Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 59

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Oor die luste van die vlees en die sinne

13-3-1847

59 Mense weet dat sommige mense baie met vleeslike luste behep is, manne sowel as vroue, terwyl daar ook mense is, by wie die sinlik-vleeslike byna heeltemal gevoelloos is; sulke mense doen niks nie, al sien hulle die mees verlokkende liggaam voor hulle. `n Welgevormde vrouevoet, `n arm, `n bors as die gebruiklike uithangborde van die vroulike geslag om die sinlike drifte by die man op te wek, beroer `n nie-sinlike dikwels netso min as `n houtpaal - waarteenoor weer ander by die aanskoue van die vroulike sinneprikkelende uithangborde heeltemal onstuimig word. Ja, daar is dwase wat by die aanskoue van `n vroue-arm so verlief word, dat hy gek sou word as hy so `n vrou nie tot eggenote of minstens tydelik vir sy sinlike genot kan gryp nie.

[2] Die rede vir so `n vleeslike neiging, veral as dit baie hewig op die voorgrond tree, lê gewoonlik in die besete wees deur een of meer geil vleesduiwels.

[3] Maar hoe beland hulle nou in die vlees van so `n mens? - Daartoe bied die mens self die geleenthede daarvoor. Sulke vleesduiwels woon ten eerste in die ophitsende dranke, in wyn, ook in bier en veral in die gestookte dranke. As mense hulleself met sulke dranke in `n roes drink, dan het hulle deur hierdie dranke sekerlik een, so nie, meer vleesduiwels in hulle vlees opgeneem. As hulle egter eenmaal in die vlees is, dan prikkel en kwel hulle die genitalieë so sterk, dat die mens nie anders kan as om sulke prikkels deur die sinlike genot van die vlees te bevredig nie, en wel met vroue of soms ook selfs met diere. Hierdie vleesduiwels is natuurlik niks anders as onsuiwer siele van gestorwe mense, wat hulle oorgegee het aan drank of wat baie sinlik was. Hulle kom wel om verbeter te word in die vlees van `n nog lewende mens, maar juis omdat die vlees hulle element was, gaan hulle dikwels in so `n mens wat hulle beset het, nog erger te kere as vroeër in hulle eie vlees.

[4] Juis hierdie verdorwe vleessiele veroorsaak meestal, as hulle dit te ver dryf en vuriger word in hulle onsuiwer luste, die afskuwelike en baie gevaarlike sogenaamde sifilitiese siektes, wat deur die beskermende engelgeeste toegelaat word, sodat die siel van die eintlike mens nie heeltemal ten gronde sal gaan in die rasende woede van sy vlees nie.

[5] Sulke opswepende dranke is dus die eerste weg, waarop die vleesduiwels in die vlees van die mense kom.

[6] Die tweede weg, net so gevaarlik as die eerste, is die openbare dans geleenthede. Mense kan aanneem dat daar op `n bal (dansplek) ook altyd tien keer soveel onsigbare, vleessugtige, onsuiwer siele is as wat daar gaste op so `n bal aanwesig is. Op so `n manier beland hulle die maklikste in die vlees, wat hier erg opgewonde word en daardeur uitstekend in staat is om soortgelyke onrein sielegespuis op te neem. Om hierdie rede voel mens na so `n bal vir alles wat hoër en verhewener is, gewoonweg `n teensin, wat in stede, veral by studente maklik deur elkeen gesien kan word, omdat dit dikwels gebeur dat baie vlytige studente na `n bal gaan, inplaas van dat hulle aan hulle boeke dink, en voortdurend die wit hals, boesem, arm en oë van hulle met wie hulle gedans het, voor oë het en hulle met byna niks anders meer besighou as met haar, wat op die bal so `n groot lus by hom opgewek het.

[7] Baie studente bekommer hulle dan gladnie meer oor hulle studies nie. Menigeen bestudeer daarna, in plaas van die wetenskap die brood, om maar so vinnig moontlik met sy lieflike dansmaat `n paartjie te word - kom wat wil. En as so `n paar dan ook inderdaad `n egpaar word, dan is dit `n egpaar wat net soveel lyk na `n wesenlike egpaar, soos die dag teenoor die nag. 

[8] Die eerste tydperk van so `n egpaar word maar net in sinlike lus deurgebring, sodat binne `n kort tydjie byna alle spesifika, wat vir die verwekkingskrag bestem is, tot onder nul verbruik word. Dan tree daar gewoonlik weldra `n geweldige verslapping van die vlees, en veral van die genitalieë, in. In sulke gevalle probeer die vlees­duiwel wat in sulke mense woon, sover terug te tree, deurdat hy die siel, veral deur die niere, influister - soos `n huisarts dit doen - om ander vlees te soek. Daardeur kry man en vrou `n afkeer van mekaar. Sy begin so langsamerhand na jonger huisvriende te kyk, hy gaan egter saans gewoonlik `n luggie skep en as hy meer vermoënd is, maak hy reise om verandering van lug te hê. En so gaan alles verder, totdat hulle uiteindelik so genoeg van mekaar kry, dat hulle skei of hulle laat mekaar onder egtelike skeiding plaas. Maar in huise van beter families word `n ooreenkoms getref, dat elkeen, wat betref sy sinlike lus, kan doen wat hy wil. Soortgelyke verskynsels, wat teenswoordig aan die orde van die dag is, is louter produkte van balle en dansgeleenhede en is die gevolge van die besete wees deur bogenoemde bose vlees­duiwels.

[9] Die besete-wees op sigself is weliswaar aanvanklik nie met dieselfde hewigheid as byvoorbeeld by diegene, wat deur opswepende dranke soortgelyke onrein geeste in hulle opgeneem het nie. Die geeste uit die ophitsende dranke word maklik deur `n kragtige gebed van die siel deur sy gees verwyder, waarop die normale toestand van die vlees dan weer kan intree. Maar die besetenheid langs die weg van die openbare dansgeleenthede is nie so maklik te herstel nie en daar sal baie vas, bid en self­verloëning daarvoor nodig wees, waardeur die siel haar meer en meer met haar gees verenig, wat die bose tuig dan deur middel van haar gryp en dit uit die huis van die siel verwyder. 

[10] Maar waar vind jy sulke dansers of danseresse wat dit sal doen? Gewoonlik eet hulle al tydens en na die dans nog meer as daarvoor en wil hulle weer daardeur versterk, wat soveel wil sê as dat die vleesduiwel lewenslank pensioen en onderdak met siel en bloed gewaarborg kry.

[11] Baie wat dans gaan ook, wat hulle liggaam betref, in `n kort tydjie ten gronde as hulle teveel van soortgelyke gaste in hulle opgeneem het; want as hierdie verdorwe indringers in die vlees geen plek in die niere en in die geslagsdele vind nie, dan gaan hulle ook in die milt woon of in die lewer of die longe. Waar so `n emigrant uit die hel egter sy intrek neem, daar dood hy as`t ware die vlees en die gevolge daarvan is verharding van die milt en lewer en tuberkulose en tering in die longe, maar as twee of meer van hulle op die longe gewerp is, kan die sogenaamde vlieënde tering ook intree.  

[12] Ek sê vir julle, en julle kan dit rustig aanneem: Die meeste siektes by die mense is afkomstig van hulle helse inwoners, wat hulle self `n toegang in hulle vlees verskaf het.

[13] Dit is dus egte kinders van die wêreld en baie begin in hulle jeug al die skool van die hel te deurloop. Sodat hulle egter nie sal merk dat hulle in hulle vlees vreemde gaste van die slegste soort herberg nie, probeer hierdie geeste nie net die vlees van hulle gashere so sinlik moontlik te maak nie, maar hulle werk ook in op die siel, sodat sy haar in allerlei wêreldse dinge tuis begin voel.

[14] Hierdie wêreldse dinge is: Mode; die verlokkende vlees moet volgens die mode geklee wees, die hare gekrul, die vel met welriekende speserye ingevryf word en by die manlike individue mag die helse sigaar nie ontbreek nie en menige jong modegek rook, as hy maar `n bietjie geld besit, dikwels in een dag soveel, dat tien armes ruimskoots genoeg brood hiervoor sou kon gekoop het.

[15] Weet julle egter ook wat hierdie rookmode beteken? Die bose inwoners doen moeite om die siel al tydens haar lewe aan die helse damp en stank gewoond te maak, sodat sy na die uittrede uit haar liggaam, hulle stinkende geselskap nie dadelik opmerk nie en dit ook nie so gou sal voel, wanneer hierdie skone geselskap haar heeltemal onverwags in die hel invoer nie.

[16] Daar is al wel gesê, dat elke siel na haar dood eers in die geselskap van die engele kom, waar haar slegte geselskap dadelik moet terugwyk. Dit gebeur ook wel in die geval; maar so `n siel bly nie altyddeur in die geselskap van die engele nie, maar word in so `n toestand deur hulle verplaas, waar dit vir haar moontlik word om haar aan te vul, of beter gesê, sy word op so `n plek gebring waar sy deur `n bepaalde vrye wilsbesluit die spesifika weer kan terugkry, wat sy vir haar voltooiing nodig het, omdat sy dit op die wêreld verkwis het.

[17] Op so `n plek kan so `n siel dan ongemerk deur die vroeëre bose vleesgeselskap genader word. Hoewel hierdie helse wesens vir `n ietwat meer suiwer siel stink soos die pes en die siel die teenwoordigheid maklik bemerk, is die reukvermoë van die siel in hierdie geval dikwels so bedorwe, dat sy so `n benadering nie opmerk nie. Want van sien is tog geen sprake nie, omdat die siel ten eerste veels te min lig het en die sig van die siel tog ook van binne-uit gaan en sy daarom maar net kan sien wat in haar is en nie wat buite haar is nie.

[18] Sulke geeste bevind hulle buite so `n siel, daardeur sien sy hulle nie, maar deur haar reukvermoë kan sy van hulle teenwoordigheid gewaarword en hulle standpunt presies te wete kom en as sy dit weet, kan sy haar in haar gees terugtrek, wat haar dadelik verlig, waardeur sy dan ook dadelik kan sien, waar haar vyande hulle bevind en wat hulle wil hê. En sien die helse eenmaal die aangesig van hierdie siel, dan vlug hulle ylings weg. Want `n helse gees kan alles verdra, behalwe die oog van `n suiwer siel, natuurlik nog minder die van `n engel. En om hulle teen My oog te beskerm, word daar berge aangeroep ter dekking.

[19] Hieruit kan julle maklik aflei, waarom Ek al verskeie kere geywer het teen die hoogs afskuwelike tabakrook. Tegelykertyd het julle deur hierdie gedenkwaardigheid gesien, hoe die oormatige vleeslike lus in die mens ontstaan, waartoe dit lei en hoe die mense hulle maklik daarteen kan beskerm. - Hierna sal ons weer ander gedenkwaardighede bekyk en die passende lesse daaruit leer.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205