Die Brief van Paulus aan die gemeente in Laodicea
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4.

Hoofstuk 3.

1. Ek sê dus: 'Vermy die leuen, wat die naaste afstammeling is van die Satan!', omdat u nou - soos ek deur Nymphas verneem het en ook deur die Gees van Christus in my verneem - grotendeels op menslike leerstellinge oorgegaan het.

2. Wat is die tempel anders as `n menslike instelling, `n dooie werk van mensehande, dus `n ydel droomwerk, wat dan ook steeds vergaan sodra die oog uit die slaap ontwaak?!

3. En omdat dit dit is, is dit `n leuen, wat u as voordeel neem om vir uself iets wys te maak en te bedrieg, omdat u dink om God hierin te eer; en u lieg God Self voor, as u dink om Hom daardeur `n belangrike offerdiens te bewys!

4. Julle dwase! Welke diens wil u dan die Almagtige bewys, wat hemel en aarde al geskape het voordat u deur Hom geskape was?! Wat besit u dan wel, wat u nie eers ontvang het nie; en as u dit egter ontvang het, waarom maak u dan asof u dit nie sou ontvang het nie?!

5. Wil u die Heer dalk `n aangename diens daarmee bewys, as u Hom in `n tempel, deur mensehande gebou, aanbid deur seremonies en wierook en deur dooie lang en breedvoerige gebede?!

6. O sien, hoeseer is u deur `n apostel van Satan verlei! Christus, in wie die volheid van die Godheid woon, is tog Self in die tempel tot die dood veroordeel - waarvan Hy vooraf Self die volledige ondergang voorspel het!

7. Hoe sou Hy dan nou `n welgevalle kan hê aan dit waarvoor Hy al sy dissipels, en in die gees ook vir my, tog baie gewaarsku het, toe Hy gespreek het: 'Behoed u teen die suurdeeg van die fariseërs en die hoëpriesters!' En u wil nou die ou 'geregshuis', wat vir God `n gruwel geword het, tot `n woonplek van die Heer inrig, sodat u Hom daar baie male sou kan doodmaak!

8. Hoe blind en hoeseer aan die wêreld geheg moet u tog wees, dat dit u nie direk opgeval het nie!

9. Is dit dan nie genoeg, dat die Christus één keer vir almal gesterwe het en ons almal nou saam met Hom, omdat ons nog in ons vlees saam met Hom opgestaan het tot die ware kennis van Sy Gees, wat in ons is, en tot kennis van die Vader, wat ons reeds liefgehad het, nog voor die wêreld bestaan het?!

10. Hoe dikwels wil u nog vir Christus doodmaak, Hom, die ewig Lewende, wat ons almal eenmaal uit die dood opgewek het tot die ewige lewe deur Sy heerlike opstanding?!

11. Ek, Paulus, sê vir u: Gaan heen en verwoes die tempel, skrap die vasgestelde feesdag van die kalenders, sit die valse biskop en sy knegte af, wat hom net soos die van Jerusalem deur die werk van u hande wil vetmes en `n groot yster kas laat maak het, waarin die goud en silwer wat deur u bymekaar gespaar is, bewaar word.

12. En verbrand die versierde klere, wat nou vir God `n gruwel is; dan sal u reeds daardeur vir die Heer `n verreweg aangenamer diens bewys, as wat u self duisend jaar lank in so `n tempel sou wil laat offer!

13. As u egter beslis `n welgevallige huis aan God in u midde wil hê, bou dan `n hospitaal vir siekes, lammes, gebrekkiges, kreupeles, blindes en stommes, en `n huis vir arme weduwees en wese en `n huis vir verongelukte vreemdelinge, sonder uitsondering, wie hulle ook mag wees!

14. Neem dit met vreugde en medelye op en deel u seëninge met hulle, soos ons Heer Jesus Christus dit tweemaal gedoen het, toe Hy met Sy oorvloed aan seëninge duisende hongeriges versadig het; dan sal u aan Hom, die enige Heilige, tot u heiliging `n ware welgevallige diens bewys.

15. Want daar het Hy Self oor gespreek, toe Hy gesê het: 'Wat u aan die geringste van hierdie armes doen, die het u aan My gedoen!'

16. Wanneer Hy Homself egter baie male duidelik uitgespreek het oor wat vir Hom `n welgevallige diens is, wat wil u dan doen met `n diens, wat vir Hom `n gruwel, `n walging en `n pestilensie is?

17. Een Hart vol liefde is egter vir God, die Heer in Christus die enigste tempel wat vir Hom welgevallig is en is Hy liewer daarvoor as `n wêreld vol tempels soos die van Salomo, wat almal dood is, terwyl die hart lewend is en God en alle broeders kan liefhê! Bou hierdie tempel dus opnuut geestelik in u en offer steeds opgewek hierin vir die Heer!

18. Nie die tempel, nie die seremonie, nie die priester en nie die biskop, ook nie Paulus en sy dissipels; nie die Jood, nie die Griek, nóg die besnydenis van die Jode aan die voorhuid, nóg die tempel van Salomo; dus ook nie die Oergriek, die Skithe, die heiden, die vrye, die kneg; nóg die sabbat, nóg die nuwemaan, nóg die jubeljaar is iets voor God nie, maar slegs Christus is alles in alles!

19. Neem daarom dan alleen vir Christus aan as die uitverkorene van God, as Sy heilige en Sy geliefde, deur die lewende geloof, deur die liefde, deur goedbedoelde erbarming met u broeders, deur vriendskap, vriendelikheid, deemoed, sagmoedigheid en alle geduld.

20. Laat in al hierdie dinge die een die ander verdra en vergewe mekaar van harte indien iemand iets teen die ander het; so sal ook ek u vergewe en die Heer, soos u mekaar vergewe!

21. Kla mekaar nie aan soos die heidene nie, wat hul eie regspraak het, maar wees verdraagsaam en geduldig jeens mekaar en bring u sake in orde met die hart. Dan sal u vir die Heer meer beteken as wanneer u alle wette van Moses - wat moeilik te begryp en nog moeiliker te hou is - stip in ag sou neem; want die Heer het geen behae in die wette van Moses nie, maar slegs in `n rein hart wat God en die naaste waaragtig liefhet.

22. En bekwaam u daarom vir alles in die liefde, want dit gaan vir die Heer maar net daaroor en dit is die enigste korrekte band met alle voleinding en volmaaktheid!

23. Laat die egte ware vrede van God in en deur die liefde in u harte regeer, in en tot vrede waarin u almal ook slegs geroep is in één liggaam in Christus die Heer; en as u Hom dank, dank Hom dan daarom altyd en ewig in die gees en in waarheid,

24. maar nie in `n dooie tempel, wat van geen enkele betekenis is vir God, die Heer en Gewer van die lewe nie, want Hy kyk slegs na die hart en die vrede daarin!

25. Laat die lewende woord van Christus ryklik onder u woon, in alle liefde en egte, volkome wysheid uit haar! Leer, vermaan en stig mekaar wedersyds met allerlei heerlike geestelike dinge en beskouinge,

26. met Psalms van liefde en ander lofsange en lieflike geestelike liedere; maar sing in die hart en maak geen los geblêr met die mond nie, dan sal u vir die Heer aangenamer wees as die ydele geklets van die Fariseërs, Jode en heidene, wat vanweë die goud baie met die lippe werk, terwyl hul harte daarby kouer is as ys!

27. Maar doen alles, wat dan ook, - sy dit met woorde of dade - in die Naam van ons Heer Jesus Christus en dank God die Vader in Hom vir alles; want Hy is die bemiddelaar tussen God en ons, - in Sy hart woon die volheid van die Vader!

28. Hoor nou egter ook julle, vroue van Laodicea: Die Heer ons God in ewigheid wil dat u in Christus die Heer, u manne geheel diensbaar sal wees; want in die man het julle die hoof van Christus.

29. Julle manne egter, het u vrouens op die korrekte wyse lief en wees nie hard teen haar nie; maar maak dit met die liefde tot haar nie so bont dat u daardeur die Heer sou kan vergeet nie - want die liefde tot die Heer moet vry wees, dus net asof u geen vrou sou hê nie.

30. En kinders, wees u ouers heeltemal gehoorsaam in alle dinge wat nie teen Christus is nie; want dit is Sy wil en is vir Hom aangenaam.

31. Julle ouers, verbitter nie die gemoed van u kinders deur harde woorde en mishandelinge nie, sodat hulle nie bang vir u word en soos lawwe kruipers en huigelaars word nie; want `n kennelike stywekop kan u deur liefde ombuig, - maar `n huigelaar en vleier is onverbeterlik.

32. So sê ek ook tot u, knegte en dienaars van u here: Wees hulle gehooraam in alle dinge, wat nie teen Christus is nie, en nie slegs vir die oog om u here daardeur te vlei nie, maar in ware eenvoud van u hart en in voortdurende godsvrug.

33. Alles wat u egter vir u here verrig, doen dit so asof u Christus die Heer dien in alle getrouheid van u hart - maar nie asof u die mens dien nie, - dan sal u ook eendag van Hom die loon van die heerlikheid ontvang.

34. Wie van u egter onreg aan sy heer doen, die doen dit ook in gelyke mate aan die Heer; die Heer kyk nie daarna of iemand heer of kneg is nie, maar slegs na die werk en die motivering daaragter.

35. Daarom sal die Heer ook eendag die passende loon gee aan hulle wat onreg doen. U kan wel die mense bedrieg, maar die Heer laat Hom nie bedrieg nie; want vir Hom lê u harte steeds oop.

36. Maar vir u werkgewers, sê ek ook dat u goed bedink, dat die knegte en dienaars ook u broeders is in die Heer; gee hulle daarom steeds wat reg is voor God! Gee hulle op hul tyd die korrekte loon met liefde in Christus en bedink dat ons almal een Heer in die hemel het, naamlik Christus, die heilige God van die ewigheid!

37. Wyk nie af van die gebed nie en bid sonder ophou met danksegging, - egter nie met die lippe nie, maar in gees en waarheid in alle eenvoud van u hart en in waaragtige toewyding en liefde tot Christus, die Heer!

38. Maar bid ook daarna vir my, sodat die Heer steeds die deur van die lewende Woord vir my mag oopmaak en ek voortdurend vir u en alle broeders in Christus mag spreek van Sy groot geheim en van Sy Ryk; want ek is ook nog aan die wêreld gebonde en is `n baie gewone mens, wat slegs kan profeteer, as die Heer die deur van Sy genade vir hom open.

39. Laat u lewenswandel teenoor elkeen wys en eenvoudig wees - ook ten opsigte van hulle wat ver weg is, Jode en heidene! U moet niemand veroordeel nie - of dit nou oor `n Skith, heiden, Jood, Griek of nie-Griek gaan, - maar voeg u wys volgens tyd en omstandighede!

40. U woorde moet steeds vir elkeen met liefde gekruie wees en gesout met die ware wysheid uit God; uit hierdie wysheid moet u steeds put as u met iemand spreek, sodat hy sal ervaar welke verskil daar is tussen die goddelike wysheid en die van die wysgere.

41. Ek, Paulus, dink nou dat ek niks nagelaat het om u te laat sien wat daar onder u leef en hoedat dit `n giftige onkruid is, ja `n skadelike gifboom, wie se uitwaseming alles verstik; verder het ek dus niks meer vir u te sê nie!

42. Maar dit, liewe broeders, moet altyd `n ware seremonie onder u wees, dat u in gees en waarheid God, die Vader in die Seun, die eer gee deurdat u Hom steeds bo alles in Sy Seun liefhet, wat vir ons almal uit liefde aan die kruis gesterwe het om ons die kindskap terug te gee, wat die vadere vanaf Adam almal verbeur het.

43. Ek vra u egter om God se wil, dat u waardige vrugte sal voortbring van `n totale ommekeer van u nuwe heidendom na die lewende kerk van God, wat in u, maar nie in tempels, gewade en in een of ander seremonie woon nie.

44. Die liefde van God en die genade van ons Heer Jesus Christus sy altyd en ewig met u!

45. Hoe dit met my gaan in Rome sal die troue broeder Tychicus u vertel, wat ek nou na u en na die Kolossense sal stuur, wat hulle in dieselfde mate as u deur die Satan laat verlei het.

46. Groet vir my alle broeders en Nymphas en die getroue gemeente in sy huis; want ek getuig dat hy opreg is en net soos ek voortdurend vir julle tot God bid.

47. Groet ook diegene wat in Kolosse is, as u na hulle toe gaan; want daar is enkeles onder hulle wat u ken, wat te alle tye opreg is en getrou in die geloof en die liefde tot God.

48. As die Kolossense hul brief gelees het, lees u hom dan ook, net soos ek u terwille van die Heer vra, dat u ook hierdie brief aan die Kollossense sal laat lees!

49. Want dit is net so nodig vir hulle as vir u. Ten slotte vermaan ek u skriftelik - soos Tychicus u almal ook mondelings sal sê - dat hierdie brief in alle gemeentes gelees moet word, netsoos die aan die Kolossense.

50. `n Eiehandige groet van my: Gedenk my liefde! - Die genade van ons Heer Jesus Christus sy met u!

 

Geskrywe vanuit Rome deur Tychicus en sy metgesel Onesimus, wat beide tot u gestuur is en ook tot die Kolossense.


 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205