Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 19

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

 “Ek sal u nie as wese agterlaat nie, Ek kom tot u!” (Johannes 14:18)

19 Januarie 1844 se aand

19 “Ek sal u nie as wese agterlaat nie, Ek kom tot u!”

2. Hierdie teks beteken presies wat daar staan, wat Ek altyd aan julle gesê het en wat Ek ook nou weer met hierdie nuwe gawe getrou en lewendig bevestig.

3. “Ek sal u nie as wese agterlaat nie!” maar soos daar ook staan: “Ek bly by u tot aan die einde van die tye!”, nie in julle wêreldse verstand en geleerdheid, waarvan Ek `n afsku het nie, maar in die liefde en deemoed van julle hart.

4. “Ek sal u nie as wese agterlaat!” wil nie sê: “Ek sal julle van allerlei boeke voorsien en daarnaas nog van gebedshuise vol beeldhouwerke en beeltenisse van My, in alle moontlike stande geskilder en uitgesny, wat in die heidendom tuishoort!”, want elke uiterlike aanskouing is wêrelds en is `n belemmering vir die innerlike aanskouing, netsoos `n mens wat sy oë nie dig toemaak, nie tot slaap kom nie, en in die slaap nog minder tot `n droom wat `n innerlike uitbeelding is van dit wat tot die geestelike wêreld behoort.

5. Dus, dit is nie daarom dat Ek julle nie as wese wil agterlaat, dat Ek wil toelaat dat julle met baie, op My betrekking hebbend, uiterlike vertoon te werk sou gaan nie, en tegelykertyd met julle verstand `n lawine van boeke sou produseer waarin na die waarheid gesoek word op dieselfde manier as waarmee julle aan `n lotery meedoen, waarby niemand weet of sy nommer getrek word nie, maar elkeen op goeie geluk meedoen. En as sy nommer dan toevallig getrek word, weet hy ewemin die redes van die sukses, as wat hy in die teenoorgestelde geval die redes van die nie-trek van sy nommer sou weet. Want iedere speler is van mening dat sy nommer die beste is; anders het hy nie daarop ingesit nie. Die uitslag werp eers `n ander lig op die saak, naamlik dat `n ander nommer beter was. Natuurlik sê hy dan: “Ek het dié nommer dan eerste opgeskryf, - waarom het ek tog `n ander gekies?”

6. Kyk, dié voorbeeld is presies van toepassing op al die skrywers. Elkeen dink om op die een of ander manier die spyker op die kop geslaan te hê. Dit duur egter nie lank nie, of daar duik weer `n ander op wat presies bewys dat hy `n geweldige misser (die pot misgesit) gemaak het. En so gaan dit steeds maar verder en uiteindelik weet die laaste netso min as die eerste, of hy al die spyker op die kop geslaan het.

7. Slaag iemand hier of daar om op een of ander manier op die waarheid af te kom, dan weet hy tog nie of dit nou wel die geval is of nie. Die enigste kriterium wat vir hom tel, is dat hy met sy werk in die wêreld algehele byval geoes het. Hy bedink egter nie dat daar nie soveel voor nodig is nie.

8. Mens hoef met skryfsessies maar net dieselfde te doen as wat mens vir die trekking van die lotery doen, naamlik alles goed deurmekaar skud sodat niemand meer daaruit wys kan word wat die skrywer eintlik bedoel het nie. Elke kritiek op so `n kolossale werk bly dan beskeie op die agtergrond en die skrywer het dan met sy werk blykbaar `n wêreldsukses behaal.

9. Vra mens egter: “Sit die Heilige Gees wat Ek beloof het, ook in hierdie werke?” O nee! Werklik, dit is wese; by hulle is Ek nie! Die teks waaroor dit hier gaan, geld nie vir hulle nie.

10. Maar miskien geld dit wel vir die skilders, graveerders, beeldhouers en vergulders wat hulle veral besighou met die uitbeeld van sogenaamde heilige voorwerpe - as hulle maar betaal word, lewer hulle ook veldslae en allerlei ander obsene voorstellings, - Ek sê: Ook dit is wese en die teks het nie op hulle betrekking nie.

11. Maar miskien is dit die samestellers van preke- en gebedeboeke, of begaafde komponiste van sogenaamde kerklike musiek. Nee! Ook vir hulle geld die teks nie, want ook hulle hang die huik* na die wind en wil vir geld alles doen. Die een skryf vandag `n verhewe gesang, `n gebed of `n Psalm, wat, uiterlik gesien, nie ver van Dawid sou wegstaan, as hy hom sou geskryf het nie; môre egter skryf hy, as hy daarvoor betaal word, met eweveel entoesiasme `n verhewe gedig oor die hoer van `n hooggeplaaste persoon, en maak hy desnoods `n verhewe grafskrif vir die gestorwe skoothondjie van `n prinses. Die ander komponeer vandag `n oratorium, maar onmiddellik daarna skryf hy, as hy betaal word, ook `n ballet of nog laer staande dansmusiek. *(Lang mantel sonder moue; sy huik na die wind hang, voordeel uit elke omstandigheid wil haal.)

12. Vraag: Is wel die werking van die Heilige Gees daarin te onderskei? - Ek vind hom nie; en as Ek hom nie vind nie, sal julle hom nog moeiliker vind, al sou julle hom wil soek met `n lantern, waarin, in plaas van `n kers, `n sentraalson sou brand.

13. Maar miskien sal die Heilige Gees te vinde wees in die wyse staatswette, krygswette, allerlei verordenings of miskien selfs in die skerp talryke kerklike dissiplinêre wette. Voorwaar, Ek vind hom nie!

14. Waarom dan nie? Omdat dit in dit alles nie oor My gaan nie, maar omdat slegs wêreldse heerssugtige belange daaraan ten grondslag lê. Almal wil heers, die keiser en die koning, die vors, die graaf, die baron, die ridder, die koopman, die burger en ook die boer, en vanaf die keiser na benede natuurlik ook al sy amptenare, asof hulle so ongeveer die keiser self is.

15. Daar moet nou eenmaal wel `n keiser, `n koning en `n vors wees: Maar hulle moet nie daar wees terwille van die heers nie, maar om leiding te gee, sodat die volkere deur hulle na My gelei word. Maar so word hulle maar al te gou van My afgelei en na die wêreld gekeer, hulle word nie sterk gemaak nie, maar swak, omdat hulle in hulle swakheid des te makliker te beheer is.

16. Vraag: Is dit die werking van die Heilige Gees, as die heerser sy onderdane slegs as lyfeienes beskou, en elke woord wat hy spreek, elke oomblik kan herroep? Die heerser moet `n leier en trooster van sy volk wees en hy moet die volk wette gee, wat nie van heidense wette afgelei is nie, maar duidelik van My; dan sou hy `n goeie regent wees en die Heilige Gees sou in hom werk soos Hy in Dawid en ander goeie regente gewerk het.

17. Maar die Heilige Gees werk nooit in die uitvinding van allerlei masjiene wat die hande van die arm mense oorbodig maak, in bevordering van die industrie, in die aanleg van spoorweë en in die opstel van groot leërs nie! Want dergelike dinge was ook voor die sondvloed in Noag se tyd gewoonte en inslag onder invloed van die wêreldgees, wat in sy totaliteit die duiwel is. So het dit ook in Sodom en Gomorra en in Babel gegaan.

18. Wie sou dan wil beweer dat so-iets deur die werking van die Heilige Gees gekom het? Daarom het sulke lynreg teen die Heilige Gees in werkende handelswyse altyd `n magtige oordeel tot gevolg; iets van dié aard hou Ek ook nou al gereed om aan te toon dat My Heilige Gees, in die teenswoordige manier van handel van die wêreld, heeltemal nêrens aanwesig is nie, waardeur hierdie wêreld daar volkome voorstaan soos `n wese. Ek laat haar egter nog enige tyd begaan, totdat sy die korrekte valhoogte bereik het, en soos `n bliksemflits van die Ooste na die Weste, en in die lig daarvan sal mens sien hoeveel werking van die Heilige Gees daar nog in die wêreld is.

19. Ja, maar as dit so is, waar is diegene dan wie Ek nie as wese wou agterlaat nie?

20. Ek sê: Hier en daar vind mens nog van die mense; maar hulle het byna seldsamer en kosbaarder geword as groot kroonjuwele. Hierdie mense lewe eenvoudig, soveel moontlik van die wêreld afgesonder en hulle vreugde is Ek en die onderwerp van hulle gesprek is ook Ek. Waarom dan? Omdat die mond oorloop van dit alles waarvan die hart vol is! Dus is Ek ook dit alles waarmee hulle hart hulle besig hou en al die ander in die wêreld kan hulle niks skeel nie.

21. Hierdie mense is sekerlik geen wese nie; want Ek is immers in hulle midde, spreek daagliks met hulle, onderrig hulle Self en voed hulle Self op. Hulle hoor altyd My stem en herken die stem ook as die van die goeie herder en nie as die van `n huurling nie, waarna hulle nie luister nie, omdat dit die stem van `n omkoopbare huurling is. Hulle is dan ook dit, vir wie ons teks geskryf is.

22. Ek het daarom geen geleerdes nodig, geen digters, geen beeldende kunstenaars en geen musici, geen uitvinders van masjiene en geen wêreldse wetgewers nie, maar Ek het slegs deemoedige, My liefhebbende harte nodig. Waar Ek dit vind, daar sal Ek hulle alles gee wat hulle nodig het en dit verseker op `n beter manier as wat die wêreld dit doen; en dan sal dit alles die werk van die Heilige Gees wees en daar sal geen wese op die wêreld wees nie. Maar daar is net baie weinig mense wie se ore ontvanklik is vir My stem.

23. Ek glo dat julle uit wat hier gesê is, wel heel maklik sal begryp wie diegene is vir wie die teks bedoel is. Dat jy op die oomblik ook daarby hoort, bewys die feit dat Hy voor jou lê. Maar eers as jy heeltemal daarvolgens sal handel, sal jy volledig van hierdie waarheid oortuig wees. Bedink dit goed! Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205