Bybeltekste en hul verborge betekenis
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39.

 “En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf.” (Markus 14:17)

4 Januarie 1844 se aand

9 Gee maar weer `n teks aan, dan sal ons sien wat hy vir ons kan beteken!

2. “En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf.”

3. Ons het dus die teks wat hier voor ons lê en Ek moet weer die ou opmerking maak dat jy nog steeds geen teks kon gevind het wat vir ons nie uitermate geskik sou wees nie. Die genoemde teks skyn, so na die uiterlike te oordeel, nie soveel met ons saak gemeen te hê nie, maar dit is bepaald nie die geval nie; inteendeel, dit het selfs heel baie met ons saak te maak en as jy hom nie gekies het nie, sou Ek dit gedoen het.

4. “Toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf.”

5. Wie kom? Die Heer van die ewigheid kom.

6. Wanneer? In die aand.

7. En waar kom hy dan? - In die eetsaal, wat deur Sy dissipels gereedgemaak is.

8. Met wie? - Met die twaalf apostels wat Hy uitgekies het.

9. Wat doen Hy in die eetsaal? Hy hou `n Avondmaal waaraan sommiges hulle versadig en ander hulle vererg; op dieselfde aand tydens die Avondmaal word die verraaier ook aangewys.

10. Hier sien jy die volledige beeld voor jou, en die belang daarvan is nogal voor die hand liggend.

11. Wat beteken die aand? Dit is `n halfligte toestand van die dag, waarby die lig geleidelik verdwyn, totdat daar geen enkele sonstraal meer te bespeur is nie.

12. Wanneer is dit so `n aand by die mens? Geestelik beskou, dan, as hy al baie gelees en bestudeer het. Dié baie lees en bestudeer kan vergelyk word met die gestadige inval van die sonstrale gedurende die hele dag. Omdat hierdie sonstrale egter in hulle verskyningsvorm van natuurlike aard is, so is dit ook met die lees- en studeerstrale. Maar die son gaan aan die einde van die dag onder en dan word dit baie spoedig aand en uiteindelik ook nag. 

13. So gaan dit ook met die lees- en studeerlig. Die leser en student word uiteindelik moeg en verdrietig omdat hy nie sy innerlike lig met al sy lees en studeer kon vermeerder nie, soos die lig van die son ewemin vermeerder kan word, maar steeds sy gelykmatige verhouding behou. In die somer is dit sterker en in die winter swakker, en dit neem steeds in dieselfde verhouding toe en af. So is die oggendlig ook swakker; tot by die middag neem dit toe, en teen die aand word dit weer swakker.

14. Presies so gaan dit met die uiterlike vorming van die mens deur middel van lees en studeer. As hy in `n goedvoorsiene biblioteek begin te lees en te studeer is dit vir hom die lees- en studeer­oggend.

15. As hy na verloop van jare sy oë swak gelees het en al van mening is dat hy Salomo se wysheid in pag het, is dit middag by hom, oftewel somer.

16. Hy lees en studeer dan verder, vind egter helaas niks nuuts meer nie, maar louter bekende idees. Daardeur raak hy vermoeid, in die eerste plek omdat hy geen verkwikkende voedsel meer kan kry nie, en in die tweede plek omdat hy ook geen bevestiging meer vind van die vooraf verworwe teorieë nie, maar daarenteen dikwels, die grootste moontlike weerleggings van alles wat hy hom met groot moeite en inset eie gemaak het.

17. Sy vermeende egte goud blyk egter lood te geword het, en as hy die minderwaardige metaal, in plaas van die goud, in homself herken het, word hy verdrietig en mismoedig, verloor alle grond onder sy voete en voel uiteindelik soos `n wandelaar op `n berg, wanneer `n digte mis hom omsluit het.

18. Kyk, hierdie toestand is die aand van die mens; gewoonlik sê mens: “As die mens teen alles stuit, kom hy na die kruis!” - wat weliswaar beter is as dat ons moet sê: “Die kruis het oor hom gekom.”

19. Dus eers in sy nood begin die mens na te dink of die leer van Christus miskien iets bevat wat uitgedruk word in die teks: “En Hy, naamlik die Heer, het die aand met die twaalf gekom.” Want die Heer word hier deur die in nood verkerende as die Stigter van die leer, en die twaalf as die leer self beskou.

20. Waarheen gaan Hy dan met die twaalf? - Na die saal waar die spys en drank gereed staan.

21. Wie is hierdie saal? Die mens self in sy aand. Want hy het baie spys en drank in hom. Maar omdat die Een vir wie hierdie spys berei of bedoel is, nie daar is nie, staan die spyse daar totdat die Een kom wat die spyse sal seën en daarna wil nuttig; want sonder gebruiker het die spys geen sin nie en is dit sonder waarde.

22. So het ook alle wetenskap en belesenheid geen waarde nie, en het die mens tevergeefs sy geestelike eetsaal en tafel gereed­gemaak as die Een nie aanwesig is wie die spyse moet seën, daarna eet en omsit in `n sap wat die gees opwek nie.

23. Die Heer kom die aand met die twaalf, oftewel die Stigter kom met Sy leer, gaan die saal binne, gaan aan tafel sit, seën en nuttig die spys. Maar omdat die spys van natuurlike aard is, is die uitwerking daarvan gelyk aan die van daardie Avondmaal waarby die Heer `n ware, lewende Avondmaal in die werke van die liefde gehou het - waaraan hulle as dissipels hulle vererg en gesê het: “Wat se harde leer is dit nie! Wie kan dit glo en navolg?” Die dissipels het daarna weggegaan en weldra was die verraaier aangewys.

24. Wie is dan die dissipels wat hulle vererg en weggaan? Dit is die verkeerde gevolgtrekkings uit al die gelesene en die bestudeerde. Hierdie word gesien as synde in teenspraak met die beginsels van Christus se leer; daarna volg baie gou `n algemene protes wat lui: “`n Leer wat so vol teensprake is, kan onmoontlik van goddelike oorsprong wees. Dus is dit slegs `n oppervlakkige produk van tydelike aard, bedink deur onwetenskaplik gevormde, en daardeur in hulleself teësprekende mense, wat in lank vervloë tye uit allerlei heersende denkbeelde en opvattings moeisaam `n leer bymekaar geskraap het om die arme mensdom daarmee aan hulle te bind en skatpligtig te maak.

25. Daardeur word, soos julle gewoond is om te sê, die kind met die badwater weggegooi, oftewel die verraaier word aangewys en gaan baie gou weg om dit te doen wat vir hom gesê was: Hy lewer die lewende uit aan die dood en gaan daarby self ten gronde. Dit is dan die nag wat op die aand volg, oftewel nou is alles dood in die mens.

26. En so kom Ek met die twaalf in alle erns in die aand na elkeen toe, vind die eetsaal en die tafel toeberei, maar dit is suiwer natuurlike spyse. Nuttig Ek dit ook, of keur Ek hulle goed op voorwaarde dat mens dit in daadwerklike liefdespyse moet omsit en sê Ek, dat mens dit tot My gedagtenis of in My Naam en nie terwille van homself vir eie lof en eer moet doen nie, begin die dissipels hulle te vererg en keer hulle teen My; Judas word baie gou ontmasker en dit duur nie meer lank voordat die doodvonnis oor My uitgespreek was nie, as gevolg van verraad.

27. Wag daarom nie die aand af nie, maar roep My liewer in die môre as jy nog kragtig en ontvanklik is, dan sal Ek na jou toe kom en sê: Loop nie te veel rond in die strale van die son nie, hulle maak jou vermoeid en jy is tot niks meer in staat nie; maar sterk liewer aan in die koel skadu van die Lewensboom, sodat jy die hele dag kan bly werk. En as Ek dan in die aand na jou toe kom, sal jy My sekerlik herken en as Ek dan sal vra: “Hoe is dit met jou eetsaal gesteld, het jy miskien niks te ete nie, het jy honger?” Dan sal jy my weliswaar slegs `n klein skamele voedselvoorraad kan toon, maar Ek sal dit seën en Ek sal saam met jou aan tafel gaan, waaraan geen verraaier meer op My wag nie, oftewel: Die geringe kennis wat jy besit, sal Ek tot sentraalsonne laat uitdy, sodat jy daaruit die lig in eindelose oorvloed kan put.

28. Ek glo dat die teks: “En Hy kom teen die aand met die twaalf...” elkeen besonder helder voor oë sal staan en heel uitputtend behandel is. Nietemin ken My vrygewigheid nog geen grense nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205