Genesing deur Sonlig
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 1

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16.

Algemene inligting aangaande die genesende kragte van die son

1 Wanneer dit by aangeleenthede van genesing kom, is die mate en die gewig van die genesende middels nie so belangrik nie, maar ALLEEN die regte geloof en die regte vertroue in My moet in ag geneem word. Soos jy weet, het Ek die vermoë om iemand te verdrink in `n paar druppels water, en tog kan Ek iemand wat in die oseaan ingeval het, lewendig hou.

Die vermoë van die materiale, sover dit betrekking het op genesing deur sonlig, het geen effek indien hulle nie die son se strale aantrek en behou volgens die toestande hierin beskryf nie. Wanneer hierdie stowwe eenmaal hierdie doel bereik het, en as hulle in gevalle van siekte saam gebruik word volgens die strengste onderhouding van die dieet soos wat hierin beskryf is, met die regte geloof en volgens die regte dosis, sal hierdie geneesmiddels nie faal om die verlangde resultate te bereik nie.

Bo alles, veral met betrekking tot die een wat die siek persoon gaan help, is `n onselfsugtige goeie wil en `n vaste vertroue noodsaaklike vereistes ten einde die siek persoon te help in die Krag van My Naam met so `n seën soos wat Ek aan so `n persoon openbaar het. Jy kan nie altyd so `n volkome geloof verwag van `n siek persoon nie, maar, as die siek persoon `n volkome geloof het, sal hierdie geneesmiddels hul effektiwiteit bewys as baie betroubaar en ook baie gouer.

In vroegste tye, toe die mens alreeds die aarde bewoon het, het hulle gebruik gemaak van die son wanneer hulle enige ongerief van die liggaam opgemerk het; hulle het die sonlig en haar warmte as die enigste geneesmiddel gebruik om hul gesondheid te herstel.

Die siek persoon het in die son gelê en het sy naakte vel van daardie dele van die liggaam waarin hy `n swakheid, ongerief of pyn ervaar het, aan die son blootgestel; hy het water gedrink van `n helder en skoon fontein, een wat blootgestel was aan die son en het baie vinnig beter gevoel.

Die eerste inwoners van die aarde het selde of ooit water gedrink wat nie vir `n ruk aan die son blootgestel was nie, want dit was die gebruik in daardie dae.

Diep en bedekte putte was vreemd vir hulle, niemand het water gedrink van `n fontein wat nie aan die strale van die son blootgestel was nie, want hulle was bewus daarvan dat dit skadelik was. Hulle kon ook die growwe en somtyds bose geeste sien wat hierdie donker waters beset het totdat die boosheid deur die sonlig uitgedryf was.

Voorwaar, `n diepliggende waarheid lê in die voorgenoemde, want dit is nie moeilik om te verstaan dat die lig van die son suiwerder geeste dra nie. Hierdie geeste het die naaste verhouding met die wesenlike deel van die menslike siel. Deur die invloed van hierdie suiwerder geeste word die siel versterk op `n aansienlik meer kragtige manier, sodat die siel wat op hierdie manier versterk is, in staat kan wees om maklik en doeltreffend met enige swakhede te deel wat in die liggaam sal ontwikkel. Want die gesondheid van `n liggaam is alleenlik afhanklik van `n siel wat genoegsame sterkte het.

Wanneer daar oorspronklik enige tipe swakheid in die wesenlike dele van die siel ontstaan, en die siel op haar eie nie die korrekte orde van dinge kan bereik wat sy vereis om die verswakte dele te versterk nie, wend sy haarself na haar eie senuweegees toe en onttrek van hom wat sy kortkom. Maar as dit plaasvind, gebeur dieselfde ding wat met `n battery gebeur wanneer hy pap word. Die senuwees ervaar `n duidelike verlies van hierdie spesifieke noodsaaklike vloeistof want hierdie vloeistof voorsien die enigste middele waarby die senuwees hulle korrekte spanning kan behou. Hierdeur word die senuwees honger, om dit so te stel, en hulle begin om voedingstowwe vanuit die bloed te absorbeer wat nie skoon genoeg is vir hulle doel nie. Wanneer dit gebeur, ontwikkel daar `n onnatuurlike beslissende proses in die geaardheid van die vlees wat allerhande verskillende siektetoestande tot gevolg sal hê. Hierdie siektes realiseer met betrekking tot hulle ooreenkoms met die een of ander deel wat swak geword het in die siel, soos vasgestel deur die siel. Hierdie vasstelling van die siel is `n baie diepliggende proses.

Al daardie spesifieke sielsubstansies, waaruit die siel bestaan, kan gevind word in die suiwer geeste. Daarom is dit maklik vir die siel om van hierdie geeste te neem wat sy benodig ten einde haarself te versterk, sodat sy die voormalige orde in haar senuweegees kan herstel en om deur die senuweegees die korrekte natuurlike lewens­belangrike spanning in die senuwees en in die bloed daar te stel.

Dit is waarom daar allerweë voorkeur gegee moet word aan homeopatie in plaas van allopatie* Want deur homeopatie word die siel voorsien met iets geestelik en dit is verwant aan die siel. Die siel word die geneesheer van haar eie liggaam wanneer sy van buite af inneem wat sy kort, of as sy iets inneem ten einde iets te versterk wat swak geword het. (*allopatie´. Genesing deur middel van teëwerkende geneesmiddels; teenoor homeopatie. H A T)

Daarteenoor word die liggaam deur allopatie geforseer om die geneesheer van sy eie siel te word, in stede van omgekeerd.  En as die siel dan gesond sou kon word deur die grootste lyding van die liggaam, dan kon die siel retrospektief haar liggaam begin herstel, wat sekerlik die mees onvanpaste metode is om die liggaam tot volkome gesondheid te herstel. `n Mens kan dit maklik waarneem wanneer die lang herstel van die siek liggaam sowel as die lang herstel van die siel in ag geneem word. Daarom is homeopatie een van die korrekte metodes van genesing, maar onthou dat daar twee tipes homeopatie is.

Eerstens is daar die “spesifieke homeopatie” wat betreffende sy sukses van meet af onseker is. Maak nie saak hoe bedrewe die geneesheer mag wees nie, hy sal nie in staat wees om presies te identifiseer waar en watter dele in die siel verswak is nie. Dit is waarom hy nie gebruik kan maak van die korrekte sielspesifikums nie. `n Geneesheer wat egter in die gees wedergebore is, is wel in besit van hierdie uitsonderlike vermoë. Maar `n geneesheer wat nog nie heeltemal wedergebore is nie, of glad nie in die gees wedergebore is nie, sal nie in staat wees om dit te vermag nie, ondanks al sy intellektuele vaardigheid, hy mag dit dalk eers vermag na baie moeilikhede.

Om hierdie rede moet die noukeurigste aandag gegee word en voorkeur moet gegee word aan die tweede tipe homeopatie, wat Ek “universele homeopatie” genoem het, ten einde dit te onderskei van die eerste, want dit maak nie saak wie die geneesheer is nie, solank as wat hy `n sekere vaardigheid besit, sal hy nie faal nie.

Dit is hierdie tipe homeopatie waar Ek jou voorheen van kennis gegee het op 16 Julie 1851, vervat in die boodskap getiteld “Die genesende magte van die sonstrale”.

Nou kom die vraag op: Hoe kan ek dit bewerkstellig? Wat moet ek doen?  Ek sal een metode aan die begin van die boekie toon. Hierdie metode is of sal voldoende gewees het as teenswoordige mense meer aandag sou begin skenk aan die lewenswyse van die vroegste tye, wat getrou onderhou was deur die mense van die vroegste tye.

Ons huidige lewenswyse verhoed ons om die sonlig te gebruik as genesing soos wat die mense van die vroegste tye gedoen het. Die rede hiervoor is die oormatige verfynde voeding, want genoemde voeding neem deel van die noodsaaklike bestanddele weg van die siel eerder as om haar te voorsien. Wat ookal deesdae vir die siel voorsien word, is deur en deur sleg en onder hierdie omstandighede kan die son geen tipe genesing tot stand bring nie.

Om hierdie bogenoemde rede wil ek jou verskeie verskillende tipes van songenesingsmiddels gee sowel as die vereiste dieet. Die sonlig geneesmiddels moet toegedien word presies soos aangetoon in die instruksies wat sal volg. Verder is die dieet van die allergrootste belang en moet presies nagekom word, anders sal mislukking volg. As jy die aanwysings egter presies volg, sal jy elke kwaal kan genees, maak nie saak watter tipe dit is of wat die naam daarvan mag wees nie.

Selfs eksterne beserings aan die liggaam kan, met die korrekte toediening en bestuur van hierdie geneesmiddels, baie vinnig en effektief genees word.

Nou sal ons in besonderhede die verskillende maniere en metodes bespreek waarby die sonlig gesondheidsubstansie maklik verbind kan word met die subtiele materiële substansie, en hoe dit gebruik kan word vir siektetoestande wat mag plaasvind.

Enigeen kan sien dat die sonlig substansie kontak kan bewerkstellig met verskillende soorte materiaal; al wat jy net moet doen, is om na `n veld wat met blomme bedek is, te kyk.

Pluk die naaste klein plantjie wat jy sien, ruik sy aroma en proe dit. Die reuk sowel as die smaak sal sê: Ons het van die lig en die warmte van die son gekom.

Wanneer jy `n glasruit vir `n langer tyd aan die son sal blootstel, sal allerhande kleure binnekort op die oppervlak van die glas verskyn wat aan die son se kant is. Hoekom gebeur dit nie aan die binnekant nie? Omdat die sonstrale nie die binnekant eerste bereik nie.

Plaas `n potplant wat blom in `n donker kelder. Selfs as dit sal blom, sal jy uitvind dat die blomme self geen kleur sal hê nie, of dat die kleur baie effens sal wees.

Dit lei tot die gevolgtrekking dat die kleur van blomme, sowel as van vrugte ook die werk van die aktiewe liggeeste van die sonstrale is.

In daardie lande wat `n warmer klimaat het, soos die subtropiese en die tropiese lande, is nie net die kleurespel, wat die plante betref, meer lewendig en weelderig nie, maar ook betreffende die diere, is dit meer as in die gematigde of kouer klimate, waar byna alles oorgaan in `n gemeenskaplike grys kleur. Die aromas is ook nie so sterk en aangenaam nie, en die smaak is meestal bitter en vrank en dit is gelykstaande aan die getugtigde bitterheid van die verbanne geeste in die aarde.

Op hierdie punt kan iemand vorendag kom met die idee: As dit waar is dat al die verskillende spesies van plante, diere en minerale, veral in die tropiese dele, soveel van hierdie ligsubstansies van die son bevat, dan sal `n ander manier van voorbereiding nodig wees ten einde dit op `n kunsmatige manier van die son af te verkry. Dit kan dus op `n volkome natuurlike manier verkry word sonder `n baie groot poging.

Dit is `n baie geldige beswaar en tot nou toe is byna die hele mediese wetenskap op hierdie veronderstelling gebaseer.

Wie ookal gebruik sal maak van die welbekende genesingskruie sal verseker ten alle tye `n effek ervaar. Maar daar is nie een krui wat die vermoë besit om die gesondheidsligsubstansie van die son as `n geheel te absorbeer of te assimileer nie. Elke plant neem slegs (sy eie) spesifieke ligsubstansie op en niks meer nie. Want elke plant is op so `n manier gestruktureer dat dit slegs van die sonlig sal neem wat aanvaarbaar en in ooreenkoms met die spesifieke plant is.

As `n geneesheer die vermoë gehad het om die siek siel in alle besonderhede te ondersoek, wat verswak is van die essensiële of lewensspesifikums of selfs waar die spesifikums geheel en al afwesig is, en as hy die kennis sou gehad het watter krui die spesifike lewenspesifikum besit het, dán kon hy die gesondheid van die siek siel of siek persoon herstel het, wat in werklikheid een en dieselfde ding is.

Maar aangesien so `n grondige kennis van die mens en sy siel onbekend is vir die gemiddelde geneesheer, omdat dit `n onontdekte deel van die wêreld is, is sal bly, bly sy mediese diagnose en sy genesing meer `n raai-raai speletjie eerder as iets wat gebaseer is op gesonde kennis.

Wat die mens ookal aangeneem of ge-oormerk het van die genesende kragte van die plante, minerale en diere, hetsy dit deur ervaring opgedoen of meer dikwels by uitsondering deur `n gelukkige lukraak metode, genees hulle gewoonlik hulle siekes net met hierdie kennis en ervaring.

Die Nordiese gesegde kan van toepassing gemaak word op alle geneeshere, waar so `n geneesheer vergelyk word met `n knuppel: As die knuppel genadiglik die siekte raakslaan, dan word die pasiënt gesond, maar as die knuppel die siek mens tref in stede van die siekte, dan sal die pasiënt sterf.

Maar ons handel nou nie meer met ou ervarings en nuwe ervarings en hulle toepaslikheid op genesing nie. Daarenteen is ons besig om te handel met of ons gebruik `n wondermiddel wat in staat is om besielend en versterkend op die siek mensdom in te werk (solank die masjien of die organisasie van die liggaam dit toelaat), net soos wat die lig sterker en sterker in die lente word en die plante en die diere van nuuts af besiel en versterk as hulle organisme ontvanklik is vir so `n opbloeiing. Daar bestaan egter geen ding soos `n wondermiddel vir die ewiglewende fisiese lewe op aarde in gemeenskap met `n mens se siel nie, soos wat baie sogenaamde “wonderdokters” dit droom of noem nie.

Maar so ver as wat dit My orde aangaan, word hierdie middel gegee aan mense om hulle fisiese lewens op so `n manier uit te leef, dat as hulle volhou met `n behoorlike dieet en met die korrekte gebruik van die wondermiddel, die moontlikheid daar is dat hulle `n gesonde en baie rype ouderdom sal bereik.

Die voorafgaande opmerkings was absoluut noodsaaklik sodat almal kan verstaan hoe die verskillende tipes lewenspesifikums van die son se strale verenig met die Natuur. Dit is waarom ons nou kan oorgaan na so `n tipe opneembare apparaat vir sonstrale. Laat ons nou begin met die dieet instruksies.


 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205