Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 30

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Die tweede lugstreek en haar geeste

13-2-1847.

30 Netsoos daar by die mens vanuit die suiwer geestelike, `n oorgang na die liggaamlike bestaan, is daar tussen die hoogste en die middelste gebied ook so `n oorgang. Die twee gebiede is in verhouding soos siel en gees. Die gees werk op die siel in en kan haar deurdring, die siel kan egter nooit die grense van haar gees oorskry nie, maar sy moet daar wees om deur die gees deurdring te word, terwyl die gees nie daar is om deur die siel deurdring te word nie; maar die siel kan deur die gees opgeneem word, waardeur sy self geestelik word.

[2] Op dieselfde manier kan ook die geeste van die tweede streek in die derde oorgaan wanneer hulle siele, of in sekere opsig hulle substansiële liggame, hulleself steeds meer vergeestelik het en volledig een geword het met die gees. Die siel op sigself, as samestelling van tallose substansiële intelligensiedeeltjies, het ook allerlei drifte in haarself, wat sy as spesifika in haar dra.

[3] As hier of daar die een of ander spesifikum meer op die voor­grond tree, keer alle ander hulleself na die punt waar so `n verhewe spesifikum optree. So `n neiging wek dan een of ander hartstog op in die siel. Hierdie hartstog kan dadelik deur `n ander vervang word, as `n ander spesifieke sielsintelligensie-punt op die voorgrond tree, wat as`t ware alle siels-spesifika intelligensiepunte oorheers en oorstraal, sodat die ander hulleself aan haar ondergeskik maak.

[4] Hierdeur word duidelik hoe menige siel deur tallose hartstogte en begeertes van die een pool na die ander gedryf sal word as die gees nie waaksaam is nie. Wat in die siel as`t ware in een wese as in `n punt gekonsentreerd optree, dit is in die algemeen in die tweede streek reeds meer die geval, omdat suiwer siele hier woon, by wie die gees nog nie geheel ontwaak is nie. Die een siel het hierdie sterk aandrywing, die volgende weer `n ander en miljoene siele het natuurlik miljoene verskillende neigings en drifte. Die een wil stry, die ander wil rus hê; die een wil slegs die geheime van die skepping ontdek, die ander botaniseer; `n ander maak voortdurend weer reise en so het elk van die miljoene `n anders gerigte neiging.

[5] Wat `n bont harwar van siele moet daar wel in hierdie tweede streek saamwoon. Hoeveel verskillende verskynsels moet hulleself wel voordoen wat ten slotte as verdig moet oorgaan in die natuurlike wêreld en vir liggaamlike oë sigbaar word. En so is dit ook. Die verskillende soorte wolkformasies en nog tallose ander verskynsels in hierdie middelste streek is daarvan afkomstig. Geen dag en geen nag bring weer die vorm in die dieselfde hoedanigheid terug as wat dit ooit daarvoor was nie.

[6] Bekyk net `n wolkformasie op `n bepaalde dag en teken dit na, dan kan jy wel honderd jaar lank elke dag die nuwe wolkformasies met die vorige deur jou getekende vergelyk - en nooit sal jy weer presies dieselfde sien nie. So sal jy nog wel ander verskynsels ontdek wat steeds gelyk bly wat hulle aard, maar nooit wat hulle vorm, betref nie. Nie een sneeuvlokkie is volkome dieselfde as `n ander nie en geen reëndruppel is presies ewe groot nie en as dit hael, vergelyk dan net twee haelkorrels, of hulle presies aan mekaar gelyk is! Sowel in vorm as gewig sal jy verskille opmerk. Ys sal wel ys wees, maar dit is `n soort; die manier waarop ys egter gevorm word, is net so verskillend as die verskillende hartstogte van die sielewesens. Dit kan jy ook op aarde sien by die nog lewende mense.

[7] Bekyk nou net `n huise in `n stad; as soort is dit wel almal gelyk, want hulle moet mure, vensters en `n dak hê; maar jy sal nie maklik twee huise vind wat volkome aan mekaar gelyk is nie. Die ene is ietwat hoër, die ander ietwat laer; die een huis is sus geverf, die ander so; en daar is nog talryke ander verskille.

[8] Die verskeidenheid in vorm kom deur die verskillende neigings van die siele wat die huis laat bou het. So het ook elke mens `n ander jas en geen kleremaker maak een wat aan `n ander gelyk is nie. En so is daar ook `n groot verskeidenheid in ander kunswerke van die mense. Elkeen wat skryf het geleer, het `n kenmerkende handskrif, wat niks met `n ander gemeen het nie, omdat daar seker geen lyn op die lyn van `n ander pas nie. Die vorm is dus oral anders, hoewel die soort dieselfde bly.

[9] Of laat `n paar ewe begaafde skilders dieselfde voorwerp skilder; elkeen sal `n vergelykende beeld skilder, maar die aard van die afbeelding, die vorm waarin dit geskilder is, sal by elkeen totaal eiesoortig wees. Of gee aan tien komponiste opdrag om musiek by dieselfde gedig te skryf, dan sal heel duidelik uitkom, hoe elkeen `n heel ander melodie by die gedig gekomponeer het.

[10] Al hierdie verskeidenheid, as uitbeelding van vorm, kom deur die baie verskillende, spesifieke intelligensiepunte in die siel. Na gelang een van hierdie punte oorheers, rig die siel haar handelinge daarvolgens. Daar waai dus voortdurend `n ander wind; daar ontstaan steeds nuwe verskynsels en nooit herhaal iets homself volkome nie, die allerminste daar waar die produserende intelligensies hulleself nie onder `n positiewe oordeel bevind nie, wat juis die geval by die mensesiele is, omdat hulle hulleself weer moet inwerk in hulle oorspronklike vryheid. Maar daar is tussen `n afgeskeide en `n nog in die liggaam lewende siel dié onderskeid:

[11] Die siel in die nog lewende liggaam kan deur `n groot hoeveel­heid verskillende hartstogte beheers word. Die mens kan elke dag `n ander wees; vandag voel en dink en doen hy so en neem hierdie of daardie besluit, môre is dit alles vaag en handel hy weer volgens `n ander intellektueel substansieel spesifieke swaartepunt van sy siel. Vandag is iemand vrygewig en iedere arme wat vandag na hom toe kom het geluk, môre tree in plaas van hierdie vrygewigheid, `n gierige swaartepunt op en die vandag vrygewige het môre `n afkeer van elke bedelaar en het berou oor sy vry­gewigheid van die vorige dag.

[12] By die afgeskeide siel is dit anders. Daar tree gewoonlik maar `n oorheersende hartstog op, wat die siel meer en meer beheer en wat langsamerhand alle intelligensiedeeltjies na homself toe trek: Daarom sê Paulus ook: “Soos wat die boom val, so bly hy lê!” - wat nie wil sê dat `n afgeskeide siel onverbeterlik sou wees nie, maar dat sy in een van haar vernaamste hartstogte gevange bly, totdat dit alle ander spesifieke intelligensiedeeltjies as`t ware opgeteer het, wat dan `n groot armoede van die siel tot gevolg het, wat daardeur in `n toestand kom, waarin sy van alles beroof is en haarself as geheel naak in nag en duisternis bevind. In hierdie beroofde toestand kan die gees eers vry word en die siel begin te deurdring en dit is dan die oorgang van die tweede na die derde streek. Voordat hierdie toestand ingetree het, kan die gees haarself nie in die siel uitbrei en haar deurdring nie, omdat haar spesifika nog te materieel en te min geestelik is.

[13] Waar daar dus op hierdie manier `n hele spul verskillend gestemde siele in die tweede streek saamkom, wat elkeen hulle eie oorheersende hartstog in hulleself dra en daarvolgens lewe en handel, is dit maklik te begryp, dat die verskynsels wat voortkom uit die veelsydigheid van die siele, ook baie verskillend volgens hulle verskyningsvorm sal optree. Daarom het elke bliksemflits `n ander kronkellyn, elke wolk of wolkie `n ander vorm en beweging; daarom waai daar winde van alle kante en dientengevolge is daar nou eers `n wolkbreuk, dan weer `n plonsreën, nou eers hael, dan weer motreën, nou net is daar groot, middelgroot of klein sneeuvlokkies en duisende soortgelyke verskynsels, wat veral baie in die tropiese streke en in die poolstreke van die aarde voorkom.

[14] Dit was `n noodsaaklike algemene inleiding; hierna sal ons die saak meer indringend bekyk.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205