Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

“Eer van mense benodig Ek nie.” (Johannes 5:41)

5 Februarie 1884 se aand

27 “Eer van mense benodig Ek nie.”

2. Hierdie teks gee in kort bewoordings aan welke band daar bestaan tussen die mense en My, naamlik geen band van eer nie. Want die mense as sodanig is My werklik nie tot eer nie. Ek het die mense ook nie geskep sodat hulle My sou eer nie.

3. Maar Ek het met die mense wel `n band en dit heet liefde, en dit is iets heel anders as eerbetoon.

4. Wie is diegene wat eer aan hulle bewys? Dit is die vorste en grotes van die wêreld.

5. Waarom laat hulle hulleself eer? Omdat hulle meer wil wees as die mense, hoewel hulle bewussyn vir hulle sê dat hulle dit nie is nie.

6. Wat is die eer wat mens iemand bewys? Dit is in die grond van die saak niks anders as vrees vir diegene wat magtiger en sterker is nie. Want die swakke is bang vir die slae en die onbarm­hartigheid van die magtiges; daarom kruip hy voor hom en eer en aanbid hom vir die vorm om hom deur vleiery in te palm, sodat die slaan agterweë sal bly. Hoe meer eerbied die swakkeres vir die sterkeres aan die dag lê, des te meedoënloser word die sterkeres.

7. Vraag: Is sulke eerbetoon `n vrug van goeie of van slegte saad? Ek sê: Soos die vrug is, so sal ook die saad wees!

8. Dink julle dan dat Ek iets van die mense sou wil ontvang wat vir My `n gruwel is en volkome weersinwekkend?

9. Om welke redes sou Ek My deur die mense laat vereer? Miskien omdat Ek God is en die mense My skepsele is? Omdat Ek almagtig is en die mense in vergelyking tot My heeltemal, niks is nie?

10. Wat sou Ek aan so `n eer hê? Word Ek daardeur meer God en My almag groter?

11. By die mense is so `n werkwyse nog denkbaar, want as `n swakkere `n sterker eer bewys, wen hy daardeur in mag en aansien. Maar watter wins sit daar vir My in as die mense My eer soos hulle ander grotes op aarde eer? Dit sou selfs die mees skerpsiende gerub met die allerbeste mikroskoop, wat `n atoom tot `n hoofsentraalson sou kon vergroot, nie ontdek nie; want Ek is God, almagtig in alle ewigheid.

12. Sou Ek deur die verering van die mense nog meer kan word? - Ek dink nouliks; daarom het Ek ook nêrens `n wet uitgevaardig: “Jy sal God, U Heer, bo alles eer!”, maar slegs bo alles liefhê. Daarom word in die aangehaalde vers ook gesê dat Ek geen eer van mense verlang nie, want daar is in My al Eén wat My in alle ewigheid waaragtig eer.

13. Watter vreugde Ek dan sou hê aan “Ad maiorem Dei gloriam” dade, of, soos mens by julle op die wêreld gewoond is om te sê: “Alles tot God se eer!”, want wie My nie in sy hart eer soos `n, van liefde brandende bruid haar bruidegom nie, sy verering is vir My `n gruwel!

14. Wat het Ek aan die duisendmaal herhaalde “Heer, ons eer U”, terwyl alle harte onrein is? - Sulke eer is uiters verwerplik!

15. Want almal wat My op so `n seremoniële manier eer is die “Heer, Heer!”-roepers en hulle kan duisende smeekgebede prewel en sê: “Heer, ons eer U en prys U mag”, “Heer ons bid U, verhoor ons gebed!” en “Heer, erbarm U oor ons!” en hulle kan nog duisendmaal daarby sê: “Ere sy God, die Vader!”, ensovoort.

16. Ek sal sulke geklets egter nie verhoor nie en altyd aan die “Heer, Heer!”-roepers” sê: “Gaan weg van My, want Ek het julle nooit geken nie!” Julle het talle lofprysinge en smeekgebede geken, maar waarom het julle geen smeekgebed gemaak waarin helder sou klink: Nie “Heer ons eer U” nie, maar: “Liewe, heilige Vader, ons het U lief!”?

17. Mens sal wel hierteen protesteer en sê: “God moet vereer word! Want dit is `n edele vrug van die ware godvresendheid; want wie God nie vrees nie, is tot alle bose dade in staat.”

18. Ek sê egter: Hoewel godvresendheid beter is as die verrig van bose dade, sal daar tog vir niemand uit sulke godvresendheid `n ewige lewe groei nie, omdat `n bevreesde gemoed al `n veroor­deelde gemoed is.

19. Want wie die bose maar net nalaat uit vrees vir My, sal baie op die proef gestel word; want uit vrees vir My kan geen menslike gees salig word nie. Eers sal die vrees hom ontneem word en dan sal dit eers blyk wat hy sonder vrees vir My sal doen.

20. So het daar op aarde uit vrees vir straf ook baie gevangenes in hulle kerkers binne die wetlike orde gebly; wanneer hulle egter na hulle straftyd op vrye voet gestel word, is hulle tienmaal so erg as tevore.

21. Alle geeste uit die hel lewe in die grootste vrees vir My; Om My maar net uit die verte te sien of My Naam te hoor is vir hulle allerverskriklik! Welke dwaas sal egter beweer dat die geeste goed is, omdat hulle bang is vir My?

22. Ek gee `n voorbeeld. Gestel dat daar êrens op aarde `n baie goeie mens leef wat baie welgesteld is en daarby tog die grootste liefde, sagmoedigheid en voorkomendheid self is en wat elke mens wat na hom toe kom - van welke stand of nasie ookal, hetsy vriend of vyand - altyd baie liefderik opneem. Vraag: Wie sou dan so dwaas wees om so `n mens meer te vrees as `n skerpregter?

23. Welke mens is egter beter, meer liefderik en sagmoediger as Ek? Tog wil die mens My eerder vrees as My in die volste vertroue liefhê.

24. Ek sê ewenwel: Diegene wat My vrees en eer skyn goeie redes daarvoor te hê; want hulle weet dat hulle hart geen enkele liefde besit nie. Daarom wil hulle vrees vir My in die plek daarvoor stel.

25. Maar dit gaan met hulle soos met die bruid wat haar baie getroue bruidegom ontrou geword en `n hoer geword het. Waarom het sy dit geword? Omdat sy die liefde vir haar bruidegom in haar hart verspil het.

26. As die bruidegom nou sal kom, sal hy dan die van angs bewende bruid ook netso aankyk en aanvaar asof sy hom met `n vurige hart tegemoet getree het? Sal hy nie eerder aan haar sê nie:

27. “Wat maak jy? So het ek jou nog nooit gesien nie! Waarom bewe jy vir my, ek het jou tog bo alles lief? Waarlik, in hierdie toestand herken ek jou nie! Wat het ek aan jou gedoen dat jy vir my bang is? Hoe kon hierdie vrees jou vroeëre liefde verdring het? Hoe sal ek jou nou kan gelukkig maak, noudat jy my nie liefhet nie, maar vrees?! Dus moet ek, uit liefde vir jou, van jou af weggaan, sodat die vrees vir my, jou hart nie langer sal kwel nie!”

28. Kyk, in dié voorbeeld is die: “Ek ken julle nie “Heer, Heer!”-roepers!” helder en duidelik uitgelê; en daarom wil Ek nie die eer van mense as vrug van vrees nie, maar Ek wil troue, kinderlike liefde hê!

29. Streef daarna in jou hart, dan sal Ek naby aan julle kan kom, maar nie deur julle verering en vrees nie! Wees deur die liefde vry geword, geen deur vrees geoordeelde mense wat handel volgens My woord nie; daarin sal julle die ewige lewe vind en vir My, julle Vader! Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205