Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 8

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

 “En Hy, Jesus, was toe Hy opgetree het, ongeveer dertig jaar, `n seun, volgens wat die mense gemeen het, van Josef.” (Lukas 3:23)

3 Januarie 1844 se aand

8 Neem dadelik maar weer `n deur jou self gekose teks, en ons sal sien of dit ook vir ons doel lig bevat.

2. “En Hy, Jesus, was toe Hy opgetree het, ongeveer dertig jaar, `n seun, volgens wat die mense gemeen het, van Josef.”

3. Die gegewe teks straal dadelik al `n oorweldigende lig uit. Waarlik, by hierdie teks sou jy selfs al op die eerste oogopslag die kern van die saak wat ons as doel het, moet waarneem. Ons wil egter sien of jy nie na `n klein inleiding self van die lig kan gewaarword nie.

4. Hy was ongeveer dertig jaar toe Hy begin het om te onderrig en die mense het gemeen dat Hy die natuurlike seun van Josef was, die timmerman.

5. Wie is hierdie “Hy”? Hierdie “Hy” is die Heer self, wie in alle ewigheid dieselfde Heer was en sal wees!

6. Maar hoe kon Hy ongeveer dertig jaar wees, Hy wie ewig is? Die Ewige skep Homself hier vir die eerste en laaste keer tot mens en as mens moes Hy ook rekening hou met die tyd, wat van ewigheid af aan uit Hom voortgekom het.

7. Hy was byna dertig jaar. Wat wil dit sê? Kon Hy as God dertig jaar wees? Sekerlik nie, want Hy was ewig; dus slegs as mens kon Hy dit wees.

8. Hy begin toe om te onderrig. Hoe dan? As God of as mens? Deur die bysin: “En mense het gemeen dat Hy die seun van Josef, die timmerman, was” blyk duidelik, dat die nouliks dertigjarige “Hy” nie as God nie, maar as mens die leraarskap op Hom geneem het; want die God in Hom staan in dieselfde verhouding tot die nouliks dertigjarige timmermanseun, as wat die innerlike gees staan tot elke mens. Hierdie moet eers deur passende uiterlike werke, voortvloeiend uit liefde, opgewek word, voordat Hy eiemagtig as selfstandige wese kan optree.

9. Hierdie, na Sy uiterlike te oordeel, nouliks dertigjarige seun van Josef die timmerman, het dus Sy leraarskap geheel as mens begin en geensins as God nie. Die Godheid in Hom het slegs by bepaalde geleenthede werksaam geword, namate Hy dit deur Sy werke as mens in Hom vrygemaak het; maar as daar geen werke nodig was nie, het Sy Godheid nie na vore gekom nie.

10. Vraag: Hoe kon hierdie nouliks dertigjarige mens as leraar optree; hiervoor word tog `n groot geleerdheid vereis, dit wat baie studie en `n groot belesenheid veronderstel. Waaraan het Hy hierdie wysheid ontleen?

11. “Want ons ken Hom immers? Hy is die seun van die timmerman en ons het Hom die beroep van Sy vader gereeld genoeg gesien uitoefen. Ons weet dat Hy nooit skole besoek het nie; ook kon ons onsself nouliks herinner of Hy ooit per geleentheid wel net die boek ter hande geneem en daarin gelees het nie. Hy was tot op daardie oomblik `n gewone handwerker, en kyk, nou is Hy leraar en Sy leer is stigtelik en vol diepsinnige wysheid, ofskoon die timmerman origsins nog duidelik in Hom te herken is. Hoe lank was dit eintlik gelede dat Hy saam met Sy broers `n eselstal vir ons gebou het? Kyk maar net na Sy vereelte timmermanshande, en kyk, nou is Hy leraar en selfs profeet, sonder om die profeteskool van die Essene ooit van binne te gesien het. Hoe moet ons dit nou opneem?”

12. Kyk, dit is `n letterlike weergawe van hoe die mense gepraat het oor die timmermanseun in Kapernaum. Hieruit blyk dit dus duidelik dat aan hierdie nouliks dertigjarige timmerman nie soveel goddelik te siene was nie; want anders sou die mense tog wel op `n ander manier oor Hom gepraat het.

13. Waar het hierdie volkome suiwer mens dan Sy leraarskap vandaan gekry, want Hy het nie gestudeer nie, en ewemin baie gelees. Hierdie mens het Sy bekwaamheid as leraar alleen aan Sy optrede ontleen.

14. Sy handeling het alleen voortgekom uit Sy voortdurende groot liefde vir die goddelike en dus ook uit Sy liefde tot die naaste. Elke daad het Hy aan God opgedra, waarby Hy nooit Sy eie voordeel nie, maar alleen dit van Sy naaste voor oë gehou het. Bowendien het Hy elke dag drie uur in algehele rus aan God gewy.

15. Sodoende het Hy die Godheid, wat in alle volheid in Hom gesluimer het, steeds meer in Homself opgewek  en bind die na gelang van die mate en graad van Sy werke aan Hom. En toe Hy, soos gesê, byna die leeftyd van dertig jaar bereik het, was die Godheid in Hom dermate ontwaak dat Hy deur Haar Gees van Wysheid `n dusdanige verhewe bekwaamheid verkry het, dat Hy die bekende leraarskap waartoe Hy geroepe was, kon gaan uitoefen. 

16. Na hierdie inleiding vra Ek jou of jy al daardie sterk skitterende lig in hierdie teks sien? Ja, jy sien dit al en jy sien ook waarheen dit gaan, daarom sal ons die nabetragting ook kort hou om die saak nie nodeloos uit te brei nie.

17. Hoe moet die nawoord derhalwe lui? Kortliks so: “Gaan heen en doen dieselfde!”

18. Moenie dink dat mens slegs deur baie lees en studeer die goddelike gees in hom sal opwek nie, eerder dood `n mens dit daardeur en dra hom dan soos `n lyk na die graf. Handel daarom volgens die grondreëls van die lewe; dan sal jou gees lewend word en sal in homself alles vind wat jy andersins verseker nie deur die lees van duisend boeke sou gevind het nie!

19. Maar as die gees lewend is, kan jy ook goed lees en jy sal dan deur die lees, of die hoor van My woord, vrugte versamel wat `n lewende kern of grondslag het. Sonder voorafgaande opwekking van die gees oes jy slegs leë omhulsels van die vrug, sonder lewende kern; want die lewende kern is die innerlike, lewende geestelike begrip.

20. Waar sou dit vandaan moet kom, as die gees nie vooraf vry en lewend gemaak was nie? Die liggaam is `n uiterlike omhulsel wat afval en vergaan; die siel is die voeding en die liggaam van die gees. As jy egter maar net lees om jou uitwendige, natuurlike insig te verryk, wat moet daar dan van die gees word wat nog nie in voldoende mate tot lewe gewek is nie, en die gelesene dus ook nie met sy lewende geestelike insig opneem nie, en die van buite verskuilde gelese woord met sy lewende kern vul en dit daardeur eers lewend en werksaam maak nie.

21. Daarom geld die aloue beginsel hier: Wees nie net hoorders van My woord nie, maar handel ook daarvolgens; dan eers sal jy lewend bewus word van die Goddelike daarin!

22. Ek dink dat dit goed duidelik is; maar omdat die mens, soos al dikwels gesê, nooit genoeg lig sal hê nie, sal ons onsself nogmaals, na `n deur jou gekose sentraalson, begewe.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205