Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 11

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

 “Toe werp hy sy mantel af, spring op en gaan na Jesus.” (Markus 10:50)

9 Januarie 1844 se aand

11 As jy gekies het, skryf die teks dan maar vinnig op.

2. “Toe werp hy (die blinde Bartimeüs, wat langs die weg gesit het) sy mantel af, spring op en gaan na Jesus.”

3. Jy het `n buitengewoon passende teks gekies; hierdie teks sou elkeen wat blind in hierdie wêreld staan, tot `n ondergrond leidraad moet dien, omdat hulle sal moet doen wat hierdie blinde gedoen het om die ware lig vir die geestesoog te kry.

4. Waarom het die blinde sy mantel weggewerp? Hy kon net so goed met sy mantel aan na die Heer geloop het, toe Hy hom geroep het. Die blinde was verstandig; hy bedink dat die swaar mantel hom sou hinder om vinnig na die Heer te kan loop. Daarom werp hy die swaar kledingstuk weg en ontdoen hom so van die hindernis wat hom by die loop sou gehinder het. En die voordeel was, dat hy daardeur des te vinniger by die Heer gekom het en van Hom die lig in sy oë terug gekry het.

5. Wie is hierdie blinde eintlik? Hierdie blinde is die geleerde wêreldmens, met die goeie eienskap egter, dat hy van sy blindheid bewus is en ook weet wie hom van sy blindheid kan genees.

6. Daar sit baie van die blindes langs die weë en baie tas op allerlei plekke in die rondte. Maar wie langs die weg sit, sluimer in, bedwelm deur die opium van hulle geleerdheid en droom dan dat hulle kan sien. Hulle weet deur die verdowing van hulle geleerde droom nie wanneer die Heer op Sy weg by hulle langs sal kom en hulle weet ook nie dat hulle blind is nie; daarom roep hulle ook nie: “Seun van Dawid, help my!”

7. Ander egter, wat op alle moontlike plekke rondtas en so half en half die Een soek wat hulle siende sou kon maak, raak van die weg af; en wanneer die seun van Dawid verbykom, is hulle nie daar nie, en versuim, deur hulle dom gesoek, die oomblik waarop die seun van Dawid Hom op die weg na Jerigo bevind; daarom roep hulle ook nie, maar bly in hulle blindheid.

8. Wat is hierdie weg dan? Hierdie “weg” is die pad deur hierdie wêreld waarop `n mens beproef word; en “Jerigo” is die uiteindelike versamelplek vir diegene wat die weg afgelê het, of met ander woorde: Dit is in die eerste plek die innerlike wêreld van die gees.

9. Ons blinde was nie bang vir die dreigemente van die dissipels nie, want hy wis heel goed dat die Heer magtiger en barmhartiger is as Sy dissipels, wat hom bedreig het; daarom verhoor die Heer hom en toe Hy hom roep, werp hy die laaste belemmering van hom af, naamlik sy mantel, om so vinnig en veilig moontlik by die Een te kom wat hom geroep het.

10. Hierdie blinde is dus `n goeie voorbeeld en Ek sê vir julle: Doen netso, want julle is ook blindes langs die weg. Wag met ongeduld langs die weg op die Heer en as Hy verbytrek, laat jou dan nie afskrik deur die wêreld nie, maar roep Hom in jou hart toe of Hy Hom nie oor jou wil erbarm nie, en nie vir jou die lig van die ewige lewe wil gee nie. En waarlik, Hy sal Hom oor jou erbarm en jou gee wat jy vir Hom gevra het.

11. Die blinde werp sy mantel weg. Wat is daardie kledingstuk? Dit is die wêreld en ook die belesenheid en geleerdheid van die uiterlike verstand. Werp dit weg, sodat dit jou nie hinder om tot My te kom nie, want Ek roep jou immers daagliks.

12. Sou dit verstandig gewees het van die blinde, as hy hom, toe Ek hom geroep het, met nog meer mantels omgeef het? Waarlik, dit sou hom so beswaar het, dat hy nie eens van die grond sou kon opstaan nie, laat staan om met vinnige skrede na die Een toe te hardloop Wie hom geroep het.

13. Maar as Ek julle elke dag roep, soos wat Ek die blinde geroep het, sou dit dan verstandig wees as julle julleself vooraf sou toewikkel in alle moontlike mantels van wêreldse geleerdheid? Dit sou tog die grootste dwaasheid wees! Gooi liewer alles weg en hardloop in jou hart na My toe, en Ek sal die oë vir jou open en jou siende maak en lewend in jou gees, sodat jy met één blik meer sal kan bereik as wanneer jy duisende jare in jou blindheid sou rondtas!

14. Watter nut het die blinde van die fantastiese lig vir sy oë tydens sy droom? As hy ontwaak, is hy tog nog blind, blinder as ooit tevore.

15. Watter nut het kleding van groot geleerdheid en wysheid? Dit beswaar hom dusdanig dat hy nie kan opstaan as hy geroep word om die lewende lig te ontvang nie.

16. Die gees van die mens het bowendien alles al in hom; hy hoef maar net sy oë oop te maak om die eindelose volheid van die wonder van die lewe in homself te sien.

17. Maar wat wen die gees daarby, as die mens sy geheue en verstand met suiwer dooie skille en skimme opvul? Niks; hy verloor selfs baie en word sodanig deur `n wirwar van uitwendige korse, skille en allerlei skimme ingekapsel, dat hy nooit maklik daarvan bevry sal kan word nie, en nog minder tot die ontvang van die lewende lig vir sy oë.

18. Veronderstel dat jy die hele Bybel uit jou kop sou ken; `n ander het vir hom maar `n paar verse daaruit sy eie gemaak, maar het daar sy hele lewe streng daarvolgens geleef. By hom word die twee verse lewend en maak sy gees vry; by julle egter, is die hele skrif dood, daar is selfs nie één vers lewend vir julle nie.

19. Wat is nou beter, die twee lewegewende verse, of die hele letterklei van die Heilige Skrif, waarvan geen enkele vers in die lewe opgeneem word nie? Sekerlik sal die twee lewe-bringende verse beter wees hier. 

20. Mens sal miskien hier sê: “As iemand meer weet, kan hy ook des te meer daadwerklik in sy lewe opneem!” Ek sê egter: Die mens is My werk, daarom weet Ek die beste wat vir hom goed is.

21. Neem nou net `n leerling: byvoorbeeld in die musiek, lê hom dadelik `n omvangryke kursus voor en laat hom met alle hoofstukke tegelyk begin. Wat dink jy wat die resultaat sal wees? Niks! Want deur die groot hoeveelheid sal hy vermoeid raak en weldra die hele studie daaraan opgee.

22. Neem egter `n klein kursus en begin by die eerste toonleer en laat hom dit goed oefen. As hy sonder moeite die eerste toonleer baie gou goed kan speel, lewer dit dan geen beter resultaat op as die eerste poging met die hele kursus tegelyk nie?

23. Daarom sê Ek vir jou: Werp daardie oorbodige kledingstuk weg, neem `n klein kursus - en jy sal net soos die blinde langs die weg des te makliker kan opstaan en jy sal des te vinniger daarheen kan hardloop, waarheen Ek jou nou, netsoos elke ander dag, roep.

24. Waarlik, jy kan alle biblioteke van die wêreld aanmekaar lees, maar daardeur sal jy vir My geen haar beter wees en ook nie meer weet, as wanneer jy nooit iets gelees het nie. Waarom? Omdat jy, as jy die lig van My wil ontvang, dit alles moet laat val; want dit is alles niks anders nie as leë skille en waardelose strooi, wat vir die vuur bestem is.

25. Ontdoen jy jou nie van die leë skille en daardie strooi, voordat die lig van My vurige liefde tot jou kom nie, dan sal die vuur die strooi ontsteek en tot `n vertwyfelde brand in jou lei. Ruim liewer eers al die onsin op en gooi die nuttelose kledingstuk weg, - en as My vlammende lig dan in jou sal kom, dan sal dit geen brand veroorsaak nie, maar dit sal jou dadelik heerlik verwarm en jou hele gees verlig, - netsoos ook die blinde langs die weg in `n oomblik siende geword het, toe hy na My toe gekom het. 

26. Ek dink dat dié beeld onmoontlik helderder en duideliker weergegee kan word; maar dit moet, soos ook al die voorgaande, in die lewe opgeneem word, as dit lewende lig wil gee. Solank dit nie die geval is nie, sal jy dit wel met instemming lees en sê: “Dit is werklik baie mooi!” En Ek kan niks anders daarop sê nie as: “Dit is werklik baie dom van jou, want solank jy My lewende roep maar net mooi vind, bou jy huise op sand en My lewende saad val by jou op die pad en sal maklik vertrap word en sal geen vrug voortbring nie.

27. Wanneer jy dit egter dadelik lewend in jou opneem en daarvolgens handel, dan is jy verstandig, dan bou jy jou huis op rotse en val My saad in goeie grond.

28. Daar is vir My weinig daaraan geleë of jy My woorde mooi vind of nie; maar alles is vir My daaraan geleë, dat jy daarvolgens handel; want nie om hulle te bewonder nie, maar terwille van jou eie heil gee Ek hulle vir jou.

29. Oorweeg dit goed; want anders sal jy niks daaraan hê nie! - Die volgende keer weer `n sentraalson.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205