Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 17

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

“Moes die Christus dit nie ly om in Sy heerlikheid in te gaan nie?” (Lukas 24:26)

17 Januarie 1844 se aand

17 “Moes die Christus dit nie ly om in Sy heerlikheid in te gaan nie?”

2. In die aangehaalde teks word daarop gewys dat die heerlikheid van die ewige lewe nie deur groot belesenheid en geleerdheid nie, maar deur daadwerklike liefde bereik kan word.

3. Mens kan wel hier sê: Christus was tog self al die ewige lewe en het die heerlikheid daarvan in Hom. Waarom moes Hy dan tog ly om hierdie heerlikheid in te gaan?

4. Ek sê egter: Christus was maar `n mens en moes Hom as eerste fundamentele voorbeeld die volmaakte heerlikheid van God deur Sy dade geheel eie maak. En as Hy dit nie volbring het nie, sou dit met die hele skepping gedaan gewees het; want eers in Hom word Vader en Seun, of wat dieselfde is, die goddelike Liefde en die goddelike Wysheid weer één. Want vroeër daarvoor het die Liefde Haar van die Wysheid afgeskei omdat die Wysheid Haar in Haar heiligheid op `n onbereikbare hoogte geplaas het en Haar eise onmoontlik was om in te willig.

5. Maar die Wysheid was niks sonder die innige vereniging met Haar Liefde nie; maar hoe kon Sy Haar opnuut met die Liefde verenig? Sy moes in die Mens Jesus Haar gestelde versoenings­voorwaardes self vervul; Sy moes Haar so diep moontlik verdeemoedig en alleen daardeur het Sy weer volkome één met Haar Liefde geword, wie die “Vader” is.

6. Christus wys dan ook alle wêreldse wysheid af, omdat Hyself die ewige, almagtige, fundamentele Wysheid van die Vader was. Hy moes wel `n groot afsku aan alle skrifgeleerdes gehad het, omdat hulle dade nie ooreengestem het met dit wat in die Skrif geleer was nie.

7. Hy, as die ewige Wysheid van die Vader, moes dade van liefde verrig en die mense leer dat slegs die wet van die liefde geld; ja, ten slotte moes Hy Hom deur die wysheid van die geleerde priesters gevange laat neem en laat kruisig, en moes op hierdie manier as die ewige oerlig van die Vader, oftewel die Liefde, die grootste smaad ondergaan en self in die diepste duisternis raak, - waarom Hy dan ook uitgeroep het: “Vader! Waarom het U My verlaat?”

8. Dat juis Hy as die ewige oerlig van die hele oneindigheid in Homself `n totale verduistering moes ondergaan, bewys die tot nou toe nog deur niemand begrypte oomblik, waarom na die dood van Christus aan die kruis in die hele oneindige skepping `n volkome duisternis ingetree het en dat nie alleen die lig van die son nie, maar ook die van alle sonne in die hele oneindige skepping gedu­rende drie ure uitgedoof was.

9. Hierdie verduistering het saamgeval met die oomblik waarop die siel van Christus, na die dood in die hel neergedaal het, om daar die geeste wat in die ou wysheid gevange was, te verlos en om hulle na die nuwe lig te bring, wat deur die hereniging van die Seun met die Vader die hele oneindigheid begin vul het.

10. Christus moes daarom in Homself die ou wet van die wysheid tot die uiterste vervul om alle dwalings daarteen voor die oë van die Vader te versoen; oftewel alle wysheid moes gekruisig word sodat die liefde van die Vader daardeur geregverdig kon word.

11. Wel, dit het God dus Self gedoen; wat wil julle dan doen? Dink julle miskien dat julle deur die regverdiging van julle wysheid die heerlikheid van die ewige lewe sal binnegaan?

12. As Christus as die Goddelike Wysheid Self werke van die liefde moes verrig, indringend moes predik, en al Sy Wysheid moes laat kruisig, en in die diepste duisternis laat opgaan om daardeur weer volkome in te gaan in die heerlikheid van die Vader, wat die afgeskeide Liefde in Christus Self was, sal die mense hierdie weg ook moet gaan, as hulle saam met Hom die heerlikheid van Sy vaderlike liefde wil ingaan.

13. In die oerkerk van die wêreld het dit geheet: Julle mense kan slegs deur die Liefde van God tot die anders onbereikbare Goddelike Wysheid kom. Met Christus heet dit egter: Nou is Ek as die Goddelike Wysheid Self, as die Weg en die Lewe, die deur tot die Liefde, oftewel tot die Vader. Wie nou tot die Vader wil kom, moet deur My binnegaan.

14. Hoe dan? Miskien deur die Wysheid, omdat Christus as die deur, die Goddelike Wysheid Self is? - Nee! Want juis hierdie Wysheid het haar tot op die laaste atoom laat verdeemoedig. As die onaantasbare Heiligheid van God het Sy diep te midde van alle sondaars neergedaal; die Wysheid wat vroeër nie eens deur `n volkome engel in Haar diepste wese aanskou kon word nie, gaan nou om met sondaars, eet onder hulle dak en moes Haar ten slotte deur heidense soldate en geregsdienare laat kruisig.

15. Uit hierdie eindelose verdeemoediging van die Goddelike Wysheid self, blyk dit sonhelder dat niemand met `n opgeblase wysheid die heerlikheid van die ewige lewe kan binnegaan nie. Niemand sal sy studieboeke en geskrifte kan gebruik om `n trap na die hemel te bou nie. Alleen ware deemoed en daadwerklike liefde vir die Vader kan dit doen.

16. In Christus het alle oergoddelike Wysheid oorgegaan in Liefde tot die Vader; daardeur word uit die Seun en die Vader Een. So moet dit ook by die mense gaan. Solank die mens met sy hoogmoedige verstand en al haar begeertes hom nie tot die diepste verdeemoedig nie, solank hy nie alles aan die liefde sal opoffer en daardeur `n kort verduistering van sy wêreldse wysheid sal ervaar nie, sal hy sekerlik nie die heerlikheid van die Vader binnegaan nie.

17. Christus moes dit ly en doen om die Heerlikheid van die Vader binne te gaan; daarom moet elke mens dit ook doen en Christus waaragtig navolg, as hy die Heerlikheid van die Vader binne wil gaan.

18. Christus het egter nie op universiteite gestudeer om as `n hooggeleerde wyse die heerlikheid van die Vader binne te gaan nie. Sy skool heet: Deemoed en daadwerklike liefde. As Christus daarmee die voorbeeld gegee het, hoe wil julle dan op `n ander manier in God se ryk binnegaan?   

19. Ek dink nie dat dit nodig is om meer hieroor te sê nie, want dit is uit die diepste wysheid sonhelder aangetoon. Doen daarom dieselfde, dan sal jy lewe! Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205