Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 22

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

En Hy sê vir hulle: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommiges van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie. (Markus 9:1)

26 Januarie 1844 se aand

22 “En Hy sê tot hulle: Voorwaar Ek sê vir u: daar is sommiges onder diegene wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak, voordat hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie.”

2. Dit is weer `n ietwat langer teks wat derhalwe met `n ietwat korter verklaring kan volstaan. Mens hoef slegs te weet, wie diegene is wie die dood nie sal smaak totdat hulle God se ryk in sy heerlikheid kan sien nie; weet `n mens dit, dan begryp mens ook byna die hele betekenis van hierdie teks.

3. Wie is die sommiges? Dit is die gelowiges en hulle wat daarop hoop. Wie vas glo, sal in sy geloof ook sy hoop verwesenlik vind; want daar staan immers ook: “Wie `n geloof het so groot soos `n mosterdsaadjie, en nie twyfel aan wat hy glo nie, kan berge versit met die krag van sy geloof!”

4. Dus word onder “sommiges”, die gelowiges verstaan en dit volg nog verder daaruit, dat die gelowige voortdurend besiel word deur die begeerte om dit alles met sy oë te sien, wat hy glo. Daarom is hierdie belofte ook so gesteld dat dit aangee hoe die innerlike begeerte van die gelowiges gerealiseer sal word; en hulle sal die dood nie smaak alvorens hulle dit alles gesien het wat hulle glo nie.

5. Wat glo hierdie sommiges dan? Hierdie sommiges glo vas dat Ek die beloofde Messias is en hulle glo ook dat deur My, die heerlikheid van God se ryk, dus `n volkome teokrasie (Godsheer­skappy), op aarde gevestig sal word, en nooit meer `n einde sal hê nie. Die Menseseun sal die heerlikheid van die Vader op aarde oorneem en vir Sy mag sal hulle dan alle koninkryke en alle knieë moet buig van diegene wat onder, op, of bo die aarde is.

6. Dit was die vaste geloof van hierdie sommiges. Daarom word ook aan hulle gesê dat hulle die dood nie sou smaak, voordat hulle die koninkryk van God sou sien kom het nie; weliswaar nie op die manier waarop hulle dit glo nie, maar slegs ooreenkomstig hulle geloof.

7. Maar waarom dink julle dat vir hierdie sommiges na aanskouing van die koms van God se koninkryk, die dood vir hulle tog bly geld, dit wil sê dat hulle, nadat hulle getuie was van die koms van die koninkryk van God, tog die dood sal moet smaak? Dit is omdat die geloof as sodanig, al is dit hoe vas, geen lewe voortbring as dit nie gewortel is in die liefde nie, wat alleen onsterflik is.

8. Sulke mense wat hulle uitsluitlik aan die alleen saligmakende geloof vashou, is daar teenswoordig ook baie op die wêreld, maar hulle besef nie dat die geloof maar net `n uitstraling is van die genadelig van My liefde, wat goed voorberei en net so op die binneste inwerk as wat die natuurlike lig op die aarde inwerk. As sy somers met krag inval, verwarm dit ook die aardryk en ontlok allerlei vrugte daaraan; maar die lig kan nie altyd netso sterk wees nie, en as die winter kom en die sonstrale swakker en swakker word, sterf alle voortbrengsels van die sonlig weldra en word onder sneeu en ys begrawe. 

9. Waarom laat die aarde haar, in die somer so pronkende kinders, nie in die winter voortlewe nie? Waarom moet hulle die dood smaak, as hulle die heerlikheid van die sonlig vooraf gevoel het? Omdat die aarde te min eie warmte besit.

10. Presies so is dit gesteld met die geloofshelde. Hulle glo vas en is vol ywer en energie solank hulle deur My genadelig beskyn en verwarm word; as hulle dan egter op die proef gestel word oor hulle hoeveelheid eie warmte, verwelk hulle, die vrugte en blare val van die bome en hulle staan daar naak en kaal, en in plaas van die vroeëre vrugte, rus daar weldra sneeu en ys op hulle dik én dun takke.

11. In My grootste genadelig in die somer sien hulle sekerlik die heerlikheid van My ryk in die vrugte wat deur die lig rypgemaak is, maar hierdie vrugte is van vreemde oorsprong, dit wil sê: Hulle spruit nie voort uit die krag van die eie warmte nie, en daarom bly die smaak van die dood ten slotte onvermydelik.

12. Maar so gaan dit nie met diegene wat deur hulle groot liefde tot My in hulle binneste, self `n son het nie; tot hulle sê ek: “Waarlik, waarlik, wie My liefhet en My woord onderhou, sal in ewigheid geen dood voel, nóg smaak nie.”

13. Geloof kan ook deur die lees van goeie boeke bereik word; die liefde egter kom maar net uit die hart. Vra daarom ook meer aan julle hart, as aan die boeke hoe dit daar met My gestel is en dan sal julle nie tot die sommiges behoort nie. Bedink dit steeds. Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205