Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 1

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

Bybeltekste en hul verborge betekenis

Voorwoord

Die inwendige woord en Jakob Lorber

Altyd was daar vrome, godvrugtige mense gewees wat die Stem van God in hulle hart gehoor het. Ons almal ken die vele plekke in die Ou Testament, waar die profeet gesê het: “En die Heer spreek tot my.” Ook die Nuwe Testament bevat gedeeltes wat hulle ontstaan te danke het aan `n innerlike openbaring, soos die “Openbaring van Johannes”. In die na-apostoliese tydperk het die kerkvaders Hiëronymus en Augustinus, later die mistici van die Middeleeue, Bernard van Clairveaux, Tauler, Suso, Thomas à Kempis en andere groot waarde geheg aan die innerlike openbaring. Jakob Böhme (omstreeks 1600) en Emanuel Swedenborg (omstreeks 1700) het geskryf op grond van visioene en intuïsies. Mens kan hulle nie as profete in die eintlike betekenis beskou nie, omdat hulle die innerlike woord nie besit het nie. Egte hoorders van die innerlike woord daarenteen, was die koopman Rulmann Merswin uit Straatsburg, wat omstreeks 1350 die “Nege Rotse” geskryf het, die Noord-Duitse dominee J.W. Petersen rondom 1700, skrywer van die “Duisend Openinge van die Gees” en Johannes Tennhardt uit Neurenberg, wat in 1712 selfs `n “Onderrig van die Innerlike Woord van God” gepubliseer het.

Maar veel belangriker as die geskrifte van die laasgenoemde drie verligte, vroom manne is die openbarings wat aan ons nagelaat is deur die Oostenrykse siener en profeet Jakob Lorber. Deur hierdie eenvoudige man met `n rein siel, het God in die jare 1840-1864 aan die mensdom `n allesomvattende, die Heilige Skrif aanvullende, bevestigende en verklarende Nuwe Openbaring van Sy goddelike wil, Sy ewige plan met die wêreld, Sy doel met die mense en Sy allesomvattende liefdesleer, gegee.

Jakob Lorber (1800-1864) was afkomstig uit Stiermarken en het hom na sy opleiding tot leraar en veelsydige musikus in Graz gevestig, waar hy musieklesse en per geleentheid ook konserte gegee het. Ook het hy gekomponeer. Die warm vriendskap wat hy onderhou het met die familie van Anselm Hüttenbrenner (direkteur van die konservatorium in Graz) en sy broer Andreas (gedurende baie jare burgemeester van Graz), kon hom, veral in die latere jare, nie altyd vrywaar teen ervarings van bittere materiële nood nie. Want ondanks sy baie bekwaamhede, kon Lorber geen vaste betrekking vind nie, totdat hy deur bemiddeling van Anselm Hüttenbrenner `n benoeming as tweede kapelmeester by die Opera van Triëst aangebied was, wat hy besluit het om aan te neem.

Maar tydens die voorbereidings vir sy reis hoor hy tydens sy oggendgebed op 15 Maart 1840 `n stem wat hom duidelik, soos vanuit sy hart, beveel: “Staan op, neem jou griffel en skryf!” Diep verbaas gaan Lorber aan tafel sit, plaas papier en pen gereed en ontvang nou op dieselfde wyse die begin van “Die Huishouding van God”: “So spreek die Heer tot my en in my vir elkeen en dit is waar, getrou en gewis ...”

Sy naaste vriende aan wie hy hierdie buitengewone gebeurtenis toevertrou het, was hoogs verbaas daaroor en maak hulle aanvanklik ernstige besorg oor die geestestoestand van die man wat baie deur hulle gewaardeer was. Gereeld woon iemand van die ingewydes nou sy misterieuse skryfsessies as getuie by. Die wysheid van dit wat deur Lorber opgeskryf was, het hulle baie spoedig tot ander gedagtes gebring. Lorber het daarby rustig by sy tafeltjie gesit. Hy het geen enkele boek of ander hulpmiddel byderhand gehad nie, en laat, geheel in homself gekeer, sy pen taamlik vinnig oor die papier gaan, sonder om `n onderbreking te maak om na te dink, of iets aan die geskrif te verbeter, netsoos iemand dit van `n ander persoon gedikteer kry.

Laat ons net luister na wat hy op 16 Mei 1858 oor hierdie innerlike stem aan `n vriend gesê het, wat hom daaroor gevra het: “Wat betref daardie innerlike woord, hoe ek dit verneem, daaroor kan ek, sprekend oor myself, weinig of niks sê nie, maar net dat ek die heilige woord van die Heer steeds in die hartstreek as `n baie duidelik uitgesproke gedagte verneem, helder en suiwer soos uitgesproke woorde. Niemand, ook al staan hy hoe naby aan my, kan iets van die stem hoor nie, maar vir my klink hierdie genadestem duideliker as welke luide stoflike klank ookal.”

Nog makliker dikteer hy dit wat hy innerlik hoor. Daarby het hy naas die vriend gesit, rustig voor hom uit kykend, sonder dat daar enige versteuring in die gelykmatige woordestroom opgetree het. En as sy diktaat onverwags vir `n langer tyd onderbreek word, kon hy, sonder om na te lees wat daar reeds geskryf was, dadelik weer by die laaste geskrewe woord in die korrekte samehang verder gaan.

Aan die roeping as “skryfkneg van God” het Jakob Lorber in onwankelbare trou sy verdere lewe opgeoffer, tot aan sy sterfdag op 23 Augustus 1864.

Van die werke van Jakob Lorber is die tiendelige “Die groot Johannes Evangelie” (die elfde deel ontvang Leopold Engel later via die innerlike woord) en die driedelige “Die Huishouding van God” die omvangrykste en ook wel die belangrikste. Die boeke oor die hiernamaals mag vir die meeste lesers van veel betekenis wees. Die vernaamste is: “Biskop Martinus” (1 deel), “Van die hel tot die hemel” (2 dele) en “Die geestelike son” (2 dele).

As aanhangsel by die tweede deel van die werk “Die geestelike son” beskryf Jakob Lorber `n reeks verklarings van Bybeltekste, wat hieronder die titel “Bybeltekste en hulle verborge betekenis” aangebied word.

Ter verduideliking word nog daarop gewys dat die term “sentraalson” in `n aantal hoofstukke gehanteer word. Hierdie term word onder andere in die boek waar dié aanhangsel by behoort behandel, en word in dié verband gebruik om aan te gee dat `n bepaalde teks `n groot geestelike betekenis het, of dan wel `n buitengewone helder lig versprei.

Die Uitgewer

`n Goeie reël om die Ou en die Nuwe Woord met vrug te lees.

20 Desember 1843 se aand

1 My liewe kinders! Met die volgende “aanvullings” wil Ek julle nou `n baie belangrike en nuttige voorskrif gee, waarsonder dit nutteloos is om goeie geestelike boeke te lees. Jy kan die Heilige Skrif netsoos dié Nuwe Woord duisend keer na mekaar deurlees, maar tog sal jy sonder hierdie reël geen stap verder daarmee kom nie.

2. Julle het deur die baie lees julle geheue tot by die rand volgeprop, maar vra nou net aan jou gees of hy ook baat daarby gevind het; dan sal sy vermoeide antwoord as volg lui:

3. “Ek is wel chaoties met allerlei boumateriale omring en daar lê hope balke en stene opmekaar gestapel, maar van al dié materiaal is selfs nie eens `n skamele hut gebou waarin ek vry sou kon woon nie. Julle stapel weliswaar voortdurend boumateriaal op suiwer edelstene en die mooiste sederhout lê hier in groot hope voor my, maar ek is nie in staat om dit te orden nie. En as ek al so hier en daar begin het om `n bietjie orde te skep, dan word daar alweer `n kolossale hoeveelheid nuwe materiaal aangebring, sodat ek goed moeg daarvan moet word en ten laaste huiwer by die aanblik van die omvang van die materiaal wat georden moet word. Weemoedig vra ek myself dan af wanneer al dié materiaal ooit net tot `n woning saamgevoeg kan word.

4. Kyk, dit is `n deeglike antwoord van die gees, wat elkeen wat baie lees duidelik in homself sal kan vind.

5. As so iemand gedurende sy lewe `n paar duisend boeke gelees het, wat `n chaos moet dit dan ten slotte in sy geheue wees. En in die beste geval sien hy na al daardie baie lees nou eers in dat hy eintlik nog niks weet nie.

6. Wat hou die bekentenis in? Dit is niks anders as een en dieselfde weemoedige klag van die gees, wat daarmee wil sê dat hy, ondanks die ontsettende groot hoeveelheid boumateriaal, selfs geen armsalige hut om vry in te woon, gebou gekry het nie.

7. So is daar mense wat die Ou- sowel as die Nuwe Testament letterlik uit hulle kop ken. Vra mens hulle egter na die innerlike betekenis van slegs één enkele vers, dan sal hulle byna ewe veel daarvan weet as diegene wat geen enkele vers uit die kop ken en nouliks weet dat daar `n Heilige Skrif bestaan nie. Watter nut het die pragtige materiaal dan vir hulle?

8. Die gees woon slegs in die geestelike. As daar van dié materiaal, in die innerlike Gees van die Waarheid, nie eens `n skamele hut vir hom gebou kan word nie, waar moet hy dan woon, waar sy rentmeesterskap uitoefen en van waaruit moet hy al die materiaal begin te sorteer?

9. Is dit dan nie beter om minder materiaal te besit, maar vir sy gees wel dadelik `n klein respektabele woning daarvan te bou nie, sodat die gees dan oor `n vaste, vrye plek kan beskik van waaruit hy verdere planne kan maak en nuwe aankomende materiaal daarvoor kan gebruik?

10. Hoe sou `n akker, ook al bestaan hy uit die vrugbaarste grond, lyk as `n mens derduisende gemengde sade tegelyk deurmekaar daarop uitsaai? Die saad sal goed opkom, maar wat het die saaier daaraan? Die opbrengs sal nouliks as minderwaardige veevoer kan dien. Die sterker plante sal die swakkeres verdring, die onkruid sal welig tier, en die graan sal slegs hier en daar yl en swak tevoorskyn kom.

11. Hieruit blyk dus duidelik dat oral, waar julle êrens baat by wil vind, eers `n ordelike toestand geskep moet wees; anders word daar dorings, distels, onkruid en knolle deurmekaar heen verbou, en het niemand iets daarvan nie.

12. Hoe sien `n dergelike ordelike toestand nou daaruit?

13. As jy uitgesorteerde koringsaad het, saai dit dan op `n sorg­vuldig bewerkte akker en jy sal `n goeie en suiwer oes hê.

14. Wie `n goeie bouterrein en geskikte materiaal het, moet ook nie wag om met bou te begin voordat hy te veel boumateriaal opgehoop het nie, want dan sou die hele bouterrein uiteindelik vol lê.

15. En as die argitek dan kom en hom vra: “Vriend waar wil jy die huis eintlik gebou hê?”, wat sal hy hom dan kan antwoord? Tog maar net: “Daar waar die groot hoop boumateriaal lê!”

16. En die argitek sal aan hom sê: “Waarom het jy dan eers al daardie materiaal op die bouterrein laat ophoop, voordat ons `n plan opgestel en die grond uitgegrawe het. As jy die huis nou op hierdie plek wil hê, moet jy eers al daardie materiaal wegruim en die plek heeltemal skoon maak. Dan sal ek terugkom, alles opmeet, die bestek maak, daarna die grond laat uitgrawe en ten slotte ondersoek of die materiaal wel geskik is vir die bou van die huis.

17. Kyk, uit hierdie gelykenis kan jy al vry duidelik opmaak dat iemand weinig nut het van die baie lees as hy daarby nie in die korrekte volgorde te werk gaan nie.

18. Wat is hierdie korrekte volgorde nou egter? Mens moet heel eenvoudig elke nuwe lading of besending materiaal vir die bou van die huis dadelik rangskik en eers die volgende lading boumateriaal bestel as hy die eerste verwerk het. Op hierdie manier sal die bou vinnig vorder en sal daar steeds voldoende vrye ruimte wees om `n werkbare hoeveelheid nuwe boumateriaal ordelik te stoor.

19. Kort en duidelik gesê, bestaan hierdie ordening eintlik daarin, dat elkeen dit wat gelees is, direk in praktyk moet bring en sy lewe daarvolgens inrig; sodoende sal hy ook baat daarby hê, anders sal dit hom maar net skaad, want mens moet nie net na die woord luister nie, maar ook daarvolgens handel.

20. Binnekort volg meer uitleg.


 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205