Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 58

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Spoke en besetenheid

30-3-1847

58 Julle het, solank as wat daar boeke geskrywe was, merk­waardige gevalle van verskillende soorte van besetenheid gelees, waarvan die toestand en sfeer julle voor die gees staan. Maar weet julle ook presies hoe hierdie besetenheid ontstaan, waar dit vandaan kom en by welke geleentheid? Om dit teoreties te behandel sou oorbodige werk wees, omdat julle tog al verskeie inligting op die terrein verkry het; maar om hierdie saak dramaties voor te stel, sodat mens daaroor kan nadink, sal elkeen wat dit lees baie lig gee. Laat ons so `n gedenkwaardigheid by ons oë verby­gaan.

[2] Die Satan, wat al `n groot aantal baie slegte aanhangers het, stuur sy handlangers op bepaalde tye onder die mense in, met die opdrag om elkeen te vang, wat maar te vang is en om geen middel onbeproef te laat, om een of ander siel vir die hof van die vors van alle verdorwenheid en leuens te vang nie. Met so `n opdrag begewe die slegte handlangers hulle dan op allerlei sluipweë na die bo-wêreld; hulle weet hoe om hulle bose bedoelinge daar so goed as wat maar moontlik is, te kamoefleer, sodat geen beter gees wat hy uiteindelik teenkom, argwaan teen hom sal kry nie. Word daar rekenskap van hom verlang, dan gee hy altyd `n respektabele rede op en smeek die wagters, wat meer mag het as hy, om hom na bo te laat gaan, sodat hy meer ervaring sal kry en geleentheid kan hê om die baie foute van vroeër goed te maak, hom te verbeter en dan langsamerhand in die ware lewenslig binne te gaan.

[3] Aangesien daar, sowel in die ryk van die goeie, as van die bose geeste, egter niks soseer gerespekteer moet word as die vrye wil nie, vir sover dit nie al te growwe kwaad in die mou voer nie, word hy vrygelaat, maar natuurlik onder voortdurende, heimlike toesig; want hy moet later nie kan sê: 'Ek wou die weg van verbetering opgaan, maar julle het dit nie toegelaat nie!”

[4] Maar as `n mens dit vir hom toestaan en hom die geleentheid daartoe veelvuldig bied, wat meestal misbruik word, dan het hy daarna ook niks in te bring as hy in `n slegter toestand moet terugkeer as dit waarin hy hom aanvanklik bevind het nie.

[5] Wat doen sulke bose spitsboewe (opperskelms) nou as hulle in die bo-wêreld aankom? Hulle gryp werklik alle moontlike middele aan om hulle geheime voornemens ten gunste van die hof van Satan te realiseer. Enkeles, wat in die gunstigste geval van mense afstam, wat vroeër in hulle lewe op aarde hoogmoedige en ryk grondbesitters was, gaan na hulle afskuwelike kastele wat nog hier en daar te vinde is, spook daar rond en wil die mense daarop wys dat in so `n kasteel nog een of ander skat begrawe lê. As daar, as gevolg van sulke spookverskynsels, `n paar dom mense werklik hierop opmerksaam gemaak is, dan begin hulle ook baie gou die bose gees wat rondspook, deur allerlei magiese tekens, instru­mente en formules te besweer, met die bedoeling dat hy hulle sal wys waar die skat begrawe lê en hoe en waar mens moet grawe om dit te vind.

[6] As so `n kwaadaardige bewoner van die ou kasteel dan weldra merk, dat hy die mense deur sulke los spookverskynsels aangetrek het, dan is hy die besweerders dikwels terwille en toon hulle deur allerlei verskynsels aan, waar so `n skat begrawe is; en dan gaan grawe die mense en vind meestal niks, waardeur hulle egter dikwels nie wyser word nie, maar hulle werk met nog groter ywer voortsit. By sulke geleenthede gebeur dit dan, dat so `n helse makker soos `n tierkat `n prooi uitsoek, hom beetpak en hom op alle moontlike maniere in sy vlees indring, wat die maklikste gebeur via tot hulle geneemde spyse of drank, veral as sulke na skatte hunkerende werkers hulle spyse of drank nie eers in My Naam geseën het nie. As so `n bose spookgees sy doel bereik het, dan is die spokery in so `n ou kasteel gewoonlik ook afgeloop.

[7] Het so `n spookgees dan in die vlees van `n mens binne gedring, dan sluip hy soos `n kat om die hart van die mens heen. Hy ken weldra sy swak kante en begin hom sy bose neigings, wense en begeertes in te blaas. Word dit dan goedkeurend deur die menslike hart opgeneem, dan bly sy Eksellensie baie rustig in die vlees en sien slegs toe hoe so `n mens langsamerhand ywerig volgens helse influistering begin te handel.

[8] As so `n mens alles gedoen het, wat so `n bose gees wat in hom woon wil hê, dan bewerk hierdie gees gewoonlik `n dodelike siekte in die vlees en probeer dit so vinnig moontlik op hierdie manier te bederwe en die siel wat vir sy strewe geswig het, aan die vlees te ontruk, om haar dan soos `n goeie buit aan sy heer en gebieder se voete te lê.

[9] Maar daarna verloop die saak nie meer volgens die plan van die gebieder nie; want sodra die siel die vlees verlaat - of sy nou goed of sleg is - word sy dadelik deur engele in ontvangs geneem. Die verdorwe jagter word egter gevoelig getugtig en die moedersiel slegs na haar heer en gebieder terugverwys, waar dan weer `n baie sterk tugtiging plaasvind; en `n soortgelyke gees, wat so onhandig opgetree het, word dan nie somaar weer in die jaggebied gestuur nie.

[10] Die siel word egter met haar inwonende gees deur die engele in so `n toestand gebring, waarin sy langsamerhand erken hoe dit met haar wêreldse gedrag gesteld was. As sy haar wil bekeer, dan gaan sy steeds hoër, maar as sy hardnekkig is, dan sink sy steeds dieper tot in die gevoeligste straf. Maar as sy dan nog geen terugkeer kan bewerkstellig nie, dan eers mag sy volgens haar eie vrye wil `n proeftog in die hel maak. Beval dit haar daar, dan bly sy daar volgens haar eieliefde, beval dit haar nie, dan mag sy weer terugkom, wat selde gebeur, omdat die hel volgestop is met die mees bedrieglike, baie belowende maar niks realiserende lokmid­dele nie. Want daar heers bedrog op groot skaal, wat daarop ingestel is om so `n siel steeds nader aan die eintlike wese van die Satan te bring, sodat sy `n geheel ooreenstemmende deel van hom sal word, wat egter nooit kan gebeur nie, omdat elke siel al `n eie gees in haar het en nie daarvan kan loskom nie - die gees is teenoorgesteld aan die van Satan.

[11] Wil so `n siel nader aan die Satan kom, dan tree die gees in haarself op as regter, wreker en as bestraffer en hy pynig die siel van binne af met `n vuur wat nooit geblus kan word nie en deur hierdie pyn word die siel so ver as moontlik van Satan verwyder, waardeur sy dan weer in `n soort verbeterde toestand oorgaan. As sy met hierdie verbetering verder wil gaan, dan word dit vir haar steeds makliker, hoe meer sy die suiwerheid van die gees wat in haar woon nader.

[12] As hierdie verbetering steeds verder gaan, kan sy ook salig word, as sy word soos wat haar gees is. Want dit is die verskil tussen saligheid en verdoemenis. By saligheid gaan die siel heeltemal in die gees oor en die gees is dan die eintlike wese. By die verdoemenis wil die siel egter die gees uitstoot en `n ander aanneem, naamlik die van Satan. In die geval word sy totaal ongelyk aan haar gees, omdat die gees in haar van `n volkome teenoorgestelde polariteit is. As sodanig oefen hy dan `n teen­oorgestelde krag uit, die wat Satan voortdurend met baie geweld afstoot; hoe meer `n siel die wese van Satan nader, des te hewiger is die reaksie van die gees in haar teenoor die gees van die Satan. Hierdie reaksie is vir die siel nou die mees pynlikste gevoel en daarvandaan kom ook die meeste lyding en die helse pyn, en dit is dan ook hierdie reaksie, wat hom kenbaar maak as die onuitblusbare vuur. En dit is ook die wurm in die siel, wat nie sterf en wie se vuur nie uitdoof nie; en dit is dan een en dieselfde vuur, wat in die engel die hoogste saligheid en in die duiwel die grootste ongeluksaligheid teweegbring.

[13] Uit hierdie gedenkwaardige beskrywing kan mens `n goeie voorstelling vir homself maak oor die wese van die hel en oor die manier van die handelinge van die Satan. Maar dit is nie die enigste manier waarop die Satan die een of ander siel vir hom probeer vang deur middel van sy handlangers nie, wat meestal uit sulke verdorwe siele bestaan.

[14] As hierdie siele, as tydelike handlangers van Satan, van die beter soort is, dan word dit hulle ook nie verhinder om soms die liggaam van onskuldige mense, selfs van kinders, in besit te neem nie. Maar by sulke mense word die siel en die hart baie sorgvuldig beskerm teen influisteringe.

[15] As so `n, iets minder boosaardige, tydelike emigrant uit die hel, goed wil doen, dan kan hy genade en erbarming deelagtig word, wat so `n onskuldige mens voortdurend ondervind. Gedra hy hom egter nie soos dit hoort nie en hou hy lelik huis in die liggaam wat hy beset, dan word hy baie gou na buite gewerp of op `n ander manier daarbinne tot rus gebring.

[16] Dikwels kan `n liggaam deur verskillende geeste in besit geneem word, maar dan moet sy vooraf vrywillig aankondig dat sy maar net genesing daar soek - en dan word haar wense toege­staan. Dit gebeur, omdat sulke geeste die raad van die engele, naamlik om hulle eerder tot die Heer te wend, nie opvolg nie, maar gewoonlik hardnekkig is en daarby bly volhou dat hulle maar net langs hierdie weg tot die Heer kan kom. En dan word hulle toegestaan wat hulle wil; want die engele onderrig steeds volgens die weg van die ervaring.

[17] Dit is sekerlik nie die gewone gang van sake nie, ofskoon soms ook wel; vandaar dat dit slegs eenmaal toegestaan word en slegs by hoë uitsondering tweemaal. Daarna kom daar `n ander weg, naamlik die weg van die oordeel, die straf, die pyn en die kwellinge. Die trotse siel verdra heelwat, maar as dit vir haar dan tog te bar word, dan draai sy weer om, tenminste tydelik.

[18] Die vernaamste fout van die siel - eintlik afkomstig van die influisteringe van die Satan - bestaan daarin, dat as dit ietwat beter met haar gaan, sy haarself verwyte maak - maar geen berouvolle nie, - dat sy haar deur die pyn laat bangmaak en terugdrywe het. Het sy die pyn uitgehou, dan sou sy met die mag van Satan syne geword het en met die heerlikheid van die Heer was dit dan gedaan. Deur sulke waandenkbeelde keer sy weer tot nog groter verdorwenheid terug en in die onderste hel is daar werklik sulkes, wat hierdie waan teen `n voortdurende, steeds groter wordende kwelling en pyn in, nie laat skiet nie en as`t ware hulle triomfering vind om aan die Heer, ook onder die grootste pyn, weerstand te bied. Maar dit maak nie saak nie; daar sal nog wel `n tyd kom waar hulle in die noute gedryf sal word. En by wie die hardnekkigheid so groot is, dat ook die volle maat van die toornvuur, haar nie tot terugkeer kan bring nie, sy sal haar dan net moet laat welgeval om met haar sentrum, nadat haar gees weggeneem is, die bekende reis na die ewige verderf te maak, wat werklik geen groot verlies sal wees nie; want Ek kan vir Abraham ook uit klippe baie beter kinders verwek!

[19] Oor besete wees moet mens hom nie te veel verontrus nie, want byna elk mens het sulke gaste in sy vlees. Waarom en hoe word in die volgende uiteengesit.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205