Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Die inwerking van die lig op die lug

30-1-1847.

21 Om nog duideliker in te sien dat in die atmosferiese lug `n ontelbare hoeveelheid luggrondstowwe of - soos die geleerde wêreld sê - spesifika aanwesig is, moet mens tot die punt gelei word, waar mens as`t ware onteenseglik tot insig kom, waar hierdie spesifika vandaan kom en wat die oorsaak is van hulle ontstaan, hulle bestaan en hulle verdwyning.

[2] Om dit alles in te sien, is nie moeilik vir hulle, wat maar enigsins van goeie wil is en nie `n op diplomatiek gebaseerde geleerde is nie, wie se diplomasie soos `n sluier van Moses voor sy oë hang; net nie oor dieselfde rede nie, dog sodat hy dit nie sal sien en begryp wat die eenvoudigste mens met min moeite kan sien, waarneem en begryp nie. Wie dus maar enigsins - Ek sê dit nog `n keer - van goeie wil is en geen sluier voor sy oë het nie, vir diegene is dit voor die hand liggend, dat hierdie tallose spesifika in atmosferiese lug nie somaar uit die lug gegryp is nie, maar - soos alles — wel deeglik gegronde redes het.

[3] Kyk omhoog: Hoe talryk skitter die sterre in die verre ruimte van die oneindige eter, wat nêrens `n begin en nêrens `n einde het nie! Die mens is totaal verruk as die glinsterende lig van die miljoene sterre in sy oë val en hoe treurig is hy, as enkele somber nagte die heerlike aanblik van die sterrehemel vir hom bederwe.

[4] Is dit geen inwerking, wat die menslike gemoed weldadig besielend aangryp nie? Ja, dit alles is die werking van die lig uit die verre gebiede; en die lig is dit, wat die atmosferiese lug - die groot wêreldoog - om die hemelliggaam heen vorm, soos dit ook maar net die lig is, wat die oog maak in die mens en dit daaraan verwant maak, want as die oog geen lig sou hê nie, dan sou dit die lig nooit kan sien nie.

[5] As die mens met sy oog, met hierdie klein son in sy liggaam, die sterrehemel bekyk, dan word sy oog self `n klein heelalsfeer waarin miljarde sonne hulle baan deurloop en sentraalsonne hulle oerlig in die eindelose verte stuur. Die menslike oog bevat dan `n eindelose skepping en die straling en terugstraling van die sonne in die aan die son verwante oog van die mens, bewerk die verrukking in die siel oor so `n wonder, hoe die grootste homself in die kleinste terugvind en as dit erken, wat dit in homself is.

[6] Wie kan dit ontken? Hoogstens `n werklik blinde mens, of iemand, soos wat daar nou baie van is, wat `n stinkende tabakpyp in sy stinkende mond, meer waardeer as die hele sterrehemel, wat hy maar net in sy eie spieël sien wanneer hy homself bekyk, hoe sy noupassende jas lyk, waarvoor hy die kleremaker nog skuldig is, en hoe sy afskuwelike pyp pas by die nuwe jas wat nog met skuld belas is. Maar oor sulke menslike larwes word nie hier gepraat nie; wat eintlik maar op die wêreld is, om dieselfde rede as waarom die brommers op `n mishoop te vinde is; hulle skat is die vuilheid, omdat hulle self vuilis is. Sulke mense kyk natuurlik nie na die sterre nie en het geen oog vir My werke nie!

[7] Maar mense, waarvan daar ook nog baie is, wat dikwels omhoog kyk en heimlik in hulleself sê: “O Vader, in U ryk is wel ontelbare wonings, aan sulke mense sal die bo beskrewe werking, deur die aanskouing van die sterrehemel, sekerlik nie verbygaan en hulle sal ook nooit kan ontken dat die sterrelig magtig op hulle gemoed inwerk nie.

[8] As al die lig van die sterre slegs deur die mense-oog in werklik verswakte toestand al so `n duidelike inwerking het, hoeveel sterker sal die werking van die sterrelig dan deur middel van die groot aardoog op die aarde self wees! Want die atmosferiese lug is op haar oppervlakte, waarop die eter rus, `n glansende spieël, waarin elke ster al werklik groot afgebeeld word. Die beeld word nou op die vaste aardoppervlakte geprojekteer en wel in steeds meer gekonsentreerde ligsterkte, volgens bekende optiese wette. Die inwerking van gekonsentreerde lig, of die gekonsentreerde lig self, is op sigself al `n heel eenvoudige spesifikum in die atmos­feriese lug, omdat dit op die dele van die aarde, wat met haar ooreenstem en op die oppervlakte daarvan oplossend of same­trekkend inwerk. Nou hoef jy maar net die talryke sterre te tel - as dit moontlik sou wees - dan sal jy tegelykertyd ook die onmeetlike aantal eenvoudige spesifika in julle atmosferiese lug ken. Alles wat liggaamlik in en op die aarde voorhande is, is `n wedersydse werking van die sterre en wel daarom, omdat Ek, die Skepper, die groot wêreldmeganisme so ingerig het.

[9] Astronome op die aarde het al twee belangrike waarnemings gedoen. Volgens die een het sterre, wat vroeër bestaan het, verdwyn en dan moet ook die deur hulle bewerkte spesifikum op aarde ook verdwyn het en daarmee die wesens, wat deur die spesifikum in die fisieke bestaan kon tree.

[10] `n Ander ontdekking van die astronome is dit, waarvolgens die lig van baie ver sterregebiede of nou, of eers oor baie jare op die aarde sal aankom. As gevolg daarvan moet nuwe spesifika en daardeur ook nuwe vorms dus op die aarde ontstaan, wat vir die al voorheen op aarde aanwesige wesens óf gunstig óf nadelig sal inwerk, na gelang van die ster waarvan die spesifikum uitgaan, goed of sleg is. Want daar is goeie en kwaadaardige sterre, soos wat daar gevolglik ook goeie en kwaadaardige plante en diere is. 

[11] Daar is ook dubbelsterre wat mekaar op bepaalde tye bedek. Van hierdie sterre is die een gewoonlik van goeie en die ander van bose aard. Staan die goeie ster voor die bose, dan hef hy die werking op; skyn beide na mekaar, dan word die slegte invloed van die bose ster deur die goeie verswak; staan die bose voor die goeie, dan hef hy die werking van die goeie heeltemal op; dan sal op dié deel van die aarde waarbo so `n ster op die kruin staan, weldra sy slegte werking bemerk word, wat hyself óf deur slegte weer, óf deur slegte groei van baie gewasse, óf deur siekte by mens en dier kenbaar maak.

[12] Die verduistering van sterre deur planete oefen dikwels ook op hierdie manier, óf `n slegte, óf `n goeie invloed op die aarde uit. Vanuit dié standpunt bekyk, bepaal die ou wyses, die nou fabelagtig teenswoordige “heerskappy van die planete” wat egter nie so dwaas is soos wat die teenswoordige geleerdes, wat maar net in syfers kan dink, dit vir hulleself inbeeld nie.

[13] Ook ou voorspellings oor die weer was hierop gebaseer en al word nou daaroor gelag, nietemin is die ou wysheid nog steeds van krag. Op gelyke wyse oefen ook die komete en ander ligmeteoriete - al is dit van korte duur, `n merkbare invloed op die aarde uit. In nie `n mindere mate nie, is die wisseling van die lig van die maan `n invloed, en veral baie duidelik voelbaar is die verandering van tydsduur van die skyning van die son; want iemand wat nie die onderskeid tussen somer en winter kan bemerk nie, die is treurig daaraan toe. Dat die lig, hoe kort dit ookal duur, `n magtige invloed uitoefen op een of ander ding op aarde, bewys sekerlik die maar kortdurende lig van die bliksem, wat - soos bekend is - die krewe vrekmaak as hulle hulleself nie, voordat die onweer begin, in die modder verskuil het nie. Uit dit wat tot nou toe vertel is, sal elkeen, wat ook maar `n bietjie beter insig het, verseker helder en duidelik weet waar die baie spesifika uit die lug vandaan kom, hoe dit bewerk word en watter invloed dit noodsaaklikerwys self uitoefen.

[15] Aangesien ons dit nou deurgeneem het en daardeur ook die eerste en onderste lugkring leer ken het, kan ons dit nou verlaat en ons na die tweede omhoog werk, van waaruit ons die verskynsels sal waarneem, wat daagliks in die veelvuldige wolkformasies tevoorskyn kom en daar sal ons ook insien, waarom die lug in die hoër gebiede suiwerder en gesonder is as in die laere.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205