!”
  25. Daarop staan `n wys geagte skrifgeleerde op en sê: “Nou ja, Jou weetgierige Seun, kry Jou sintuie bymekaar, luister en verstaan: Onder ‘maagd’ het die profeet nie `n maagd van vlees en bloed bedoel nie, maar net die boodskap wat God deur Moshé vir die kinders van hierdie wêreld gegee het. In die nouste sin stel ons priesters nou hierdie boodskap en wet lewendig voor.
  26. Maar ons, as die lewendige woord van God, is vol van die beste hoop, dat hierdie leerstellings nou in die hele wêreld van ons af uitgebou sal word en dat die heidene verkwik sal word. En hierdie lewendige, ware hoop is die swangerskap van die maagd wat deur die profeet bedoel is; maar die Seun, wat sy moet baar, is juis al die heidene wat ons leerstellings sal aanneem en hulle sal dan sê en dus genoem word: ‘ImmanuEl”, dit is, ‘God is ook met ons!’ En dit het reeds voor ons tyd gebeur en gebeur nou des te meer lewendiger en met meer ywerigheid!
  27. Maar hierdie Seun sal heuning en melk eet en sal die besoedeling verwerp en die suiwere kies. Onder ‘heuning’ het die profeet die suiwer Liefde verstaan en die ware suiwerheid daaruit. Onder ‘melk’ het hy die Wysheid vanuit God bedoel, wat die mens kry deur die nakoming van die leerstellings en die wet; en het `n mens die Liefde en die Waarheid uit God lewendig sy eie gemaak, dan verafsku jy ook uit vrye wil die besoedeling en wil die suiwere verkies !
  28. Sien Jy, my liewe Seun, hoe dinge dus staan volgens die innerlike wysheid en waarheid met die profeet se geestelike woorde en spreuke en toesprake! Hulle het almal net `n innerlike, geestelike betekenis, maar wat net vir die werklike skrifgeleerde uit die materiële simbole en beelde deur die getroue en ware leerstellings van ooreenkomstighede bepaal is. `n Leek kan dit nie - en kon hy dit, dan sou alle hoërskole heel onnodig wees en Moshé sou nie nodig gehad het om vir die instandhouding van die leerstellings en die wette van God priesters en skrifgeleerdes aan te stel nie! - Verstaan Jy nou hierdie enigste ware en korrekte verduideliking van Jou profeet wat Jy verkeerd verstaan het?”

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205