Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 36

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

“Daarna maak Hy die boek toe, gee dit aan die dienaar terug en gaan sit. En die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig.” (Lukas 4:20)

26 Februarie 1844 se aand

36 “Daarna maak Hy die boek toe, gee dit aan die dienaar terug en gaan sit. En die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig.”

2. My liewe kinders! In hierdie teks word maar net `n normale handeling beskryf wat logiesgewys moes volg op die voorlees uit die profeet Jesaja. Omdat elke handeling van die Heer `n innerlike en allerinnerlikste grond het, lê daar agter hierdie skynbaar baie normale handeling ook so `n grond verborge; en in hierdie grond moet ook weer `n onbetwisbare kriterium lê waardeur die volle goddelikheid van Christus, en daarmee dus ook al Sy handelinge vir alle ewigheid vasgelê word.

3. Dat dit so is, sal ons julle nou aan die hand van `n klein beskouing en `n vergelyking van hierdie teks met die daaropvolgende gebeurtenisse, so duidelik moontlik voor oë probeer stel. Luister dus!

4. Jesus lees in `n sinagoge staande voor uit die profete. - Wat beteken dit?

5. Die “sinagoge” is die wêreld. Die Heer wat staande uit die profete voorlees, gee daarmee aan dat Hy steeds met `n wakende oog, alle omstandighede en geheime oorsien, Sy woord nie onthul, maar vermom in die letterlike betekenis aan die wêreld gee. Want die “profeet” staan vir die verborgene in die letterlike teks; en die Heer gee hiermee dus aan dat al die verborgene nêrens onthul aangetref word nie en ook nêrens anders vervul is, as alleen in Homself nie.

6. Toe die Heer uit die boek gelees het, rol Hy dit op en reik dit oor aan die dienaar. Hy gaan egter sit en alle oë was op Hom gerig. - Wat beteken dit?

7. “Die Heer rol die boek op” beteken dat Hy ook vir die toekomstige wêreld die geestelike betekenis van die Woord weggesluit het. “Dan gee hy die opgerolde boek aan die dienaar van die sinagoge” wil soveel sê as: Hy gee die verborge wysheid aan diegene wat sal werk in haar tempel, wat vir die toekoms die menslike hart sal wees.

8. Daarop gaan die Heer sit om te rus, en alle oë was op Hom gerig. Hierdie handeling is `n vooruitblik en kom ooreen met die toestand soos dit sedert die hemelvaart tot op hede onder die mense op aarde heers, omdat die Heer vir die buitewêreld ook rus na gedane arbeid.

9. Baie oë en ore is op Hom gerig, maar hy swyg en neem nie die houding aan van iemand wat liggaamlik werk verrig het nie, maar as iemand wat geduldig in Sy heiligdom wag, altans met die oë van die geloof. Waarom? Omdat die mense slegs hulle oë en ore, oftewel hulle nuuskierigheid, maar nie hulle hart na Hom rig nie.

10. Tog spreek die Heer nog `n paar woorde en sê: “Nou is voor U oë vervul wat die profeet gespreek het. “Kyk, dit is nou by julle ook die geval; want na lange rus, het My gees oor julle gekom, omdat julle Hom gesoek het en Hy onthul aan julle die opgerolde boek, wat ook die dienare steeds verhul in hulle vertrekke bewaar het.

11. Hierdie dienare stem ooreen met die dienaar in die teks aan wie die opgerolde boek oorhandig was. Mens moet daaronder al diegene verstaan, wat julle in watter kerk ookal `n “priester” sou noem. Aan hierdie dienare sal die boek nie onthul word, solank hulle dienare van die “sinagoge”, oftewel die wêreld is nie.

12. Nou kry elke mens, as hy `n goeie dienaar is in die ware, nuwe sinagoge van sy hart, die boek ook eers opgerol en nie onthul nie. As hy egter in hierdie tempel `n troue dienaar is en hom vee en skoonmaak, en die rol goed oppas, dan kom die Heer en kies daar verblyf; en daar sal rus en vrede in hierdie sinagoge heers. As daar uit alle hoeke van die hart “oog en oor” op die Heer gerig word, sal Hy sê: “Nou het die gees van die Heer oor jou gekom en is die heilige rol in jou lewende sinagoge onthul en vervul!”

13. Kyk, dit is die oorduidelike betekenis van hierdie skynbaar baie onbeduidende teks!

14. Ek sê vir julle: `n Mens kan hoe ookal sy beste doen en ondersoek soveel `n mens wil om hierdie rol te onthul; mens kan alle mense, geeste en engele vra, maar tog sal mens niks bereik nie, - want Ek alleen is die deur!

15. Wat baat dit die mens as hy homself afvra: “Het ek `n ewige lewe in my?” en daarop as antwoord kry: “Die ewige lewe is vir my `n raaisel, iets twyfelagtig; ek het niks daarvan in my nie, behalwe die verlange daarna!”

16. Vraag: Vir wie is dit troos genoeg. Kom dit nie ooreen met die filosofiese leer waarmee hulle die wysgeer troos en dit lui as volg: “As my denkende ek voortbestaan dan is dit wins vir my - en is daar geen voortbestaan nie, dan win ek ook; want vir die non-bestaan is die plus en min eweveel werd.”

17. Ek vra egter opnuut: Vir watter mens, wat die waarde van die lewe ken, is so `n troos voldoende? Kan dit die lewende onver­skillig laat of hy bestaan of nie? Trouens, hoe kan `n mens wat bestaan, die non-bestaan prys omdat hy tog onmoontlik kan weet hoe die toestand van non-bestaan lyk?!

18. Elkeen kan maklik hieruit aflei hoe blind so `n ondersoeker moet wees, as hy midde in `n oneindige bestaan, waarin van nie-wees geen sprake is nie, homself ten slotte met `n volkome onmoontlike nie-wees kan troos.

19. Dink julle, dat daar in My oneindige Bestaan êrens `n vernietiging moontlik is - of `n plek waar die niks êrens gehuisves is?

20. So ver die oog in die dieptes van My skepping kan reik, staan die natuurlike wêreld al in die skerpste teenstelling tot `n plek waar niks sou wees nie; want daar sien jy óf hemelliggame, óf die groot, vrye ruimte, wat egter gevul is met ligstraling en met alomwerkende kragte uit My! Vraag: Is dit niks?

21. Ek hoef nie verder oor die dwaasheid van sulke denkbeelde uit te wei nie. Maar Ek wil dadelik vir elkeen die korrekte toets hieraan toevoeg waarmee mens kan ondersoek of daar êrens `n niks bestaan nie, en sê: 

22. Vlieg met jou gedagtes deur die oneindige ruimte! As julle êrens `n ruimte sal vind waarin julle gedagte nie kan deurdring nie, dan kan julle die niks daar soek. Dat so `n opgawe egter nooit as te nimmer sal slaag nie, daarvan kan julle ten volle verseker wees! Want orals waar die gedagte kan kom, daar is iets. Waar sal dit egter wees, waar die gedagte nie kan kom nie? Ek ken die “waar” nie en dus sal `n wysgeer dit sekerlik nog minder ken.

23. Hou jou daarom nie vas aan sinlose ondersoek en dwase verhale nie; want dit sal nooit vrugte afwerp nie! Maak die weg, wat so maklik is, nie nodeloos moeilik nie. Laat `n ieder tot My kom en hy sal alles in oorvloed aantref wat hy op ander weë in ewigheid nie sal bereik nie; want alleen Ek is die deur vir altyd en ewig. Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205