Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 20

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

“En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle. En omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom, al wandelende op die see. En Hy wou by hulle verbygaan. (Markus 6:48)

22 Januarie 1844 se aand

20 “En toe Hy sien dat hulle hulle aftob (bekommer) om vooruit te kom by die vaar - want hulle het die wind teen hulle gehad - het Hy omstreeks die vierde nagwaak na hulle toe gekom, gaande (loop op die see) oor die see; en Hy wou hulle verbygaan.”

2. Lang verse het `n kort verklaring nodig, omdat dit meestal daarin beslote lê. Kort verse vra meestal `n langer verklaring, ten eerste, omdat vanweë hulle kortheid, die verklaring nie daarin beslote lê nie, en ten tweede, omdat die lig gewoonlik kompakter en vaster daarin beslote lê, en daarom dat meer daarvoor nodig is om al die lig daaruit vry te maak as by langer verse, wat al uit homself genoeg lig versprei.

3. Daarom kan Ek julle ook geen uitgebreide verklaring van bostaande teks gee nie, omdat sy lig al baie sterk is; as jy netso daaroor wil nadink, lê dit so voor die hand liggend, dat jy dit dadelik sal begryp. Sodat jy dit sal insien, sal Ek jou slegs met baie kort aanwysings daarnatoe lei; dit sal genoeg wees om die teks te begryp. Luister maar!

4. Die “see” beteken die wêreld; die “teenwind” is die doen en late van die wêreld en haar begeertes waarteen `n egte skipper tot die vierde nagwaak, dit is die laaste lewensdae, dus gedurende sy hele lewe, moet stry; want onder “nag” word die materiële lewe op aarde verstaan.

5. Die Heer is nie op die skip nie. Waarom nie? Omdat Hy nie in die wêreld is nie; want die skip stel die mense voor wat in die wêreld lewe en die Heer is nie daar nie, omdat die mense vry moet wees.

6. Tog wandel die Heer op wonderbaarlike wyse agter die skipper aan en loop netso maklik oor alle deinings en golwe van die wêreld, asof dit vasteland is. Hy bekommer Hom nie oor die skippers op die see nie; wanneer hy een daar sien, gaan Hy hom verby, omdat Hy hom nie in sy vryheid wil steur nie.

7. As Hy egter `n skip sien waarop Sy leerlinge hulle bevind, dit wil sê, mense wat Hom erken en aanroep, nader Hy die skip tog, hoewel Hy andersins ook verby sou gegaan het; want op die skip bevind Sy leerlinge hulle immers, oftewel: Hierdie mense het `n hart wat die Heer liefhet, vas in Hom glo en Hom aanroep.

8. Die hart is aanvanklik weliswaar bevrees en beskou Hom as `n spookverskyning, dit wil sê: `n Mens wat nog baie verwarde voor­stellings van My het, beskou dit as onmoontlik of as `n drogbeeld, dat Ek naby hom sou kom in die wêreld en selfs sy skip sou kon betree.

9. Wanneer sy liefde nie daardeur verflou nie, nader Ek sy skip en laat hom weet dat Ek daar is; en as hy My stem gehoor het en Ek tot hom spreek: “Wees nie bang nie; want Ek is dié Een, jou Heer, jou Leraar, jou God en Vader!”, dan sal die vrees vir die spook­verskyning weldra verdwyn en die mens sal My met baie vreugde in sy skip opneem.

10. Kyk, dit is al die hele verklaring van die teks. Maar daar bly nog één vraag oor, naamlik: Hoe moet die skip, waarop My leerlinge hulle bevind, lyk? Is dit miskien `n vernuftig geboude stoomskip, of is dit `n, met drie maste en honderd-en-sestig kanonne uitgeruste slagskip, miskien `n fregat, `n skoener, `n seilskip of miskien `n ryk belaaide koopvaardyskip? – Wel nee! My leerlinge vaar nie op sulke skepe nie, en Ek ontwyk hulle dan ook gewoonlik so ver, dat hulle My selfs nêrens eers as `n skim sal sien nie. Wie sou ook in die omgewing wil kom van skepe wat van kanonne voorsien is? Hulle beskerming is die dood; maar skepe wat die dood as beskerming het, gaan dan ook die dood tegemoet, want die dood het niks van die dood te vrees nie. Maar waar die dood `n wye kring om `n skip heen vorm (die reikwydte van die kanonne), daaraan gaan die lewe ver verby. 

11. Hoe moet die skip wat die leerlinge dra, dan lyk? Ek sê vir julle: Baie eenvoudig! Dit is net `n vlot wat bestaan uit verskeie ondergrond balke, wat goed aanmekaar bevestig is; die lê byna netso hoog soos die wateroppervlak en die skepelinge bevind hulle hoogstens `n paar voet bo die waterspieël. Dit mag geen seile hê nie, sodat die wêreldse winde dit nie in hulle mag kry nie, maar dit het aan elke kant sterk roeispane, sodat dit so weinig moontlik die invloed van die verskillende wêreldwinde sal ondergaan, en dit ooreenkomstig die wil van die skipper vry orals heen kan koers vat.

12. As Ek op so `n deemoedige skip kom, herken Ek dit as `n skip wat My leerlinge dra; so `n skip nader Ek dan en Ek gaan aan boord. Waarom? Ten eerste omdat so `n skip nie so vinnig vaar nie, omdat dit geen seile en geen stoomratte het nie, want daar is maar net roeispane waardeur dit nie so vinnig vooruit kan kom nie; Ek kan dit dan maklik inhaal; ten tweede, omdat so `n skip nie omgeef is deur `n doodsaaiende ring, waarvan Ek geen vriend is nie, omdat Ekself die Lewe is; ten derde omdat mens vanaf die wateroppervlak maklik, sonder enige inspanning op `n skip kan kom wat so laag lê.

13. Ek hou volstrek nie van groot inspanning nie; wat by My nie met die grootste gemak nagenoeg vanself gebeur nie, laat Ek gaan soos dit gaan. Julle sal die beste begryp waarom. Want elke mens het sy volkome vryheid, wat nooit deur My beïnvloed word nie.

14. As Ek so `n skippie, waar mens maklik oor die deinende golwe van die wêreld aan boord kan kom, aantref en waar Ek herken word, stap Ek aan boord, ook al was Ek van plan om verder te gaan. Is Ek eenmaal in die skippie, dan breek die dag ook dadelik aan en oordag sien mens maklik die veilige oewer en Ek, as goeie Opperskipper, sal goed weet om die oewer te vind.

15. Ek glo dat julle hierdie uitleg goed sal begryp. Gaan dan ook aan boord van so `n skippie; hoe laer dit lê, hoe beter. Ek sal daardie skippie nader en sekerlik aan boord gaan! Amen.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205