Die drie dae in die Tempel
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 31

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31.

Hoofstuk 31

  1. Maar die Romeinse Regter het nou sy voorkop gevryf en met `n baie harde stem gesê: “Luister nou nog eenmaal vir my! - Na alles wat ek met skerp oë nou die afgelope drie dae van hierdie Seun waargeneem en gesien het, is dit tog met die grofste hande maklik en tasbaar duidelik verstaanbaar dat Hy beslis `n ander wese is as ons armsalige, bo alles swak en sterflike mense van hierdie aarde!
  2. Volgens Sy aardse geboorte behoort Hy aan die stam van Juda en staan dus gedeeltelik onder die wette van die Tempel en gedeeltelik nes elke ander man van Juda ook onder ons wette. Maar ek het waargeneem dat die Gees van hierdie Seun die eintlike fondament van alle wette van elke staat asook van elke gemeenskaplike volksordelikheid is en verder dat Hy ook die fondament van alle nie-geopenbaarde wette van die groot natuur, alle materie en alle geeste is! Hy is tegelyktydig `n diep wyse en `n mees regverdige regter en daar is skynbaar nie `n atoomgrootte stukkie besoedeling in Sy wese nie! Wat moet ons wette dan nog met Hom te doen hê, aangesien Hy klaarblyklik `n heerser bo alle wette is?!
  3. Ek stel Hom dus vry en hemelhoog verhewe bo al ons Romeinse en ook bo julle betekenislose tempelwette en verklaar ook hiermee plegtig dat hierdie Tempel veels te onwaardig is vir die opname van sy heilige persoonlikheid. Elke keer wanneer dit Hom behaag om die besoedelde Jerusalem te besoek, sal Hy met die grootste eer wat ons sterflinge vir `n onsterflike en almagtige God kan betoon, in my klaarblyklik suiwerder paleis, vriendelik opgeneem word.
  4. En wanneer Jy na My toe sal kom, dan sal Ek hardop uitroep: “Luister, alle volkere, oor my huis en oor die heerser in Rome het die grootste en hoogste verlossing gekom!”
  5. Hy sal die verlossing van Juda wegneem en dit vir ons heidene gee en julle sal nog in Sy tyd onder ons hakskene vertrap word en ons sal stof en as oor hierdie plek strooi, aangesien julle julleself as gode van `n blinde volk laat prys en aanbid het!
  6. Ek het nou uit my binnenste oortuiging gepraat en is ook van mening dat ons nou hierdie sitting moet beëindig, aangesien julle volkome duistere tempelamptenare tot geen beter insigte gebring kan word nie! Hoekom moet sulke heilige woorde dan op totaal dowe ore en klipharde harte vermors word?!
  7. Ek sê: “Nog net `n klein tydjie totdat hulle wat My nou al by die drie dae lank soek, hier sal wees! Hulle sal in die herberg ‘Násaret’, wat ook aan die Tempel behoort, uitvind waar Ek My bevind en sal My hier kom soek. Ek sal weer saam met hulle na Násaret teruggaan! Want volgens die liggaam moet Ek by hulle bly wie Ek daarvoor getrou en waar vir Myself uitgekies het!”
  8. Die Romein sê: “Maar hoe het dit dan gebeur dat Jy van Jou liggaamlike ouers verwyder geraak het? Volgens My moes hulle Jou tog hiernatoe begelei het en ek herinner my nou dat ek `n ou, waardige man en `n baie jong, maar baie vrome vrou aan Jou sy gesien het! Hulle het natuurlik, nadat hulle die klein fooi betaal het, weer met al die ander uit die Tempel uitgegaan, waarna ek hulle nie meer gesien het nie; Maar hulle moes tog geweet het dat Jy nêrens anders behalwe hier sal wees nie?!”
  9. Ek sê: “Liefste vriend, dit is heel eenvoudig: Ek wou dit so hê, omdat dit in My wil en My ewige orde so beplan was! Want Ek sê vir jou: Hierdie toneel was reeds van ewigheid af in My so beplan. Dit kon dan natuurlik ook net op dié bepaalde wyse plaasvind!
  10. My liggaamlike ouers het My nes al die ander in die reeds bekende herberg verwag, wel wetend dat Ek hulle nie sal mis nie. Maar aangesien My pleegvader Josef vir hom `n paar nuwe stukke gereedskap laat maak het by `n ystersmid uit Damaskus en hy ook geweet het dat hy nie so vinnig sal klaarkry nie en omdat My liggaamlik kragtige moeder hom daarheen begelei het om hom te help dra, het hy vir verskeie familielede en ook ander bekende Nasáreners die opdrag gegee dat indien hy en Maria `n bietjie laat sou terugkom, hulle My tot die volgende stasie moes saamneem, aangesien die twee na afloop van hul besoek aan die betrokke smid, nie weer na Jerusalem wou terugkeer nie, omdat dit vir hulle `n aansienlike ompad sou beteken het.
  11. So was dit beplan en ook gedoen. Dié twee het lank weggebly en toe hulle by die betrokke stasie aangekom het, het hulle `n hele aantal bekendes en ook familielede uit Násaret daar aangetref, maar Ek was nie onder hulle nie. Hulle het aangeneem dat Ek miskien met `n groep saamgegaan het wat alreeds vroeër na die volgende herberg vertrek het, - wat My ouers ook geglo het en het hulle dus ook op hulle tyd daarheen vertrek waar hulle eers na middernag aangekom het. Maar ook daar kon hulle My nie kry nie!
  12. Vroeg die volgende oggend het hulle na die volgende aansienlik verder geleë herberg vertrek, maar ook daar het hulle niks van My verneem nie. Van daar af het hulle weer hiernatoe teruggekom, het ook reeds in ons herberg aangekom en het ook onder groot gerusstelling van My verneem en sal nou binnekort met `n klein berisping hier aanland!”
  13. Die Romein sê: “O, `n berisping mag hulle Jou nie gee nie, daarteen sal ek protes aanteken!”
  14. Ek sê: “Ag, laat alles wat deur die profeet voorspel is slegs gebeur en Ek sal dan ook vir hulle My mening gee wat vir hulle as mense baie heilsaam sal wees!”
  15. Hierop wou die Owerpriester nog iets sê, maar die Romein en ons Simon het dit nie meer toegelaat nie en het die sitting as gesluit verklaar.

Einde van Drie dae in die Tempel


 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205